Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 20/11/2010: Breyten – ''Al hoop vir ’n gekweste en pap volk is die vrye woord''


2010-11-23

20.11.2010

Al hoop vir ’n gekweste en pap volk is die vrye woord – Breyten

2010-11-20

Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach se artikel beslaan die hele voorblad van Rapport Weekliks. Hy ontleed eers die haglike toestande in die land en het dan bepaalde voorstelle vir Vrye Woord. Hier is uittreksels uit die dele wat die meeste vir Vrye Woord ter sake is. Lees die hele stuk hier.

*

Jy weet jy vat ’n kans as jy probeer uitklaar waar die land nou staan, al is dit slegs om self ’n bietjie helderheid te kry.

Jou voortvarendheid het jou immers in die verlede herhaaldelik in die pekel laat beland. Daar is ’n klomp moeilike mense daar buite.

(...)

[Jy weet dat] die droom van ’n reënboognasie geknak is. Was dit ooit regtig ernstig bedoel? Wel, Tutu het darem die trompet geblaas op berge en in dale (en die stadsmure het toe nie ingetuimel nie); ’n klomp wit menseregteverkragters het van verligting gesug toe dit blyk dat die nuwe Suid-Afrika op vergewe-en-vergeet gebou sou word; ’n paar werkers het dalk hul sware stampers neergesit met verwagtinge dat ou kameraad Siena met die stywe stappie nou die pad gelyk sou maak.

Maar die geldbase het dit tog seker geglo? Nee wat, al wat hulle geweet het en steeds weet, is wie om te koop of om te koop tot ewige (eie) voordeel want “rykdom-skep-werk”, nóú weliswaar met ’n hand oor die hart en “Nkosi sikelel’” op die lippe, en hulle sal aanhou woeker om in die hiënas se goeie boeke te bly, van Afganistan tot in Zimbabwe tot lank anderkant die oordeelsdag.

Stel die politici belang in die spoegroep “Een volk, een nasie”?

Kwalik en beswaarlik. En om mee te begin – watse politici?

Kyk, aan tafel sit die vretersklas. Dis nou te sê die ontplooides en die kaders met hul gades en skelmpies en kinders en kraaie en nefies en niggies en verlangse familie uit Nigerië. Vetgat deur die bank. Hulle gluur mekaar wantrouig aan, want dit wil lyk of daar nie genoeg buit vir elke Jan Rap en sy comrade of genoeg biscuits vir Emma Malema en sy grêm-ma gaan wees nie.

(...)

Hoe nou gemaak? Die Nasionale Demokratiese Revolusie, gedorie! Beleid het ineengestort en die staatsinstellings is radeloos en reddeloos? Te veel mense het saam met die rotte en die vullis in die gat beland wat ons gegrawe het? Dis omdat die gat nie diep genoeg is nie. Weg met die neoliberale Grondwet! Versmelt staat en party! Beheer die regbank, die veiligheidsdienste en die media ter beskerming van die sosialistiese revolusie! (Die polisie en die weermag is te dronk en te skelm om te tel.) Daar sal gelieg en beduie word vir Afrika.

Mao, opgestop in sy praalgraf, lag hom ’n papie. Hy het tog tóé al te velde getrek teen die “liberalisme” as aartsvyand en grootste bedreiging vir die “proletêre” diktatoriaat. Luister hoe word hy nou na die mond gepraat deur gesoute agterryers soos Pallo Jordan en selfs die goeie, liewe, selfopofferende monnik Jeremy Cronin. Hier word al die ou, verrotte mummies weer uit die kelder gehaal vir ’n skynverhoor: dié wat teen die sensuur en die versmoring van inligtingsvryheid is, is skuldig aan “anti-majoritarianism”en “deviationism”; hulle is ’n “oppositionist clique”.
Vryheid is mos ’n verdorwe begrip. Nou toe nou.

(...)

Waar gaan ons verset vandaan kom? Een geneuk wat alle kulturele groeperinge in Suid-Afrika wel gemeen het, is die neiging tot totalisering van die staat. As ons maar net so na moontlik saam met die baas om die vuurtjie kan sit! Hier kom ons afhanklikheid en depolitisering grotendeels vandaan. Die mate van lojaliteit en die flinkheid van die toi-toi gaan bepaal word deur die verwagte sweeties.

Die staat – jy bedoel die konstruk “staat” – het ons in die agterste liefdespleet geloer. Op stuk van sake spruit onregverdigheid uit die beskerming van die voorregte en die voordele en die eiendomme van die minderheid wat die septer swaai (al gee hy voor dis in naam van die volk): koning, kerk, bevryders, suiwer “revolusie”, en nou die faksie in beheer van die partystaat. Oral ter wêreld, en veral in Afrika, het die staat ’n ding geword, ’n organisme wat sy belange en legitimiteit verwar met dié van die land of die nasie of die volk.

Jy is egter daarvan oortuig dat die mens ook op natuurlike wyse strewe na vryheid en dat jy as “vrye agent” so ’n staat moet ondermyn. Jy glo selfs mens kan nie skrywer wees behalwe as vrye agent nie. Wat nie beteken dat jy nie dieselfde verantwoordelikhede en verpligtinge as die ander landsburgers het nie. Maar vrye-agentskap is jou opdrag en verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en jou plek en taal.

Dis seker “normaal” dat die staat jaloers sal wil waak oor alle persepsies aangaande sy doen en late, veral as dit gebruik word as stroper deur die faksie aan bewind. Daar sal geargumenteer word dat die bevoorregte enkeling sy bek moet hou ter wille van groter gedeelde belange getooi in die patriotisme van volkslied en vlag.

By ontstentenis aan die saamsnoerende van ’n nasie-in-wording is gewaarwording in Suid-Afrika nog merendeels gegrond op etniese of kulturele vereenselwiging. Dis onwaarskynlik dat jy in die nabye toekoms onvoorwaardelike steun vir enige nasionale doelstelling sal sien. Soos elders ook, redeneer mense vanuit die stellings waarbinne hulle grootgeword het of wat ander aan hulle toeskryf. In jou geval dié van wit baster, volksvreemde liberaal, politieke libertyn en kulturele pierewaaier – en die feit dat jy jou krities links van die ANC opstel maak geen hond haaraf nie.

Dit is waar dat daar streek- en kulturele verskille is wat nooit gaan verdwyn nie. Dit is ewe waar dat mense hulle funksioneel uitleef binne die omgewing en taal waarmee hulle instinktief vertroud is. Met ander woorde, behalwe vir die oorkoepelende nasionale doel wat mens “projek Regverdige en Omvormende Suid-Afrika” sou kon noem (en die hiënas stel nie die minste daarin belang nie), en ’n saambindende grondwet (nou besig om te verbrokkel), sou daar erkenning en waardering vir die verrykende van diversiteit moes wees, ’n effektiewe afwenteling van mag en veel meer direkte politieke en administratiewe aanspreeklikheid.

In Suid-Afrika is daar weinig klasbewussyn in die Marxistiese sin, al gebruik mense ook ’n woordeskat ontleen aan Europees ontleende dialektiese diskoerse. Van jou skrywerskollegas steek byvoorbeeld viervoet vas wanneer jy pleit dat daar saamgewerk moet word met Cosatu.

Dis dan ’n organisasie wat streef na die diktatuur van die proletariaat! sê hulle. Maar so ’n idee is weinig meer as ’n ou lyk wat in ’n kruiwa saam gekarwei word na betogings.

Niemand het enige idee van hoe die leiersrol van die werkers daar moet uitsien nie, al word daar ook ’n hond uit die bos gepraat.

Want die groter en dringender werklikheid is dat onderskeie gemeenskappe gedoem is om saam te lewe in Suid-Afrika. Ten spyte van ’n morsige en dikwels gekaapte geskiedenis is die land by verstek gedeelde grond.

Sou verset en skeppende idees vir groter regverdigheid kon kom uit die wit gemeenskap? Nee, jy betwyfel dit. Hulle is pap. Te veel rotte het op die batterye gepis. Al wat hulle nog oor skree, is rugby en godsdiens en of Max du Preez gekielhaal of opgehang moet word. Jy het gehoop dat hulle by die aflê van apartheid hul potensiaal as geleiers van omvorming en ontwikkeling sou realiseer. Maar nee. Daar is nie meer ’n koherente kritieke massa wat bereid is om sy taal en volle waardigheid as volledige Suid-Afrikaanse burgers op te eis nie.

Die bruin gemeenskap? Nee, jy betwyfel dit. Die duisend jaar van seerkry en ontkenning en vernedering kan net nie ingehaal word nie. En die meeste van hulle wil nie glo dat hulle die enigste prototipes van werklike, inheemse Suid-Afrikaansheid is nie, die lewende geskiedenis van ’n volk-in-wording.

Die enigste hoop, lyk dit vir jou, is wanneer die onhoubare kontradiksies van die regerende alliansie sal lei tot wegbreek. Dit sal gebeur wanneer die interne stryd (Lenin het gesê interne stryd is die moere en boute van die revolusie) om mag en middele faksie teen faksie te staan gaan bring. In die proses sal ander argumente aangegryp en grondbeginsels miskien herontdek word as regverdiging en om afstande te definieer, en dán het ons ’n veel interessanter debatsruimte.

Onthou, die regerende Bond is veel swakker as wat hy voorgee om te wees.

Dit is waarom dit so belangrik is dat nieregeringsorganisasies krities betrokke bly by kwessies wat hulle raak, en om so eerlik en realisties moontlik te soek na vorme en uitinge van aktivisme wat kan lei na saamsnoering oor ander afbakenings heen.
Dit is waarom die twee beoogde wette wat hulle en die groter gemeenskap gaan muilband en kniehalter – die instelling van ’n sensuurhof en die Wet op die Toesmeer van Inligting – hand en tand deur alle skrywers beveg moet word.

Dit is waarom die Vrye Woord beskerm en uitgebou moet word.

Dit is waarom die skrywers hulle behoort te groepeer in ’n Vrye Woord-skrywersunie / Free Word Writers Union. Dit is waarom so ’n vakbond nie slegs sy eie belange moet verteenwoordig en beskerm nie, maar ook moet vra om geaffilieer te word by ’n groter groepering soos Cosatu – sodat hy funksioneel deel mag hê aan die debat en dit gesien word dat hy hom by die verontregte Suid-Afrikaners skaar.

Wat sou jy dan verder voorstel?

Dat ’n volkskongres belê word met verteenwoordigende afvaardigings uit die burgerlike samelewing, ook skrywers, om ter wille van oorlewing saam te besin en ’n nuwe bedeling te beding, gegrond in iets soos ’n Vryheidsmanifes.

Maar die belangrikste in die onmiddellike toekoms is om so helder en doeltreffend en skeppend moontlik op allerlei maniere te veg teen die beoogde wette, wat bedoel is om die hiënas te beskerm en persepsies te manipuleer.

Octavio Paz het by geleentheid oor die Spaanse burgeroorlog geskryf: “Enigeen wat Hoop se gesig gesien het, sal dit nooit vergeet nie. Hy sal daarna bly soek waar hy ook mag gaan.”

 

  • Breyten Breytenbach is ’n internasionaal bekroonde digter.

 

*

Wat nou van Vrye Woord en die toekoms?

Breyten is een van verskeie skrywers wat nou laat blyk het dat die losse skrywersgroepering Vrye Woord in die rigting van ’n gestruktureerde unie/vakbond/gilde/vereniging moet beweeg. Die eertydse Afrikaanse Skrywersgilde het bewys dit is die manier om in samewerking met die media bedingingsmag en publisiteit te verkry.

Die hele konsep van 'n vaste struktuur word ernstig oorweeg. As ’n eerste stap moet ons ’n databasis aan die gang kry. Wie wil betrokke raak en saam besin? Wie wil ons nuusbriewe persoonlik ontvang, afgesien van die verskyning daarvan op LitNet, BookSA en elders?

Weer: “skrywers” word soos in die Brink-Gordimer-petisie in die wye sin van die woord gesien. As jy nie reeds die nuusbriewe ontvang nie, kan jy jou naam aan my by hermes@absamail.co.za stuur. Daarmee verbind jy jou nie aan enige toekomsplanne nie, want ons besin nog!

Ons moet eers uitvind wie ons is en wil wees voordat dinge soos amptelike vakbondstatus en affiliasie ter sprake kom. Organisatoriese oorwegings soos borgskappe en infrastruktuurhulp is van groot belang. Met die Skrywersgilde was die hele gilde onmoontlik sonder die hulp van Human & Rousseau en later HAUM-Literêr.

- CM

*

 

Wat nou van die twee muilbandwette?

Die skrywerspetisie en Vrye Woord se verset teen die twee wette het geensins verander nie. Dit bly ’n verderflike aanslag teen spraakvryheid en geringe aanpassings aan die konsep van die inligtingswet sal niks aan die wese daarvan verander nie.

Die invloedryke skrywersorganisasie PEN International het in ’n verklaring hulle ernstige kommer uitgespreek oor die twee wetsontwerpe wat die vryheid van spraak en uitdrukking aan bande wil lê. Hulle glo dit kan ’n Orwelliaanse beheer oor spraakvryheid in hierdie land inlui. Klik hier om die verklaring af te laai.

Dit is seker so dat die pad van redelike onderhandeling die beste is. Wat egter verontrus, is dat verskeie koerante blykbaar nou begin voel die nuwe wet oor inligtingsvryheid kan maar deurgaan, mits daar sekere toegewings is. Die punt is egter dat die hele wet onnodig is en ’n blatante, deursigtige poging van die ANC-regering om inligtingverspreiding te beperk en te beheer. Rapport se hoofartikel hier onder begin die gevaar uitwys, maar maak dan toegewings en dring eintlik net op wysigings aan.

Of dit baie gaan help dat die ANC-beheerde parlement moes verdaag en dus nie die wet kon afhandel nie, is 'n groot vraag. Dit gee hulle bloot meer tyd om te konkel. Hulle gaan nie oor die werklike vasvat-klousules toegee nie. Veral omdat niemand meer glo dat dit oor sogenaamde "intelligensie" gaan nie - en wat 'n benaming!

- CM

 

*

Stadiger oor die media-klippers - Rapport

Rapport, 2010-11-20. Lees die volledige berig hier.

Die besluit wat die parlement Dinsdag bekragtig het om meer dinktyd vir die omstrede beoogde wysigingswetsontwerp op die beskerming van inligting te gee moet verwelkom word.

Op die gevare van hierdie drakoniese wetsontwerp het Rapport reeds herhaalde kere gewys. In sy oorspronklike formaat sou dit vryheid van spraak ernstig aan bande lê met inligting wat vir elke bakatel en min of meer deur elke Jan Rap en sy maat geheim verklaar kon word, met giftige gevolge vir die spraakvryheid van die man op straat sowel as vir ’n ingeligte publiek en swaar tronkstraf vir enigeen wat sulke geheime inligting sou openbaar.

’n Omvattende veldtog binnelands en in die buiteland het gevolg. Die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing het hard gepraat. En mens moet geredelik toegee die regering was hierdie keer nie horende doof nie.

Dit is ’n bewys van hoe demokrasie in Suid-Afrika kan werk: ’n regering wat luister na behoorlike kritiek en hom skik na die Grondwet eerder as partypolitieke eiebelang en populistiese heethoofdigheid.

Nou het die parlement besluit die parlementêre komitee wat die wetsontwerp skryf, het tot 21 Januarie om hul taak te voltooi.

Dit bied die kans om stadig oor die klippers te gaan met hierdie sensitiewe saak.

Daar was in die onlangse verlede sterk aanduidings dat die ANC redelik oopkop is vir die regmaak van die oorspronklike wetsontwerp.

Dr Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid, het die ANC se instemming reeds betuig om die tot-geheim-verklaring van inligting (wat in die oop, demokratiese samelewing wat ons Grondwet voorsien, uiteraard tot die minimum beperk moet word) meer deurdag te laat gebeur.

Watter inligting geheim verklaar mag word en wie dit mag doen, sal nou veel duideliker omskryf word – ’n belangrike stap vorentoe.

Tans is daar vroeë, maar belowende tekens dat die regering oortuigbaar kan wees dat die bekendmaak van geheime inligting in die openbare belang wel aanvaarbaar verklaar kan word.

So ’n verandering sal een van die sterkste oorblywende besware teen die wetgewing ondervang en is noodsaaklik.

Sommige inligting kan geheim wees in landsbelang en dus in die openbare belang.

Swaar strawwe kan vir die onthulling van sulke inligting voorgeskryf word, maar ’n ope hof moet daaroor besluit, nie ’n sekerheidsamptenaar buite die openbare oog nie.

Waar die openbare belang egter, na die mening van die hof, vereis dat inligting bekend word, is dit noodsaaklik dat dit gebeur. Tot hierdie meer open­like samelewing kan die ANC meehelp as hy die wetgewing dienooreenkomstig help wysig.

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index