Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Al wat ons het, is oomblikke: Deborah Steinmair lees ’n Vrou gaan dokter toe


Deborah Steinmair - 2010-11-17

’n Vrou gaan dokter toe
Ray Kluun
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624048947
Prys: R169.96

Klik hier en koop ’n Vrou gaan dokter toe nou van Kalahari.net!

 

Wanneer ek op die voorblad van ’n boek sien dat dit wêreldwyd meer as ’n miljoen kopieë verkoop het, sak my moed in my skoene, synde nie ’n kuddedier nie. Maar soms is ’n boek so universeel-menslik dat dit kuddediere van ons almal maak.

Ray Kluun se bittersoet roman, wat gebaseer is op die werklikheid, is so ’n boek. Steyn van Dyk en sy vrou Carmen is mal oor hul lewe. Hulle is jonk, ryk, mooi en hedonisties. Hulle is al twee in die advertensiebedryf en Amsterdam is hul speelplek. Tog is daar ’n paar slange in die paradys. Carmen word gediagnoseer met borskanker en Steyn (die verteller) ly aan monofobie – soos ons eie Kleinboer het hy ’n heilige vrees vir die monogame lewe. Hy leef sy vrees onbevange uit en het sy geliefde vrou vanaf die begin van hul verhouding verneuk.

Ons beleef die gebeure dus noodwendig uit die perspektief van ’n ongeneeslike rokjagter wat om die beurt baie ingenome met homself en baie skuldig, weerloos en jammer vir homself voel. Die beste wat ’n mens van Steyn kan sê, is dat hy altyd getrou is aan homself, soos ’n mannetjiekat. En dat hy sy vrou werklik liefhet. Hulle is geesgenote, sy is die liefde van sy lewe, hy is mal oor haar lyf (die boek is in lekker informele Afrikaans vertaal deur Francois Smith, met woorde soos “tiete” en “piele”, uitdrukkings soos “die kakhuis van ’n kanker”.) Hy swel van trots wanneer ander mans haar begeer. Hy self het op skool aknee en ’n “duikbril” gehad en geen sukses met die meisies gehad nie. Maar nou, in sy middel-dertigs, het hy selfvertroue en sex appeal. Hy dra pienk hemde en slangvelskoene en in die nagklubs van Amsterdam is hy kaatjie van die baan, flirt hy en naai hy tot vyfuur in die oggend, selfs met ’n sterwende vrou en tweejarige dogtertjie by die huis. ’n Paar dae voor sy vrou se mastektomie gaan hy saam met pelle Miami toe vir ’n losbandige rammenaweek.

Hy verduidelik sy optrede só aan homself en die leser: hy reageer bloot soos kinders wat, wanneer hulle weet dat iemand weggaan en hulle die persoon gaan verloor, hulself begin onttrek aan die persoon om sodoende die uiteindelike skeiding minder traumaties te maak. Ja, dit gaan meestal oor Steyn se pyn, terwyl Carmen haar bors verloor, wegkwyn tot minder as 40 kg, haar hare verloor, alles wat sy eet opkots, terwyl haar maag steeds swel soos ’n swanger vrou s’n en die pyn ondraaglik word.

Daar is egter ook ’n ander kant aan die groot baba Steyn. Wanneer hy wel by die huis is, doen hy regtig sy bes om daar te wees vir Carmen, gaan hy saam met haar chemoterapie toe en versorg hy haar liefdevol en met eindelose geduld.

Soos dit maar gaan, ontmoet die reeksveroweraar die tweede liefde van sy lewe juis terwyl sy vrou terminaal siek is en vinnig agteruitgaan. Roos is nog ’n engelagtige vrou wat hom al sy syspronge vergewe en min of meer enige uur van die dag of nag geduldig wag om hom te vertroos en te bemin. Dit maak dit vir die leser effens moeiliker om hom te bejammer in sy geweldige verlies.

Elke hoofstuk word ingelei deur ’n aanhaling uit die lirieke van Kluun se gunsteling-songs. Soos dit maar gaan, vind ek die aanhalings uit Nederlandse songs diep, wrang en evokatief en die Engelse aanhalings, meestal uit Bruce Springsteen, effens vlak en passé, maar wel in pas met Steyn se mentaliteit. So ook die magdom obskure sokkertrivia wat as beeldspraak ingespan word (met voetnotas ter verduideliking).

Hoekom is ’n selftevrede manlike chauvinis (modern, bevry maar steeds so macho soos kan kom) se vertelling oor sy vrou se laaste lyding so boeiend? Ten slotte is dit ’n roerende, hoewel disfunksionele liefdesverhaal. Der Spiegel in Duitsland het dit as ’n radikale Love Story vir die 21ste eeu beskryf.

Dis eerlik en rou, soms onbeskaamd sentimenteel, soms kru. Dit slaan die Zeitgeist raak. Dis ’n boek wie se tyd gekom het. Uiteindelik is Steyn en Carmen beide lewenskunstenaars wat weet hoe om elke druppel murg uit die lewe te suig. Soos ’n bros  herfsblaar herinner die boek ons aan die kortstondigheid van die lewe. As daar ’n boodskap is, is dit die volgende: Al wat ons het, is oomblikke.

Soos die res van die wêreld, kon ek die boek eenvoudig nie neersit nie.

Ek lees op sy webwerf dat Ray Kluun alreeds weer getroud is, met sy tweede geesgenoot, en dat die roman verfilm is.