Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Gay > Fiksie | Fiction

Die storm


Paul Vermeulen - 2010-11-09

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.


Die middagverkeer is iets ysliks toe ek die snelweg betree. Ses rye ligte staan feitlik buffer aan buffer in albei rigtings. Ek sug, en skakel my motor se ruitveërs en ligte aan. Die motreën van vanoggend het omgesit in ’n swaar reënbui. Ek leun terug in die sitplek, en laat my kop vir ’n oomblik teen die kopstut rus. Dan pak ek die stadige uittog aan na die voorstad waar ek woon.

Byna ’n uur later slaan ek my voordeur toe. Ek voel moedeloos en nostalgies, en my liggaam is moeg van die week se harde werk en min slaap. Dit is donker en rustig in die huis. 

“Dankie tog dit is Vrydag,” sê ek vir myself, en laat my aktetas op die mat val. 

Ek skop my skoene uit, en stap met my sokkies nog aan na die kombuis. ’n Harde donderslag en ’n helder weerligstraal verlig die donker huis vir ’n paar oomblikke. 

Ek maak die yskas oop, en haal ’n bottel wyn uit. Uit die kombuiskas haal ek ’n enkele glas, en stap daarmee na die badkamer. Ek stroop my werksklere van my warm liggaam af totdat ek net in my boxer-broekie staan. Die water begin die bad instroom toe ek die krane oopdraai. Die geluid daarvan eggo deur die badkamer. 

Ek stap na die sitkamer en stoot die glasskuifdeur oop. Koue reëndruppels slaan teen my gesig en naakte bors vas, en ’n koue wind waai by die deur in. Ek draai om, sit rustige musiek aan, en keer terug na die badkamer. Vrydag ... Naweek ... Rustyd. Ek behoort opgewonde te wees. Maar ek voel niks. Nee wag. Ek voel eensaam. Alleen. Moeg. 

Ek steek ’n paar kerse aan wat in die badkamer se vensterbank staan, en stroop die laaste klere van my lyf af. Dit is ’n bevryding.

Ek kyk na myself in die vollengte spieël. Kort donkerbruin hare. Netjies, selfs ná die uitputtende dag. Bruin, helder oë. Lagplooitjies. Nie te sleg mond nie. Mooi tande. Dimpels op die wange. Prominente sleutelbene, maar nie te erg nie. Donker borshare. Dit is mooi. Borskas wat net genoeg definisie wys sodat ’n toeskouer kan sien ek gaan gym toe, maar spandeer nie my lewe daar nie. Die magie is plat, maar nie so hard dat jy bang is om ’n nael daarop te breek nie. 

Ondertoe lyk ook nie te sleg nie. Beslis niks om voor skaam te wees nie. Nie buitengewoon groot nie, maar genoeg, sodat meer as een ou staar terwyl ek stort in die gym. Donker bossie hare beklemtoon dít wat saak maak. Daar is ook lang, gespierde bene met mooi, donker beenhare. Mooi gevormde voete. Die prentjie in die spieël lyk nie te sleg nie.

Ek kyk myself in die oë. As dit so is, waarom is jy alleen op hierdie Vrydagaand? 

Die water is warm toe ek in die bad klim. Ek lê agteroor met my kop teen die agterste rand. Ek voel hoe die week se spanning uit my liggaam sypel, en ek gee toe daaraan. Die atmosfeer is perfek. Sagte musiek, ’n glas wyn, kerslig, ’n groot, warm bad. En ek. Alleen, maar darem ...

Ek weet nie hoe lank ek geslaap het nie. Die water is nog warm, maar die musiek het gestop, en die kerse in die vensterbank het reeds gesmelt en doodgegaan. ’n Enkele kers in die hoek van die vertrek brand nog. Dit gooi dansende skaduwees teen die badkamermuur. Ek neem ’n sluk uit my wynglas, en glimlag. Die harde dag, die lang week, en die gevoel van alleenwees is weg. Ek is gelukkig. Vrede het soos ’n kombers oor my kom lê, en die naweek lê voor my soos ’n vakansie.

Ek draai die warm kraan oop, en lê weer agteroor. Ek vryf oor my borskas. Glad nie te sleg nie, dink ek weer. Die laaste ses maande in die gym het beslis ’n verskil gemaak. My hande vryf nou dringender, harder, en vind die skatkis oomblikke later. Die storm woed nog daar buite, en hier binne is een ook vinnig besig om op te steek ...

Ek is seker dronk, dink ek, en glimlag. Nee, korrigeer ek myself. Ek het behoeftes. Normale, biologiese behoeftes. Ek is ’n man!

Ek gee in aan die versoeking. My hande kry vanself koers. Hoendervleis slaan op my bobene en arms uit. Shit, dit is lekker. Ek doen myself in om so min tyd vir myself te maak. 

Ek is nie haastig nie. Rustig, maar dringend. Stadig, maar doelgerig. Die aand is lank. Die plesier mag nie te gou eindig nie.
 
Ek dink aan die eindproduk, en my asem begin jaag. 

Stadig! Anders gaan jy alles bederf.

Ek kyk na my warm, nat liggaam in die spieël. Dit dryf my verder aan. Die are in my nek begin bult. 

Ek dink aan die laaste keer wat ek saam met iemand was. Steve. Steve met die blonde hare. Steve met die groot voël. Ek het hom in die klub opgetel. Dit was vier uur van pure genot. Die volgende oggend is hy weg. Maar dit is nie nou ter sprake nie. Hy het die mooiste, grootste, heerlikste voël gehad. Ek voel hom steeds teen my ... op my ... in my ...

Hierdie keer is dit amper te laat. My liggaam trek ’n paar keer saam, en ek probeer hard om nie oor die afgrond te stort nie. My hande lê bewegingloos op my bors. As ek nou gaan beweeg, selfs net diep asemhaal, gaan dit te laat wees.

Beheer keer stadig na my terug. My hart klop vinnig. Dit maak miniatuurbrandertjies in die water om my. 

Stadig begin die avontuur weer. Rustig. Sonder haas. Hierdie keer meer intens. Liefdevol. Ek dans met myself in die water. Die water stort oor die bad se rand en loop oor die wit vloer. Ek gee nie om nie. My asem jaag. Ek voel soos ’n bootjie in stormwater. Nog water spat oor die rand en klap hard neer op die vloer.

Ek dink aan Renier. My lover van vier jaar. Hy was ’n Scorpio. Die beste in die bed. Hy kon jou laat smeek om jou te laat kom. Hy kon dit uitrek en uitrek totdat jy wou skreeu! My lyf was vir dae lank styf ná seks. Maar ek was meer bevredig as met enigiemand daarna.

Ek maak vies my oë oop. Dit is mý aand! Ek hoef nie aan ekse of one night stands te dink om genot te ervaar nie. Hulle is dit nie werd nie. Ek kyk na my naakte liggaam in die spieël. Elke spier is hard en pols ritmies saam. Dit is pragtig. (Mag ’n mens jouself aantreklik vind?) Ek kan voel hoe die einde vinnig nader kom. Ek kan nie meer uithou nie. Ek begin stadiger streel, sodat dit langer kan hou. 

Shit, dit mag nie verbygaan nie! Ek betree daardie tydlose oomblikke wat alles die moeite werd maak. Die plek waar tyd stilstaan, die kruin van die berg. Ek maak my oë toe. Ek hoor myself hyg na asem. Die oomblik breek aan. My bootjie stort oor die afgrond. Ek skreeu van genot, van opgehoopte frustrasie, van suiwer en ongeslypte, rou, dierlike instink.

Die branders kom stadig tot stilstand. My hartklop begin bedaar. Die geklop in my brein raak rustig. Selfs die storm buite het bedaar. Die dier, waarom my hand steeds gevou is, buig sy kop in ’n meesterlike encore, en verlaat die arena. Die vertoning is verby ...

Ek lag. Dit is Vrydagaand. Die naweek lê steeds voor. Ek hoef aan niemand te rapporteer nie. Ek kan doen net wat ek wil. Die lewe is goed.