Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Herinneringe ter besieling: dapperheid oor grense van tyd en plek


Francois Verster - 2010-12-02

Dapper kinders van Suid-Afrika
DJ Kotzé (Samesteller)
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869193461
Prys: R180

Klik hier en koop Dapper kinders van Suid-Afrika nou van Protea Boekhuis!

 

In die voorwoord van Dapper kinders van Suid-Afrika noem die samesteller (wyle DJ Kotzé) daarvan dat “al ’n paar boeke in verband met die dapper kinders van Suid-Afrika verskyn [het]”. Die leser wonder waarskynlik: “Waarom dan nog een?” en “Wie is dié dapper kinders presies?” Dan sal die leser seker na die inhoudsopgawe blaai: Is dit net nog ’n Afrikaner-nasionalistiese soldaatjie (penkop?) in ’n patriotiese juigkommando? Of word “Suid-Afrika” wérklik bedóél – wyer as ons volkseie? Nie dat daar fout is met die aanprysing van die Afrikaner (lees: wit Afrikaanssprekende) se goeie dade nie – daar is genoeg mense wat kwyl by die gedagte van nóg skoppe na die volkie wat al so lank as legitieme teiken beskou word en skynbaar nog lank sal moet boet vir die voorouers se vergrype – werklikes én verbeeldes.

Dus speel ons huidige omstandighede ook ’n rol wat in aanmerking geneem moet word wanneer mens die boek lees.

Boonop is dit teen ’n sekere agtergrond dat hierdie soort boek gelees moet word. Gedurende die Depressiejare (min of meer tussen die twee Wêreldoorloë, dus veral die twintiger- tot veertigerjare van die vorige eeu) sou so ’n boek gedien het om mense te inspireer om hulself uit die vassuigende drek van armoede te trek, om op te offer en ’n beter platform vir ekonomiese bemagtiging vir hulle kinders te skep. En dit het wel gebeur, al sal smalend geprewel word: “te danke aan apartheid”. Die meriete al dan nie van so ’n aanmerking ter syde, opgeoffer is daar wel, en elkeen wat meegehelp het om vir sy of haar nageslagte beter kanse te skep, is helde en heldinne. Dit was altyd so en dis nou steeds so. Ongeag ras, geslag en religie: opoffering bly moeilik en eintlik selfverloënend. Vandag beland al meer wit mense weer in hierdie omstandighede waarin swart mense meesal steeds is en daarom word opoffering weer en dringender gevra.

Die bekendste van die voorafgaande boeke oor helde wat Kotzé noem, naamlik dié van CR Swart (wat ironies genoeg staatspresident was toe die eerste uitgawe van Kotzé se boek verskyn het), is in 1934 gepubliseer. Kinders van Suid-Afrika handel uitsluitlik oor heldedade deur Afrikanerkinders en op die eerste bladsy vuur Swart sy openingsalvo: “Vaderland! ons sal die adel/ van jou naam met ere dra;/ Waar en trou as Afrikaners/ - kinders van Suid-Afrika.” Natuurlik gepen deur niemand anders nie as die skrywer van ons eerste volkslied, CJ Langenhoven.

Maar nes dié lied nou net nog deel is van ’n groter een wat darem drie van ons elf amptelike tale insluit, so sluit Kotzé se Dapper kinders van Suid-Afrika ook nou dade van nie-Afrikaners in. En waar Swart in sy inleiding skryf: “Mag nie alleen daardie heldemoed bly voortlewe as ’n kenmerk van ons volk se kinders nie, maar meer nog daardie selfstandigheid en kuns om altyd ’n plan te maak”, word die net nou wyer gesprei. Ook kinders uit ander agtergronde as Afrikaners, wat ander waardes voorop gestel het en self ander (volwasse) helde aangehang het, word sáám vereer in 2010.

Swart se motiewe om slegs Afrikanerhelde te bespreek hoef egter nie as verdag afgemaak te word nie. ’n Geheime agenda was dit allermins. Studente van geskiedenis behoort te weet wat die term Zeitgeist beteken: dat die gees van ’n spesifieke era, die milieu waarin die verteller én sy tema leef/geleef het, bepalend is/was vir die uiteindelike produk.

Swart praat van planne maak – dus aanpassing soos nodig – en dit is wat die uitgewers van hierdie 2010-boek gedoen het – ter ere van almal in ons land (dus die nasie in geheel, nie net een volk nie) en tot eer van ook die Afrikaner wat vandag die land met ander deel. Swart en sy generasie het gedoen wat hulle as nodig beskou het en ons doen dieselfde, met die insig van ervaring. Mens sou wel kon vra waarom nie meer swart helde in die nuwe boek ingesluit is nie, en benewens die waarskynlike subjektiwiteit van die samesteller en die mark waarvoor gemik word, is die makliker bekombaarheid van geskrewe bronne gewoonlik die oorsaak, en hier seker ook.

Die geskiedenis herhaal hom nie, net die mens as hy/sy halstarrig is. My punt is dat jy nie jou volk verloë n deur aan ander erkenning te gee nie, maar juis jou ware inbors (be)wys.

In “Voorwoord by die 2010-uitgawe” skryf Kotzé se seun Dirk, wat ook by name DJ Kotzé is (en saam met my in sy pa se klas was op Stellenbosch!), tereg dat die oorspronklike uitgawe (1962) die produk van ’n historiese proses was. Gebeure wat byvoorbeeld in Suidwes-Afrika (sedert 1990 die onafhanklike Namibië ) afgespeel het, is steeds in die huidige weergawe ingesluit. Dit het wel die voordeel dat lesers wat met daardie omgewing en geskiedenis onbekend is, aan iets nuuts bekendgestel word.

Die 2010-uitgawe, sê Kotzé junior, lewer hopelik ’n bydrae om meer klem op gedeelde waardes van die Suid-Afrikaanse samelwing te plaas: “Die belang van altruïsme (teenoor die materialistiese eiebelang van baie) en van ’n sin vir verantwoordelikheid is baie prominent in enige beskouing van ’n heldedaad.” Inderdaad. Wat is meer altruïsties as juis ’n heldedaad?

Swart het geskryf dat ons voorouers nie graag kinders geprys het nie – dit was deel van die Zeitgeist. En hy voer dit aan om teen dié instelling in tog enkele kinders voor te trek en te vereer.

Maar hy sien meer as net waagmoed in die dade – hy sien helderheid van denke in krisistye: kreatiewe-oplossingsvaardighede. En hy beskou dit as ’n goeie eienskap van sy volk: ’n boer maak ’n plan. Of eerder: ’n Boer. Sekerlik het ons oorlede president reg: van jongs af moes Afrikanerkinders hulle kant bring “om Afrika te tem”. Uiteraard sal mens sulke eienskappe by enige suksesvolle groep in soortgelyke omstandighede bespeur. Ander sou hulle eenvoudig verdwyn het. En vandag is daar ander uitdagings, wat ander “planne” vereis. Gaan die Afrikaner aan hierdie uitdagings voldoen? En steeds as suksesvol beskou word? Dalk nooit in die oë van die wêreld nie ...

Baie heldedade word nooit bekend nie, en hoewel sommige erkenning kry, word daardie dade nie noodwendig geboekstaaf nie. Só is die verhaal van Wolraad Woltemade baie bekend, maar min mense weet dat daar meermale sulke gevalle langs ons kus, selfs nie ver van die stranding van De Jonge Thomas nie, plaasgevind het.

Ook weet ek van die geval van ’n Afrikanerman wat twee swart kinders betreklik onlangs uit ’n onstuimige see gered het deur hulle een-een te gaan uithaal, amper soos Woltemade, maar sonder ’n perd. Die vorige staatspresident, Thabo Mbeki, het aan hom die Orde van Mendi vir Dapperheid toegeken en dus het hy wel erkenning gekry. Hierdie geval toon weer dat dapperheid kleurgrense ignoreer en oor basiese menslikheid gaan.

Maar ek weet ook net daarvan omdat hy ’n persoonlike vriend is. Benewens ’n foto van hom in ’n koerant is daar geen publieke boekstawing van sy daad nie, en soos dit ’n held betaam, moet mens die storie uit hom trék.

Helde is nie heldhaftig omdat hulle medaljes en lofsange begeer nie. Daarom ook raak te vele sulke voorvalle eenvoudig vergete. Dáárom is dit goed dat daar boeke soos hierdie is. Dat ons kan onthou. En besield kan raak. En trots kan wees. Des te meer as hulle kinders is.

’n Boek oor dapperheid kan nie anders as om moraliserend te wees nie, en ’n bespreking daarvan ook nie. Want dit gaan eerstens oor moraliteit. Per se. Dis my verskoning en ek hou daarby!

Soos genoem, kan mens aan die inhoudsopgawe sien dat nie net oor die Dirkie Uyse en Racheltjie de Beers gehandel word nie, of ’n Klara Majola half terloops ingesluit word nie, maar ook Duitsers, Damaras en Engelssprekendes. Ek dink nie Swart sou regtig omgegee het nie, veral nie as hy nou geleef het nie. Die wiel draai, en seisoene en modes én opvattings.

Om die keuse van elke verhaal te beoordeel sou net so subjektief wees as wat dit arbitrêr is. So was dit sekerlik ook maar met die samesteller, al het hy duidelik probeer om ’n meer verteenwoordigende groep bekend te stel.

Dis wel interessant om te kyk na die tipe gevare wat hierdie jong helde (alle genders) moes trotseer. Daar is die natuurelemente: koue, dors, roofdiere en water, oftewel swembaddens. Daar is die medemens: oorlog ... ja, en nóg oorlog in al sy gedaantes en periodes van konflik wat dalk niks meer as opflikkerings was van die ewige spanning wat onder die oppervlak woel en broei nie. Sou mens na enige nasie op aarde kyk, sou jy sekerlik soortgelyke tendense bespeur. Die mens bly maar mens. Dit kos dikwels die slegstes om die beste in die kollig te dwing.

Een verhaal wat my effe vreemd opgeval het, is die een oor Hansie Smal, en dit was dalk omdat die futiliteit van die seun se dood mens tref. En jy dink: Hoekom? Was dit omdat sy vader hom so geleer het? Was dit tekenend van die pligsgevoel van kinders van daardie periode? Is dit hoekom Kotzé dit gekies het? Daar is meer te lees in elke verhaal as net die voortreflikheid van die hoofkarakters. Ook só wat die bundel as geheel betref. En die vóór dit en dié wat (hopelik) ná dit sal kom.

Die eerste uitgawe van Dapper kinders van Suid-Afrika het in 1963 die PK Albertyn-prys vir Jeuglektuur ontvang. Die 2010-uitgawe is geensins ’n verwatering van die oorspronklike nie. Die boek is aan te beveel. Solank mens gaan terugsit en dink. Alles is relatief, uiteindelik. Maar wat is ons elkeen se prioriteite?

Hierdie is ’n mooi boek. ’n Mooi omslag, mooi duursame glanspapier, en ’n mooi boodskap. Die 2010-uitgawe sou sekerlik selfs vir DJ Kotzé met sy besonder hoë standaarde tevrede gestel het.