Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Poësie | Poetry

Voornagte


Danie Botha - 2010-11-18

Voornagte

Kaapstad

 

1
Ver en naby in die warm nag
sprei hoë ligte deur die duister,
wyk rotte voor die motors
wat nog peins en kruie.
Dit was ’n “gawe” aand
van katkisasiewoorde
en glo saamtas na die Waarheid.
Ek maak my kamerdeur maar oop
op die Eensaamheid.

 2

Terwyl die prostituutjie slaap,
terwyl my rentjie slaap,
wil ek vreeslik baie dink,
maar ek dink net aan sy slaap,
aan niks anders nie.
Miskien tog aan die liggaam wat net syne is
en wat hy glo gee aan my.

3
Ek weet dit weer vannag:
al sproei bloeisels deur die hele boord,
al gloei die son nie net op minarette nie,
al gee die herfs ’n goeiemiddagknik,
ek kan en wil nie sê
ek het jou lief nie,
want die valsheid en die leegheid
sal my bitter gou inhaal
met die telefoon wat stilbly,
die posbus leeg en nors.