Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Mara trek ’n Pieter (of is dit ’n Julius?): Idols en ras


Jason Lloyd - 2010-11-17

Daar is nie ’n besliste reg of verkeerd in Mara Louw se aanvegbare uitbarsting dat Idols in wese ’n rassistiese musiekkompetisie is nie.

’n Gesprek oor verandering in die aanbieding en stemprosedure van die kompetisie kon uiteraard interessant gewees het, maar toe trek Louw ongelukkig ’n Peter de Villiers (of is dit ’n Julius Malema?) op haarself deur te “bid dat die Here vir L’loyd laat wen”.

Ek kon dit nie glo nie.

Boonop sê sy Idols, waarop sy nogal ’n beoordelaar is, is vol rassisme. (Ek neem aan sy bedoel “wit rassisme”.) Toe volg sy dit op met nog ’n onverantwoordelike stelling: “Ek was so geskok dat ’n swarte nie die wenner is nie.” ’n Uitspraak wat haar blootstel om sélf as ’n rassis beledig te word.

Teen die agtergrond van ons ongelukkige politieke verlede kan Louw se aandrang op ’n swart Idol seker verstaan word.

Haar vreeslike emosionele uitbarsting was egter verkeerd en totaal onaanvaarbaar. Miskien moet sy oorweeg om vir haar ’n woordvoerder aan te stel. Soos met die Bok-afrigter, gaan haar bek sonder brieke haar nog duur te staan kom. As beoordelaar behoort sy tog die beskikbare kanale te volg en haar besware op ’n beskaafde manier te lug.

Dit is dus geen wonder dat ’n Facebook-groep gestig is om haar as beoordelaar uit te boender nie. Trouens, sy is al telkemale in omstredenheid gedompel. Dit is hoekom haar reputasie haar altyd vooruit loop.

Verder betwyfel ek Louw se argument dat Idols rassisties is, hoofsaaklik om drie redes.

Onder die top 6 was daar drie swart deelnemers: L’loyd, Sindi en Boki. Hoekom het hulle dan so goed gevaar as wit mense nie vir hulle gestem het nie? Is dit net swart kykers wat hulle tot daar gebring het? Dit kan mos nie waar wees nie. Die moontlikheid dat daar talle wit kykers was wat vir dié swart deelnemers gestem het (en andersom), kan mos nie buite rekening gelaat word nie.

Net so is dit heel moontlik dat talle swart kykers wat voorheen vir swart deelnemers gestem het, in die finale ronde vir Elvis Blue gestem het.

Raai, miskien het ras nooit ’n rol in die finale ronde gespeel nie. Miskien wás talent vir die meeste kykers die deurslaggewende rol. Ons sal nooit regtig weet nie, sal ons?

Kyk ons na wat elders in ons samelewing gebeur, is dit egter tog moontlik dat mense wel op grond van ras eerder as talent stem.

Aan die politieke front sukkel opposisiepartye soos die DA om swart stemme te trek, terwyl die tradisioneel swart partye soos die ANC en die PAC weer sukkel om wit steun te kry.

Interessant was die debat wat Maandag op Ian Wessels se Loslip-geselsprogram op RSG oor dié onderwerp gevoer is. Tydens die bespreking het heelwat (miskien selfs die meeste?) wit luisteraars gesê hulle sal nie huiwer om vir ’n swart deelnemer te stem as hulle dink hy of sy is die beste nie.

RSG het egter ook ’n SMS-lyn gehad waarop luisteraars moes antwoord op die vraag of wit mense weier om vir swart mense te stem. Meer as 90 persent het “ja” gestem.

Daar is egter nog iets wat my pla oor Louw se opmerking.

Dit is dat haar aandrang op ’n “swart Idol” verdere stukrag verleen aan die sentiment dat ’n bruin Idol nie swart genoeg is nie.

Wat maak sy dan van vorige “bruin” Idols-wenners soos Karin Kortje, Jody Williams en Sasha-Lee Davids? Is hulle nie goed genoeg om ’n swart Idol te wees nie? Of is hulle “wit” volgens Louw se definisie? Ek wonder hoe hulle hulself sien? Niemand het hulle gevra nie.

Louw het wel ’n punt beet as sy sê DStv is buite die bereik van groot getalle swart Suid-Afrikaners en dat die kompetisie net ’n ware nasionale kompetisie sal wees as alle Suid-Afrikaners die geleentheid kan hê om dit te volg.

Die moontlikheid bestaan seker om dit aan die SAUK te verkoop, maar gegewe die interne probleme by die openbare uitsaaier (en die moontlikheid van politieke inmenging), is dit seker ’n pypdroom.

Miskien moet die DStv-kanale tydens die uitsendings “oopgemaak” word vir die duur van die kompetisie sodat almal daarna kan kyk!

Hoe dit ook al sy, Louw se opmerkings het weer gewys hoe vlak die humeure lê as dit by die omstrede kwessie van ras kom. Want kom ons wees eerlik: ons almal, wit en swart, maak ons by tye skuldig aan die een of ander vorm van rassisme. Ons almal het dus ’n gedeelde verantwoordelikheid om rassisme te bly beveg.

Dat Louw dié kwessie aangeroer het, is daar dus niks mee fout nie. Wat wel pla, is die onvolwasse manier waarop sy dit gedoen het.