Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 26/11/2010: Hoe lyk die vrye woord – wie het die mag?


Charles Malan - 2010-12-01

26.11.2010

Hoe lyk die vrye woord – wie het die mag?
Charles Malan

Breyten Breytenbach het in Rapport Weekliks (21 November) geskryf, volgens die opskrif: “Al hoop vir ’n gekwelde en pap volk is die vrye woord.” Hoe lyk hierdie vrye woord vandag in die lig van blitsveranderende tegnologie? Hoeveel seggenskap het Jan en Sarie Alleman?

Op die volgende bladsy van die bylae lewer Max du Preez repliek op Nina Overton-De Klerk se professorale intreerede met die opskrif “Facebook en Twitter sal die land bevry.” Albei voel soos Breyten dat die volledige demokratiese bevryding daarin lê dat die gewone burgery hulle seggenskap opeis.

Soos Max dit stel: “As die mense wat ons in 1994 verkies het om ons Grondwet te skryf, geweet het wat alles in 2010 moontlik sou wees, het hulle sekerlik nóg ’n klousule in ons Handves van Menseregte ingeskryf: Die mense sal toegang hê tot die internet.

“Want op sy eenvoudigste gestel: ’n Burgery wat meer weet, is beter demokrate. En hoe sterker ons demokrasie is, hoe groter is ons kanse om stabiliteit, sosiale kohesie en ’n regverdige en welvarende samelewing in ons leeftyd te bereik.”

Die verstommende is natuurlik dat almal met toegang tot die internet hulle stemme letterlik oor die wêreld heen kan laat hoor. Ongelukkig maak regse Afrikaanse rassiste maar te dikwels die grootste geraas in hulle kommentaar. Maar ook dit is hulle demokratiese reg.

Oor verskeie dinge in die debat oor wie in ’n werklik demokratiese bedeling kan saampraat, is daar nou geen onduidelikheid meer nie. As jy ’n e-pos kan wegstuur, praat jy saam en word jy gehoor.

Die woord is werklik bevry. Geen sensuur, politieke “korrektheid” en beperking of selfs “ordentlikheid” is meer ter sprake nie. Beskuldigings, onthullings en kru seksstories is met die druk van die “Send”-knoppie daar vir die wêreld om te lees.

Pleks van ’n sappige kletskanaal vra Breyten nietemin vir die verantwoordelike deelname van diegene wat hulle met woorde besig hou: die woordwerkers. Die konsep “skrywers” het te veel konnotasies wat ook negatief en elitisties kan wees, byvoorbeeld: hulle skryf slegs bekende fiksie, hulle haal die media met sensasie omdat hulle bekend is, ens.
Steeds in dieselfde bylae maak Annelie Botes haar in die onderhoud met Hanlie Retief skuldig aan gruwelike rassistiese uitlatings terwyl sy soos Casper Rasper vloek, maar alles versag met verwysing na haar goeie meelewing met bepaalde “anderskleuriges”. Ook dit is haar demokratiese reg, al maak dit mens skaam dat sy ’n medeskrywer is.

Ons is nie almal so nie.

Breyten vra vir ’n vakbond wat selfs binne Cosatu se werkers geplaas kan word. Vir woordwerkers.

Ons as woordwerkers sal baie tuis voel tussen ander werkers, want ons werk met woorde soos hulle met ander gereedskap. Elkeen wat ernstig oor ’n stuk skyfwerk is, is ’n vakman/vakpersoon. Al is jy nog nie “gepubliseer” nie, is jy soos enige vakleerling besig met jou ambag.

Maar moontlike affiliasie met enigiemand, en selfs vakbondskap, lê nog in die toekoms. Intussen kan niemand jou beveel “houd den bek” nie.

Elke aanslag van die magsbehepte en bedreigde ANC om spraakvryheid aan bande te lê is ook ’n aanslag op ons vak. Die wetgewing oor inligtingbeperking en ’n mediatribunaal is die flagrantste voorbeelde, maar geensins die enigste nie.

Daar is onrusbarende toegewings van opposisiepartye en selfs koerante dat die onding van ’n inligtingswet maar aanvaar moet word mits daar sekere toegewings is. Die hele punt is dat die hele drakoniese wet nooit eers ter tafel moes gekom het nie.

Die desperate ANC wat die Polokwane-waansinbesluite in die parlement moet deurdruk, vra nou verontwaardig hoeveel toegewings hulle nog moet maak. ’n Blinde man kan met ’n stok voel dat hulle nie gaan toegee oor die belangrikste bepalings nie: dat hulle amptenare onder beheer van hulle politieke base en “toesig” van ’n ANC-beheerde parlement gaan besluit watter soort inligting “geheim” is.

Die wapenskandaal is reeds (hopelik voorlopig) eenkant toe geskuif omdat dit Thabo Mbeki, Jacob Zuma en talle ander belangrike menere se betrokkenheid verder kan onthul. Nog baie inkriminerende inligting rondom korrupsie sal eenvoudig “geklassifiseer” word.

Kaderontplooiing, die meesterlike strategie van die ANC-base, werk so goed dat gewone burgers selfs nie meer op ander howe as die konstitusionele hof kan vertrou om die land se Grondwet volgens die gees van die wet toe te pas nie. Die huidige president van die land is skotvry, selfs na verdoemende uitsprake deur ’n regter.

Is ons as die burgery, die prolete van die proletariaat, dus magteloos en hulpeloos?

Glad nie.

Ons het op veral drie maniere enorme mag verkry: deur die onstuitbare vrye woord wat altyd magtiger as die swaard is, die onbeheerbare internet en magsmonstering deur die burgerlike gemeenskap.

Kommunistiese regimes het in talle lande probeer om die vrye woord te onderdruk en dit was deel van hulle ondergang. Prolete laat hulle op die lange duur nie stilmaak nie. Die proletariaat is ’n gestereotipeerde mite wat verhul dat almal wat kan stem, in ’n ware demokrasie se stemme kan tel.

Daar is geen manier waarop die ANC-kommissars die internet kan beheer soos hulle nou met wetgewing deur die parlement as wetgewende gesag doen nie. Noem in Afrikaanssprekende konteks net ’n paar onlangse voorbeelde van die mag wat gewone mense sonder magsmonstering uitoefen: Absa en rugby, Woolies en Christelike tydskrifte, Casper de Vries en vloek/godslastering.

Die burgerlike gemeenskap het maar te dikwels sonder riglyne begin om hulself baie doeltreffend deur middel van vrye woorde te mobiliseer. Dit begin by enige individu wat ’n e-pos-boodskap die wêreld instuur.

Van die grootste belang is natuurlik spraakgemeenskappe wat dieselfde taal en belange deel – en vir Afrikaans is dit jare lank nie meer ’n “wit” groep nie. Globalisering, die internet en die verskuiwing van strategiese fokuspunte maak dit egter ook toenemend duidelik dat die Afrikaanse spraakgemeenskap dringend tegnologie moet inspan om met anderstaliges hande te vat en rondom gedeelde belange te mobiliseer.

Die losse organisasie Vrye Woord is tans besig om te struktureer sodat ons as ’n Afrikaanse spraakgemeenskap saam met ander tale en gemeenskappe, en met die gebruik van “tegnologie vir die massa”, vir een enkele doelwit kan mobiliseer: die beskerming van die vrye woord.

Tans behels dit radikale weerstand teen die ANC se aanslag op talle vorme van die vrye woord. Die twee stukke wetgewing is maar die neustrillings van die seekoei. Wat reeds sonder bohaai ter sprake is, is die ANC se oorname van sommer die hele opvoedkundige bedryf, beginnend by die laer grade waar leesstof nie net soos tydens apartheid gesensor sal word nie, maar die bedryf stelselmatig oorgeneem word. Rolspelers is uiters onwillig om hieroor te praat, omdat soveel miljoene en uitgewers se voortbestaan ter sprake is. Vrye Woord se totaal onafhanklike snuffelaars is egter besig om steeds meer inligting in te samel en sal binnekort met hierdie onthulling in LitNet kom.

Dit is dwaas om selfs te dink die ANC sal tevrede wees met die twee wette wat hulle met ’n meerderheid gaan deurdruk. Die gek optrede van die verdedigingsdepartement en die sogenaamde “vervolgingsgesag” is twee van die bekendste voorbeelde van hoe die magswaansin oor inligtingsbeheer voortduur.

Wie kan sê waar presies die ANC hulle tentakels in het om inligting te beheer, dus ook korrupsie te verbloem en sommer terselfdertyd soos met onderwys miljoene in te palm?

Maar Vrye Woord se taak is om wagters op die mure te bly.

Ons sál.

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index