Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Reg en verkeerd


Jason Lloyd - 2010-11-09

Wie bepaal wat is reg? En wie bepaal wat is verkeerd? Dit is moeilike filosofiese vrae en glad nie maklik om te beantwoord nie. Iemand moet dit egter vra.

So, wie gaan hierdie vrae beantwoord?

Die antwoord lê opgesluit in die realistiese benadering dat dit moeilik is vir enige siel om te bepaal wat reg of verkeerd is.

Kom ons neem byvoorbeeld die bohaai oor poligamie nadat pres Jacob Zuma vroeër vanjaar met die soveelste vrou getrou het.

Poligamie is vanjaar gedurende die KKNK by Die Burger se Lesingreeks bespreek. Die teoloog prof Christina Landman het tereg opgemerk dat die kerk poligamie vir eeue onderdruk het. Maar ten spyte van dié onderdrukking het mense voortgegaan daarmee, en word dit vandag in verskeie gemeenskappe, soos in die geval van ons Zoeloe-president, beoefen.

Sedert Zuma se getrouery het poligamie ’n algemene woord in die Suid-Afrikaanse omgangstaal geword, en gevolglik is die skindertonge los. Daar is diegene ten gunste daarvan en diegene wat daarteen gekant is. Daar is ook diegene wat meen die president moenie poligamie as verskoning gebruik om sy buite-egtelike verhoudings te regverdig nie.

Die kind wat hy verwek het by die dogter van die bekende sokker-baas, Irvin Khoza, het die wenkbroue laat lig.

Maar die vraag bly staan: Wie bepaal wat reg is en wie bepaal wat verkeerd is?

Vir baie Suid-Afrikaners is die woord poligamie ’n skelwoord bloot omdat ons nie daaraan gewoond is nie. Bloot omdat ons nie werklik weet wat dit regtig behels nie. Ons is te gewoond aan die gewone siviele troue waar man en vrou trou sweer aan mekaar.

Ons word deur Westerse morele kodes gyselaar gehou. Ons aanvaar dat ’n Westerse lewenswyse “beter” is en dat ons eie Afrika-tradisies minderwaardig is. Ons onderskat ons waarde as inboorlinge van Afrika.

Ons politieke ontleders kyk deur ’n Westerse polities-wetenskaplike-lens na ons politieke leiers. Hulle doen nie moeite om begrip en sensitiwiteit vir ’n “Afrika politieke wetenskap” te ontwikkel nie.

Tans is die sogenaamde “Afrika-politiek-sillabusse” aan Suid-Afrikaanse universiteite niks meer en niks minder as Afrika-geskiedenis nie.

Ons regering ploeter voort met die Westminister parlementêre stelsel – asof dit die begin en die einde van alles is.

Wat van ’n tradisionele Afrika-kraal wat as ons parlement kan dien? Dit moet Zoeloe, Xhosa, Khoisan, Afrikaner en ander impi’s as lede hê.

Wat van ’n verbod op die dra van klere? Dan hardloop ons lekker kaal rond. Niemand sal dan vir niemand skaam wees nie.

Kom ons verbied alle huwelike en hoereer net. Mans kan dan seks hê met vrouens wat hulle begeer. Laat mans net kinders maak, en moenie hulle verplig om verantwoordelikheid vir die kinders te aanvaar nie.

Kom ek maak ’n voorspelling: sommige mense gaan beslis ’n probleem met bostaande hê. Hulle sal sê ek moet gefoeter word.

Die vraag bly egter soos ’n paal bo water, staan: Wie bepaal wat is reg en wie bepaal wat is verkeerd?

Amen.