Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Die kuns van goeie spel


Albert Maritz - 2010-11-30

To die for an idea is to place a pretty high price upon conjecture – Anatole France

Varsste nuus eerste. Moenie ART deur Yasmina Reza, regie deur Marthinus Basson, misloop by die Universiteit Kleinteater nie. Dis een van die grootste vreugdes om goeie akteurs ’n goeie teks te sien speel, met ’n keurige stel, en ondernemende beligting. En is Christiaan Olwagen, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt nie opwindende talent nie! En so vol selfvertroue onder die hand van die meester.

***

Nou een naweek wou ek die Sunday Times koop om te lees van Mugabe se vrou se affairs. Die storie laat vlam die hoop op dat hy – deur die pyn – die wêreld in ’n ander lig sal begin sien. Maar ek stiek maar by die boerenuus – en koop toe die Rapport.

Ek kan verkeerd wees, maar koerante moet altyd versigtig wees oor feite, nè? As dit iemand te na kom, kan dit geld kos. Dan kry jy edel mense soos Jana Cilliers wat sal argumenteer dis vernederend om selfs te reageer op aantygings op haar persoonlike lewe. Soos ek haar ken, laat sy daai een maar verbygaan. Sê niks, dan is daar niks.

***

Oor die rugby: Kyk, mense raak mos kwaad vir iemand wat nou só dink en later anders dink of doen. Maar genade! Wil die Bokke nie dít begin doen nie? Dat daar darem ’n ou verrassingselementjie vir die opposisie oorbly nie?

Ek kan sweer Jaco Kirsten het nou die dag in ’n rubriek geskryf hy hou van iemand wat vrae vra, want dit getuig van intelligensie. So gereeld sien mens iets, en veroordeel dit, en as jy meer weet van die onderwerp, kom jy agter jou opinie het ná nuwe inligting handomkeer verander.

So, ek wonder soms oor die relatiwiteit van ons liefde vir honde, en die afsku in ’n honde-eter. So, die rubriek verlede week in Rapport daaroor, wat die intelligensie van ander diere uitwys, is food for thought. Dis dalk groente, vrugte, en neute – vir die brein.

***

Maar dalk kan so ’n argument mens lei na ’n argument oor wie eet jy eerder – ’n teatermaker of forensiese deskundige. Brendon Daniels gesels oor die waarde van teater vir die mens, en meer spesifiek: vir die mens op die Kaapse Vlakte. Sy woorde is: “As die kind daar sit en die saal se deure is toe, en dis donker, en hy kyk die storie voor hom, kry hy kans om kind te wees. Sonder vrese en verantwoordelikhede om te probeer oorleef.”

In ’n gemeenskap wat dit verstaan, kom die teatermaker tot sy reg, en vorder die gemeenskap tot op ’n gevorderde vlak van sofistikasie. Of het die Grieke en Romeine vergaan in korrupsie en losse sedes? Het Plato gesê iets wat neerkom op: “’n Volk wat nie opvoed nie, of nie sy kultuur koester nie, durf homself nie meer ’n volk noem nie”? Maar in ons gemeenskap word ’n eie opinie gelykgemaak met die grond. Dan moet ’n mens ’n forensiese deskundige wees (ook in Rapport van 24 Oktober 2010). Dan kan jy die feite onaanvegbaar stel. En net soveel sukses hê as SA met die ondersoek na die neerstort van die Helderbergvliegtuig. Ai, die lewe is so interessant, want almal se hart het ’n middellyn van goed en kwaad, en die samelewing weerspieël dit. Veral wanneer kwaad seëvier.

***

’n Ou wat kwaad is, is Ernst Loth. In ’n brief van hom maak hy beswaar teen die Cultivariafees se “window dressing”. Sulke kommunikasie is kosbaar, en word gewoonlik onder die mat ingevee. Maar die bron hiervan is dikwels skadelik vir die saak.

Maar is dit waar? Dit mag wees. (’n Brief in Rapport van 31 Oktober 2010 antwoord hom.) Maar die reputasie van die bron laat vrae ontstaan. Is die briefskrywer dieselfde man wat blykbaar op uitslagaande by tienertoneel opstaan en luidkeels besware aanteken weens rassistiese beoordeling? En uitloop? Vir die feit dat hy die moed aan die dag lê om te vra, het ek tyd. Ek apploudiseer (sweer ek het die woord by Lina Spies gehoor) tot vandag MC Botha (oudredakteur van Hermanus Times), wat by die Kalfiefees in 2005 die enigste ou was wat nié na ’n optrede van Faan se trein opgestaan het om staande applous te gee nie. En hy was in die heel voorste sitplek, heel in die middel, voor, aan die kant van die middelpaadjie. Maar terug by Loth ...

Loth se eie stukke, wat hy bekroon wil sien, moet baie verbeter voor dit in aanmerking kan kom vir pryse. En verbeter dit? Of stap ons jaar na jaar dieselfde paadjie van non-prestasie en protes? Dalk is die “luister” waarvan grotes soos Cobus Rossouw praat, belangrik.

Anders kan die beste stuurman verdrink in die skeepskookwyn.

***

Die nuus dat Boccaccio Braaf aan ’n asma-aanval beswyk het, is verpletterend. Definitief vir sy familie. Boccaccio het stilweg in die voetspore van sy pa, Peter Braaf, gestap. Braaf is ’n onbesonge held van die Kaapse Vlakte. Sy werk saam met Adam Small by die Cape Flats Players, en sy werk nou, verdien meer ruimte as hier.

Sy seun tref ek die eerste keer aan by ’n knap laerskoolproduksie van De Doorns, by die Montagu-fees. Sy protégé, Franklyn Pedro, wen as Beste Akteur. Boccaccio was die regisseur. En ná al die jare spoor ek via Boccaccio vir Franklyn op. En hy speel ’n rol in ons film. Later meer oor hierdie mooiste van mooi ervarings. Behalwe om te sê: As goeie mense soos Boccaccio sterf, is hulle wolkie verby, maar net omdat Liewe Jesus hulle nodig het om van agter die wolkies te help kyk dat goeie dinge gebeur. Mag sy werk – en sy afsterwe – ’n inspirasie wees vir elke onnie wat nie seker is of hy ’n produkse met skoolkinders moet aanpak nie.

***

Ek dra nou my selfoon in my ander sak. En nadat ek vir mense vertel hoe die spier in my linkerbobeen spring, daar waar die foon altyd in my sak hang, hoor ek dieselfde gebeur met almal.

En ons dra nou nog die fone. Nes mense nog steeds by lughawens bo-op die bagasieband gaan staan dat niemand naby kan kom of hulle bagasie kan sien nie.

Nes die verkeersbane wat na links voorsiening behoort te maak vir die mense wat daar voor links wil draai, nie gebou word nie. Nie eens as die pad nuut gebou word nie. Nee, die geel streep sal maar die baan moet bly vir die vooruitdenkendes onder ons wat die verkeer wil laat vloei.

En het jy al in een van daai klomp rye gestaan waar die een ry vinniger as joue beweeg? Later is almal wat ná jou by ander rye aangesluit het, al by die huis, en jou ry beweeg nie. Hoekom nie één ry hê, en dan beweeg mens vorentoe op regverdige wyse nie? Soos by die lughawe se inweeg.

O, en gepraat van mind change. Schalk Burger jr sal in teater leer hoe mens jou mind moet change om die materiaal te laat pas. En hoeveel voordeliger dit is om dít te doen eerder as om halsstarrig op dieselfde trant vyf skoppe se punte in te ruil vir ’n gedemotiveerde, bebliksemde verloorspan.

Integrity has no need of rules – Albert Camus