Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Terugflits (Oktober 2010): David Fincher


André Crous - 2010-11-09

 

David Fincher maak nie komedies nie en hy speel ook nie klein nie. Selfs wanneer sy film net op een plek afspeel (binne een groot huis en die kamera beweeg nooit buite die huis behalwe vir die openings- en slottonele nie) spandeer hy baie tyd en geld om die film op een of ander manier visueel in ons geheue vas te lê. Hy doen dit gewoonlik met interessante keuses in beligting, baie ingewikkelde kamerabewegings en dikwels ook met spesiale truuks.

Sy films toon baanbrekerswerk in die veld van visuele effekte en terwyl Fight Club onvergeetlike oomblikke bevat het, soos die IKEA-katalogus wat in die hoofkarakter se woonstel gestalte kry, was dit The Curious Case of Benjamin Button (lees hieronder) wat sy status as truukfilmmaker beslis het. Sy nuutste film heet The Social Network en is ook tegnologieverwant, met facebook-skepper Mark Zuckerberg as die draaipunt.

Die onheilspellende donker atmosfeer van sy vroeë films het mettertyd verdwyn en Zodiac, wat oor ’n reeksmoordenaar handel, is skoon eerder as vuil: Die beelde is netjies en die kleinste besonderhede word met sorg belig, eerder as die obskure donker kolle van films soos Alien3 (waarmee hy sy debuut gemaak het as regisseur) en Se7en.

Fincher se ondervinding in die wêreld van musiekvideo’s verduidelik in ’n mate die sorgvuldige benadering tot styl, maar hy is ook baie nou betrokke by die skryf en herskryf van die meeste draaiboeke wat hy besluit om te verfilm. Só het hy byvoorbeeld Fight Club saam met Jim Uhls verwerk vanaf Chuck Palahniuk se roman, en die oorsprong van die film se einde lê by hom, hoewel net Uhls as die draaiboekskrywer genoem word.

David Fincher is ’n regisseur wat die balans van styl en inhoud beter as ander filmmakers hanteer en die meeste van sy films moet gesien word deur enigiemand wat films kyk. Dit is waar dat hy nie wegskram van donker materiaal nie, maar sy uitvoering daarvan plaas hom in ’n eksklusiewe kategorie. Hy is tans besig met die Engelstalige weergawe van The Girl With the Dragon Tattoo, wat hy self sal regisseer.

Hieronder volg kort beskrywings van vyf van sy films ter illustrasie van sy talent.

  1. Se7en (1995): Lank voor die ewe indrukwekkende Zodiac in 2007 was daar ‘n ander Fincher-prent oor ‘n reeksmoordenaar: ‘n fiktiewe verhaal waarin die skurk eers heel aan die einde ontbloot word en nie sommer enigiemand is nie. Brad Pitt speel die polisieman wat op die spoor is van ene “John Doe” en kort voor lank is dit baie duidelik watter verwronge religieuse ondertone al die moorde het.



  2. The Game (1997): Fincher se onderskatte meesterstuk, vol intrige en met ‘n finale onthulling wat in ‘n mate die groot verrassings van die tyd (soos Sixth Sense en Fincher se eie Fight Club twee jaar later) vooruit is. Michael Douglas is ‘n man wat alles het wat sy hart begeer, maar verveeld is met sy lewe. Dan besluit sy broer om hom die avontuur van sy lewe te gee vir ‘n verjaardaggeskenk. Die skyn bedrieg al te lekker ...



  3. Fight Club (1999): Skrywer Chuck Palahniuk het gesê dat Fincher op sy roman verbeter het met hierdie film; dit moet sekerlik een van die grootste moontlike komplimente van ‘n skrywer wees. Fincher se anti-kapitalistiese, pro-anargistiese opera van geweld en sielsiekte het die konserwatiewes op hol gehad en dit bly een van die donkerste voorstellings van die hedendaagse samelewing.



  4. Panic Room (2002): Hierdie is waarskynlik Fincher se swakste film, buiten sy eerste, Alien3, maar ek kan my nog steeds verkyk aan die kamerawerk. Geheel en al geskiet in ‘n ateljee, want die film vind tydens een nag plaas in ‘n enorme huis in New York, kry die film dit reg om ‘n kloustrofobiese atmosfeer te vermy danksy die totale vryheid van die kamera, wat deur vloere, plafonne en sleutelgate beweeg.



  5. The Curious Case of Benjamin Button (2008): Hierdie film was te lank, maar die agterstevoor ontwikkeling van die titelkarakter, wat as ‘n ou man gebore word en uiteindelik as ‘n baba sterf, is uniek en sorg vir ‘n immer interessante storielyn, veral wat die verhouding van die hoofkarakter met die mense rondom hom betref. Brad Pitt is uitstekend in die hoofrol en die visuele effekte het blykbaar jare geneem om voltooi. New Orleans is ook baie goed gekies as die stad waar hierdie kwasisprokie afspeel.