Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Takseer gerus Die voëlgids vir Suider-Afrika op sy voorbaadjie


Morné du Plessis - 2010-11-10

Die voëlgids vir Suider-Afrika
Burger Cillié en Ulrich Oberprieler
Uitgewer: LAPA
ISBN:9780799346862
Prys: R240.00

Klik hier en koop Die voëlgids vir Suider-Afrika nou van Kalahari.net!

 

Wie’t gesê ’n voëlgids is ’n flou plaasvervanger vir seëls versamel? Of jukskei speel?

Sit ’n boek met ’n blosende kakelaarwyfie op sy voorblad voor my neer, en jy het ’n resensent wat begin rittel soos ’n skoolseun uit die sewentigs met ’n kopie van Scope in sy hande. Ja-nee, daardie bloedrooi bek – net effens gebuig – en die ewe skaterrooi skubbe oor haar enkels en tone is genoeg om enige man wat sy sout werd is, klaar te maak.

Ek is nie ’n ou wat nog ooit aangetrokke gevoel het tot voëlgidse wat foto’s as illustratiewe materiaal gebruik om voëls mee te identifiseer nie. Noem my maar ouderwets ... of bygelowig. Dis nou net eenvoudig so. Probeer ek hierdie afkeer verduidelik, tas ek rond na allerlei verskonings. Mens hoef net na foto’s van jouself te kyk om te besef hoe moeilik dit is om die ware jy op film (of piksels) vas te vang. Dis of jou keelvel skielik onverklaarbaar begin hang vir die foto. Of jou glimlag wat lyk soos ’n All Black-grynslag tydens die haka voor ’n toets. Dis net nooit die ware jy nie. Die kêrel wat so skalks vir jou in die spieël kan glimlag en tevrede met homself kan lyk ….

Maar ek moet bieg. Oberbrieler en Cillie het in hierdie voëlgids ’n ware simfonie van puik voëlfoto’s versamel. Niks dubbelkenne en maskarablapse nie. Dis sommer net plein pragtige plesier.

Onder dié mense wat lief is vir boeke en vir voëls, is daar baie wat al jare lank wonder of daar nog plek vir ’n hoeveelste voëlgids op die boekrak gaan wees. My eie opinie stryk hiermee, maar ’n stuk of tien (of dit kan selfs twintig wees) voëlgidse later en ek is tien keer (of is dit nader aan twintig keer?) verkeerd bewys. Die breër publiek het blykbaar ’n groter onversadigbare lus vir voëlgidse as vir sportmanstrooistories oor hoe hulle dit met die “goose’e” maak. Al vat party sportmanne die “goose” met ’n knippie sout.

Maar terwyl ek tegnies begin raak oor sport en jukskei – waarvan daar terloops niks in die boek self verskyn nie – vergewe my as ek vir ’n blote oomblik die boek boelie oor ’n paar tegniese skrapies aan die bakwerk.

Ek hou nie van ’n deurmekaarspul nie. En vir my is die orde waarin die lieflike ontploffing van diversiteit in hierdie gids uitgeplas word, ’n deurmekaarspul. Oberprieler en Cillie breek weg van tradisie deur voëls in sogenaamde maklik herkenbare groepe te verdeel. Terwyl die voëls in klossies sogenaamde soortgelyke groepe geklassifiseer word, is dit vir my ’n flou verskoning om iets anders as die meer tradisionele voëlgidse op te dis. Dit moet enige passievolle voëlkyker omkrap wanneer jy voor ’n vroeë identifikasie-keuse staan waar tussen 14 groepe gekies moet voordat jy nader kan insweef na jou teiken se identiteit toe. Verbeel jou, ’n groep bestaan met die beskrywing “Kleiner voëls met lang bene”. Vir my klink die ritme in hierdie klassifikasie tog te veel na “Husse met lang ore”.

Een van Oberprieler en Cillie se grootste tekortkominge sit juis in die begrip van “klein” en “groot” – dis nou voëls, nie husse nie. Daar is nêrens in die teks of in vergelykervorm ’n titseltjie inligting oor juis die grootte van ’n spesifieke voël nie. Kyk jy na die bladsy met die rotsvoël en die berglyster sy aan sy, sal jy glo dat laasgenoemde selfs kleiner as die rotsvoël mag wees. In werklikheid is die rotsvoël ’n rapsie as die helfte kleiner as die berglyster. Sulke deurmekaarmakery hoort eenvoudig nie in ’n veldgids nie. Maar dis die moeilikheid met foto’s as bron van identifikasie. Miskien is dit juis fotografie se manier van kruisig met ’n dubbele ken. Of ’n nekvel wat jou soos ’n Brahmaan-ossie laat lyk in plaas van ’n fiere Adonis soos Ben Dekker.

En verbeel jou, hierdie gidsboek raak sommer tjoef-tjaf ontslae van die pelagiese (diepsee-) seevoëls en swerwers. Dit sny amper ’n honderd spesies uit die meer konvensionele gidsboeke vir Suider-Afrika. Terwyl dit in die voorwoord na verwys word as ’n manier om die leser nie deurmekaar te maak met voëls wat hulle selde mag teëkom nie, lyk dit vir my meer na ’n verskoning vir die geografiese oorsprong van die skrywers!

Dit als gesê, met Oberprieler en Cillie se onweerstaanbare kiekie van ’n kakelaarwyfie op die voorblad, voorspel ek dat daar sommer heelwat van hierdie boek gaan verkoop. Takseer dus gerus hierdie voëlboek op sy voorbaadjie.