Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Die sneeuslaper: Is daar lewe na Agaat?


Joan Hambidge - 2010-11-29

Die sneeuslaper
Marlene van Niekerk

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151818
Prys: R175

Klik hier en koop jou eksemplaar van Die sneeuslaper nou van Kalahari.net!

 

I

Is daar lewe na Agaat? 

Na die enorme sukses van Agaat, wat selfs deur Toni Morrison aangeprys is, staan die leser voor Marlene van Niekerk se jongste teks, Die sneeuslaper. Dit is ’n teks wat, soos Memorandum, selfrefleksief omgaan met die skryfproses en die leser plaas binne die komplekse problematiek van die moderne dosent as kreatiewe begeleier, die dosent wat as skrywer sy eie fabrieksgeheime aan jong studente moet verduidelik. Wat is myne? Wat is joune?

Binne die Afrikaanse letterkunde het DJ Opperman die eerste letterkundige laboratorium hier te lande gevestig en Van Niekerk (soos die uwe) is ’n produk van daardie skool. Party skrywers het nooit hiervan herstel nie; ander het vurig met die mentor in gesprek getree, soos Antjie Krog wat Opperman later debunk in Otters in bronslaai.

Van Niekerk se Die sneeuslaper (met ’n skildery van Marlene Dumas, Measuring your own grave, op die band) is ’n letterkundige skryfverslag. Dumas as ikoon (Krog het oor haar gedig en mindere ligte het ook probeer) begin reeds die voetwerk. Ons beleef aan die begin die skrywer se werklike intreerede (“Die swanefluisteraar”) wat met ’n vriendelike vergunning van die Universiteit van Stellenbosch hier sy lê kom kry, terwyl die slotakkoord, “Die vriend”, weer ’n Nederlandse gedenklesing is. Dus twee redes, die aanvaarding van die leerstoel aan die US en die Albert Verwey-gedenklesing gehou op 15 Oktober (jaartal nie vermeld) in Leiden. Die transponering van die gedenklesing en intreerede binne die ruimte van fiksie verander die aard van die teks. Soos die lewerike migreer, migreer die tekste. Soos die konteks verander, sal die leesaksie eweneens verander. In die vierde voetnoot verduidelik die skrywer dat die lewerikspieël vanaf die derde eeu vC gebruik is om voëls na nette of skutters te lok. Die voëls kom gehipnotiseerd op die draaiende spieël af en kan dus maklik afgeskiet word. Hulle sou dink, lees ons, dat dit water is, die son, of ’n swerm vreemde lewerike, of ’n nuwe aarde en hemel. Dit is dan presies wat met die leser gebeur wat hierdie teks verkeerd sal benader. As jy dus nie die spelreëls en al die knipogies (nudge nudge wink wink) begryp nie, gaan jy tweede kom. Hoe ironies dat ’n voormalige student die boek reeds blinkoog benader het.[1]

Die teks is dus ’n opgawe van wat van die moderne skrywer wat sig aan die universiteitswese bevind, verwag word. Etienne van Heerden se Asbesmiddag was eweneens so ’n verslag, soos Nabokof se Pnin en Lolita. Dikwels word die akademiese roman of ’n speurverhaal of ’n parodie. David Lodge is ons getuie hiervan. Tekste word deur die tyd ingehaal of mag voortydig met modes, giere en grille flirteer.

II

Trompe-l’oeil

’n Intreerede, ’n grafrede, ’n veldwerkverslag en ’n gedenklesing speel telkens in op mekaar sodat die grense van die verhaal as afgeslote eenheid geproblematiseer word. Die vrou wat haar verkyker vergeet het, ’n bundel kortverhale, word eweneens aan die vergetelheid ontruk, en die leser word telkens voor Van Niekerk-hebbelikhede (met opset) geplaas: ou uitdrukkings, vername woorde, Neerlandismes, toespelings, ruie verbeeldingsvlugte, en so meer. Dis hoe ek skryf, dis hoe ek dink, dis hoe ek lees en ervaar, is die grondbeginsel van hierdie vertellinge.

Uiteraard is daar oëverblindery en vals bodems en ek het hierdie teks gelees saam met Mario Vargas Llosa se The perpetual orgy wat in 1975 by Faber & Faber verskyn het. La orgia perpetua. Lees as ’n plesier wat buite woorde bestaan, is die basiese uitgangspunt van Vargas Llosa se siening van Madame Bovary. (Helaas het my voetnoot vir Die Burger nie die internet gehaal nie en ek plaas dit graag as ’n eindnota[5].) Lees as jouissance, soos Barthes en Kristeva dit benoem het, en die leser word uiteraard toegelaat om eerder ’n scriptile as lisible lesing te maak. 

Die oog vir die kleinste besonderheid en die spanning tussen Stellenbosch en Amsterdam is van meet af part en deel van hierdie teks.

III

Die (ont-) blote storie

Aan ’n blote verhaal is daar geen plesier nie, het hy beweer, dis die glipraam van die aanbod wat tel, en die verskole tersydes. Handelinge en gebeure moet herhalend wees, of omgekeerd of geminiaturiseerd, of verlangsaamd, of versnel binne-in die omlysting van die verhaal. Die skrywer moet afgebeeld wees in die vertellerkarakter in die verhaal, wat weer ’n verhaal vertel van iemand wat ’n verhaal vertel, ensovoorts. Of andersom. Die ontwerp van die kader is die wagwoord. Wie vertel wat vir wie, wanneer, waar, waarom, en veral hoe, dis die punt ... (125)

Die skrywer (én verteller) in die teks besin oor die verskillende funksies van skryf en lees. Hoekom lees en vertel ons stories? Die siening van Flaubert, om te ontvlug uit ’n gewelddadige samelewing, kan haas nie ontken of geïgnoreer word nie. Kan ’n skrywer enigsins die voorblad van ’n koerant troef met ’n “stranger than fiction”-aanslag? In ’n Sondagkoerant beleef ons ’n waarskynlike huurmoord versus ’n opgestelde huurmoord. (By ’n STIAS-kollokwium vroeër vanjaar het die filosoof Van Niekerk ’n koerantberig gebruik om die komplekse verhouding tussen skryf en sosiale verantwoordelikheid te bespreek.)

Verhaal 1

In hierdie teks leer die leser implisiet van die fabrieksgeheime van die outeur, soos: dat daar afstand geskep moet; “cut to chase”; gee aandag aan die werklikheidsgehalte; leer hoe om skrywersblokkasies te hanteer. Deur Kasper (in die eerste verhaal) weet ons dat daar verkykers gebruik word en die verteller gee die “dummy” van haar eerste boek aan hom – hierin skryf hy vir haar ’n brief wat verhaal word! By implikasie put die mentor soveel uit die student as die student uit die mentor. Daar sal altyd intertekste in die spel kom: die eerste verhaal speel terug op Eybers se swaan wat oor sy dubbelbeeld gekeer bly.

Ons leer dat daar altyd ’n strikdas nodig is by ’n varkslagtery (33). Die briewe, kassette en sand van Kasper Olwagen skep vir die mentor ’n verhaal: dit is haar ruwe materiaal en die sand word in die sandloper geplaas wat hierdie leser-as-aanhoorder by die Intreerede (in die werklikheid) meegemaak het. Is hy alter ego? Is hy muse? Bestaan hy? Dit maak ten slotte nie saak nie, want die leser leer deur hom die basiese beginsel, die verskil tussen wat ’n skrywer moet wéés versus wat ’n skrywer moet skrýf.

Op ’n vreemde manier het die student dus nie sy kursus gestaak nie; hy het nuwe lewe geblaas in die fantasie van die skrywer oor sy ontmoeting met ’n vreemde persoon. Hy het bewysstukke dat hierdie persoon wel bestaan het. Dit mag delirium wees, dalk ’n skisofreniese uitbarsting, want die verhaal word vertel vanuit ’n siekeboeg in Amsterdam. En die verhaal eindig met ’n gedig wat dus iets wil vertel (of voorspel?) van Van Niekerk se eie kreatiewe versugtinge, naamlik om terug te keer na die digkuns.

Verhaal 2

Hier is ons by die grafrede. En ’n grafrede is per definisie die teenoorgestelde van die Intreerede wat die lewe gedenk. Tog is ons by die dood van ’n persoon sterker bewus van die bydrae van ’n mens as by ’n intreerede, omdat daar afsluiting en dus “closure” is. Die grafrede, gerig aan Mevrou Oldemarkt, oor haar broer Willem, is eweneens ’n kunsteoretiese besinning. Vir ’n tegnikus praat hy te geleerd en kan die leser Van Niekerk as buikspreker hoor. Dit was ook my beswaar teen Memorandum: mooi gegewe ja, maar ’n karakter wat so filosofies-geleerd kan praat? Boonop klink al die verhale dieselfde – die register is nie afgewissel nie.

Of is dit ’n geval van skoenmakers loop sonder skoene?

Die verhaal lewer sinryke kommentaar op hoe skrywers uit die lewe kaap: ”’n blik op die verskole dimensies van die lewe” (64), of “’n Goeie verhaal is soos ’n appelboord wat gevind moet word in die digte newels van die taal” (71), verneem ons in die relaas van Willem aan die oorledene se suster. Dit gaan hier om die kuns as “skoonheidstroos” en die vertolking van die ontslapene se kunswerk én kunssiening. Dit is dan ’n verhaal oor dubbele verlies: die dood van die vriend wat sy verlange na ’n beeldskone meisie probeer vergestalt het. Die verhaal wentel rondom die spanning tussen stilte en perkussie (slagwerk).

Thys Human betrek die aanhaling op bladsy 79 om die kraaines van verlange te beklemtoon [3]. Die ambivalente verhouding met die skryfobjek word hier uitgewerk: sonder haar is hy ’n droogdok, met haar kan hy nie anders as om obsessief elke emosie, elke beweging te noteer nie. Maar, die verhaal is ’n konterfeitsel as ons op bladsy 94 ’n ander perspektief vind: die verhaal is ’n verdraaiing van ’n gay-obsessie oor ’n buurman wat afgeloer is. Skrywerskap word so gelykgestel aan leuen en voyeurisme. Teen die einde van hierdie verhale is daar ’n inbuiging na die ander verhale in die boek – wat ons bring by Verhaal 3.

Verhaal 3

Dit is die titelverhaal en Helena Oldemarkt stuur ’n gedig (vertaling!), ’n brief, transkripsies (weliswaar geredigeer) oor ’n hawelose aan ene professor Sprinkhuizen. Hy is die direkteur van die Landelike Onderzoeksteam Onbehuisend in Amsterdam. Sy is ’n doktorale student wat besig is met navorsing en hier lees ’n mens ’n kritiese kommentaar op wat navorsing vir ’n skrywer behels: jy vertaal, jy redigeer, jy stuur briewe, jy staan onderhoude toe …

Ons het ’n verhaal oor hobo-spotting, en die noukeurige beskrywing van Amsterdam as stad neem die leser terug na die eerste verhaal waar die mentor dit duidelik stel dat ’n skrywer nougeset moet waarneem. Die clochard is ook digter en dra dramaties sy tekste voor wat Helena opneem. (Die verhaal speel in op die eerste verhaal met sy opnames en kassette.) Die verhaal gaan eweneens terug na die vertelling: Helena se kommentaar oor haar broer, Willem die skrywer wat, nes sy, ’n voyeur was/is. Karakters beweeg na volgende verhale en die migrasie van karakters is kenmerkend van ’n selfrefleksiewe teks wat die ontologiese grense tussen verhale bevraagteken. Die verhale se grense is dus vol openinge en met elke nuwe optrede kry ’n karakter ’n nuwe narratologiese fiksie. Alles stroom deur grens en eeu aaneen.

In hierdie verhaal word daar eweneens besin oor die rol van die digkuns en die begeerte om eerder digter as romansier te wees. Hierdie clochard praat poësie (“ek is van wêreldrampe alleen maar seremoniemeester”) en soos Simenon se boemelaar is hy ingelig en intelligent.

En in Memo 12 het ons die essensie van die skryfkuns: die glipraam van die aanbod, die verhaal-binne-die-verhaal, die omkering van verhale, die versnelling, die omlysting, en dies meer. Die ouroboros-beginsel: die begin sluk die einde in (soos dit in hierdie boek gebeur) en niemand staan ooit op vaste grond nie (125).
Hierom is Alice in Wonderland ’n interteks, soos Zen en Rumi. 

Die vertellinge illustreer die beginsel van liminaliteit, omdat tekste inspeel op mekaar en ’n herlesing of herkyk (vide die verkyker as motief in die boek) opeis. En hierdie vertelling lewer implisiete kommentaar op familieskap: wat dit beteken om oewerloos te wees en sonder die sekerhede van ouers of ’n ondersteuningsisteem. Is die sneeuslaper werklik wie hy voorgee om te wees?

Die verhaal – veral na die uitstalling van die fotomateriaal – neem ons terug en die einde van hierdie verhaal aktiveer Aucamp se siening dat ons geduldig ryp word vir ons slotte. Dit is ’n verhaal oor verlies, oor eindes.

En slotte is dan ook sleutels, wat ons neem na die slotverhaal.

Verhaal 4

Oor vriendskap handel hierdie verhaal wat aangebied is as ’n gaslesing, en meer spesifiek, die Albert Verweygedenklesing. Hierdie verhaal bou die spanning tussen Amsterdam en Stellenbosch verder uit. Weer eens word ons teruggeneem na die reeds geskrewe tekste: oor die verantwoordelikheid van fotografie (dit waaroor daar so pas besin is) en die kwessie van mimesis, poësis en parodie. (Van Niekerk parodieer ook haar eie skryfstyl en manier van vertel.) Die skrywer se politieke verantwoordelikheid (veral in die tagtigerjare) kom aan bod en hoe moeilik dit nou is om teen die heersende orde in opstand te kom. Die skrywer in sy ivoortoring, die invloed van musiek, filosofie, die werklike Van Niekerk versus die fiksionele Van Niekerk word hier geproblematiseer.

Ons dink aan Derrida se essays oor vriendskap. En beteken vriendskap dat jy alles moet opoffer? En selfspottend (wanneer mense huisvesting gebied word) blyk l’art engagé ’n ongemaklikheid te wees.

 

IV

Memoranda

Dit is ’n boek wat uitdagings stel. Dit hou waarskynlik soms te lank aan en die ruie vertellings speel inderdaad met feit en fiksie soos Crous aandui[1]. Dalk is die politieke systappery opsetlik; ’n beswaar wat Visagie aanroer[2].

Verder is die romantisering van die kuns, ’n o so verhewe bedryf, plek-plek te dik aan­gesmeer. In die bundel is daar baie Amsterdam en baie Stellenbosch, maar van plekke soos Karatara en Khayelitsha lees jy feitliks niks nie. Ook die boemelaars is uitstalstukke vir ­estetiese verwondering en nie ­allereers sosiaal-ekonomiese ge­margi­­naliseerdes nie.

Tog lewer die boek wel politieke kommentaar. Dit is inderdaad ’n moeilike terrein, soos Human aantoon, omdat dit deur geleerdes al snuif getrap is[3].

Langs die kluif romans wat besin oor skrywerskap neem dit ’n plek in. Veral JM Coetzee se Elizabeth Costello is ’n duidelike gespreksgenoot. Die leesversperrings is met opset; die outeur noop jou om terug te keer, by herhaling, te besin, eerder as om net troos te vind in ’n gladde, tekstuurlose verhaal. Die ryk tekstuur is waarskynlik hierdie boek se krag én ondergang. By tye selfkoesterend, oordrewe, maar dis beslis nie ’n teks wat jou sal koud laat nie.

Die teks kan ten beste met ’n kaleidoskoop vergelyk word: dieselfde vertelling vanuit ’n ander perspektief, dieselfde karakters met ander name, dieselfde skryfproblematiek oor die werklikheid, oor verbeelding en die rol van die skrywer as openbare figuur, kom hier aan bod.

Daar ís lewe na Agaat

 

Eindnotas

[1] Marius Crous as voormalige student van Van Niekerk resenseer dit in Beeld: “Vernuftige en poëtiese spel met feite”, fiksie, 22 November 2010.

[2] Andries Visagie resenseer die roman in Die Burger: “Bruisende talent”, 22 November 2010.  

[3] Thys Human resenseer die roman in Rapport: “Welluidenheid van wegglydende woorde”, 6 November 2010.

Dis ’n verhaal oor ’n jong perkussiespeler wat ’n beeldskone Asiatiese meisie ontmoet, maar dan deur haar verlaat word en gevolglik sy tromstel uitbou met alles wat bespeel kan word om dié verdwene geliefde voor te stel: “Sy hele kamer het hy omgebou in ’n slagwerkinstallasie, buise, glase, sade, skulpe, opgehang aan toue kruis en dwars en elke dag daarin geklim soos in ’n takelwerk en dit saggies aangeraak, asof om haar, wat versink het in die kim, tog nog aan die vaar te kry na daardie eiland waar die liefde altyd duur, ’n land van somernagte, en hy die bootsman in die kraaines van verlange.” (79)

[4] Cilliers van den Berg resenseer die roman in Die Volksblad: “Die sneeuslaper ’n pragtige boek”, 22 November 2010.

[5] Voetnoot  Die Burger, 11 November 2010:

Die meeste lesers is bekend met Mario Vargas Llosa se fiksie. Sy studie oor Marquez en die rusie tussen hulle is sedert die bekendmaking van die Nobelprys vir letterkunde afgestof. Sy werk as letterkundige verdien ook vermelding en sy studie oor Flaubert: The perpetual orgy (1975) en in Engels eers in 1986, is ’n besondere imposante werk.

Hy reageer op Flaubert se lewe, sy briewe, skryfdrang, reise en verklaar waarom hy Madame Bovary so ’n belangrike roman vind. Ons kom veel te wete van Llosa wat bely hoe hy as jong mens soos ’n kannibaal boeke verslind het. Oscar Wilde se stelling dat Lucien de Rubempré se dood vir hom ’n groot drama was, ervaar hy as ’n letterlike werklikheid. Romankarakters kan jou lewe verander en die eerste afdeling heet: “An unrequited passion”.

Hy wys hoe felle kritiek van twee vriende op ’n manuskrip Flaubert se siening van die skryfkuns dramaties verander het.

“Ons dink jy moet die boek in die vuur gooi en nooit weer daaroor praat nie,” was hulle striemende kommentaar. 

Of Du Camp en Bouilhet gelyk had, is nie ter sake nie. Dit het Flaubert so aangespreek dat hy hierdie klassieke roman vir ons gelewer het.

Llosa se studie waarin nie geskroom word om sy eie reaksie te registreer op ’n boek wat hy telkens herlees nie, herinner aan Vladimir Nabokof se Cornell lectures (1980) waarin daar ook etlike tersydes is oor die invloed van die roman op sy lewe: beide Madame Bovary en Lolita het morele reaksies ontlok. So gesien, word hierdie studies nuttige kompendiums om twee groot skrywers se siening van skryf en letterkunde te begryp.

Llosa bely hoe hy die stadig-bewegende romans van Henry James nie kon lees nie, totdat hy ’n essay van James oor Flaubert gelees het wat sy siening van James verander het.

Groot letterkunde, voer Mario Vargas Llosa aan, is ten slotte altyd gevaarlik. So ’n boek wys vir die leser hoe óntoereikend die lewe se wette en voorskrifte is. In sy transformasie van die lewe tot kuns is vorm uiteindelik die grootste verdediger téén die lewe.

In ’n brief bely Flaubert (5 Oktober 1856) dat sy roman méér vertel van sy geduld as van sy talent; méér van sy werketiek as van talent. Mario Vargas Llosa herskryf hierdie opmerking met die volgende woorde: “His genius is wrought of patience; his talent is the work of labor alone.”

In Afrikaans is DJ Opperman se briljante Digters van dertig waarskynlik die beste voorbeeld van ’n skrywer wat alles gebruik om ander digters se werk te begryp en oop te maak.

En die titel van Llosa se studie?

In ’n brief aan Mademoiselle Leroyer de Chantepie: “The one way of tolerating existence is to lose oneself in literature as in a perpetual orgy” (236).

Daardie brief van 4 September 1858 klink nog steeds tersaaklik, omdat Flaubert (soos vele skrywers) voortdurend in stryd was met die lewe. In ’n aktiewe polemiek, soos Mario Vargas Llosa dit klinkend stel.