Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Uit die boks: ’n Ander blye boodskap


Willie Knoetze - 2007-02-05


Die lewe is te kort vir vervelige kos, dronk tieners of slegte drag shows.
 
Dieselfde geld vir Trixie et al wat nog steeds glo ’n knik is ’n uitnodiging tot ’n orgie. Of dan nou meer spesifiek – en meer irriterend – ’n uitnodiging vir mans wat jou aan die gulp gryp as hulle groet!
 
So pyl ’n man mos nou die dag op my af (in Stones in Mosselbaai – bid jou aan!) en “wie’s jou pappa” my waar ek met ’n kliënt staan en praat! “Absolutwillie!” mompel hy in my oor, “you look better in real life.” Ek was stomgeslaan. Gelukkig ken my kliënt ook die man se streke en tree tussenbeide deur my aan iemand anders voor te stel.
 
So ’n paar kappe later word ek weer ge-"groet" by die snoekertafels. Wat ek die man toegesnou het, ontgaan my nou, maar dit het nie vreeslik impak gemaak nie. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het ek gewens dat ek die durf gehad het om ’n ander mens te bliksem. Maar soos in hard! Waar het jy dit nou al ooit in jou lewe gesien? Dat mens sommer net in ’n rigting mince en gryp-gryp kyk of iemand jou herken! My magtig man, het jou ma jou dan niks maniere geleer nie?
 
En dan kry jy die vlieë wat in die publieke badkamers rondhang ...
 
Die perseel waarheen my kantoor geskuif het, is mos nog nie ordentlik ontwikkel nie. Ons ry water in kanne aan en wek elektrisiteit op met ’n Lister-enjin. Van ’n pad of sanitasiegeriewe word daar nog net gedroom. So het ons twee van daai chemiese port-a-potty gedoentes op die werf laat staan maak om na die ergste behoeftes om te sien. Maar sien jy nou die dames (of vir my) enkeldiep deur die kompos (die ander besigheid op die perseel) ploeter om hul bewussyn te waag in een van daai plastiek-oonde? Nie maklik nie. Eerder klim ons kort-kort in ’n kar en besoek die naaste vulstasie of winkelsentrum om die nood te verlig. Mens gaan ook nie elke keer na dieselfde plek toe nie – veral nie as die vrou by die vulstasie jou aankyk met ’n blik wat getuig van medelye nie. Nee wat, dan liewers die dorp verder verken en probeer om vaagweg bekend te lyk die sestiende keer wat jy aanklop.
 
Nou het ek al gehoor dat die een spesifieke aanklopplek ook die plaaslike cruising spot is – maar wie cruise nou drie-uur op ’n Dinsdagmiddag? In elk geval is die winkel digby, so vir wat sal ek nou gaan ander plek soek?
 
Met die intrapslag het ek niks ongewoon opgemerk nie en is ek reguit die eerste oop hokkie in. So ses tellings later gee my buurman so kuggie en vroetel met die toiletpapier. Seker sy bek gebrand met die rissiesous of iets, dog ek. Maar na ’n ruk se stilte word daar weer met die toiletpapier geritsel, liggies gesteun en hard asem gehaal. Ek sluit toe haastig af met ’n luide verkondiging van wat ek daar gedoen het, spoel en mik vir die wasbak. Die ander hokkie se deur bly genadiglik toe, maar die ou by die urinaal maak my onrustig. In die spieël lyk dit of hy vreeslik met sy gulp spook en kort-kort loer of iemand lag. Tot ’n liggie in my kop aangaan en ek besef sy gulp is glad nie ’n probleem nie, en die rooi-in-die-gesig rondkyk is meer ’n vorm van advertensie as iets anders! Ek het nie gestop om my hande droog te blaas nie. In my veg-of-vlug-drafstappie deur toe mompel die man iets, terwyl hy sy kroonjuwele vir my probeer wys!
 
Ek is nog nooit so vinnig by ’n stel trappe af nie.
 
Weet die mense dan nie van privaatheid nie? Of betaamlike gedrag – veral in die openbaar – nie? Wat het geword van fliek kyk en uiteet, of rolbal speel? Gesels mense nie meer nie? Is ons so gedruk vir tyd (waarvan ons glo elke dag meer en meer bespaar met tegnologiese vooruitgang) dat menseverhoudings in gille en steune gemeet word? Ek weet almal is nie so oor die kop geslaan met romanse en die strewe na ’n lewensmaat nie – maar selfs die meer dranggerigtes onder ons kan seer sekerlik nie vervulling kry uit ’n string vinnige tillies in ’n piepieplek nie!
 
Is daar nog mense met vervulde lewens?
 
As daar ooit ’n tyd was in my lewe om hieroor duidelikheid te kry, was dit hierdie afgelope drie maande. Eers is my gunsteling tante oorlede (vorige "Uit die Boks" – "Ella"), waarna my ouma ingegaan het vir ’n pasaangeër. Dié het weer bly infeksie kry en amper begin uitsweer. Toe kry my pa iets soortgelyk aan ’n ligte beroerte op pad terug van Kaapstad af. (’n TIA word dit glo genoem – nie beroerte nie.) Bekommerd laat ons plate neem, net om ’n sist so groot soos ’n gholfbal in een van sy breinlobbe te vind. Voor my pa by die neurochirurg kon uitkom, besluit hulle om my ouma se pasaangeër dieper in te plant. In dié tyd ontdek my ma ’n gevoelige knop op haar regterbors – nog plate, sonars en mammogramme loop uit op ’n biopsie op dieselfde dag as my pa se afspraak by die neurochirurg. Die sist is glo nie op die oomblik iets om oor bekommerd te wees nie, maar drie dae later hoor ons my ma het borskanker. Dit was ’n Donderdag.
 
Sondagoggend na kerk neem ek my ouers Transkaroo toe vir middagete. Die pragtige eetplek was vroeër Groot Brak se treinstasie en het onder leiding van die nuwe eienaar/sjef ontpop as ’n plek waar jy van die ongelooflikste gastronomiese avonture in jou lewe sal ervaar. En ek oordryf nie, want dis daar waar ek die eerste keer in my lewe my ma hoor rave het oor enigiets. Sy het die salmslaai-voorgereg so geniet dat my pa amper trane in sy oë gekry het. “As julle nou vir my iets moet bring vir my laaste maaltyd, moet julle vir my hiervan bring.” Ek kan nie oorvertel hoe ongelooflik goed, bly en emosioneel ek gevoel het op daardie oomblik nie. Dit was ’n oomblik in tyd wat my ’n ewigheid sal bybly.
 
Daardie Sondagaand is Steyn dood in ’n motorongeluk in Kaapstad. Ons was nie juis goeie vriende nie, maar hy was baie goeie vriende met my goeie vriende. Ook was hy die laaste skakel met my eerste kêrel, Aalwyn. Ek wou nog vir Steyn vra waar hulle toe vir Aalwyn begrawe het ...
 
Maandag het ek op die foon spandeer met die vriende wat agtergebly het. Die besef dat ons so vinnig kontak verloor – en so maklik mekaar vir goed kan verloor – het swaar in almal se stemme gesit. “Vandag bel ek almal om vir hulle te sê dat ek hulle lief het,” was Rian se boodskap. “Al sien ons mekaar een keer elke twee of drie jaar – ons het mekaar se harte gedeel, en sal dit vir altyd doen,” het ek geantwoord. Ella het skielik langs my gesit: “Ek is lief vir jou.”
 
Die daaropvolgende Dinsdagoggend elfuur word my ma teruggewiel kraamsaal toe (die res van die hospitaal is vol) minus een bors. Behalwe vir die naarheid voel sy egter goed. Daardie aand marsjeer ek met ’n moerse bos pienk lelies by die kraamsaal in – ’n ding wat my pa nooit gedink het hy sou beleef nie. Ma lyk goed en beweeg haar regterarm soos ’n wafferse trompoppie. Die dokter (nogals ’n ernstig aantreklike jong man) is baie beïndruk met die operasie – en vrek verbaas oor my ma se veerkrag. Dis vir hom verstommend dat my ma al so baie beweeg en nie lê en kla oor haar lot nie.
 
O ja, my ouma se pasaangeër het gevat en die wond genees mooi.
 
Die punt? My liewe mens, die punt is dat die lewe te kort is om jou potensiaal te vermors met cottage tricks, onbeskofte balgrypers, sinlose geraas of swak vermaak. Nou is die tyd wat jy ja moet sê vir ete-afsprake, blomme koop omdat hulle mooi is, nagte om gesels met goeie vriende – al moet jy hulle ook bel waar hulle in Londen sit! As ek vanaand ’n DVD uitneem, sal dit een wees met ’n boodskap. Iets wat my laat besef ek lewe, iets soos Bent. Vir Kersfees koop ek mooi papier en skryf ellelange briewe vir almal wie se posadresse ek nog het. Ek het klaar ’n paar resepte bymekaar gemaak vir die feesseisoen – al flop my disse, wil ek ten minste probeer om my mense te bederf! Ek het besluit om op te hou spaar vir daai trippie oorsee en eerder te kyk hoeveel van my susters (en ander vriende) ek kus toe kan lok vir ’n Nuwejaar op die plaas langs die see.
 
Hierdie maand is die maand van my revolusie. Die maand waarin skoonheid gevier, opregtheid waardeer en liefde uitgedeel word soos drukkies by ’n troue. Elke dag begin die revolusie van nuuts af.
 
“The revolution will not be televised. The revolution is live!”
 
Naskrif: My pa het nou net gebel – die resultate van die toetse wat op die uitgesnyde kliere gedoen is, is terug – en skoon! Vanaand vat ons drie glase en ‘n bottel wyn kraamsaal toe. Ek wed jou dít het nog nie in Bayview gebeur nie.