Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

“Sacre bleu!”: Robert Plant & The Band of Joy by die Palais des Sports in Parys


Jannike Bergh - 2010-11-16

Dit neem my al ’n hele paar dae om hierdie verhaal te skryf. As ’n nagraadse Franse student wat voorheen nog nooit my voete onder die Eiffeltoring gesit het nie, en wat dan nog boonop die grootste Led Zeppelin-fanatikus onder my vrinne en vyande is, is die dag waarop ek vir die eerste keer langs die Seine kon wandel, sowel as om Robert Plant die aand in lewende lywe in die Palais des Sports te kon beleef, ’n bietjie dik vir ’n daalder. So onwerklik soos ’n leuen, as’t ware.

Behalwe dat dit die waarheid is: en ek kan met ’n geruste hart beaam dat die goue god van ruk en rol nog nie sy glans verloor het nie.

Robert Plant het The Band of Joy gestig en ’n album met dieselfde titel vrygestel kort op die hakke van die wegholsukses van Raising Sand – die sielvolle Americana-plaat saam met die country-pêrel Alison Krauss. Raising Sand het vir Plant en Krauss ses Grammy-toekennings, onder andere vir die beste album van die jaar, ingeryg. Goed, dit was in 2007 en ons trek nou al by 2010, maar Memphis se stof het nog skaars gaan lê of Robert Plant bevind hom vroeër vanjaar alweer in Tennessee, aan’t liedjies pluk en herrangskik met ’n nuwe string musikale bondgenote aan sy sy.

The Band of Joy se naam is geleen by Plant se eertydse 60’s psychedelia rock ’n roll-groep wat hy saam met Led Zeppelin se koningtrommer John “Bonzo” Bonham gestig het. Dertig jaar ná die tragiese dood van Bonham in 1980 het Plant opnuut ’n Band of Joy vir hom uitgekies: Buddy Miller is agter die stuur as musikale regisseur en hoofkitaarspeler, met ’n bedonderde stem, bygesê; Darrell Scott speel allerhande tipes snare – onder andere bokskitaar, lap steel, banjo en mandolien (hy sing ook ’n hond uit ’n bos); Patty Griffin lyk soos ’n feetjie langs die grootse ou Robert, en as sy sing, staan die aardbol stil. Sy meng immers met mense soos Emmylou Harris. Met so ’n bietjie whiskey in die teekoppie, miskien.

Saam het Plant en Miller se sorgvuldige keuse van musikante gelei tot die magic wat in The Band of Joy gebeur. Dié album verken ’n samevloei van 50’s rock ’n roll-, blues-, country- en gospel-dialekte. Dit is ’n weldeurdagte plaat wat aanhangers van Plant se vroeëre, meer eksperimentele en ietwat swaarder aanslag van sy groep The Strange Sensation sal gelukkig hou, maar dit brei ook uit op die meesleurende atmosfeer van Raising Sand: want hierdie album sleep jou beslis die see in, laat jou dans, laat jou wens jy kon ook so lekker slide-kitaar speel en verras rondom elke brug en beat. Die tempo daal wanneer jy regmaak om te dans; net so tref ‘n lekker dik tromslag(tery) jou nes jy begin agteroorsit. Kortom: die album hou jou op jou tone. Nes Plant homself as musikant op sy tone hou en weier om stil te staan, voortdurend bewus van die uurglas.
Daarom is hy alweer besig om die noordelike halfrond plat te toer.

Sondag 24 Oktober 2010 is Parys se Palais des Sports volgepak (houvermoë: 4 500). Verteenwoordigers uit menige generasie het opgedaag vir die konsert. Led Zeppelin se volgehoue konglomerasie jong dissipels is waarskynlik te danke aan Led Zeppelin se kitaarspeler en vervaardiger Jimmy Page wat hom daarvoor beywer om die groep se bloedsomloop aan die gang te hou met verskeie “remastered” vrystellings so deur die jare – waarvan Mothership, amper soos ‘n bloemlesing van die lekkerste rock ‘n roll-rifs op aarde (dalk ook in die hemel) byvoorbeeld in 2007 uitgereik is.

En tog is dit juis die ander liedjies wat Plant kies om te speel – die merkwaardigste aspek van Robert Plant se solo-loopbaan is die wyse waarop hy die Led Zeppelin-erfenis op ander maniere laat voortleef. Trouens, deur doelbewus nié die bejaarde rock star te probeer wees wat tevergeefs na strooihalms gryp nie, bewaar hy die Zeppelin-legende. Rock ’n roll sal hom nooit verlaat nie en daarom bring hy voortdurend hulde aan die musiek wat hom as musikant op koers hou. Plant het byvoorbeeld eerder gekies om aan die Band of Joy-albumte werk as om ’n wêreldwye Led Zeppelin reünie-toer te doen. Hy doen klaarblyklik dit wat hóm gelukkig maak: sowaar sy eie band of joy.

Plant het tydens die konsert in Parys aan die gehoor verduidelik dat dit ’n onbegonne taak is om ’n stel liedjies vir ’n vertoning te kies, maar dat sommige dinge groter as ditself is en ’n mens dit net nie kan ignoreer nie. Teen dié tyd het Plant reeds vier liedjies, insluitend “Angel Dance”, sy jongste enkelspeler, en “Please Read the Letter” (vanaf Raising Sand) gespeel. Die skrif was dus reeds teen die muur: asof ’n mens kon aanvoel wat sou kom, het Plant ’n slinkse smile op sy gesig gekry, hoflik vir die gehoor gebuig en die band toegelaat om met ’n verwerkte rif van die Led Zeppelin-opstopper “Misty Mountain Hop” weg te blaas. Een vir een het jong laaities opgespring en na die verhoog gehardloop. Too bad vir al die sittendes heel voor wat die heel duurste vir hulle kaartjies betaal het; hulle moes nou maar staan. Ek moes self oor ’n ry leë stoele voor my klouter om voor uit te kom. Lyk my dis hoe die Franse dit doen: val die Bastille aan, protesteer verwoed in die strate en voel ’n veer vir ‘n “seated concert” – maar tant mieux (goed so!)!

“Walking in the park just the other day/ Baby, what did you think I saw?” sing Plant soos net hy kan. Sy stem het steeds daardie onpluisbare faktor wat aanspraak op jou maak. Dit het verouder soos dit die cliché betaam: sag en sensueel soos duur whiskey. Maar dit skóp steeds – en tref jou reg in die maag.

Teen die einde van “Misty Mountain Hop” is daar sommer ’n groot skare voor die verhoog. “First there was one lady from Japan; then there were three people from Paris, and then, bloody hell, there was everybody! Where were you for the first three songs?” skerts Plant in sy Birmingham-aksent.

Ander Led Zeppelin-liedjies wat die aand gespeel is, soos “Tangerine”, “Houses of the Holy”, “Gallows Pole” en “Rock ‘n Roll”, kom hoofsaaklik van albums soos Led Zeppelin III, Physical Graffiti en Houses of the Holy – liedjies wat in die nuwe Band of Joy se musikale dialek val en genoeg ruimte het om ingekleur te word. Darrell Scott se mandolien, banjo en lap steel kon dus lekker te kere gaan hier.

Die hare op my lyf staan boonop steeds regop ná die sielvolle country blues medley “Oh What A Beautiful City/Wader In The Water/In My Time Of Dying”. Tussen Robert Plant, Patty Griffin en die agtergrondsang van Buddy Miller en Darrell Scott kon hulle hulself voorhou vir ’n gospelkoor uit die suide van Amerika: “Well, well, well/ So I can die easy/ Jesus won’t you make up my dying bed/ Well, well, well/ Oh, what a beautiful city/ oh, what a beautiful city ...”

The Band of Joy se weergawe van “Gallows Pole” was nog ‘n hoogtepunt – hierdie liedjie is ‘n tipiese voorbeeld van Led Zeppelin se musikale estetika: die oorspronklike weergawe van 1970 wys dat Jimmy Page ‘n ewe groot meester op sy Gibson Les Paul as op ’n bokskitaar is – en dat Led Zeppelin moeiteloos kan beweeg tussen heavy rock en folk: loodswaar aan die een kant, lig soos ’n zeppelin aan die ander kant. “Gallows Pole” is dus ’n persoonlike gunsteling. The Band of Joy se spookagtige verwerking hiervan daardie aand in Parys sal my vir altyd bybly: as ’n mens so iets live hoor, soos dit nog nooit vantevore gespeel is nie, gebeur daar iets binne jou. Dít is waaraan ek nog elke keer terugdrink: die unieke, vlietende oomblik van so ’n gebeurtenis – waar gaan ’n liedjie heen wat in tyd bestaan het, maar nie opgeneem is nie? Die efemere aspek daarvan is amper pynvol. “Hangman, hangman, hold it a little while/ Think I see my friends coming/ Riding a many mile/ Friends, did you get some silver?/ Did you get a little gold?/ What did you bring me, my dear friends/ To keep me from the gallows pole?”

Hierna het die musikante die verhoog verlaat en die Palais des Sports het byna begin bewe van die skare se gedreun – dit was natuurlik lekker om “Encore! Encore!” te skree in ‘n land waar die uitdrukking immers vandaan kom. Plant het weer op die verhoog verskyn, slinks geglimlag en gevra: “Are you guys good at rocking?” Is julle ook verslaaf aan ruk en rol?

“It’s been a long time since I rock ‘n rolled/ It’s been a long time since I did the stroll!/ Ooh, let me get it back, let me get it back!”

Dit is moeilik om te dans en te dink en alles tegelyk te verwerk. In die toekoms sal ek myself aanraai om nie te dink nie, net te dans.

“It’s been a long time, it’s been a long time/ It’s been a lonely, lonely, lonely time!” sing die gehoor saam met Plant. Die tromspeler gooi die kenmerkende drum intro van dié ikoniese rock ‘n roll-kreet eers aan die einde van die liedjie – en kondig ook daarmee die einde van die konsert aan.

“Sacre bleu!” roep Plant uit en buig vir oulaas vir die bulderende gehoor.

En, verskoon tog my Frans, dis maar net ’n mooi manier om te sê “liewe fok!”