Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die woestyndorp – Deel II


Gerrit Olivier - 2010-11-16

Klik hier vir Deel I.

Op die vyfde aand bly die mislaag weg om met die uitsondering van ’n paar verdwaalde wolkies nooit weer sy verskyning te maak nie. Dis asof tyd en ruimte opgehef word in die afwisseling van sterbestrooide nagte en fel sonnige dae. Dit begin vir my voel asof ons al ’n maand hier is, sê Wilhelm die volgende middag, waar hulle tussen die rommel van die vorige aand se partytjies draairoomys koop by ’n geel vragmotor waaruit Duitse schlagers oor ’n krakerige luidspreker kom. Op pad huis toe spekuleer Wilhelm oor ’n troostelose dokumentêre film wat hy hier wil kom maak. Hy sê niks oor sy vroeë uitnodiging aan Gysbrecht om die land in April saam met hom en ’n fotograaf te besoek nie.

Op versoek van Gysbrecht besoek die twee minnaars op Oujaarsdag, drie dae voor hulle vertrek, die maanlandskap. Hulle gaan laai eers vir Mina in die groot dorp na die suide af, waar sy van plan is om in die winkeltjies rond te snuffel. Voor hulle die woestyn inry, koop hulle nog boeke by die CNA: JM Coetzee se Diary of a Bad Year vir Gysbrecht en vir Wilhelm A Most Wanted Man van John le Carré.

Buite die dorp verander die duineveld in uitgestrekte vlaktes wat besaai is met klein klippertjies. Hulle loop die veld in en merk dat al die klippertjies begroei is met groen ligeen, met tussenin ’n groot verskeidenheid klein plantjies en insekte. ’n Mens sou op ’n vierkante meter van hierdie oënskynlik lewelose plek ’n hele plantkundige en dierkundige ondersoek kon verrig, sê Gysbrecht. Net as jy rêrig moet, sê Wilhelm en lag.

’n Paar kilometer verder ry hulle die landskap binne wat in die fotoboek wat Gysbrecht van die ouers gekry het, “badlands” genoem word, “a type of terrain,” soos hy later in die Wikipedia sal lees, “where softer sedimentary rocks and clay-rich soils have been extensively eroded by wind and water”, met slote en hoogtes waarna verwys word as “canyons, ravines, gullies, hoodoos and other such geological formations”. “Hoodoo” sal hy opsoek en vasstel dat dit ’n hoë, dun rotsformasie is wat in sommige Amerikaanse badlands voorkom, maar hier ontbreek. Daar is egter wel die spel van kleure – rooie, gryse, gele – wat kenmerkend is van sulke barre en verspoelde topografieë.

Hulle parkeer die kombi en stap in die fel hitte teen die steilte af om ’n klein lopie te volg wat al dieper die maanlandskap in voer. Die klipperige hange word al hoër soos hulle in die kronkelinge afdaal en omsluit hulle later volkome. Net ’n vermoede bly oor van die uitgestrektheid daarbuite. Die verskeidenheid bestaansvorme op die vlakte het hier verminder geraak tot ’n paar geharde woestynplante in die lope. Dit is doodstil en dor: die begin van ’n labirint waaruit ’n mens, as jy te diep inloop, nooit weer jou weg sal terugvind nie. Wat ’n opwindende gedagte, dink Gysbrecht.

Wilhelm loop vooruit en Gysbrecht kyk hom agterna: die jongensagtige lyfie, die mooi boudjies, die wipstappie wat hom altyd aan ’n bokkie herinner. Hy dink skielik aan die blik wat syne meer as twee jaar gelede ontmoet het, oor ’n saal vol mense, die soort blik vol moontlikhede wat ’n hol gevoel op jou maag laat ontstaan. ’n Gedagte oorval hom: Ek sou hom in hierdie verlatenheid, onder hierdie brandende son, kon beetpak, my tong in sy mond druk, sy klere van hom afskeur, hom vooroor druk en naai dat hy hyg: ’n ervaring wat nooit tot niet gemaak sou kon word nie. Sou ek dit kon doen? En hy? Dan is die oomblik verby.

*

Hulle ry dieper die binneland in om die oeroue woestynplant met twee blare te sien. Die pad raak al hoe sanderiger en vol slaggate, totdat Wilhelm uitroep: Nee, hier draai ek om! Op daardie oomblik sien Gysbrecht ongeveer veertig meter van die pad af iets wat soos ’n opgefrommelde handdoek lyk, met ’n paar eksemplare verder aan.

Volgens die fotoboek kan die plant tot ’n meter hoog groei, veel groter as die voorbeeld wat hulle te sien kry – en tog is daar iets enorms en voorwêreldliks aan die verdorde vulva-agtige vorm wat die kern van hierdie meer beskeie voorbeeld uitmaak. Hulle buk om die gewas van nader te beskou en sien klein rooi blommetjies wat uit die skurwe kors groei en die geskarrel van miertjies. Dan draai hulle om.

Dit was ’n goeie idee van jou om hierheen te kom, sê Wilhelm op pad terug na die dorp. Kan jy dit glo, in al die jare wat ons hier vakansie hou, het ons nooit hierna kom kyk nie.

Dan is ons die enigste twee wat dit ooit só gesien het, sê Gysbrecht.

*

Daardie nag droom Gysbrecht dat hy saam met sy ma en ’n groep reisigers, insluitende Wilhelm, in ’n kombi op pad is êrens heen. Dit word ’n moeilike reis vol bergpasse en dwaalweë, met sy ma wat die raadgewers op die agtersitplek van agter die stuur stilmaak. Moenie so ongeduldig wees nie, sê sy, ons sal nog daar uitkom. Maar hulle raak die pad byster en stop in ’n groen vallei om tent op te slaan vir die nag. Dis koud en winderig, sodat hulle dadelik begin vuurmaak. Wanneer sy ma van agter die stuur uitklim, is sy geklee in ’n swart miniromp van leer, met hoë laarse en ’n karwats in haar hand.

Hy skrik wakker en drink van die hoesmedisyne wat die moeder vir hom gegee het, en lê en luister na die veraf klank van die see. Hy probeer sy asemhaling sinchroniseer met die geluid van Wilhelm se bed af. Dan slaap hy weer en droom van ’n besoek aan ’n groot landbouskou. Hulle sit op ’n pawiljoen wanneer Wilhelm sê hy wil gaan koeldrank koop en nie weer terugkom nie. Hy begin Wilhelm soek, maar nou is daar ’n groot samedromming van mense waarin hy die kluts kwytraak. Hy probeer Wilhelm bel, maar keer op keer maak hy ’n fout met die syfers op sy selfoon, of sukkel om die apparaat te ontsluit. Hy merk dat dit vinnig donker word en dat die meeste mense op pad huis toe is. Hy vra tevergeefs om hulp by die haastiges wat by hom verby beweeg. Voor hom lê skielik ’n lang laning sonder enige beligting waardeur hy moet stap. Êrens aan die regterkant klink ’n abrupte vroulike gil tussen die bosse op. Hy sien iemand weghardloop. Terwyl hy al vinniger stap, voel hy iets soos arms om hom, arms wat hom vashou – die arms van Wilhelm moet dit wees, maar dit word ’n beknelling waaruit hy hom met alle geweld moet loswring om uiteindelik wakker te skrik.

Weer lê hy lank wakker. ’n Gedagte maal deur sy kop: Wat is die minimum waarsonder ’n mens nie kan voortgaan nie? Die volgende oggend loer hy deur die gordyne en sien geen teken van mis nie – net weer ’n egalige ligblou uitspansel. Ek is siek, sê hy vir Wilhelm. Hy vertel hom nie van sy drome nie. Hy gaan sit aan vir etes, maar bly die res van die dag in die kamer met sy boeke. In die middag slaap hy. Dis die enigste dag waarop hy en Wilhelm nie saam gaan stap nie.

*

Met die res van die familie nog aan die gesels in die eetkamer, gaan lê Gysbrecht langs Wilhelm. Hy streel hom en begin sy hand oor die stywe penis beweeg. Hy gaan maak die deur toe en trek Wilhelm se broek af. Dan buk hy en neem die penis in sy mond. Kom lê langs my, sê Wilhelm na hy ’n ruk lank gesuig het. Hy begin Wilhelm soen en voel dat die penis sy styfheid begin verloor. Wag, sê Wilhelm en begin aan homself trek. Baie gou daarna kom hy, met Gysbrecht wat langs hom verder masturbeer totdat hy ook ejakuleer.

Op Oujaarsaand bly almal tuis vir die familiefees en vermy die vieringe in die dorp, wat ’n uitvoering deur ’n Afrikaanse sanggroep in ’n groot tent langs die hotel insluit. Gysbrecht maak ’n paar bottels wyn oop terwyl Wilhelm die moeder in die kombuis bystaan. Dit sal nie lank vat voor ons weer in die Kaap kom kuier nie en dan kan ek jou mos kom help, hoor hy haar sê. Nee, maar dis goed so, Mamma, sê Wilhelm.

Wagtend op die ete vertel die vader hoeveel bobbejane hy op die plaas geskiet het en hoe ’n bobbejaan kan kerm as hy weet die dood kom; ook van die keer toe hy ’n noue ontkoming gehad het met ’n luiperd wat hy in ’n valstrik gevang en agtervolg het. Daarna vertel hy oor selfmoorde wat in die omgewing plaasgevind het en verduidelik die tegniek waarvolgens ’n mens jouself nie ophang nie, maar met die tou om jou nek gaan lê sodat jou liggaamsgewig jou stadigaan verwurg.

Boeta gaan draf om die alkohol uit sy bloed te kry en drink nadat hy gestort het ’n glas van Gysbrecht se rosé, ’n bier en dan rooiwyn. Aan tafel sit Wilhelm en Gysbrecht met hulle bottel Pongraz teenoor Boeta en Mina met hulle bottel JC le Roux. Ek sien julle drink al weer duur wyn, sê Boeta. Gysbrecht sien hoe die vader sy glas, waarin daar nog een-derde Pongraz is, met JC le Roux aanvul. Hy kom agter dat Wilhelm dit ook gesien het. Om tienuur gaan lê hulle, met die gedoef-doef van die Nuwejaarsvieringe op die agtergrond.

*

Die dag na Nuwejaar, toe Boeta en sy gesin al weg is, sê die vader: Gysbrecht, ken jy “Oh Hell”? Man, dis nou vir jou ’n lekker game daai!

Die middag na die eerste skof pak- en skoonmaakwerk gaan sit die twee minnaars en die ouers rondom die kombuistafel met ’n pak kaarte. Al die vensters is reeds bedek met wit lap en die vertrek is warm. Die vader verduidelik: Ons deel een kaart aan elkeen, en dan een meer tot by dertien en terug, met elke keer verskillende troewe: klawers, diamante, harte, skoppens, geen troef. Jy nomineer hoeveel pakkies jy gaan maak met vuurhoutjies langs jou. Tien punte vir ’n suksesvolle kontrak, plus die pakkies wat jy het, en nul as jy met te veel of te min pakkies eindig.

Die moeder blyk ’n bedrewe en geslepe speler te wees. Een of twee keer sien Gysbrecht hoe sy ’n tersluikse blik op haar man se hand werp. ’n Hele paar keer sê sy: Dit lyk my ek kan nou heeltemal nie in die game inkom nie. Dan sit sy tjoepstil, raak van haar gevaarlike kaarte ontslae en voeg nog ten minste tien punte aan haar telling toe. Aanvanklik probeer Gysbrecht soveel pakkies as moontlik wen, totdat hy agterkom dat sy speelgenote die kuns verstaan om hoë kaarte strategies weg te gooi.

Dan pak hulle verder totdat alles feitlik klaar is. Gysbrecht help die yskaste skoonmaak. Wilhelm stel voor dat Gysbrecht omelette vir aandete berei omdat hy so bedrewe is daarmee. Wanneer hy die pan bokant die wasbak skoonvee vir die derde omelet, breek die steel in sy hand af en sê Wilhelm skerp: Wat doen jy nóú weer? Daar is genoeg vars eiers vir net nog een omelet oor en ten spyte van Gysbrecht se protesterings dring die moeder daarop aan dat hy dit eet: Ek is heeltemal tevrede met ’n ou stukkie brood. Daarna speel hulle weer “Oh Hell!” – en weer wen die moeder terwyl die vader kla oor sy kaarte. Ek verstaan nie altyd hoe jy speel nie, sê Wilhelm vir Gysbrecht.

*

Die volgende oggend staan hulle om drie-uur op sodat hulle voor donker halfpad Johannesburg toe kan kom. Om vieruur vertrek hulle. Agter in die kombi is daar ’n groot bed opgemaak vir dié wat ’n bietjie wil slaap. Gysbrecht bied aan om Wilhelm tydens die eerste skof wakker te hou, maar sien dat die moeder reeds langs haar seun stelling ingeneem het.

Gysbrecht raak op die bed aan die slaap met die stemme van Wilhelm en die moeder op die agtergrond. Wanneer hy wakker word, is dit al lankal lig en besef hy dat hy die gespitste berge wat hy so graag wou sien, misgeloop het. Op die volgende dorp eet hulle ontbyt: porsies ontbytgraan in driehoekige tupperware-houers, gekookte eiers, boerewors van die vorige middag se braai. Toe Gysbrecht van die toilet terugkeer, staan Wilhelm langs sy ma en eet met smakkende lippe aan ’n appel. Skielik kry hy die drang om Wilhelm ’n klap te gee. Sy regterhand begin bewe.

Die vader neem agter die stuur plaas en vir twee uur lê die twee minnaars langs mekaar. Dan bestuur Gysbrecht vir ’n volgende skof terwyl Wilhelm en die moeder op die bed lê en gesels. Die pad strek soms vir twintig tot dertig kilometer reguit voor hom uit. Hy vra die vader uit oor die vorme van boerdery wat in hierdie landskap moontlik is. As Wilhelm weer die stuur oorneem, gaan lê hy en lees oor Wendell Kretschmar se ontledings van Beethoven, maar hy kan nie op die lang Duitse sinne konsentreer nie en dommel weer in.

Êrens op daardie oneindige pad, half aan die slaap met wit vlaktes weerskante van hulle, het die beeld van die woestyndorp onder die helder son by hom opgekom en het hy gedink: Was daar iets in hierdie dae, ’n gebaar wat onopgemerk verbygegaan het, ’n woord wat nie gehoor of gespreek is nie, ’n aanraking, ’n blik – was daar iets wat ’n verskil sou kon gemaak het?

*

Op ’n verlate dorp meld hulle aan by ’n gastehuis waar die vrou des huises in een van die kamers sterwend lê aan kanker van die brein. Laatmiddag gaan stap Wilhelm en Gysbrecht deur die stowwerige strate en spekuleer hulle oor hoe ’n mens jou lewe sou inrig as jy hier moes woon.

Wanneer hulle klaar gestort het, sê Gysbrecht: Vanaand gaan ek teen jou ma wen.
Jy’s baie kompeterend, sê Wilhelm. Dis lekker om dit te sien.

Hulle drink saam met die ouers ’n dop in die tuin en gaan sit ná die aandete vir die laaste speletjie. Vir die eerste tien rondtes loop almal ongeveer gelyk. Wanneer hulle kom by die groter hande, kry Gysbrecht ’n voorsprong met sy kennis van brug en aangeleerde vermoë om te onthou watter kaarte al gespeel is. Daarna gaan dit slegter. Toe daar ’n hand met net vyf kaarte gedeel word, is hy met minder as tien punte voor.

Sy vyf kaarte is drie skoppens, ’n hoë hart en die agt van diamante. By die laaste kaart het hy reeds sy twee pakkies met die twee vuurhoutjie bo-op langs hom neergesit. Hy merk dat hy nog net die drie van skoppens oor het en dat skoppens al twee keer die leidende kaart was. As ek hier twaalf punte kan behaal, dink hy, kan niemand my meer inhaal nie.

Dan lê die moeder die twee van skoppens op die tafel neer.