Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Afrikaans en die Nederlandse Taalunie (NTU)


Wannie Carstens - 2010-12-02

Die byeenkoms van die Nederlandse Taalunie om hulle 30ste bestaansjaar te vier het volgens wat ek hier vanuit België kon aflei, heelwat dekking in die media in Suid-Afrika gekry – ek het by geleentheid selfs daaraan meegedoen. Mense is seker nuuskierig oor wat werklik gebeur het en ek doen gou verslag daaroor.

Die Nederlandse Taalunie (NTU) is die liggaam wat hom amptelik beywer vir die uitbou van Nederlands as taal wêreldwyd. Die NTU word bestuur deur ʼn Raad van Bestuur bestaande uit Nederlandse en Vlaamse ministers asook ʼn aantal hoë amptenare. Vanjaar se byeenkoms (onder die naam “Taaltop, Nederlands wereldtaal” en aangebied op 19 en 20 November) was daarop gemik om ʼn hele aantal sake te hanteer:

a. Die vier van die NTU se 30ste bestaansjaar as organisasie.

b. Die byeenbring van senior mense (onder andere verantwoordelike ministers) uit Nederland, België (bedoelende Vlaandere), Indonesië, Aruba, Curaçao, Suriname en Suid-Afrika ten einde te besin oor beleidsmatige samewerking oor aspekte van die Nederlandse taal binne die raamwerk van die NTU. ʼn Suid-Afrikaanse afvaardiging onder leiding van die nuwe adjunkminister van kuns en kultuur, Joseph Phaahla, en die waarnemende direkteur-generaal van die departement, Mbulelo Jokweni, het Suid-Afrika hier verteenwoordig.

c. Die byeenbring van persone wat betrokke is by beleidsvorming oor sake wat die NTU raak. Die doel hiervan was om te kyk in watter mate samewerking oor Nederlands die bogenoemde lande kan raak. Hier aanwesig was ook lede van die Interparlementêre Komitee (van die Nederlandse en Vlaamse parlemente), die Raad van “de Nederlandse Taal en Letteren”, die Raadskomitee van Suriname, die Onderwyskommissie van die Surinaamse parlement, en verteenwoordigers uit Indonesië, Aruba, Curaçao, Suriname en Suid-Afrika. Ek self, as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), en Christo van de Rheede, hoof van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), het die Afrikaanse burgerlike samelewing hier verteenwoordig en ook ʼn voorlegging gemaak oor hoe ons Afrikaans se verwantskap met Nederlands en die NTU sien. Stewart van Wyk van die UWK (tans op ʼn navorsingsbesoek aan Gent) het ook die geleentheid as gas bygewoon.

d. Die viering van Nederlands as wêreldtaal – in die besonder om die Nederlandssprekende jeug betrokke te kry by projekte om Nederlands as taal te gebruik en te bevorder.

Die byeenkoms het plaasgevind in die historiese Belgiese dorp Brugge, wat bekend is vir sy toeristiese aantreklikhede. Brugge was opgetooi vir hierdie geleentheid en het nogal groot gewag gemaak van die byeenkoms. Vanuit ʼn toeristiese hoek was dit opvallend hoe die dorp hom begin gereed maak vir die komende Kersseisoen – helder-verligte strate, Kersliggies in die strate, Kersversierings in die winkelvensters, ens.

Wat was die uitkoms van die byeenkomste? Die Suid-Afrikaanse afvaardiging het ʼn “brief van voorneme” (“letter of intent”) met die NTU geteken waarvolgens daar samewerking op ʼn hele aantal terreine sal volg. Dit beteken in praktiese terme dat die Lae Lande se kundigheid op talle vlakke aan Suid-Afrika beskikbaar gestel word, soos oor mensliketaaltegnologie, leesbevordering, geletterdheidsontwikkeling, kurrikulering, letterkundige ontwikkeling, esm. Via Afrikaans sal die ander Suid-Afrikaanse tale ook hierby baat. Dus ʼn uitreik wyer as net Afrikaans. Dit is gevolglik ʼn positiewe uitkoms van die byeenkoms – die benut van mekaar se kundigheid oor en weer, want die Lae Lande is veronderstel om te leer uit Suid-Afrika se ervarings met onder meer meertaligheid.

Wat sal ʼn mens nou sê oor dit wat hier plaasgevind het?

Aan die een kant is daar blydskap dat hier wel ʼn amptelike Suid-Afrikaanse afvaardiging was wat kom deelneem het – hulle moes werklik net ja sê op dit wat die Lae Lande aanbied. Ek was ook bly dat die brief van voorneme geteken is, want dit kan as vertrekpunt gebruik word met die oog op verdere moontlikhede bo en behalwe die reeds geïdentifiseerde terreine van samewerking. Die potensiaal vir mooi dinge vorentoe is nou daar. Wat maak ons nou hiermee?

Aan die ander kant het ek my in kommentaar aan die media ietwat negatief uitgespreek oor die vermoë van die staat om wel hierdie geleenthede te benut, en ek is vanuit ʼn paar oorde daaroor kwalik geneem. Moes ek gesê het die staat kan regtigwaar die implementering van hierdie projek hanteer? Is dit enigsins waar? Is daar die nodige kapasiteit beskikbaar om iets hiervan te maak? Kan die staat werklik hierdie projekte bestuur, of selfs stuur? Ek is van oordeel dat dit eerder sal werk as die staat (in die vorm van die Departement Kuns en Kultuur en sy senior amptenare) saamwerk met die Afrikaanse burgerlike gemeenskap (soos die ATR en sy lidorganisasies) om dit waar te maak. Kan die staat werklik op hierdie stadium iets deel oor sy ervaring met meertaligheid? Daar is bloot net te veel voorbeelde waar die staat tot op hede nie sy kant gebring het nie.

Laat ons wel positief wees en hoop dat uit ʼn vennootskap (staat plus die Afrikaanse burgerlike gemeenskap) daar iets sinvols na vore kom! Kom ons gee die staat die voordeel van die twyfel, maar laat ons ook konkreet aanbied om te help om hierdie belangrike geleentheid meer te maak as bloot ʼn lekker saamkuier in ʼn pragtige stadjie in die buiteland.

Wannie Carstens

Ns: Ek en Christo van de Rheede was bevoorreg om ook in die paar dae voor die byeenkoms (16-19 November) saam met kollegas uit Indonesië, Aruba, Curaçao en Suriname ʼn kort toer wat deur die NTU se kantoor in Brussel gereël is, mee te maak. In hierdie proses het ons Brussel besoek (en is ons op ʼn toer deur minder bekende dele van Brussel geneem), het ons in Leuven by die universiteit ʼn paar lesings oor Nederlands as vreemde taal bygewoon, het ons in Gent ʼn kongres oor Nederlands as skooltaal meegemaak, en het ons ook saam die byeenkoms in Brugge bygewoon. Ons het na mekaar geluister en by mekaar geleer – dit was absoluut wonderlik hoe ons met Nederlands as basistaal gekommunikeer het. Netwerke is gevorm en vriendskappe is gesluit. En dit alles omdat die NTU Nederlands as wêreldtaal gevier het.

En in hierdie proses het ons ook lekker koud gekry, want die winter is vanjaar fel in Europa.