Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Afrikaans het jou nou nodig


Johan van Zyl - 2010-12-01

“Die wêreldliteratuur is ’n volle orkes - nie ’n dun en eensame fluit nie. Elke taal, selfs die kleinste, is ’n aparte instrument met ’n eie timbre. Literatuur wat in hom volmaak uitgespreek is, word ’n onvervangbare verowering van die mens; gaan dit verlore, ly die hele mensdom skade” (NP Van Wyk Louw).

Die legende NP Van Wyk Louw het dié stelling reeds in 1945 gemaak. Het hy reeds toe al bekommerd geraak oor Afrikaans wat neig na ondergang? Hy kon vandag nie méér in die kol gewees het met dié stelling nie. Almal skree “Ons taal is tans onder druk”, maar gee ons dit nie maar die spreekwoordelike skop onder die agterent nie? Dis ons self wat veroorsaak het dat Afrikaans oor die afgelope paar jaar verbaster en verkrag word. Kyk maar na sogenaamde Afrikaanse sangers en liedjieskrywers. Die Nicholis Louws, die Theuns Jordaans en Kurt Darrens. Die Afrikaanse musiekrakke kreun onder hul produkte, maar hul lirieke weerspieël dié van ’n verkragte taal, ’n bastertaal met ’n ma en pa van verskillende oorde.

Geen wonder die regering is besig om sy mes diep in te kry vir Afrikaans nie. Die taal van die Republiek gaan nou erg gebuk onder veral die regering se verpletterende ysterhand, en dit is nou die tyd om op te staan as ’n ambassadeur vir die taal. Tyd om te sorg dat jou kleinkinders ook nog die taal “onder die knie kry, sodat geen hond haaraf kan maak, wanneer iemand kop in een mus is om ons ’n rat voor die oë te draai nie”. Mag ons dié geveg nou reeds wen en ons kinders dit spaar.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet maak voorsiening vir elf amptelike tale. Veeltaligheid is dus aan die orde van die dag, maar dit beteken nie noodwendig dat sommige tale stief behandel moet word, gemanipuleer en onderdruk moet word nie. Binne die regering se raamwerk van veeltaligheid en ’n mislukte taalbedeling is daar steeds plek vir Afrikaans in ons universiteite, skole, kerke, howe, televisie en koerante, en veral in ons huise.

Uit Suid-Afrika se 23 universiteite maak Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus en die Universiteit Stellenbosch tans nog voorsiening vir Afrikaans as onderrigmedium. Hewige druk word egter uit verskeie oorde uitgeoefen om dié tersiêre instellings ook om te swaai as Engels en Afrikaans dubbel- of dan parallelmedium. Die laaste keer wat ek gehoor het, was Suid-Afrika nog ’n demokraties-georiënteerde land. Hoekom dan basta met die laaste twee Afrikaanse kampusse as daar nog 21 ander kampusse oorbly?

Glo jy vir een oomblik dat Afrikaanssprekendes nie met Engels in die wêreld kan meeding nie, en dat net Engelssprekendes in dié geglobaliseerde wêreld sal kan meeding? Nou hoekom dan die opmerking van UV-rektor, Jonathan Jansen, dat “die idee van ’n eksklusief Afrikaanse universiteit (is) ’n gevaarlike een (...) Dit sal ’n ramp wees vir baie wit Afrikaanssprekende studente omdat dit sou beteken dat die geslote kringe van sosiale, kulturele en linguistiese sosialisering geslote sal bly. Eerder as wat studente voorberei sal word op ’n internasionale wêreld gekenmerk deur taalbuigsaamheid en kulturele diversiteit, sal hulle vasgevang bly in ’n beskermde rasse-omgewing, presies in die stadium waarin die meeste Suid-Afrikaanse studente hulle eerste ervaring het van die bevryding van die intellek en die uitbreiding van geleenthede om in interaksie met die wêreld rondom hulle te tree.”

Hoekom is dit dat dié taal noodwendig altyd aan ras gekoppel word? Die klem hier is mos taal, en nie “wit” nie.

Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, stem duidelik nie met Jansen se stelling saam nie. “Verloor jou droom en jy verloor ook jou hoop. Jou hoop kom vanuit jou eie perspektief as Afrikaanssprekende en as jy hoop verloor vir jou taal en sy toekoms, dan begin jy onvermydelik met die proses van taalverplasing en taalverskuiwing. Dan word Engels as die ‘wêreldtaal’ die basis van jou hoop, van dit wat jy wil bereik, maar wat jy ook wil hê jou nageslag moet bereik. Dus: Afrikaans is verlore, word eerder Engels, gaan skool in Engels, gaan universiteit toe in Engels, werk in Engels en word sodoende deel van die groot groep geleerde en ingeligte mense in die wêreld.”

Die groot vraag hier is seker of ’n Afrikaanse student regtig benadeel word wanneer hy wetenskappe in sy moedertaal leer en verstaan – met die klem op verstaan.

Genoeg daarvan. Wie is dan nou eintlik die sondebok? Is dit nie maar die Afrikaanssprekende self nie? Ek verwys hier geensins na die ware Afrikaanse ambassadeurs nie, maar eerder na dié wat op die kantlyn staan en skree, plakkaat in die hand met foutiewe spelling daarop. Die ware vertroue in Afrikaans se toekoms ontbreek tog so maklik. Is dit nie nou die tyd dat jy daadwerklik iets begin doen vir jou taal, en nie net van die kantlyn af skree nie?

Volgens Carstens is daar drie eenvoudige dinge wat gedoen moet word: “Ons moet ons daarvoor beywer dat meer mense Afrikaans sal wil praat, as primêre of as sekondêre taal. Ons moet daarvoor sorg dat Afrikaans nié van sy funksies verloor nie. Een verlore funksie is reeds een te veel. Ons moet gesindhede oor Afrikaans verander. As Afrikaans afgeskaal word soos wat dit aan die US die afgelope sewe tot agt jaar gebeur het, is daar nie op die duur sprake van Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte nie.” Ek is dit eens met Carstens dat ons sonder behoorlike onderwys in jou taal op alle vlakke gedoem is tot middelmatigheid.

Herman Giliomee, voorheen verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en bekend vir sy publikasies en uitlatings oor Afrikaans as taal, het reeds in 2001 gewaarsku: “Die grootste enkele gevaar vir Afrikaans is dat as dit as universiteitstaal sou verswak of verdwyn, dit die ondergang sou beteken van Afrikaans as wetenskapstaal, as vaktaal, as taal van intellektuele omgang en uiteindelik ook as letterkundige taal.”

Ons moet Afrikaans ondersteun waar ons kan. Die Afrikaanse publiek het pas ’n vreeslike bohaai opgeskop oor Woolworths se besluit om Afrikaanse Christelike tydskrifte van die rakke te skrap. As hierdie tydskrifte topverkopers was, sou Woolworths dit enigsins oorweeg het? Koop Afrikaanse boeke, lees Afrikaanse koerante en tydskrifte, luister Afrikaanse musiek, woon Afrikaanse kunstefeeste by. Met ander woorde, behou ’n skeppende mark vir Afrikaans en sy produkte.

As jy nou nog nie die erns vir Afrikaans besef nie, sal jy seker nooit nie. Dit is nou die tyd om jou plakkaat neer te gooi en kaalvuis in te klim vir jou taal. Die geskiedenis sal ons eendag oordeel vir wat ons hieraan gedoen het – of nié gedoen het nie.