Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

’n Toe bek is ’n heel bek


Albert Maritz - 2010-11-09

Nothing is more terrible than activity without insight. – Thomas Carlyle

 

’n Reuse-sukses was die aanbieding buite Wellington van Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat.

Die brein daaragter is Johann Enslin, ’n jong man met baie ondernemingsgees. En ’n paar name saam met hom in die hoed, soos Danie Niehaus as Pharaoh, en Petrus du Preez wat regie, en een van die Breinbliksem-akteurs, André Terblanche as ’n pragtige, goeie akteur/sanger-uitbeelding van Josef, ’n uitstekende Jo-Mari van Deventer as verteller, en dan in die rolverdeling swaargewigte soos Marike Reinke, en in die orkes uitmuntend gekwalifiseerde ambagsmense, maak van hierdie Wellington-ervaring ’n besonderse een. Nie perfek nie, maar nie ver daarvan nie; en as gemeenskapsprojek, werklik baie, baie besonders.

Nog so ’n ervaring is in die Baxter, met God van Chaos.

Terwyl dit lyk of die arme plek ná Mannie Mannim se vertrek tot stilstand geknars het, seker hoofsaaklik weens die ongekanaliseerde mag daarbinne, kom die Afrikaanse teater, en nogals ’n produk van die knapste teatermaker wat ons het – oukei, saam met Deon Opperman – tot die redding. Hennie van Greunen se lekker God van Chaos het pas daar klaargemaak.

Vir een aand was daar weer ’n lekker Afrikaanse gehoor in ’n vol saal. En almal na die tyd nogals opgewek. Niemand het gesê die stuk is vuurpylwetenskap se moses nie, maar dis vet pret. Mag dit nog ’n hele paar speelvakke hê. Mag dit die teerpale in daai gebou tot ander insigte bring oor hul huidige mag en alleenheerskappy. (Definisie van ’n teerpaal: iets wat kierstregop staan soos ’n begrafnisboom, met niks rondom hom nie – nie takke nie; nie wortels nie)

*

Ek sê vir pelle: ek’s nou by ’n plek waar ek erken ek sien die foute raak, maar ek weet nie wat om daaromtrent te doen nie.

Ek ry uit Strand-Somerset-Wes toe, want dis die enigste plek waar ek die fliek Susanna van Biljon kan sien. Dit was eens by Canal Walk, maar net Maandag tot Donderdag, en net aande, en twee shows – een agtuur en een half-elf. Jô.

En nes met ander Afrikaanse flieks van ervare filmmakers sit ek in pragtige afwagting; lewendige opwinding ...

En die name betrokke is ongelooflik: Kamera-DOP is Dave Aenmey, ’n gunsteling-kameraman, wat sy opleiding nog op film gedoen het (wat in ’n stadium die waterskeiding was). Kameraman is Jacques Barnard, ook een van my gunstelinge, kamera-genius van TV se Orion, wat vanjaar oorlede is.

Maar - en daars ’n groot maar ...

Net die eerste en die laaste skote in die film is mooi. En behalwe dat die skote tussenin sommer so ongeërg is, is daar nie ’n sweempie filmbeligting sigbaar nie. Dit kan die resultaat wees van ’n piepklein begroting wat niks tyd toelaat om bietjie tekstuur, ambience en diepte te skep met lig nie.

Sou begroting ook die rede wees dat die spelers soms in die mees statiese posisies – vir hoeee lank?! – staan?

Uiteindelik red die liedjie van Karen Zoid – ’n baie, baie begaafde aktrise – die middag. Sodat ek vra: Hoekom speel hulle nie maar die liedjie 40 x oor en oor en wys die fliek op meer plekke en op beter tye nie? So sal hulle dalk geld maak, om die volgende fliek lekker te maak.

*

Ek bly sit en kyk Eat, Pray, Love, gebaseer op die boek van Elizabeth Gilbert. En dis mooi verfilm, met op byna elke skoot detailed aandag aan ’n bietjie lig, wat op randjies van voorwerpe oorbelig is. Die effek is dat prentjies so ’n kolletjie “highlight” het, soos die blink sneeu aan ’n Kersboom, of Krismisversiering, of engeltjiegoud, of … noem dit wat jy wil.

Die spel is uit die boonste rakke, maar ...

Die hele fliek deur is dit asof ek die punt mis. Mense reageer op mense asof die mees ongelooflike ding pas gesê is, of gebeur het, maar wat was dit? Is dit my konsentrasie, of is dit net dat mense in die fliek konstant vir ander mense raad gee oor iets waarvan ons dink hulle weinig weet?

Blykbaar is die boek fantasties. Dalk net te fantasties om eenvoudig te kan oordra in ’n fliek.

Ek’s bly oor Jeanne Calitz se drie sterre in Die Burger. Anders het ek gevoel my kan julle nou maar doodskiet.

*

En dis nie net ek wat negatief is nie. Met die rugby, wat ek by ’n pel op ’n pawiljoen in sy huis gekyk het, bly die ou neffens my so onderlangs vir sy vrou skree: “A, Schalk op losskakel. Schalk op senter. Schalk op vleuel. Selfs ’n slag ... op skrumskakel!” En met sy geskoppery kantlyn toe – benewens almal in die pawiljoen se onderlinge kyk na mekaar, asof ons almal dink dis óf ons, óf Schalk wat mal geword het – vorm ’n patroon by my pawiljoenmaat. Wanneer die fluitjie blaas, skree die ou al: “Kantlyn toe, Schalk!” Masochis galore

My pel Pierre kom by en begin saampraat: “Daar’s niemand in die WP se losgemale nie!” En ek kyk, en dis wraggies waar! Nie een mens nie. Net dalk die baldraer, alleen. Nooit, nooit het ek al so iets gesien nie!

En toe die Bokspan gelees word, is Pierre Spies se naam daar, Schalk se naam daar – en Brussow is steeds beseer. Oepsie. Dalk is Stegmann die oplossing.

*

Ek bly sê: in teater leer ons om met baie min baie ver te kom. Ons leer ons moet aanpas, en sonder om te frons, jou eige “mind te change”.

Soos toe ek laat by die Joseph aankom.

My grootste probleem, die laaste spyker in my doodskis, was toe ek die afrit na die terrein waar die teater is, soek, en misry. Ek draai bo in die donker pas; bel en vra waarnatoe nou? Ek ry op pad in die pas af, weer by ’n verkeerde ingang in. Draai weer om. Bel weer.

Uiteindelik vind ek die plek.

Die dame in die portaal wag gaaf vir ons. Sy laat ons binne. En heeltemal onnodig sê sy: “Jy moet jou dinge beter reël.”  Voor ek vir haar kon sê wat ek van die stelling dink, of byvoorbeeld dat ’n ou bordjie of plakkaatjie by die ingang sou help, besluit ek wat ek lank gelede besluit het: ’n toe bek is ’n heel bek. Ons is per slot van rekening bekend vir ons demokratiese bestel die afgelope 50 jaar, en wie wil nou huismoles maak op vriende se voorstoep?

En die goeie nuus is: hou maar die skerms dop vir LIEFLING, die Afrikaanse musical. Dit gaan gatskop.

 

People only think a thing’s worth believing in if it’s hard to believe. – Armiger Barclay