Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Liefling is ’n groot flop


André Crous - 2010-12-02

Regisseur: Brian Webber
Kamerawerk: Paul Krüger
Rolverdeling: Lika Berning, Bobby van Jaarsveld, Marlee van der Merwe, Elize Cawood, Porteus Xandau, Rouel Beukes, Sonja Herholdt, Jaco Muller, Willem Botha, Kurt Darren
Looptyd: 110 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 19 November 2010


Honderd-en-tien minute is ’n baie lang tyd vir ’n musikale gemors. Liefling is iets in die lyn van ’n musiekvideo, want dit lyk heel mooi – die film is veel meer geïnteresseerd in dit wat gesing word as dit wat gewys word en die storielyn self is amper ’n toevallige aspek van die produksie. Byna die hele film is volgeprop met sang, ten koste van basiese oorgangsdialoog, maar waar dit byvoorbeeld in ’n film soos Evita kan werk, sit Liefling die pot behoorlik mis, want die karakters is swak geskets en het nie ’n greintjie realistiese motivering vir enigiets nie.

Die film het duidelik nie ’n draaiboek gehad nie. Kyk na die wyse waarop die film begin. Dit is ’n musiekvideo van “Kinders van die wind”, in sepia, wat geheel en al buite die raamwerk van die res van die film staan. Verder het ons die primêre storielyn waarvolgens Liefling (Lika Berning) versot raak op Jan (Bobby van Jaarsveld), en hy op haar, en hoewel hierdie twee akteurs se toneelspel heel goed is, is die ontwikkeling van hul storie nie net gefragmenteerd nie, maar heeltemal vergesog.

’n Massa Afrikaanse sangers is betrek om dikwels hul eie liedjies te sing, maar die resultaat voel regtig verwronge, veral wanneer iemand soos Kurt Darren se karakter, wat eintlik geen plek in die film het nie, met die eerste verskyning die hand van ’n vrou (Anna Davel) vra, en die volgende keer is hy op sy seiljag en sing hy “Kaptein, span die seile”. En dit is al. Wat ’n mors van ons tyd.



In dieselfde toneel by die Hartebeespoortdam was dit vir my ook snaaks om die heeltyd die produkplasing van ’n sekere seiljagwebwerf op te merk: Elke nou en dan het die seiljag, met die webadres duidelik sigbaar, al weer agter die dansende karakters verbygeseil. Die produkplasing van die lugredery is darem beter gedoen en minder indringerig.

Die film se belangrikste storie, die een rondom Liefling en Jan, het dikwels tweede of derde viool gespeel tot ’n hele klomp ander uiters vervelige en ongeloofwaardige storietjies wat eenvoudig nie die aandag kan hou nie. Ek moet erken ek was baie beïndruk met Sonja Herholdt se toneelspel, en natuurlik is Elize Cawood altyd ’n positiewe byvoeging tot enige film. En soos destyds in Leon Schuster se Sweet ’n Short, verseker Riaan Cruywagen se betrokkenheid by enige produksie ’n uitsonderlik magiese oomblik.

Hoewel Liefling visueel heel goed lyk, is die beeld by tye ook heeltemal te eksperimenteel en daar is geen deurlopende gedagte nie. Daar is stadige bewegings, pienk hemele, Flashdance-silhoeëtbeelde en selfs ’n oomblik waar ’n karakter in ’n swembad agterstevoor uit die water oprys sonder ’n druppel water op haar lyf, maar alles is fragmente, asof die regisseur dit net wou uitprobeer om te kyk of hy dit kan doen. Die punt waar alles inmekaar stort, is een van die laaste tonele, op ’n brug, waartydens die kamera vir die duur van die hele musieknommer om die karakters draai – nou vinniger, dan stadiger – en nooit van perspektief verander nie. Dit is lui, dit is onsinnig en dit het my fisies siek gemaak.



Ek het niks teen die idee van ’n Afrikaanse musikale film nie; inteendeel – ek dink dat dit potensieel ’n goeie bewys kan wees van die uiteenlopendheid van Afrikaanse kultuur. Maar Liefling ry op die golf van sy musiek en ignoreer die belang van koherente storie, sterk karakters en basiese geloofwaardigheid. High School Musical is nie waffers nie, maar dit het ten minste ’n sterk storie gehad. In teenstelling daarmee lyk Liefling meer soos ’n eksperiment in filmmaak, en dit is ’n groot flop.