Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Kortaf: Baie wat geloof kan word in Eyes Wide Open


André Crous - 2010-11-16

Regisseur: Haim Tabakman
Kamerawerk: Axel Schneppat
Rolverdeling: Zohar Strauss, Ran Danker
Looptyd: 90 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 12 November 2010

Eyes Wide Open is ’n mooi film met ’n buitengewone onderwerp, maar dit maak ’n tragiese fout in sy laaste toneel en ondermyn daarmee die hele erns van die produksie.

Die film speel af in ’n erg ortodokse gedeelte van die stad Jerusalem, waar kuisheid aan die orde van die dag is en mans met lang baarde die strate patrolleer om seker te maak dat almal getrou bly aan die moraliteitskode. Dit is in hierdie konteks wat die slagter Aaron en die baie aantreklike jong student Ezri mekaar raakloop. Albei is getroue volgelinge van die Tora, maar daar is ’n onmiddellike vonk tussen die twee mans en die geheim wat hulle moet hou, lei tot die noodwendige pyn en lyding wat met geheime saamgaan.

Eyes Wide Open, Tabakman se debuutfilm, het by die Cape Winelands Filmfees in Maart vanjaar met die topprys weggeloop, en daar is inderdaad baie wat geloof kan word in hierdie film. My probleem is egter daardie laaste toneel, wat so uit plek uit voel dat ek nie my oë kon glo nie, selfs al was hulle wawyd oop.