Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

Persepsies van hoe pa’s by hul seuns betrokke behoort te wees


Awie Greeff - 2010-12-02

 Opsomming 

Die doel van hierdie eksploratiewe, kwalitatiewe ondersoek was om pa’s se persepsies van hoe hulle en ander pa’s by hul seuns se lewens betrokke behoort te wees, te verken. Deelnemers was getroude bruin pa’s van seuns in graad 7 wat saam met daardie seuns en die seuns se biologiese ma’s woon. ’n Oop vraag is aan deelnemers in drie fokusgroepe gestel. Die data is met behulp van die Atlas.ti-program ontleed. Op grond van Lamb, Pleck, Charnov en Levine (1987) se beskrywing van pa-betrokkenheid en die data-ontleding kon inhoud gegee word aan die temas verantwoordelikheid, toenadering en toeganklikheid. Volgens die resultate is pa’s se verantwoordelikheid die belangrikste komponent van pa-betrokkenheid. Dit behels om opvoedingstake te verrig, die seun te dissiplineer en te beskerm, ’n rolmodel vir die seun te wees, in voedings- en ander finansiële behoeftes te voorsien, godsdienstige leiding te verskaf en ondersteuning met skoolwerk te bied. Toenadering behels dat pa’s interaksie met hulle seuns moet hê, geloof in hulle moet hê en in hulle doen en late moet belangstel. ’n Bewys van omgee sluit ook die belangrikheid van fisiese kontak en die toon van liefde in. Laastens toon die bevindinge dat pa’s toeganklik moet wees, tyd saam met hulle seuns moet spandeer en hulle moet bystaan. Die bevindinge van hierdie ondersoek vul ’n leemte in die literatuur oor hierdie onderwerp en kan sinvol aangewend word in die ontwikkeling van ouerleidingsprogramme.

Abstract

Perceptions of how fathers should be involved with their sons

The purpose of this explorative, qualitative study was to explore fathers’ perceptions of how they and other fathers should be involved in the lives of their sons. The participants in this study were married, coloured fathers of boys in Grade 7 who lived with those sons and the sons’ biological mothers. The participants, divided into three focus groups, were asked an open question. The data were analysed by means of the Atlas.ti program. On the basis of Lamb, Pleck, Charnov and Levine’s (1987) description of fathers’ involvement and the data analysis, content could be given to the themes of responsibility, engagement and accessibility. According to the results, the fathers’ responsibility is the most important component of their involvement. This entails carrying out tasks relating to bringing up, disciplining and protecting their sons, being a role model for them, providing for nutritional and other financial needs, providing religious guidance and offering support with school work. Engagement entails that the fathers should interact with their sons, have faith in them and also show an interest in their activities. An indication of caring also includes the importance of physical contact and displays of love. Lastly, the findings show that fathers should be accessible, spend time with their sons and support them. The findings of this study fill a gap in the literature on this topic and can be applied meaningfully in the development of parental guidance programmes.

Inleiding

Pa-skap is ’n konsep wat met verloop van tyd verander het. Voor die middel van die 20ste eeu is navorsing oor pa-skap vanuit die perspektief van pa’s as afwesige ouers beskou (Pleck 1997:71), en belangrike aspekte van pa-skap, byvoorbeeld die invloed van ’n pa op sy kind se opvoeding, sy uitvoer van take in en om die huis en sy ondersteuning van die moeder, is geïgnoreer (Hawkins en Palkovitz 1999:29; Pleck en Stueve 2001:71). Om ’n “morele leier of gids” te wees was die belangrikste verantwoordelikheid van pa’s voor die Industriële Revolusie (Lamb 2000:23), terwyl die “broodwinner”-funksie vanaf die Industriële Revolusie tot die Groot Depressie hulle primêre rol uitgemaak het (Coltrane 1996). In die 1930’s en 1940’s was die “geslagsrolmodel” prominent, totdat die “nuwe versorgende rol van die pa” in die 1970’s belangrik geword het.

Omdat die konsep van pa-skap oor die jare veranderinge ondergaan het, is navorsing oor pa-skap gekritiseer op grond van ’n gebrek aan teoretiese ondersteuning, en het dit tot gevolg gehad dat pa-skap nie deeglik geëvalueer kon word nie (Snarney 1997:xi). Verskeie pogings is egter aangewend om pa-skap vanuit die volgende perspektiewe te konseptualiseer: Die historiese perspektief verskaf ’n beeld van hoe pa-skap oor die eeue heen verander het (Marsiglio, Amato, Day en Lamb 2000:1175). Vanuit die ekologiese perspektief word erkenning daaraan gegee dat die individu deur komplekse sisteme in interaksie met die omgewing is (Bronfenbrenner 2005:22). In terme van die sosiologiese perspektief word pa-skap beskryf as ’n sosiale konstruksie wat ontstaan vanuit die geslags-, ekonomiese en politieke strukture onderliggend aan gesinne (Doherty, Kouneski en Erickson 1998:280). Die generatiewe perspektief verduidelik hoe individue se dringende behoefte om iets vir die volgende generasie terug te gee, ’n bepalende rol speel in hoe hulle hulle rolle vervul (Brotherson, Dollahite en Hawkins 2004:7). Vanuit ’n identiteitsperspektief hang pa-skap grootliks af van pa’s se subjektiewe persepsies van hulself en hulle rolle (Henley en Pasley 2005:63). Laastens bevraagteken feministiese perspektiewe die ideologie wat ’n onveranderde beskouing van pa-skap ondersteun en eis dit die identifisering van ’n meer betrokke, minder dominerende model van pa-skap (Silverstein en Rashbaum 1994:401). Oor die algemeen stem navorsers egter saam dat daar nie net ’n enkele teorie is wat pa-skap volledig beskryf nie (Roggman 2004:229).

Waar sommige teorieë op die pa se begrip van en verpligting ten opsigte van verskeie aspekte van ouerskap fokus (identiteitsteorieë en generatiewe pa-skap), plaas ander weer klem op ’n wyer reeks aspekte wat, volgens hierdie teorieë, ’n meer volledige en multidimensionele perspektief (sosiologiese en ekologiese perspektief) van pa-skap verskaf. Gesinstrukture en ouerskapsrolle verskil tussen gemeenskappe en binne gesinne en verander met verloop van tyd. Navorsing oor pa-skap moet daarom eerder beplan en gedoen word aan die hand van beskikbare teoretiese raamwerke waarin die rol van pa’s in die lig van verskillende kontekstuele faktore gekonseptualiseer word (Rane en McBride 2000:362). Coley (2003:871) meen dat navorsers moet poog om pa’s se betrokkenheid op kreatiewe wyses te beskryf.

Die aktiwiteite wat deel van pa-skap is, het toenemend gewild geraak onder navorsers, en die term pa-betrokkenheid het die fokus geword. In die afgelope paar dekades het ’n klemverskuiwing na die versorgende, betrokke pa plaasgevind (Bruce en Fox 1999:458; Dollahite en Hawkins 1998:109). Verskeie navorsers het reeds belangrike bydraes tot hierdie fokuspunt gemaak, met Lamb, Pleck, Charnov en Levine (1987:41) se verduideliking van pa-betrokkenheid wat die algemeenste in die literatuur voorkom. Lamb e.a. (1987:41) is van mening dat die betrokkenheid van pa’s die volgende drie komponente insluit: (1) verantwoordelikheid: die pa se handelinge rakende sy kind se direkte sorg; (2) toenadering: ervarings van direkte kontak, omgee en interaksie tussen pa en kind; en (3) toeganklikheid: die pa se teenwoordigheid by sy kind, asook sy beskikbaarheid vir sy kind.

In verskeie ondersoeke is bevind dat hoë vlakke van ouerbetrokkenheid en direkte kontak met die kind ’n beduidende effek op adolessente se welstand en ’n positiewe invloed op die kind se sosiale, gedrags- en sielkundige ontwikkeling het (Parke 2000:2; Pleck 1997:71; Sarkadi, Kristiansson, Oberklaid en Bremberg 2008:153). Daar is ook spesifiek bevind dat pa’s se verhouding met hul seuns positief met die seuns se opvoedkundige en beroepskeuses, sielkundige aanpasbaarheid en selfevaluering verbind word (Flouri 2005:32). Verder word pa’s as belangrike bydraers tot die sosiale, emosionele en kognitiewe ontwikkeling van seuns beskou (Lamb 1997:3). Bronte-Tinkew, Carrano, Horowitz en Kinukawa (2008:1211) het ook bevind dat verskillende aspekte van pa-betrokkenheid (soos kognitief-stimulerende aktiwiteite, warmte en versorgingsaktiwiteite) geassosieer word met ’n laer voorkoms van kognitiewe vertraging by kleuters, veral by seuns.

Navorsing deur Amato en Booth (1997:23) dui daarop dat seuns wie se pa’s meer betrokke is, geneig is om meer sosiale integrasie en minder gedragsprobleme by die skool te toon. Hierdie seuns is ook meer bewus van alledaagse aanwysers wat hul toekomstige welstand, suksesvolle huwelike en ondersteunende sosiale netwerke versterk. Hierteenoor loop seuns wat nie emosionele ondersteuning van hul pa’s ontvang nie, en wie se pa’s oordrewe streng of te toegewend en onbetrokke in hul lewens is, ’n groter risiko om negatiewe sosiale en emosionele uitkomste te toon (Harper 2010:66). Daar is ook bevind dat verhoogde pa-betrokkenheid die gehalte van verhoudings tussen broers en susters verbeter (Harper 2010:66).

Navorsing oor pa-betrokkenheid is betreklik jonk (Lamb 1997:8; Zimmerman, Salem en Notaro 2000:46) en beskikbare navorsing oor persepsies van die pa se rol is beperk (Parke 2002:27). Algemene persepsies van pa-betrokkenheid sluit rolle en verantwoordelikhede soos dié van broodwinner, opvoeder, rolmodel, dissiplineerder, emosionele ondersteuner, metgesel, beskermer en leier van godsdienstige aktiwiteite in (Halle 2002:iii).

Navorsing wat spesifiek op die persepsies van kinders fokus, beklemtoon die belangrikheid van pa’s in gesinstrukture. Kinders meld dat hul pa’s vir hulle ’n bron van hulp, advies en morele ondersteuning moet wees (Warin, Solomon, Lewis en Langford, 1999:4). Montemayor en Brownlee (1987:281) voer aan dat wanneer kinders tyd met hul pa’s deurbring, hulle meer geneig is om aan genotvolle aktiwiteite deel te neem, byvoorbeeld maaltye en ontspanningsaktiwiteite. Adolessente spandeer ook minder tyd met hul pa’s as met hul ma’s.

Daar is ’n leemte in die literatuur oor die persepsies van ma’s oor pa-betrokkenheid, maar dit blyk dat ma’s ’n kardinale rol in die bevordering van die pa-kind-verhouding speel (Arendell 1996:16). Volgens Walker en McGraw (2000:563) is daar bewyse dat sommige ma’s die verhouding tussen pa’s en hul kinders aktief aanmoedig, en dat ma’s meer suksesvol is om pa’s by ouerskap betrokke te kry as wat andersom die geval is (Belsky 1979:749). Ma’s noem ook dat biologiese pa’s sowel as stiefpa’s wat saam met hul kinders in die huis woon, meer betrokke is by hul kinders as biologiese pa’s wat nie saam met hul kinders woon nie (Gorvine 2010:90).

Mans se persepsies van die belangrikheid van hul rolle in gesinne het ’n aktuele en strategiese kwessie geword sedert ’n meer gelyke vennootskap tussen pa’s en ma’s die norm begin word het (Dienhart 2001:993). Hierdie ontwikkeling het nuwe persepsies van pa’s geskep, byvoorbeeld dat pa’s meer aandag aan gesinsverhoudings en kindersorg moet gee. In ’n ondersoek deur Summers, Raikes, Butler, Spicer, Pan en Shaw (1999:291) is bevind dat pa’s se persepsies van hul rolle die volgende insluit: om finansiële ondersteuning te bied; om aanwesig en beskikbaar vir hulle kinders te wees; om te help met versorgingsaktiwiteite; om met hulle kinders te speel en hulle op uitstappies te neem; om hulle kinders te onderrig, te lei en te dissiplineer; om liefde en hartlikheid te verskaf; en om beskerming te bied. Daar is ook bevind dat pa’s ’n verskeidenheid persepsies van hul rol as pa het, en dat mans oor die algemeen saamstem dat die pa-rol veel meer behels as blote finansiële voorsiening, en dat dit inderdaad meervoudige aspekte van betrokkenheid insluit. Beitel en Parke (1998:285) sluit hierby aan en vind dat mans wat ’n hoër waarde aan die pa-rol heg, ook hoër vlakke van betrokkenheid by hul kinders se lewens het.

Pa’s se persepsies van hul rolle in verskillende groepe, kulture en gesinne verskil. Marsiglio en Cohan (2000:75) se navorsing oor pa-betrokkenheid beklemtoon hoe dit deur ras, geslag, ekonomiese kwessies en die pa’s se verhoudings met hul kinders se ma’s en met ander in die gemeenskap beïnvloed word. Daar is ook ’n verskil in die wyses waarop ouers en kinders uiting gee aan gevoelens. Pa’s van adolessente meld, anders as ma’s, dat hulle vir hul kinders sorg en hulle bystaan eerder as om toegeneentheid deur soene en drukke te toon (Mendes 1976:439). Henley en Pasley (2005:59) meen dat die mate waarin mans aan sosiale interaksie blootgestel word, ’n invloed op hulle siening van hul betrokkenheid by hul kinders se lewens het.

Navorsers het eers meer onlangs pa’s se persepsies van die belangrikheid van hul rolle in hul kinders se lewens en hoe dit op hulle wesenlike betrokkenheid by hul kinders betrekking het, begin ondersoek (Parke 2002:27). In vergelyking met navorsing wat betrekking het op ma-skap, blyk dit dat pa-skap beperkte aandag geniet (Flouri 2005:33; Gorvine 2010:90). Dit is belangrik om pa’s se persepsies te verstaan, aangesien die pa-kind-verhouding deur pa’s se begrip en organisering van pa-rolle beïnvloed word, wat weer sekere gevolge vir die kind se ontwikkeling inhou (Parke 2002:27).

Met die voorafgaande bespreking as vertrekpunt en gegewe die beperkte navorsing wat al oor pa-skap gedoen is, veral in lae-inkomste bruin gemeenskappe in Suid-Afrika, is besluit om ʼn eksploratiewe, kwalitatiewe navorsingsontwerp te gebruik om ʼn beter begrip te kry van pa’s se menings rakende hulle betrokkenheid by hul seuns se lewens. Die volgende aspekte het hierdie besluit gemotiveer: die verkennende aard van die ondersoek, die soeke na kontekstuele inhoude wat teorie kan versterk maar ook in die toekoms prakties gebruik sal kan word, en die groter gepastheid van ’n ontwerp waar deelnemers mondelings kan verwoord en meedeel wat hulle dink en voel. Deur pa’s se persepsies te ontleed, is daar dus op ’n gepaste wyse eerstehands kennis oor ’n baie belangrike konstruk ingewin.

Metode

Data is deur middel van drie fokusgroepbesprekings ingesamel. Die doel van ’n fokusgroep is om inligting bymekaar te maak en daardeur beter te verstaan hoe mense oor ’n spesifieke onderwerp of saak voel of dink. Tendense en patrone word geïdentifiseer eerder as dat konsensus bereik word. Daarom word drie of meer fokusgroepe gewoonlik in navorsing gebruik. Alhoewel die grootte van fokusgroepe wissel, is die ideale grootte vir niekommersiële onderwerpe ses tot agt deelnemers (Krueger en Casey 2000:117). Wanneer ’n onderwerp in groepsverband bespreek word, is die potensiaal groter om vinniger meer idees te genereer as wanneer individue dit afsonderlik bespreek (Baron en Kerr 2003:55). Die deelnemers aan ’n fokusgroep word geselekteer omdat hulle sekere eienskappe gemeen het wat met die doelwitte van die ondersoek ooreenstem (Litosseliti 2003:39).

’n Fokusgroep moet gelei word deur ’n bekwame onderhoudvoerder wat ’n niebedreigende atmosfeer kan skep en deelnemers aanmoedig om persepsies te deel sonder om hulle onder druk te plaas (Morgan 1997:151). Dit is belangrik dat die onderhoudvoerder agtergrondkennis oor die onderwerp het sodat hy die kommentaar in perspektief kan plaas en kan opvolg wanneer kritiese aspekte ter sprake kom. Dit is ook belangrik dat hy die vermoë het om te luister en die selfdissipline het om sy persoonlike persepsies vir homself te hou (Krueger en Casey 2000:102). Besprekings word beëindig sodra ’n punt van versadiging bereik is, dit wil sê wanneer geen nuwe inligting verkry word nie (Krueger en Casey 2000:131).

In hierdie ondersoek is van twee fokusgroepe van ses deelnemers elk en een fokusgroep van drie deelnemers gebruik gemaak om data in te samel.

Deelnemers

Ten einde ’n leemte in die beskikbare navorsingsliteratuur oor pa-skap in die bruin gemeenskap in Suid-Afrika te vul, is besluit om spesifiek hierdie groep te teiken en die persepsies van getroude pa’s in intakte gesinne te kry. Aangesien ekonomiese status ’n kragtige veranderlike in gesinsnavorsing is, is besluit dat die deelnemers uit ’n lae sosio-ekonomiese groep moet kom, wat die bevindinge dan meer op hierdie spesifieke groep van toepassing sal maak.

Pa’s van graad 7-seuns van ’n laerskool in ’n plattelandse omgewing in die Wes-Kaap het aan die ondersoek deelgeneem. Armoede en werkloosheid is ’n ernstige probleem in hierdie bruin gemeenskap, wat bestaan uit ongeveer 5 000 mense (volgens die 2001-sensusopnames) wat in 800 Heropbou-en-Ontwikkelingsprogram-huise, 300 mediuminkomste-huise en 200 informele en agterplaashuise, asook 50 huise sonder behoorlike sanitasiegeriewe, woon (Watergarden 2007).

Op grond van die seuns se persoonlike besonderhede, wat deur die skoolhoof van die betrokke skool verskaf is, kon inligting oor die samestelling van die leerders se gesinne verkry word. Uit altesaam 78 graad 7-seuns is 34 geïdentifiseer wie se biologiese ouers getroud is en saam met hulle in die huis woon. Die deelnemers was dus getroude bruin pa’s van biologiese seuns in graad 7 wat saam met hulle gesin in die huis woon.

Uitnodigingsbriewe is via die gekose seuns aan hulle pa’s gestuur, en die pa’s moes een van drie tye identifiseer wat hulle die beste sou pas om ’n fokusgroepbespreking by te woon. Van die aanvanklike 34 het 18 pa’s ingestem om ’n fokusgroepbespreking by te woon. Op die dag van die ontmoeting het drie deelnemers van die laaste groep nie opgedaag nie. Vervolgens is twee fokusgroepe van ses deelnemers elk en een fokusgroep van drie deelnemers gebruik om die data te genereer.

Prosedure

Nadat die deelnemers geïdentifiseer is en hulle ingestem het om aan die projek deel te neem, het die data-insamelingsproses soos volg verloop: Daar is met die deelnemers ooreengekom oor ’n tyd wanneer die fokusgroepbesprekings sou plaasvind. Die betrokkenheid en stiptelikheid van die deelnemers is verseker deurdat hulle twee dae voor die ontmoeting telefonies gekontak is en die tyd weer eens bevestig is. Toestemming is van die skoolhoof ontvang om ’n klankdigte klaskamer vir die fokusgroepbesprekings te gebruik.

Alle reëlings en doelwitte, sowel as die beplanning, is vooraf met die deelnemers bespreek. Die onderhoudvoerder het aan die begin van die ontmoeting aan die deelnemers verduidelik presies wat van hulle verwag word, en alle onsekerhede van die deelnemers is uit die weg geruim. Die volgende vraag is aan die groepe gestel: Op watter maniere dink julle behoort ’n pa betrokke te wees in die lewe van sy seun? Op hierdie vraag het pa’s antwoorde gegee oor hoe betrokke hulle dink pa’s behoort te wees, en in sommige gevalle het pa’s voorbeelde uit hulle persoonlike ervarings van pa-skap gebruik. Waar daar onsekerheid was oor die deelnemers se bedoelings met hul antwoorde, is hulle deur die onderhoudvoerder gevra om verder uit te brei of meer duidelikheid oor hul antwoorde te gee. Die navorser het self die fokusgroepe gefasiliteer en die gesprekke is met ’n bandopnemer opgeneem.

Die drie fokusgroepbesprekings het onderskeidelik 79 minute, 66 minute en 32 minute geduur, waarna die versadigingspunt bereik is. Moegheid, verveeldheid en ’n gebrek aan konsentrasie onder die deelnemers is voorkom deur ’n rustyd van vyf minute ná elke halfuur van elke sessie toe te laat. Al drie groepe het op een dag, direk ná mekaar, bymekaargekom.

Nadat ’n buitestander die opnames getranskribeer het, is die transkripsies tesame met die opnames deeglik nagegaan om seker te maak dat geen inligting uitgelaat is nie.

Data-ontleding

Die Atlas.ti-program is gebruik om die data te ontleed (Atlas.ti 2007). Hierdie program is spesiaal ontwikkel vir die kwalitatiewe ontleding van groot hoeveelhede data. Met behulp van die program word die volgende twee basiese metodes tydens die ontledingsproses gevolg:

  • Ontleding op tekstuele vlak. Hierdie vlak sluit aktiwiteite in waar al die data uiteengesit word en as “primêre dokumente” op die Atlas.ti-program gelaai word. Hierna word aanhalings uit die data geïdentifiseer, en kodes word toegeken aan aanhalings wat met mekaar verband hou.
  • Ontleding op konseptuele vlak. Die verbinding van kodes in die vorm van netwerke vind op hierdie vlak plaas. Die tekste word in ’n grafiese vorm omskep, wat die navorser in staat stel om konsepte en teorieë wat op die verhoudings tussen die verskillende kodes gebaseer is, te ontwikkel. ’n Tema word geïdentifiseer waar kodes met mekaar verband hou, en ’n tema-naam word aan die verbandhoudende kodes gegee.

Die transkripsies van die fokusgroepbesprekings van hierdie ondersoek is as primêre dokumente op die program gelaai. Relevante aanhalings uit die dokumente is geïdentifiseer en ’n kode (’n gepaste woord of frase) is aan die aanhalings wat met mekaar verband hou, toegeken. In sommige gevalle is ’n kode aan twee temas toegeken, aangesien die spesifieke kode met twee temas verband hou.

Die geldigheid van die navorsing is verhoog deur gereelde gesprekke tussen die navorsers oor die data-ontleding, waartydens temas en die verbinding van kodes aan temas bespreek is. Wat ook belangrik is, is dat die navorser wat die data ontleed het, deur selfrefleksie sy eie agtergrond en ervaringe voortdurend in ag geneem het wanneer besluite tydens die ontledingsproses geneem moes word (Bradbury-Jones 2007:295).

Etiese aspekte

Die onderhoudvoerder is vertroud met groepwerk en daar is deurgaans so streng moontlik aan die etiese vereistes van navorsing voldoen. Die deelnemers se privaatheid en die vertroulikheid van inligting is gewaarborg deurdat geen name tydens die bandopnames gemeld is nie. Die deelnemers se identiteit is deur die navorser en die skoolhoof beskerm. Hulle regte en waardigheid is ook tydens die sessies gerespekteer deurdat die onderhoudvoerder empatie, positiewe agting en ’n nieveroordelende houding teenoor hulle getoon het. Hiermee is probeer om die effek van die verskille tussen die navorser en die deelnemers met betrekking tot kultuurgroep en ouderdom te minimaliseer. Ingeligte toestemming is van die deelnemers verkry, en niemand is gedwing om aan die groepbesprekings deel te neem nie. Deelnemers kon ook op enige stadium onttrek sou hulle dit wou doen.

Resultate

Uit die transkripsies van die fokusgroepbesprekings en met behulp van die Atlas.ti-program is drie temas, elk bestaande uit verbandhoudende kodes, geïdentifiseer. Soos in vorige navorsing, is Lamb e.a. (1987:41) se beskrywing van drie komponente van pa-betrokkenheid, naamlik verantwoordelikheid, toenadering en toeganklikheid, gebruik om hierdie temas saam te stel.

Temas

Tema 1: Verantwoordelikheid

Hierdie tema is geskep op grond van Lamb e.a. (1987:41) se definisie van verantwoordelikheid, naamlik dat dit enige aktiwiteite ten opsigte van die pa se direkte versorging van die kind, of enige reëlings wat deur die pa getref word wat verband hou met die versorging van die kind, insluit. Met die ontleding van die data is tien kodes geïdentifiseer wat gesamentlik die tema van die verantwoordelikheid van ’n pa uitmaak. In Figuur 1 word die verskillende kodes aangedui wat met verantwoordelikheid verband hou. (Klik op die diagram om dit te vergroot.)

Die kodes van hierdie tema bevat altesaam 107 aanhalings wat as relevant tot ’n spesifieke kode geïdentifiseer is.

Daar is drie kodes in hierdie tema wat baie opvallender is, en aansienlik meer aanhalings bevat, as die ander kodes wat ook deel uitmaak van hierdie tema. Hierdie kodes is Opvoeder, Dissiplineerder en Rolmodel. Baie pa’s het hulle eie en ander pa’s se verantwoordelikheid teenoor hulle seuns beklemtoon. Uit wat hulle gesê het, is dit duidelik dat baie van die pa’s dit gemeen het dat ’n pa ’n groot en verantwoordelike rol in sy seun se lewe behoort te speel deur as opvoeder op te tree, sy seun teen verkeerde gedrag te waarsku, hom te tug wanneer nodig en ook vir hom ’n voorbeeld (rolmodel) ten opsigte van die regte gedrag te wees. Vervolgens word voorbeelde van meer prominente kodes in hierdie tema gegee, sowel as pa’s se stellings hieromtrent.

Kode: Opvoeder, met 25 aanhalings. Voorbeelde van aanhalings wat in hierdie kode val, is:

  • “’n pa moet ’n opvoeder wees vir sy seun”
  • “so as daai kind geleer word van kleins af deur sy pa, glo ek dat hy sal reg optree”
  • “die pa sê altyd vir die seun: Moenie sulke goeters doen nie.”
  • “Verder hou pa’s hulle weg van dwelms en sulke tipe goeters.”
  • “hoe groter hy raak – dan moet jy hom seker die feite van die lewe leer”.

Kode: Dissiplineerder, met 21 aanhalings. Voorbeelde van aanhalings wat in hierdie kode val, is:

  • “Hy moet getug word of gestraf word deur die pa.”
  • “ek handhaaf orde as die pa”
  • “en dissipline leer”
  • “so dan moet jy as pa baiekeer jou stem hard maak – so bietjie volume bysit vir dissipline”.

Kode: Rolmodel, met 19 aanhalings. Voorbeelde van aanhalings wat in hierdie kode val, is:

  • “Jy as vader moet ook vir hom kan wys dié is jou pa, en hy moet kan opkyk na jou.”
  • “Practise what you preach or practise what you teach.”
  • “deur die pa wat die voorbeeld stel”.

Hierdie tema bevat die meeste kodes en aanhalings van die drie temas wat in hierdie ondersoek beskryf word.

Tema 2: Toenadering

’n Volgende komponent van Lamb e.a. (1987:41) se beskrywing van pa-betrokkenheid is toenadering. Dit sluit ervarings van direkte kontak, omgee en interaksie wat tussen die pa en sy kind plaasvind, in. Die tema toenadering bevat sewe kodes wat saamgegroepeer is om hierdie tema te vorm. Figuur 2 stel die verskillende kodes van hierdie tema voor. (Klik op die diagram om dit te vergroot.)

Die kodes van hierdie tema bestaan uit 45 aanhalings, en die opvallendste kodes wat duidelik van die res onderskei kan word wat betref die hoeveelheid aanhalings, is Kommunikasie, Belangstelling, en Geloof in seun. Die pa’s het die belangrikheid van kommunikasie met hulle seuns bevestig. Daarmee saam meen hulle dat ’n pa belangstelling moet toon in wat sy seun doen en waarmee hy besig is. Só wys hy dat hy omgee. Deur die seun vryheid te gee ten opsigte van keuses, toon die pa dat hy vertroue in sy seun het. Voorbeelde van meer prominente kodes in hierdie tema word vervolgens gegee, sowel as die pa’s se stellings daaromtrent.

Kode: Kommunikasie, met 18 aanhalings. Voorbeelde van aanhalings wat in hierdie kode val, is:

  • “dan moet ’n pa lekker kan gesels met sy seun”
  • “jy sê, so dit is pa-seun-verhouding; julle verstaan mekaar”
  • “om met hom te sit en met hom te praat”.

Kode: Belangstelling, met sewe aanhalings. Voorbeelde van aanhalings wat in hierdie kode val, is:

  • “en jy moet ook vir hom belangstelling kan wys, al is dit op ’n klein manier”
  • “Jy wys darem vir hom jy stel belang in wat hy vir die dag in die skool gedoen het.”

Kode: Geloof in seun, met sewe aanhalings. Voorbeelde van aanhalings wat in hierdie kode val, is:

  • “Jy gaan ook nie vir hom sê watter werk hy eendag moet het nie; hy besluit self.”
  • “en as die kind dit besluit, dan moet hy voortgaan met dit en dan sê die pa ‘ja’”.

Hierdie tema bevat die tweede meeste kodes van die drie temas wat in hierdie ondersoek ter sprake is.

Tema 3: Toeganklikheid

Lamb e.a. (1987:41) definieer toeganklikheid as die pa se teenwoordigheid by sy kind, asook sy beskikbaarheid vir sy kind. Aan die hand van hierdie definisie is ’n derde tema geïdentifiseer, naamlik toeganklikheid. In hierdie ondersoek is vier kodes geïdentifiseer wat saamgegroepeer is om die tema toeganklikheid te vorm. In Figuur 3 word die verskillende kodes van hierdie tema aangetoon. (Klik op die diagram om dit te vergroot.)

Die kodes van hierdie tema bevat altesaam 34 aanhalings, en daar is twee kodes wat uitstaan wat betref die getal aanhalings wat dit bevat. Hierdie kodes is Kommunikasie en Teenwoordigheid. Die kode Kommunikasie hou verband met die tema toeganklikheid sowel as die tema toenadering, en is reeds bespreek onder die tema toenadering. Verskeie pa’s het beklemtoon dat ’n pa teenwoordig moet wees in sy seun se lewe. Dit beteken dat hy daar moet wees as die seun besig is met aktiwiteite wat vir hom as kind belangrik is. Hierdeur ontstaan daar ’n kanaal waardeur die kind makliker by sy pa kan uitkom. Voorbeelde van hoe pa’s hierdie teenwoordigheid beskryf, word vervolgens gegee.

Kode: Teenwoordigheid, met 10 aanhalings. Voorbeelde van aanhalings wat in hierdie kode val, is:

  • “en ’n pa moet sy seun bystaan, soos langs die rugbyveld”
  • “jy speel met hom, byvoorbeeld as julle miskien strand toe gaan”.

Hierdie tema bevat die minste kodes van die drie genoemde temas.

Bespreking

Die doel van hierdie navorsing was om pa’s se persepsies van die betrokkenheid van pa’s in seuns se lewens te ondersoek. Kodes bestaande uit aanhalings van die deelnemers is geskep om deel te vorm van temas wat betekenis gee aan die konstruk pa-betrokkenheid soos beskryf deur Lamb e.a. (1987:41). Sommige kodes wat onder die tema verantwoordelikheid val, sluit in Opvoeder, Dissiplineerder, Rolmodel, Beskermer, Finansiële voorsiener, Voedselvoorsiener en Godsdienstige opvoeder. Hierdie kodes is geskep op grond van deelnemers se persepsie dat dit ’n pa se plig is om sekere opvoedingstake te verrig, sy seun te dissiplineer en te beskerm, ’n voorbeeld te wees vir sy kind, in voedings- en ander finansiële behoeftes te voorsien (byvoorbeeld skoolgeld, skoene, sakgeld), sowel as om godsdienstige leiding te verskaf.

In ooreenstemming hiermee stipuleer navorsers dat ’n klemverskuiwing na ’n versorgende, betrokke pa plaasgevind het (Bruce en Fox 1999:458; Dollahite en Hawkins 1998:109). Halle (2002:iii) en Summers e.a. (1999:291) se navorsing sluit hierby aan, waarvolgens pa’s se rolle en verantwoordelikhede dié van broodwinner, opvoeder, rolmodel, dissiplineerder, beskermer en leier van godsdienstige aktiwiteite insluit.

Verskeie navorsers is ook van mening dat pa’s se verhouding met hul seuns ’n positiewe verband het met laasgenoemde se kognitiewe ontwikkeling en opvoedkundige en beroepskeuses (Flouri 2005:32; Lamb 1997:3), en dat pa-betrokkenheid (met inbegrip van kognitief-stimulerende aktiwiteite) geassosieer word met ’n laer voorkoms van verstandelike vertraging by veral kleuterseuns (Bronte-Tinkew e.a. 2008:1211). Die persepsies van die pa’s in hierdie ondersoek ondersteun hierdie bevindinge, deurdat die tema verantwoordelikheid die kode Akademiese ondersteuner insluit, wat gebaseer is op die pa’s se persepsie dat pa’s hul seuns met hulle skoolwerk moet ondersteun.

Deur die kodes Kommunikasie, Belangstelling en Vriendskap, wat deel van die tema toenadering vorm, het die deelnemers beklemtoon dat pa’s interaksie met hulle seuns moet hê, op ’n genotvolle wyse met hulle moet omgaan, en moet belangstel in hulle seuns se doen en late. Montemayor en Brownlee (1987:281) sluit hierby aan deur te sê dat wanneer kinders tyd met hul pa’s spandeer, hulle meer geneig is om aan genotvolle aktiwiteite deel te neem, byvoorbeeld maaltye en ontspanningsaktiwiteite. Summerse.a.(1999:291) beveel ook aan dat pa’s met hulle kinders moet speel en hulle op uitstappies moet neem. Die tema toenadering sluit ook die kode Liefde in en sluit by vorige navorsing aan waarin bevind is dat pa’s hartlikheid en liefde aan hul seuns moet toon (Summers e.a. 1999:291). Die kode Fisiese kontak is gebaseer op deelnemers se persepsie dat pa’s hul seuns fisies moet aanraak (byvoorbeeld deur hulle drukkies te gee en hulle op die nek te dra) as ’n bewys van omgee, en sluit ook by die voorafgaande kode aan. Mendes (1976:439) het egter bevind dat pa’s vir hul kinders sorg en hulle bystaan eerder as om toegeneentheid te toon deur soene en drukke te gee. Hierdie teenstrydigheid kan ’n aanduiding wees dat pa-skap met die jare verander het (Coltrane 1996:6; Lamb 2000:23; Pleck 1997:71).

Toeganklikheid is ’n derde tema wat in hierdie ondersoek aangespreek word, en sluit kodes soos Teenwoordigheid en Beskikbaarheid in. Deelnemers het in hierdie kodes verwys na die belangrikheid van pa’s se fisiese teenwoordigheid by en beskikbaarheid vir hul seuns. In ooreenstemming hiermee wys navorsers daarop dat seuns wie se pa’s meer betrokke is, geneig is om meer sosiale integrasie en minder gedragsprobleme by die skool te toon. Daar is ook aanwysers wat daarop dui dat dit ’n positiewe invloed het op hierdie seuns se toekomstige sielkundige welstand, huwelike en ondersteunende sosiale netwerke (Amato en Booth 1997:23). Eweneens meen Flouri (2005:32) dat dit belangrik is vir pa’s om aandag te gee aan hul seuns ten einde verhoogde aanpasbaarheid en selfwaarde in die hand te werk.

Gevolgtrekkings

Met die oog op die doel van hierdie ondersoek, naamlik om die persepsies van pa’s oor die betrokkenheid van pa’s in seuns se lewens te beskryf, blyk dit dat die verantwoordelikheid van pa’s die belangrikste komponent van pa-betrokkenheid uitmaak. Hierdie aspek van pa-betrokkenheid sluit in om opvoedingstake te verrig, die seun te dissiplineer en te beskerm, ’n rolmodel vir die seun te wees, in die seun se voedings- en ander finansiële behoeftes te voorsien, godsdienstige leiding te verskaf en ondersteuning met skoolwerk te bied. ’n Verdere aspek, naamlik toenadering, is ook uitgelig en vorm volgens hierdie ondersoek ’n belangrike deel van pa-betrokkenheid. Dit behels dat pa’s interaksie met hul seuns moet hê, op ’n genotvolle wyse met hulle moet omgaan, geloof in hul seuns moet hê en in hul seuns se doen en late moet belangstel. As ’n bewys van omgee sluit hierdie aspek (toenadering) ook die belangrikheid van fisiese kontak en die toon van liefde in. Laastens toon die bevindinge ook dat pa’s toeganklik moet wees vir hulle seuns. Dit beteken dat hulle tyd saam met hul seuns moet deurbring, beskikbaar moet wees en hul seuns moet bystaan.

Die bevindinge van hierdie ondersoek en die spesifieke inhoud wat aan die drie komponente van pa-betrokkenheid gegee word, kan met vrug aangewend word in die ontwikkeling en aanbieding van ouerleidingsprogramme. Die bevindinge vul ook ’n leemte in die literatuur oor hierdie onderwerp en kan konstruktief aangewend word in soortgelyke gemeenskappe as dié waarin die ondersoek gedoen is, naamlik gemeenskappe met ’n lae sosio-ekonomiese status waar pa-afwesigheid voorkom.

’n Tekortkoming van hierdie ondersoek is dat die veralgemeenbaarheid van die resultate beperk is tot gesinne met soortgelyke leefwêrelde en omstandighede as die deelnemers aan hierdie ondersoek. Verder is ’n woord of frase vanuit die navorser se subjektiewe verwysingsraamwerk die enigste maatstaf wat in hierdie ondersoek gebruik is vir die kodering van response. Dit kan moontlik onsekerheid by die leser meebring ten opsigte van die presiese betekenis van die kodes. Met die kodering van aanhalings is dit belangrik om so duidelik moontlik te wees, omdat die kodes ’n verteenwoordigende voorstelling moet wees van die aanhalings wat dit bevat. Toekomstige navorsing kan ’n ander verteenwoordigende steekproef van die diverse Suid-Afrikaanse bevolking insluit.

Ten slotte verskil die navorsers, as wit mans verbonde aan ’n universiteitsgemeenskap, opvallend van die deelnemers. Die moontlikheid bestaan dat die deelnemers weens hierdie verskille terughoudend of versigtig kon gewees het met hulle response. Die teendeel is egter tydens die data-insameling beleef. Met hul spontane en eerlike deelname het die meeste deelnemers hul dankbaarheid betoon vir die navorsing en die geleentheid wat aan hulle gebied is om ’n bydrae te lewer tot ’n beter begrip en die ontwikkeling van pa-betrokkenheid in gesinne. Die deelnemers was deurgaans entoesiasties en het spontaan gesê dat hulle die ontmoetings geniet het.

Bibliografie

Amato, P.R. en A. Booth. 1997. A generation at risk: Growing up in an era of family upheaval. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Arendell, T. 1996. Co-parenting: A review of the literature. Philadelphia: National Center on Fathers and Families.

Atlas.ti. 2007. Key functions. http://www.atlasti.com/intro.html (5 Oktober 2008 geraadpleeg).

Baron, R.S. en N.L. Kerr. 2003. Group process, group decision, group action. 2de uitgawe. Buckingham: Open University Press.

Beitel, A.H. en R.D. Parke. 1998. Paternal involvement in infancy: The role of maternal and paternal attitudes. Journal of Family Psychology,12:268–88.

Belsky, J. 1979. The interrelation of parental and spousal behavior during infancy in traditional nuclear families: An exploratory analysis. Journal of Marriage and the Family,41:749–55.

Bornstein, M.H. (red.). 2002. Handbook of parenting: Vol. 3: Being and becoming a parent. 2de uitgawe. Mahwah, NJ: Lawrence Erlbaum.

Bradbury-Jones, C. 2007. Enhancing rigor in qualitative health research: Exploring subjectivity through Peshkin’s eyes. Journal of Advanced Nursing, 59(3):290–98.

Bronfenbrenner, U. (red.). 2005. Making human beings human: Bioecological perspectives on human development. Thousand Oaks, CA: Sage.

Bronte-Tinkew, J., J. Carrano, A. Horowitz en A. Kinukawa. 2008. Involvement among resident fathers and links to infant cognitive outcomes. Journal of Family Issues,29:1211–44.

Brotherson, S.E., D.C. Dollahite en A.J. Hawkins. 2004. Generative fathering and the dynamics of connection between fathers and their children. Fathering: A Journal of Theory, Research, and Practice about Men as Fathers, 3:1–28.

Bruce, C. en G.L. Fox. 1999. Accounting for patterns of father involvement: Age of child, father-child co-residence, and father role salience. Sociological Inquiry,69:458–76.

Coley, R.L. 2003. Daughter-father relationships and adolescent psychosocial functioning in low-income African American families. Journal of Marriage and Family, 65:867–75.

Coltrane, S. 1996. Family man: Fatherhood, housework, and gender equity. New York: Oxford University Press.

Daly, K. (red.). 2001. Minding the time in family experience: Emerging perspectives on family research, Vol. 3. St. Louis, MO: Elsevier Science and Technology Books.

Dienhart, A. 2001. Make room for daddy: The pragmatic potentials of a tag-team structure for sharing parenting. Journal of Family Issues,22(8):973–99.

Doherty, W.J., E.F. Kouneski en M.F. Erickson. 1998. Responsible fathering: An overview and conceptual framework. Journal of Marriage and the Family, 60:277–92.

Dollahite, D.C. en A.J. Hawkins. 1998. A conceptual ethic of generative fathering. The Journal of Men’s Studies,7:109–32.

Flouri, E. 2005. Father’s involvement and psychological adjustment in Indian and white British secondary school-age children. Child and Adolescent Mental Health,10(1):32–9.

Gorvine, B.J. 2010. Head-start fathers’ involvement with their children. Journal of Family Issues,31(1):90–112.

Halle, T. 2002. Charting parenthood: A statistical portrait of fathers and mothers in America. Washington DC: Child Trends.

Harper, S.E. 2010. Exploring the role of Filipino fathers: Paternal behaviours and child outcomes. Journal of Family Issues, 31(1):66–89.

Hawkins, A.J. en D.C. Dollahite (reds.). 1997. Generative fathering: Beyond deficit perspectives. Thousand Oaks, CA: Sage.

Hawkins, A.J. en R. Palkovitz. 1999. Beyond ticks and clicks: The need for more diverse and broader conceptualizations and measures of father involvement. The Journal of Men’s Studies, 8:11–32.

Henley, K. en K. Pasley. 2005. Conditions affecting the association between father identity and father involvement. Fathering,3:59–80.

Krueger, R.A. en M.A. Casey. 2000. Focus groups: A practical guide for applied research. 3de uitgawe.Londen: Sage.

Lamb, M.E. (red.). 1997. The role of the father in child development. 3de uitgawe. New York: Wiley.

Lamb, M.E. 2000. The history of research on father involvement: An overview. Marriage and Family Review,29:23–42.

Lamb, M.E., J.H. Pleck, E.L. Charnov en J.A. Levine. 1987. A biosocial perspective on paternal behaviour and involvement. In Lancaster, Altman, Rossi en Sherrod (reds.) 1987.

Lancaster, J.B., J. Altman, A. Rossi en L.R. Sherrod (reds.). 1987. Parenting across the lifespan: Biosocial perspectives. New York: Academic.

Litosseliti, L. 2003. Using focus groups in research. New York: Continuum.

Marsiglio, W., P. Amato, R.D. Day en M.E. Lamb. 2000. Scholarship on fatherhood in the 1990s and beyond. Journal of Marriage and the Family, 62:1173–91.

Marsiglio, W. en M. Cohan. 2000. Contextualizing father involvement and paternal influence: Sociological and qualitative themes. Marriage and the Family Review,29:75–95.

Mendes, H.A. 1976. Single fathers. The Family Coordinator,25:439–44.

Montemayor, R. en J.R. Brownlee. 1987. Fathers, mothers, and adolescents: Gender-based differences in parental roles during adolescence. Journal of Youth and Adolescence, 16:281–91.

Morgan, D.L. 1997. Focus groups as qualitative research. 2de uitgawe. Londen: Sage.

Parke, R.D. 2000. Father involvement: A developmental psychological perspective. Marriage and Family Review,29:2–4.

—. 2002. Fathers and families. In Bornstein (red.) 2002.

Pleck, J.H. 1997. Paternal involvement: Levels, sources, and consequences. In Lamb (red.) 1997.

Pleck, J.H. en J.L. Stueve. 2001. Time and paternal involvement. In Daly (red.) 2001.
 
Rane, T.R. en B.A. McBride. 2000. Identity theory as a guide to understanding fathers’ involvement with their children. Journal of Family Issues, 21(3):347–366.

Roggman, L.A. 2004. Do fathers just want to have fun? Commentary on theorizing the father-child relationship. Human Development,47:228–36.

Sarkadi, A., R. Kristiansson, F. Oberklaid en S. Bremberg. 2008. Fathers’ involvement and children’s developmental outcomes: A systematic review of longitudinal studies. Acta Paediatrica,97(2):153–8.

Silverstein, O. en B. Rashbaum. 1994. The courage to raise good men. New York: Penguin.

Snarney, J. 1997. Foreword: The next generation of work on fathering. In Hawkins en Dollahite (reds.) 1997.

Summers, J.A., H. Raikes, J. Butler, P. Spicer, B. Pan en S. Shaw. 1999. Low-income fathers’ and mothers’ perceptions of the father role: A qualitative study in four early head-start communities. Infant Mental Health Journal, 20(3):291–304.

Taylor, R.D. en M.C. Wang (reds.). 2000. Resilience across contexts: Family, work, culture and community. Mahwah, NJ: Lawrence Erlbaum.

Walker, A.J. en L.A. McGraw. 2000. Who is responsible for responsible fathering? Journal of Marriage and the Family,62:563–9.

Warin, J., Y. Solomon, C. Lewis en W. Langford. 1999. Fathers, work, and family life: Family and parenthood, policy and practice. Londen: Joseph Rowntree Foundation.

Watergarden. 2007. Background/History. http://www.sun.ac.za/watergarden/ (10 Oktober 2007 geraadpleeg).

Zimmerman, M.A., D.A. Salem en P.C. Notaro. 2000. Make room for daddy: II. The positive effects of fathers’ role in adolescent development. In Taylor en Wang (reds.) 2000.