Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die woestyndorp


Gerrit Olivier - 2010-11-09

Deel I

Die ouers kom haal hulle op die lughawe. Drie uur later, na ’n middagete by ’n restaurant langs ‘n volgepakte strand waarop twee gespierde knulle toertjies met ’n leë bierbottel aan die oefen was, nader hulle die woestyndorp vanuit die suide, op ’n soutpad vol vierwiel-aangedrewe voertuie.

Links lê die blou vlak van die see; regs ’n bleekvaal oneindigheid met ’n reeks berge in die verte. Hier het die gedagte dat sand- en duineveld lewe bevat, nog nie ingesink nie. Oral lê die spore van vissermanne wat kortpad gekies het see toe.

Die moeder wys vir die besoeker besienswaardighede uit vanaf die agtersitplek. Tussendeur waarsku sy haar seun teen die gevare van die pad. Hier is die soutmyn en die mislukte ghwanoplaas, en regs van ons die ligeenveld. Sy noem die naam van ’n nedersetting halfpad tussen die vorige dorp en hulle bestemming, waar elke huis oor sy eie, unieke watertoring op ’n hoë stellasie beskik. Dit lyk soos ’n plek waar mense van ’n gans ander ras woon. Hier – sy wys twee houtkruise langs die pad uit – het ons vriendin Elsabé en haar man verongeluk. Af en toe probeer Wilhelm, wie se stem met die aankoms op die lughawe eensklaps weg is, iets van agter die stuur bydra, met Gysbrecht langs hom as onbeholpe tolk.

Al is dit nog vroegmiddag, lê ’n laag miswolke oor die landskap, dieselfde wolke wat in onwerklike skakerings van pienk geskyn het toe hulle daal vir die landing. Deur die wolke kon Gysbrecht lappe geel en ligbruin woestyn sien. Dis soos ’n aankoms in ’n droomlandskap, het hy vir Wilhelm gesê. Die miswolke versag die klimaat, sê die sonverweerde vader waar hy agter in die kombi langs die moeder sit, sodat dit selfs in die warmste weer in die dorp baie aangenaam kan wees.

*

Voor hulle na die strandhuis ry, gaan hulle by die apteek medisyne soek vir Wilhelm se stembande. As die twee minnaars uit die kombi klim, raai die moeder haar seun aan om seker te maak dat hy Johan, die oulike dorpsapteker wat so goed is met diagnoses, te sien kry. Maar Johan is nie agter die toonbank nie. Gysbrecht sien hom in die agterkamer oor ’n stapel dokumente verdiep sit. ’n Verpleegsuster met ’n verdorde huid, ’n ware woestynbewoner, kyk in Wilhelm se keel af en beveel ’n sproeimiddel aan. Wanneer hy die bottel by haar aanvat, verskyn die moeder agter hulle: Wilhelm, het jy toe reggekom? Wilhelm wys haar aanbod om vir die medikasie te betaal, van die hand.

Die huis is ’n plat, onaansienlike gebou in ’n sanderige doodloopsirkel en het soos byna alle huise op die dorp ’n naam: Berg-en-see. Darem ’n verbetering op Hie-is-ons en Kannieklanie, dink Gysbrecht. Hoe pas almal hier in as die hele familie bymekaar is? wonder hy en dink aan die drukte by sy ouers se strandhuis die vorige Desember: die gewag vir ’n badkamer, die groot bakke kos elke aand, met hom en Wilhelm in die stoepkamertjie langs die eetkamer. Maar dit word ’n plek vol verrassings, met links agter drie slaapvertrekke en regs na agter nog twee, elk met sy eie badkamer.

Wilhelm en hy word die verste kamer toegewys, met twee enkelbeddens, geel duvets en ’n uitsig oor die binnehoffie waar daar byna elke aand gebraai sal word. Hulle verskuif die tafel met sy blou lap na tussen die twee beddens om die leeslamp te kan deel. Dis so hoog dat hulle mekaar nie kan sien as hulle op hulle beddens lê nie.

*

Voor die aandete gaan stap Wilhelm en Gysbrecht. Van die duin waarop die dorp lê, strek die oseaan wyd en somber tot aan die horison. As ’n mens na die strand afsak, is die groot huise van die rykes nog steeds te sien, maar verdwerg deur die uitgestrektheid van water en sand. Op sommige plekke is die huise onsigbaar en kan ’n mens jou ’n oerlandskap verbeel.

Hulle begin ’n speletjie wat oor die volgende dae sal voortduur. Watter huis is die lelikste, watter die mees pretensieuse en watter – die kortste lys – die mooiste? Gysbrecht begin ook vorme identifiseer van wat hy woestyndorp-argitektuur noem: die eenkleurige ensemble, die simfonie in siersteen, die huis wat in sy strewe na uniekheid die grens na die bisarre oorskry. Eers as hulle van die lelikheid moeg raak, begin hulle sien hoe mooi die vierkantige huisies is waarin die boere kom vakansie hou het voordat die rykes die woestyndorp ontdek het. Ek sou graag in daardie een wil woon, sê Wilhelm, en wys na ’n huis wat lyk soos ’n groot vraghouer vir skepe.

*

Teen vroegaand kom Boeta met sy vrou en drie kinders ook aan. In die eetkamer is daar ’n Kersboom met ’n stapeltjie geskenke, en stringe flikkerende liggies is oor die vertrek heen versprei. Terwyl die moeder en skoonsuster die Kersmaal voorberei, draai Wilhelm die geskenke toe wat hy met soveel renons in Kersfees saam met Gysbrecht in Johannesburg gaan soek het: vir die drie kinders elk ’n doos sjokolade en ’n pakkie kryt; vir die ouers twee bottels goeie rooiwyn. Vir Ouboet en Mina is niks aangekoop nie, waaroor hy teenoor Gysbrecht erken dat hy nou ’n bietjie spyt voel. Die volgende dag sal hy tydens die oggendwandeling uitwei oor ’n projek vir kunsstudente: om ’n inheemse alternatief vir Kersfees te ontwerp.

Dié aand begin Boeta en die vader aan die bokant van die tafel, waar die twee by elke maaltyd langs mekaar sal sit, die eerste van ’n reeks geanimeerde gesprekke oor vee- en wildboerdery in die land, oor die ekonomiese vooruitsigte vir die plek en oor Amerika, waar Boeta eens in Reno, Nevada, besoek afgelê en na vermoede ’n Amerikaanse meisie (’n rodeo-tipe?) raakgeloop het. Boeta is ’n wildboer met rykwordplanne en vervaardig ook leer-ameublement.

– Weet Pappa, ons het darem nou die dag lekker gescore met ’n Angolees, begin hy.
– Hoe so? vra die pa.
– Toe die quote kom vir die meubels wat hy bestel het, is dit R147 000. Ek sê toe vir Johannes maar dis heeltemal te veel – julle moet hom bel en sê ons stuur ’n nuwe quote.
– So julle was toe nog betyds?
– Nee, Pappa, toe sê Johannes ek moenie worry nie, hy’t al klaar die hele bedrag aan ons oorbetaal.
– My magtag! Dis nou lekker!
– Ja-ja-ja, Pappa! Daardie meubels kos R70 000 om te maak. Ons maak toe sommer honderd persent wins.

Gysbrecht ontkurk die wyn wat hy in die groot dorp op weg hierheen gekoop het. Vanuit die luidsprekers op die kroegtoonbank kom die klank van Kersliedere.

*

Die feesmaal bestaan uit gestoofde varkvleis met twee groentes en aartappels, gevolg deur Kerspoeding. Wanneer Gysbrecht vir Boeta ’n tweede glas Merlot aanbied, sê hy: Nee, dankie, ek wil nie nog van daai slegte wyn drink nie. Dis te suur vir my.
– Boeta, miskien moet jy altyd eers proe voor jy vat, sê Wilhelm. Jy hou mos nie van duur wyn nie.
– Dis reg, ja, enigiets bo R20 kan ek nie drink nie. Ek hou mos ook maar van die soetes, ha-ha-ha. Ek is mos maar ’n eenvoudige ou en nie ’n wynkenner nie.

Hy gaan haal vir homself en Mina ’n bottel St Claire uit die drankyskas, waarop ’n stuk papier met die woorde “Druk asseblief altyd styf toe” geplak is. In die volgende dae sal hy dikwels ’n vinnige glasie drink van die wyn wat die ander oopmaak.

*

Ná die ete begin die hoogtepunt van die aand, veral vir die drie kleinkinders: die uitdeel van die presente. Terwyl Wilhelm en Gysbrecht min bygedra het tot die stapel onder die Kersboom, het die res van die familie gesorg dat almal vir almal ‘n geskenkie het. Die tienjarige Sareltjie, wat na sy oupa vernoem is, speel Kersvader en deel haastig uit om so gou moontlik by sy eie verrassings uit te kom.

Gysbrecht kry ’n doos sjokolade van Boeta en Mina, en van die ouers ’n fotoboek oor die land se toeristiese attraksies met ’n inskripsie: “Dit was lekker om jou hier te ontvang. Net ’n ietsie om jou aan die plek te herinner.” Hy en Wilhelm gee nie vir mekaar presente nie. Dít het hulle voor hulle koms hierheen gedoen, met ’n DVD van Wagner se Götterdämmerung vir Wilhelm en vir Gysbrecht (“Dis tyd dat jy ’n bietjie nuwe klere koop”) ’n blou-en-wit-gestreepte hemp van Old Khaki, wat hy die volgende aand sal dra.

Later aan tafel sê Sareltjie: Maar hoekom lyk oom Wilhelm nog so jonk? Jy’s mos ’n jaar ouer as my pa. Wihelm begin bloos onder sy geblondeerde kuif. 

Van die oudste dogtertjie kry Gysbrecht die volgende oggend ’n selfgeskilderde pienk kaart met die woorde “Gelukkige Kersfees” en ’n prentjie. Sy vra verskoning vir die feit dat sy dit nie die vorige dag al klaar kon maak nie. Hy plaas dit op die kassie langs die bed, waar dit die hele vakansie bly staan. Later, terug by die huis, sal hy met spyt besef dat hy dit nooit ingepak het nie en ook nie meer weet wat op die prentjie was nie. Maar hy kan nie onthou dat hy dit die dag van die inpak nog gesien het nie. Wie sou dit saamgeneem het?

*

As hulle gaan slaap, gaan lê Gysbrecht agter sy minnaar se rug en soen hom ’n paar keer in sy nek. Na ’n rukkie sê Wilhelm: Kom ons gaan slaap. Ek is moeg.

*

Die volgende oggend lê die mis swaar oor die dorp. So gaan die eerste dae verby. In die aande word dit koel, sodat ’n mens in die binnehof ’n trui of baadjie moet dra, en in die oggende duur dit tot tien- of elfuur voordat die son deurbreek en dadelik skerp begin bak. Elke oggend na die ontbyt van vrugte met jogurt en graankos gaan stap die twee minnaars: suid na waar die baai ’n wye ronding maak en die strandlopertjies voor hulle uit hardloop; noord tot anderkant die laaste huise, waar die kuslyn strek na die wete van honderde kilometer se verlatenheid; of landlangs tot aan die einde van die dorp, met die universiteit se navorsingsentrum fantasmagories op die horison. In die laatmiddag gaan hulle weer op ’n wandeling, elke keer in ’n ander rigting, of op ’n verkenningstog deur die sanderige dorp. Van laatmiddag af verdik die miswolke tot ’n bedekking wat tot die volgende oggend oor die dorp bly hang.

Hulle praat oor die land, oor Wilhelm se jeugervarings tydens vakansies op dieselfde dorp, oor die boeke wat hulle aan die lees is (Thomas Mann se Doktor Faustus vir Gysbrecht; ’n boek oor vroeë ekspedisies na die kus van die land vir Wilhelm), oor hulle planne vir die volgende jaar, oor wat Wilhelm sy familie se patologie noem (“maar jou familie is ten minste net so erg”) – maar nie, soos Gysbrecht later in Johannesburg sal besef, oor sy voorgenome besoek aan Wilhelm in die Kaap die volgende maand nie.

*

Drie dae na hulle aankoms keer Wilhelm se stem terug. Aan die ontbyttafel vertel hy van sy navorsingsplanne en sy werk aan ’n multimedia-teaterstuk oor vroeë koloniale konflikte. Boeta kyk hom onbegrypend aan, maar die vader sê: Mag, maar dit klink vir my fantasties. Dit klink vir my na baie werk, maar vreeslik interessant, sê die moeder. Wilhelm vra ook vir Gysbrecht om vir die ander te beduie wat hy doen. Hy vertel hulle, maar niemand vra hom daardie oggend of daarna verder uit nie.

Later die dag praat Wilhelm lank in die kombuis met die moeder oor die inrig van die woonstel wat hy onlangs in die Kaap betrek het. Sy gee raad oor elke klein besonderheid en vermaan hom om nie te dink aan koop voor ’n volle jaar verby is nie. Jy moet al die seisoene daar beleef voor jy ’n keuse maak, sê sy. Waar hy in die binnehoffie met Deon Meyer se 13 uur sit, hoor Gysbrecht die stemme en dink: Hy’t ’n ander stem vir sy familie en veral vir sy ma. Die stem van ’n kind.

*

Mettertyd raak Gysbrecht bewus van ander roetines as die etes drie maal per dag en die daaglikse wandelinge. Boeta praat meestal met die vader, sy gesprekke gepunktueer met ’n gereelde “ja-ja-ja, Pappa”, en kyk ten minste een keer per dag aangedaan na Steve Hofmeyr se DVD van Kris Kristofferson-liedjies. Die vader bestee sy dag aan speletjies met die drie kleinkinders of aan knutselwerk in en om die huis. Hy is die beliggaming van “’n boer maak ‘n plan” en herstel onder meer die geyser. Die moeder sorg met ’n stille hand dat die familiebedrywighede vlot verloop. Van Mina weet hy skaars: Sy hou haar eenkant, versorg die kinders en net af en toe hoor ’n mens haar murmelende stem. Rondom die kinders versamel daar van dag tot dag meer speelmaatjies uit die naburige huise, van wie party die dag ná Boeta-hulle se vertrek met teleurgestelde gesigte nog na Sareltjie, Maria en Anna-Mart sal kom soek. Wilhelm lê meestal op die bed langs hom en lees of praat met die moeder, sodat hy die refrein “Mamma weet” dikwels hoor opklink. Praat hulle ooit oor my? wonder hy.

Uit die musieksentrum op die kroegtoonbank klink etenstye musiek op: Band Zonder Naam, ’n versameling Kersliedjies, Kurt Darren en Will Tura. Dis hier waar Gysbrecht staan wanneer hy vroegaand vir Wilhelm en die ouers drankies inskink (Boeta en Mina wys meestal sy aanbod van die hand). Soms kyk hulle ook na DVD’s. Raging Bull en The Departed kry die grootste aftrek, hoewel Mina by die aanhoor van die vloekwoorde seker maak dat die kinders buite speel of na hulle kamer verdwyn.