Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Toe musiek maar net musiek was


Jason Lloyd - 2010-11-23

Ek sou wou skryf oor die wel en wee van Oos-Kapenaars. Oor die sosiaal-ekonomiese probleme, hoogtepunte, laagtepunte van die Oos-Kaap, wat beskou word as die armste provinsie in die land. Ek sou ook graag wou skryf oor my bewondering vir die natuurskoon van my provinsie.

Dit was op ’n Saterdagaand toe ek van idee verander het. Dit het my teruggeneem na ’n tydperk toe musiek maar net musiek was. ’n Tydperk toe die woorde niks beteken het nie; net die ritme van die musiek. ’n Tydperk toe ek as kind iets soos ’n Michael Jackson se danspassies en sy stem wou bemeester het.

Wie sou kon glo dat die man wat Suid-Afrika se eie ontslape pop-koningin, Brenda Fassie, wêreldberoemd gemaak het, ’n Khoi-afstammeling is? Wel, ek het op dié Saterdag daarvan kennis geneem; of sal ek liewer sê: ek het hom toe ontmoet. Dit was in Weseinde in die Baai se noordelike gebiede. Die geleentheid: die maandelikse social gathering, prominente mense uit die noordelike gebiede en ander dele van die provinsie kom byeen om te network en lekker saam te kuier.

Dit was nadat ek ’n paar jaar gelede vir die eerste keer van hom in Die Burger gelees het. Dit was net na die dood van Fassie. Toe hoor ek vir die eerste keer dat Melvyn Matthews die lied “Weekend special”,wat Fassie beroemd gemaak het, in 1983 geskryf het.

Hy sou ook daarna op Fassie se begrafnis vir haar sing. Iets soos toe Elton John in 1997 op prinses Diana se begrafnis gesing het. Maar ek sou ook op die Saterdagaand verneem dat hy ook ’n ander Fassie-treffer, “Life is going on”, geskryf het. En dit nadat ’n (Kaapse) vriendin my die Vrydagaand voor die Saterdag gevra het of ek miskien nie dié song as deel van my musiekversameling het nie.

Dit was tydens ’n geleentheid in Breidbach, King William’s Town se bruin buurt, toe ek ná ’n dag se werk rustig wou verkeer het. ’n Geleentheid waar ek vriende met die goue klanke van Fassie se Greatest Hits – ’n CD wat ek vroeër vanjaar gekoop het – bekoor het.

Ongelukkig is “Life is going on” nie op dié Greatest Hits-CD nie. Maar ek sou sê Matthews se lewende uitvoering van die lied die Saterdagaand het miskien daarvoor vergoed.

Dit is skokkend dat Matthews as’t ware agtergebly het in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Dit nadat musiekvervaardigers reeds in 1983 gesê het Fassie het nóg die talent nóg die looks vir ’n suksesvolle musiekloopbaan. Maar toe kom die (bruin) klong van die Baai, skryf “Weekend Special” en plaas Fassie op die world stage. Die res is geskiedenis.

Vergewe my as ek miskien erg polities inkorrek klink. Hoekom ondervind ’n mens dan dat die Matthews-situasie ook lynreg deur die loopbaan van ander bruin kunstenaars loop?

As ek verkeerd is, help my reg asseblief. Bruin kunstenaars se loopbane getuig van ’n gesukkel om hulle musiek aanvaar te kry vir die kommersiële mark.

Dit terwyl plaaslike luisteraars na Amerikaanse en Britse liedjies moet luister. Die treffer “African dream” van Vicky Sampson het nooit treffer-status bereik nie, terwyl dit presies dit is. Ons Kaapse klong Jonathan Butler moes oorsee gaan om roem te verwerf. Die Invaders, van Uitenhage, wat vir baie bruin kunstenaars (en liefhebbers) ’n musiekinspirasie is, het ook soos mis voor die son verdwyn.

Noudat ons met die wete sit dat bruin kunstenaars oor die algemeen nie in hul eie land geëer word nie, moet hulle ook nie in “sak en as” gaan sit nie. Dóén iets aan dié situasie.

En miskien sal Matthews se “Weekend Special(s)” van fame dalk volg ...