Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

$O$ is befok – moet dit net nie vir die dominee speel nie


Leon-Ben Lamprecht - 2010-11-24

$O$
Die Antwoord

 

Soms is dit moeilik om ’n review te skryf. Die een hier onder was een van hulle. Trouens, ek het dit seker tien keer oorgeskryf. Hoekom? Goeie vraag. My beste antwoord (ha!) is dit: ek moes eers probeer uitvind presies waarom ek so baie van Die Antwoord se musiek hou. Is dit die tong-in-kies-aard daarvan? Is dit die anti-elitisme? Dalk is daar ’n donker deel van my persoonlikheid wat graag ook sulke op-die-oor-af-banaliteite wil uitskree en geld maak daaruit?

Of.

Of dalk is hulle net fokken goed. Ja. Ja, let’s go with that.

Kyk, as jy hier lees, weet jy waarskynlik wie Die Antwoord is en het jy waarskynlik reeds jou opinie oor hulle gevorm. Sien, hoewel min dinge in die lewe swart en wit is, met betrekking tot Waddy Jones en sy maats se nuutste groep is daar seker maar twee soorte luisteraars (waarskuwing, moontlike cliché op pad): dié wat mal is daaroor en dié wat dit absoluut verafsku. (Mens moet seker ook ruimte laat vir ’n derde groep wat net nie omgee nie of nog nie van hulle gehoor het nie.) Met ander woorde: niks wat ek hier onder kwytraak, gaan wesenlik jou opinie verander nie. (Nie dat dit my gaan keer om dit in elk geval te doen nie.)

$O$ is Waddy Jones as Ninja, Yo-landi Vi$$er en die enigmatiese DJ Hi-Tek se debuutalbum op die “label from the overseas”.

Hier is 16 snitte op die album (goed, drie van hulle is skits), waarvan “In your face”, “Evil boy”,* “Liewe maatjies” en “She makes me a killer” nuut is (of ten minste relatief gesproke). Die res is die goed wat jy reeds geluister het: “Enter the ninja”, “Wat pomp?”, “Fish Paste”, “Doos dronk” en so aan.  

Dis min of meer wat jy verwag.

Dis snaaks, soos in “She makes me a killer” waar Ninja vertel van van die vrouens met wie hy al kennis gemaak het: “Took her to the Waterfront/ fokken lekker laanie/ I got a chip roll/ she ordered calamari”.

Dis insiggewend, soos in “Fish Paste”, waar Ninja besin oor identiteit: “I hang with fucking coloureds cause I am a fucking coloured if I wannabe a coloured (Hosh)/ my inner coloured just wants to be discovered/ jou fokken naai skinner aan/ elke fokken poes is pienk aan die binnekant.”

Dis soms introspektief, soos in “Wat pomp?”, as Ninja skynbaar met sy vorige inkarnasie, Max Normal, in gesprek tree oor sukses al dan nie: “Yo Max, fok jou, ek dink jy’s ’n poes/ vat jou vir ’n poes want jy klink soos ’n poes/ jy rap soos ’n poes en jy sing soos ’n poes/ hou my neus vas want jy stink soos ’n poes.”

Dis soms plein fokken surreëel, soos in “Beat boy”, waar Ninja ’n soort seksfantasie vertel, of dan ’n visie skets wat hy waarneem (en nie op énige manier nie: “on the microphone I fascinate/ when I let my 3rd eye exaggerate”): “The old surgeon says ‘Can you see this?/ A beautiful woman with a brand new penis’/ you klap the surgeon, flip him right round/ bend him over, lift his white gown/ gryp the surgeon’s milky buttcheeks/ rape the surgeon, break the surgeon/ absorb your penis into your tummy/ you’re a woman again complete with a vagina.” (En dis maar net een van die tonele.)

Dis soms ’n snyende satire, soos in “Doos dronk”, waar Die Antwoord die drinkkultuur in Suid-Afrika dissekteer (ek gaan nie hier aanhaal nie; gaan luister dit net, dis manjifiek).

Deurentyd is daar kief beats wat jou lus maak om vinniger te ry.

(’n Vinnige kantnota: Die album bring ook filosofiese vrae oor eienaarskap, as jy wil: aangesien ’n goeie deel van die album vroeër vir gratis aflaai beskikbaar was, is dit geregverdig om dié snitte te versprei? Wat natuurlik ’n mens verder laat wonder: van hulle video’s is op YouTube beskikbaar, wat jy enige tyd kan kyk. Gestel nou jy’t nie ’n internetkonneksie nie, mag jy dié video’s aflaai om op eie tyd by die huis te luister? En mag jy mp3’s daarvan maak? Mag jy dít versprei? Maar ek dwaal nou totaal af.)

Goed, nou kan ’n mens seker vra of hulle for real is. Ek meen, is hierdie zef-persoonlikhede alles ’n voorgee, iets om geld uit te tap? Probeer hulle die zeitgeist van iets ampers ondefinieerbaar saamvat? Of is dit net die natuurlike volgende vlak vir Jones en sy makkers om heen te evolueer?

Jones, as die Ninja, lyk net éffens gepla te wees met dié vraagstuk: “Lot of nosey naaiers digging in my past/ like an irritating little finger in my arse/ ja, sure, Ninja changed a little since he left school/ so did you, but the thing is you a little less cool.”

En maak dit saak? David Bowie het Ziggy Stardust gehad, The Who het Tommy, en selfs die Beatles was Sgt Pepper’s Lonely Hearts Club Band.

Dit maak nie die musiek minder befok nie. As jy van hulle hou, kry die album. Moet dit net nie vir die dominee speel nie.

 

* Let daarop dat die video-weergawe van “Evil boy” ’n vers van Ninja aan die einde bevat wat die album-weergawe nie op het nie. 

Wen ’n kopie van $o$!

Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za met die woorde ‘Die Antwoord’ as onderwerp en antwoord hierdie maklike vraag: Wat is die titel van Die Antwoord se jongste album ?

Hierdie kompetisie sluit 10 Desember.