Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Die boek se naam is Tien uit tien


Fanus Rautenbach - 2010-11-24

Tien uit tien
Fanus Rautenbach
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624049432
Prys: R153.00

Klik hier en koop Tien uit tien nou van Kalahari.net!


Gewoonlik haal die redakteur enige stoute verwysing uit ’n nuwe boek. Nou wil ek nie net Danie Botha bedank nie, maar ek glo hy het self ’n paar skorsies bygevoeg!

Tien uit tien is ’n versameling knipsels van stories en snaakse goeters uit tydskrifte vanaf 1952. Die Huisgenoot het die grootste bydrae gemaak; dankie.

Soos by “Aldag se mense”:

Alledaagse mense sal nie sommer trou nie,
Die een sal die ander beloof;
Hulle sal hulself met kamerstel
Of met American Swiss verloof.

Dit is nadat hul ouers gevra het;
Dis wat alledaagse ouers wil hê.
Haai sosaties doen dit anders:
Hulle sal net ouers sê.

Aldag se mense
Het ’n ordentlike bruilof:
Bruid en bruidegom
Is mooi opgetof.

Terwyl die bruidspaar foto’s laat neem,
Vergader die gaste vreemdstil in die saal;
Daar word hulle op koue frikkadelle
En warm sjampanje onthaal.

Kom die bruidspaar in,
Begin die soetwyn fluit,
En almal sing, vals en luidkeels:
“Skink, hier kom die bruid!”

Die seremoniemonster lees die gramme;
Die omies lag en die tannies sug;
“Bring die pan, die wors kom aan,
Wat gisteraand sonde was, is vanaand plig!”

Kort-kort verdwyn oom Sopie;
Oom Sopie vattie twak nie –
Niemand weet van sy halfjekkie
In die Fordkar se kattebak nie!

Elkeen kry ’n beurt
Om die bruid te prys;
Dominee open met tafelgebed,
Bedank vir drank en spys.

Die bruidspaar gaan staan dan laggend
En wag oppie mooiste wense.
Dis alles tog so rein en mooi,
’n bruilof van my alledaagse mense.

Die orkes speel, die paartjie sny die koek;
Die bruidjie voel aan haar blanke hals.
Hier kom die dans wat Arthur Murray hulle geleer het:
Johann Strauss se Bloudonouwals.

Oom Tommie Twaksnor spoegskree: “Balke!”
Hy gryp sy smetvet Saartjie-vrou:
Juig om die swaai van een-twee-drie,
“En hoe voel jou boude nou?”

Terwyl die gaste drink en dans, glip
Die paartjie weg om bietjie te gaan vry;
Die bruidegom wil sommer al uittrek,
Maar die bruid blink nuut in Edgars se going-away!

Hulle groet en wuif en ry vrolik vort
Onder luide gelag en sagte mamma-snikke,
“Just married” gaan Margate toe
Saam met appelkoosjem- en boeliebiefblikke!

“Dominee,” vra Kleinkoos van Jan Visagie
“Mag mens seks geniet voor die troue?”
“Ja, maar jy moet net sorg
Dat dit nie die verrigtinge vertraag nie!”

En in sy onderbaadjiesak,
’n Geskenk van sy allesweetoom,
Bewaar hy sy ongebore toekoms
In ’n nuwe jakob-regop-kondoom.

En as die bruidjie dit later sien,
Sal sy dit op die vonkpos kliek:
My man se totter is nog nooit gebruik nie,
Dis nog in sy blink plastiek!