Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Red dra Tarantino-energie aan ’n wyer gehoor oor


André Crous - 2010-12-02

 Red
Regisseur: Robert Schwentke
Kamerawerk: Florian Ballhaus
Rolverdeling: Bruce Willis, Mary-Louise Parker, Helen Mirren, Brian Cox, Morgan Freeman, John Malkovich, Karl Urban, Ernest Borgnine, Julian McMahon
Looptyd: 110 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 19 November 2010

 

 

 

Nie ver verwyder van die adrenaliengepakte absurditeite van Kick-Ass nie, het ons nou nóg ’n film gebaseer op ’n prentverhaal wat nie jou gewone superhelde bevat nie. Tewens, as jy so na die rolverdeling kyk, sou jy kon raai dat dit ’n veel ernstiger affêre behoort te wees, en dit is juis die lewenslustige slinksheid van die karakters wat die kyker sal bybly.

Bruce Willis is ’n voormalige geheime agent wat skielik gejag word en dit neem ons ten minste die helfte van die looptyd en ’n reünie met al sy vorige kollegas in die intelligensiegemeenskap, asook ’n paar nuwes wat op sy spoor is, voordat ons die omvang van die komplot om hulle almal se lewens mooi kan begryp. En hierdie komplot is self so oordrewe dit ruik soos The Manchurian Candidate, behalwe dat daar nie LSD is om vir die atmosfeer te verantwoord nie. John Malkovich se karakter, wat terloops die akteur pas asof dit aangegiet is, is maller as ’n haas en sorg vir talle oomblikke se uitbundige geskater.

Helen Mirren as die sjarmante oud-MI5-agent en Brian Cox, die Russiese Ivan, is ewe indrukwekkend en sorg vir ’n baie sterk groep in die kern van hierdie aksieavontuur wat Tarantino se energie aan ’n wyer gehoor oordra. Die jonger spelers, Karl Urban en Mary-Louise Parker, maak ook ’n sterk indruk en staan hul man (en vrou) teen hul gesoute kollegas. Dit was net so wonderlik om Ernest Borgnine weer ’n slag te sien.

Hierdie is ’n geweerskoot-extravaganza, maar gelukkig neem die film sigself nooit te ernstig op nie en sorg dit heelpad deur vir ’n sterk storielyn vol intrige en selferkende storieboekromanse.