Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Die musiek beteken nog iets: Bittereinder se ware verhaal


Annie Klopper - 2010-11-18

’n Ware verhaal 
Bittereinder

 

Ek ervaar ’n onvermydelike behoefte om byna elke reël aan te haal in my dagboek, in my status updates op Facebook, in verjaardagkaartjies en grafredes. Die ritmes en lirieke is so sterk soos eeue oue idiome.

“Ek is kwaad,” sê my buurman Henry toe ons so ’n paar weke gelede die eerste keer Bittereinder ontdek. “Waar kruip hierdie band nog die heeltyd weg?”

As ek sy vraag moet probeer antwoord, sou ek sê ek vermoed iewers in die voue van woordeboeke, in die vloei van kinderrympies, die lawende koelte en die onsekerheid van skaduwees, die belofte wat wagwoorde inhou, die verborgenheid van kastele, die bekendheid van straatligte, die gemoedelikheid van fluistering, die diepte van geheime en die satisfaksie van openbarings. Dis in elk geval wat die betowerende musiek en lirieke jou laat glo.

Maar dis nie wat ek antwoord nie. Ek antwoord Henry met ’n eggo van een van die lirieke: “Jy is nie alleen nie”. Ek is ook kwaad. Ek is kwaad dat ons nie al lankal hierdie tipe herlewing in Afrikaanse musiek gehad het nie, want dis hoog tyd. Bittereinder is die grootste ding wat Afrikaans in maande getref het. Met die uitsondering van Jack Parow en Die Antwoord, miskien selfs jare. Let wel, ek sê met opset “Afrikaans” en nie slegs “Afrikaanse musiek” nie, want terwyl sommiges vrees dat Afrikaans in die moeilikheid is, griffel Bittereinder op hul debuutalbum, ’n Ware verhaal,kunstig en kundig lirieke soos die volgende uit “Almanak”:

ek steel minute van die toekoms, steek hulle veilig in my sak
ek oorweeg nog ’n ooreenkoms met die swart kruisies op my almanak
[ ...]
party sê tyd is fiksie, party sê dit is nie
maar ons is almal in ’n manier vasgebind aan ’n 24-uur-gesiggie
trek jou eie kruisies en wees eerlik oor jou bangwees
die lang vrees van die laaste een is lankal in jou skaduwee
ek tel sekondes in die wonde van my tong se vuur
vrot van vergifnis in die stilte van my laaste uur.

Ontspan dus; ons mag dalk elkeen op pad wees na die finale swart kruisie, maar Afrikaans gaan oukei wees. Dit kry hier reg om ’n heeltemal verfrissende vorm aan te neem waar kletsrym in ’n poligamie-agtige huwelik tree met fabels, satire en ook digterlike kundigheid wat teen die agtergrond van grootse sensoriese ritmes vleg soos rankplante.



Die drie lede, Jaco van der Merwe, Peach van Pletzen en Louis Minnaar, het in samewerking met ’n paar hoogs talentvolle gaskunstenaars 12 snitte geskep wat jou hoendervleis sal gee in die Namib. Nie een van die gaskunstenaars is terloops sommer enige hierjy nie. Ons praat hier van Inge Beckmann van Lark, Tumi Molekane van Tumi & The Volume, Jack Parow, Sev Statik (’n rapper uit New York en ’n persoonlike held van Jaco), Richard Brokensha van Isochronous, asook die rapper Tim Beumers (uit Rotterdam). Op die samewerking met laasgenoemde kan Bittereinder veral trots wees, want in die lied “Slechte mensen” dans Afrikaans en Nederlands so lekker soos ’n tweeling wat met geboorte geskei is enmekaar weer gevind het. En die woorde is soos klitsgras:

hier’s die ding ek hou van sing, as ek iets anders sê is ek oneerlik
as my tong en longe nooit kon sing sou ek wees soos ’n wolk sonder weerlig
vrees niet waar weerklinkt het lied, slechte mensen zingen niet.

Tematies is die album ryk aan sosiale kommentaar, waarskuwings en waarnemings – die skryfproses is ’n “penworstel”, soos die titel van die een snit dit wil hê, maar jy kan nie anders as om dikwels te glimlag vir die manier waarop dit verwoord word nie:

o ja, ons kan raas, met woorde vol rooiwyn
maar kyk hoe verdwyn ons harte agter daai toertjiegordyn
soos ’n kinderpartytjie wat wit hasies laat verskyn
behalwe dis grootmense wat nog lekker speel hier agter in die tuin.

Jaco van der Merwe (wat eers in Engels slam poetry gedoen het onder die naam Ajax), kan maar as een van die varsste stemme in Afrikaans gereken word en is niks minder as ’n vlymskerp, vaardige digter nie. Dit is duidelik dat hier aandag gegee word aan die rol van musiek en lirieke as gewete van die samelewing; daarom die koorgedeelte van die titelsnit:

sê tog die musiek beteken nog iets
as hierdie ding so erg gebreek is, sal ons dit ooit kan fix?
ek soek al vir jare na die ware verhaal
die ritmes in ons bloed wat ons lewens bepaal.

Bittereinder het reeds twee briljante musiekvideo’s (deur Louis Minnaar vervaardig) aanlyn geplaas alvorens die album landwyd beskikbaar was: vir die titelsnit en “A tale of three cities”. So opgewonde was ek gevolglik die dag toe ek met Bittereinder se debuutalbum, Die ware verhaal, by die huis kom dat ek dit per abuis in die yskas gesit het. Met die sak appels wat in die ander hand was, het ek na my CD-speler geloop. As dit nie die waarheid was nie, sou ek dit nie vertel het nie, want dis nogal ’n patetiese manier om te probeer sê ’n album is cool. Of dat dit so kraakvars en lekker is soos sappige appels. Maar dis ’n ware verhaal.

Kyk na die video’s vir “’n Ware verhaal” en “A tale of three cities”:

Wen ’n kopie van ’n Ware verhaal!

Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za met die woord ‘Bittereinder’ as onderwerp en gee vir ons die naam van een van die lede van Bittereinder.

Hierdie kompetisie sluit 10 Desember.