Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

“In die vyand se kraal”. Die rol en ervaring van Afrikanervroue in die Women’s National Coalition.


Loraine Maritz - 2010-11-04

 Opsomming 

Die Women’s National Coalition (WNC) is in 1992 amptelik gestig en was ’n inisiatief van die African National Congress Women’s League (ANCWL). Die doelwitte van die WNC was om inligting oor vroue se behoeftes en aspirasies in te samel en dit in ’n Vrouehandves saam te vat wat uiteindelik ’n integrale deel van die nuwe grondwet van Suid-Afrika sou word. In hierdie artikel val die soeklig veral op die Afrikanervrou en Afrikanervroue-organisasies wat by die WNC aangesluit het. Die Afrikanervrou het moeilik by die WNC aangepas. Daar was talle praktiese probleme, maar dit was veral haar gebrek aan politieke vernuf en die vyandigheid van swart vroue wat die vergaderings van die WNC gedomineer het wat haar betrokkenheid in die wiele gery het. Daar was wel Afrikanervroue wat hul belewenis van die WNC as volkome positief ervaar het en wat dit as ’n geleentheid gesien het om by vrouebemagtiging en politieke onderhandelinge betrokke te raak. Die meerderheid van die vroue wat by hierdie ondersoek betrek is, was egter onseker en die negatiewe aspekte het hul belewenis van die ondervinding gekleur. Daar was selfs vroue wat slegs die vyandigheid onthou het. Oorwegend het die Afrikanervrou nie heeltemal aangepas by die WNC nie en sy was ook nie werklik betrokke nie.

Abstract

“In the enemy's kraal”. The role and experience of Afrikaner women in the Women's National Coalition.

The Women’s National Coalition (WNC) was officially founded in 1992 and was an initiative of the African National Congress Women’s League (ANCWL). The aim of this organisation was to gather information on women’s needs and aspirations, and to draw up a Women’s Charter that would become an integral part of the new South African constitution. This article focuses on the Afrikaner woman and Afrikaner women’s organisations that joined the WNC. Afrikaner women found it difficult to adapt to circumstances in the WNC. There were numerous practical problems, but it was really their lack of political expertise, combined with the animosity of the black women who dominated the meetings, that impacted negatively on their involvement. There were indeed Afrikaner women who saw the WNC as a positive experience. These women used it as an opportunity to become involved in women empowerment and the political negotiations. However, the majority of women involved in this research were uncertain, and the negative aspects encountered clouded their experience. There were even some women who could recall only the animosity. Ultimately the majority of Afrikaner women did not fit into the WNC and were not really involved.

1. Agtergrond

Toe die onderhandeling vir ’n nuwe demokratiese bestel in Suid-Afrika ná 1990 begin is, het dit ’n tydperk ingelui waar talle kwessies oor menseregte na vore gekom het. Ook vroue het die geleentheid aangegryp om vrouesake en genderverhoudings op die nasionale agenda te plaas in ’n poging om die onregverdighede van die verlede aan te spreek. Die Women’s National Coalition (WNC) is in 1992 amptelik gestig uit vrees dat vroue van die belangrike politieke prosesse wat die toekoms van Suid-Afrika sou bepaal, uitgesluit sou word. Die doelwitte van die WNC was om inligting oor vroue se behoeftes en aspirasies in te samel en dit in ’n Vrouehandves saam te vat wat uiteindelik ’n integrale deel van die nuwe grondwet van Suid-Afrika sou word.

Die WNC was ’n inisiatief van die African National Congress Women’s League (ANCWL). Die swart vrou in Suid-Afrika se onderdrukking was drieledig: sy was onderdruk as vrou, deur die patriargie en deur apartheid. Sy het polities aktief geraak toe haar familiestrukture bedreig is en het teen paswette, swak behuising, en die uitsettingsaksies van die regering geprotesteer. Tydens die 1980’s het die swart vrou wat aan die noodtoestand blootgestel is, se politieke betrokkenheid verander en sy het ’n revolusionêre vryheidsvegter geword. In die buiteland het die swart vrou wat in die bevrydingstryd betrokke was, geleidelik erkenning in die African National Congress (ANC) gekry. Hierdie vroue was ná 1990 gedetermineerd dat hul verwagtinge vir totale gelykberegtiging in die demokratiese Suid-Afrika sal realiseer. Hulle was egter teleurgesteld en ontnugter toe hulle besef dat die mans in die ANC, hul “comrades” saam met wie hulle hulle tydens die vryheidstryd beywer het vir ’n verenigde front wat mans en vroue gelykgestel het, en met ’n vrye demokratiese Suid-Afrika in sig, die vroue geïgnoreer en opsygeskuif het. Met die onderhandelinge en samesprekings wat sou uitloop op die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa), was vroue feitlik afwesig. Hierdie behandeling het die ANCWL laat besluit om ’n tasbare dokument daar te stel om die gelykwaardigheid van vroue te verseker. (Maritz 2004:103–6 bespreek hierdie aanloop.)

In hierdie artikel val die soeklig veral op die Afrikanervrou en Afrikanervroue-organisasies wat by die WNC aangesluit het. As Afrikanernasionalis was die vrou se politieke betrokkenheid in die verloop van die geskiedenis marginaal (soos uiteengesit deur Maritz 2004:43–4). Daar was wel geïsoleerde aktivistiese optrede soos die vroue-optogte van 1915 en 1940, asook die militantheid van die vakbondvroue. In 1916 is die Nasionale Vroueparty (NVP) gestig as vereniging waardeur Afrikanervroue hul politieke strewe, naamlik Afrikanernasionalisme, kon uitleef. Die stemregveldtog is hoofsaaklik deur Engelssprekende vroue aangevoer, maar in die vroeë 1920’s het die NVP betrokke geraak in die vrouestemregbeweging. Afrikanervroue se betrokkenheid in die stemregbeweging was op aandrang van die mans in die Nasionale Party (NP), en by toedigting ook die optogte van 1915 en 1940. Afrikanervroue het hoofsaaklik die veilige ruimte van die liefdadigheidsterrein gebruik om hul politieke voorkeure uit te leef. Maritz (2004:65–70) dui aan dat die Afrikanervrou met die magsoorname van die NP polities onbetrokke geraak het. Haar funksie was hoofsaaklik dié van moeder en vrou en ondersteunend van die heersende ideologie. Met die aftakeling van apartheid is talle tradisionele Afrikanersimbole bevraagteken. Meer as 40 persent van Afrikaners het by die meer regse partye aangesluit. Hierdie gebeure het die Afrikanervrou aan die begin van die 1990’s sonder ’n spesifieke politieke identiteit gelaat.

Met die onderhandelings vir die toekomstige demokratiese bestel ’n werklikheid, was die Afrikanervrou in ’n onbenydenswaardige identiteitskrisis gedompel. Aan die een kant wou sy apolities bly, maar is deur die Afrikanerintelligentsia en politici aangesê om die politieke wêreld te betree, in hierdie geval die WNC. Aan die ander kant wou Afrikanerkultuurorganisasies die Afrikanerkultuur inklusief beveilig (Maritz 2004:154).

Op nasionale vlak was die meeste Afrikanervroue-organisasies wel by die WNC geaffilieer. Slegs die Afrikanerwelsynsorganisasie ACVV (Afrikaanse Christelike Vroueverenging) en die tradisionele Afrikaanse kerke, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Hervormde Kerk en die Gerefomeerde Kerk, se vroue-organisasies was afwesig. Van die politieke partye was die Konserwatiewe Party (KP) se vroueafdeling nie lid nie. Daar was dus etlike duisende vroue verteenwoordig, maar as die lys van bedankings in die verslag van die WNC deurgelees word, is dit opvallend dat die lys Afrikanervrouens baie kort is (WNC 1994:6–8). As daar na die dokumente van die WNC gekyk word, is dit duidelik dat daar baie min Afrikanervroue was wat hul stem laat hoor het. Die Afrikanervrou was dus aanwesig, maar grootliks afwesig.

As feitlik al die organisasies op die WNC verteenwoordig was, wat het dan met die Afrikanervroueverteenwoordigers gebeur?

Vroue wat by die WNC was, het die verteenwoordiging van Afrikanervroue-organisasies op verskillende wyses ervaar. Dene Smuts, ’n ervare politikus wat die Demokratiese Party (DP)1 op die WNC verteenwoordig het, antwoord: “Ek is nie besonder bewus van afwesiges nie – trouens, ek herinner my van die meer tradisionele Afrikanervroue-organisasies het ’n uitstekende solidariteit en toegewydheid gedemonstreer.” Sy vervolg ook dat “tensy ek iets gemis het, was die Afrikanervroue nie swak verteenwoordig nie.”2 Estelle Jordaan (geb. Stoop), die verteenwoordiger van Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging-Dames (ATKV), het gesê dat sy die Afrikanervrou as 99 persent onbetrokke ervaar het en dat dit vir haar “deurentyd3 kommerwekkend” was.4 Joan Hunter, wat die NP5 verteenwoordig het, het haar soos volg uitgelaat: “Sover ek kan onthou was daar nie ander Afrikanerorganisasies by die WNC betrokke nie, slegs die ATKV aanvanklik.”6 Hierdie uiteenlopende stellings laat dan verskeie vrae ontstaan: Was die Afrikanervrou betrokke of onbetrokke? Hoekom het hierdie vroue dit so verskillend ervaar? Was hulle self werklik betrokke?

Die vrae gaan beantwoord word deur inligting wat verkry is uit vraelyste,7 korrespondensie (hoofsaaklik per e-pos) en telefoniese en persoonlike onderhoude te ontleed en sodoende te probeer agterkom wat die werklike aard van die Afrikanervroue wat by die WNC betrokke was, se belewenis was.

2. Die eerste vergadering, 27 September 1991

’n Hele aantal vroue het min of meer die volgende stelling gemaak: “Ek weet, want ek was van die begin af daar.” Hierdie stelling het aanvanklik die korrelering van feite baie moeilik gemaak, tot daar besef is dat “die begin” meer as een waarheid is, dat dit verskillend geïnterpreteer kon word. Dit kon na die eerste vergadering in September 1991 verwys het, of na die amptelike stigtingsvergadering tydens die Nasionale Werkswinkel in April 1992, of na die daaropvolgende eerste vergaderings van die verskillende streekskoalisies. Die WNC het voorsiening gemaak vir die lidmaatskap van streekskoalisies, byvoorbeeld in die Wes-Kaap en Natalse Middelland (Maritz 2004:109–10). By die streekskoalisies was verteenwoordigers van organisasies wat nasionaal georganiseerd was, asook van organisasies wat net in die streek bestaan het, byvoorbeeld die Kaapse Vroueklub wat net in die Kaapstad-omgewing bestaan het.8

By die eerste vergadering op 27 September 1991 in die Down Town Inn in Johannesburg was daar ongeveer 40 vroue-organisasies verteenwoordig en heelwat meer vroue aanwesig. Slegs drie Afrikanervroue was teenwoordig, naamlik Annemarie Nutt (Kontak),9 Truida Prekel (Vroueburo)10 en Jenny Malan (Vroue vir Suid-Afrika).11 Die rede waarom juis hierdie organisasies genooi is, was dat die ANCWL besluit het dat om geloofwaardigheid te hê, hulle die grootste moontlike groep vroue moes betrek. Die Vroueburo en Vroue vir Suid-Afrika was albei netwerkorganisasies en kon dus met hul lede kontak maak om sodoende die WNC se boodskap so gou as moontlik by soveel organisasies as moontlik te kry. Malan se verklaring vir die feit dat byvoorbeeld Vroue vir Suid-Afrika genooi was, was dat organisasies soos die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie,12 Dames Aktueel13 en die ATKV almal by Vroue vir Suid-Afrika geaffilieer was. Hulle het egter nie in ’n multikulturele opset gefigureer nie; met ander woorde, hulle sou nie andersins van die voornemende koalisie gehoor het nie. Kontak is genader omdat die organisasie alreeds vanaf 1976 bekendheid verwerf het met hul pogings om vroue van alle rassegroepe bymekaar te bring.14

Die vergadering is deur Gertrude Shope, die president van die ANCWL, geopen. Daarna het die sekretaris van die ANCWL, Baleka Kgositsile, die rol wat dié organisasie in die bevryding van die vroue binne die ANC en in Suid-Afrika gespeel het, geskets. Frene Ginwala, adjunkhoof van die ANC se National Commission for the Emancipation of Women, het die hoofrede gelewer. Sy het dit onomwonde gestel dat vroue betrokke moet raak by die nuwe planne wat vir Suid-Afrika gemaak word. Haar eerste woorde was:

South Africa is entering a period of a negotiated transition from apartheid to democracy. It is important that women actively intervene so as to ensure that during the transition the future non-racial and democratic South Africa is transformed also into a non-sexist one.

In the period of apartheid, racism and exploitation have been institutionalised, and layered upon an intensely patriarchal pre-colonial and colonial society. Today all South African women, regardless of race, are subject to some form of subordination in law and in practice. The months ahead offer South African women both an opportunity and a challenge. (MCH 100 29.1)

’n Paar oomblikke later vervolg sy:

We are helped by the fact that one of the major parties in the negotiating process (the ANC) is formally committed to such a transformation and has put forward a policy on the emancipation of women that is far in advance of that of any other liberation movement, and of many democratic governments. Nonetheless women in many countries who have been part of the international anti-apartheid struggle have been inspired by the fact that in the midst of our struggle, ANC women were able to get endorsement for such policies. They are now looking to South African women to translate this into our new constitution. (MCH 100 29.1)

Wat was die drie Afrikanervroue se reaksie op die toespraak van Ginwala? Nutt (Kontak) was lid van die organisasie vanaf 1977 tot 2001. Sy was op die nasionale uitvoerende raad en ook president. Sy was dus oor ’n lang tydperk betrokke by hierdie nierassige organisasie, wat vir versoening tussen alle ras-, taal-, politieke en godsdiensgroepe, asook vir geregtigheid vir alle Suid-Afrikaners, gewerk het. Dit was ’n organisasie met doelstellings wat uitgereik het na alle rasse, dus was die basiese idee van die WNC, naamlik om verteenwoordiging van al die vroue van Suid-Afrika te verkry, bekend. Nutt het die aanvanklike mandaat van die WNC om ’n handves vir vroueregte (wat gebaseer was op die ondervinding van die Suid-Afrikaanse vrou) saam te stel, sterk ondersteun. Haar gevoel oor die WNC was oorwegend positief. Op die volgende vergadering, op 16 Oktober 1991, het sy haarself vrywillig vir die Tussentydse Werkskomitee beskikbaar gestel.15

Nutt was vir die swart vroue ”polities aanvaarbaar”. Die rede was definitief die pogings van Kontak om versoening tussen rasse te bewerkstellig. Tydens die Nasionale Werkswinkel in April 1992 is sy tot die Bestuurskomitee verkies, waar sy die portefeulje van tesourier beklee het. Sy het erken dat haar gevoel jeens die WNC oorwegend positief is omdat sy so nou by die ontstaan en ontwikkeling van die organisasie betrokke was.

Amanda Botha (Kaapse Vroueklub) beklemtoon ook die belangrike rol wat Nutt gespeel het. Afgesien van die feit dat die swart vroue met haar kon identifiseer, het sy “’n spesifieke Afrikaner verteenwoordig wat uit ’n Transvaalse Afrikaner-kerkagtergrond gekom het en het sy ’n belangrike rol gespeel om die ou garde te bereik.”16

Hierdie vrou wat so lank intensief by die WNC betrokke was, se samewerking was uit ’n navorsingsoogpunt uiters frustrerend, want afgesien van ’n bondig voltooide vraelys, het sy enige verdere kommunikasie vermy. Selfs versoeke aan haar van vroue wat haar goed geken het om die navorser by te staan, is geïgnoreer.

Daar kan oor die rede vir die apatie net gespekuleer word. ’n Paar goedgekose woorde in die vraelys gee dalk haar gevoel jeens die WNC weer. Sy maak melding van die “aanvanklike” mandaat van die WNC waaroor sy baie positief gevoel het. Nadat die Vrouehandves in Junie 1994 voltooi is, het die WNC besluit om met hul werk voort te gaan. Die “verlengde” mandaat van die WNC sou wees om vroue te bemagtig en te versterk, om die doelwitte van die Vrouehandves te bevorder; vroue vir die Beijing-kongres te mobiliseer; en om vrouekwessies verder na te vors (MCH 100 3.1.12). Na die oorhandiging van die Vrouehandves het die WNC egter baie probleme ondervind - dit is dalk hierdie periode wat Nutt bloot “oorwegend” positief gestem het. Iemand het ook gesê dat Nutt “moeg” was, dat sy so baie vir die WNC gegee het dat sy nou niks meer “oor gehad” het om te deel nie.17 Die moontlikheid bestaan ook dat haar persoonlike politieke ideale of/en die verwagte invloed wat die WNC moes uitoefen, nie gerealiseer het nie.

Die tweede Afrikanervrou in hierdie beginfase was Prekel, wat die Vroueburo verteenwoordig het. Sy het uit die niepolitiese hoek van die Vroueburo gekom, waarvan die hoofagenda die ekonomiese bemagtiging van die vrou was. Die organisasie het sig ook beywer om diskriminasie teen vroue teen te werk. Prekel was dus gewoond daaraan om haar vir optimum benutting van vrouekrag te beywer. Soos reeds aangedui, was politieke partye nie lede van die Vroueburo nie, want “politieke partye sou dit kelder” (Morkel 1986:6). Prekel was gewoond daaraan om saam met swart vroue by die Vroueburo te werk, aangesien hulle nie net lede was nie, maar ook saam met haar in die direksie gedien het. As bestuurskonsultant het sy gespesialiseer in sake- en interkulturele kommunikasie. As dosent by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het sy seminare aangebied waartydens sy onder andere swart en wit vrouens bymekaargebring het. Sy het met ’n oop gemoed na die WNC gegaan en dit as ’n interessante geleentheid gesien om vrouens bymekaar te bring. Sy het haar dan ook bereidwillig verklaar om in die Tussentydse Werkskomitee te dien. Al was sy nie gewoond aan ’n politiese opset nie, het sy ’n positiewe ingesteldheid gehad en was haar filosofie “nie waaroor gaan ek met Frene stry nie, maar hoe kan ek en Frene saamwerk”.18

Die derde Afrikanervrou by die eerste vergadering was Malan. Sy was president van Vroue vir Suid-Afrika, voorheen lid van Kontak, en sou vanaf 1994 die NP in die parlement verteenwoordig. Toe haar man Lid van die Provinsiale Raad was, was sy organiseerder van die NP, maar gedurende die tydperk waarin sy president van Vroue vir Suid-Afrika was, het sy onttrek, aangesien dit nie “reg” sou wees nie. Sy het vermoedelik weens ’n botsing van belange onttrek. Malan het dus as politieke organiseerder reeds ervaring op die politieke terrein gehad. Vroue vir Suid-Afrika het hulle beywer vir beter verhoudings tussen “gematigdes” en “Christene”. Volgens Malan is hulle deur ander Afrikanerorganisasies as ultralinks van die destydse Afrikaner- “establishment” gesien, want jy was links as jy “heul met ’n swart mens”. Omdat hulle uit dieselfde koppies gedrink het en met swartes sosiaal verkeer het, was dit onaanvaarbaar vir die meer “regse” Afrikaners. Malan se politieke posisionering van Vroue vir Suid-Afrika was dat hulle in die middel van die politieke spektrum was, as die ANC / Pan Africanist Congress (PAC) / Azanian Peoples' Organisation (AZAPO) heel links was, en die Konserwatiewe Party en Vryheidsfront heel regs.19

Ten spyte van hierdie stelling oor skynbare “verligtheid” werp Malan se kantaantekeninge by die notas wat sy tydens die vergadering gemaak het, asook die brief wat sy aan die navorser gestuur het, lig op haar politieke posisionering. Sy het haar indrukke eerlik weergegee en verskaf dus vandag met agternakennis perspektief op hoe beperk mense se persepsies van hulself kan wees as hulle binne-in gebeure staan.

Sy het aangedui dat die vergadering op uitnodiging van die ANCWL “iets was wat op daardie stadium uiters vreemd was”. 20 Bo-aan haar notas het sy tussen hakies geskryf “[Comrade (Bl) Frinnie Ginwala]”. Met haar terugkeer uit ballingskap in 1991 het Frene Ginwala, geklee in haar sari, baie mediadekking gekry en dit is vreemd dat Malan, wat in die Transvaalse politieke kringe beweeg het, haar naam verkeerd gespel het. Meer opvallend is die onderstreepte “Comrade”-aanspreekvorm. Dié sosialisties/kommunistiese aanspreekvorm het vreemd op die oor geval en Malan het later aangedui dat Ginwala op hierdie vergadering aangedui het dat sy lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) was. Malan, wat so hard geveg het om die “rooi gevaar” uit die land te hou, was nou met ondersteuners van die ideologie gekonfronteer en moes sekerlik ’n paradigmaskuif maak om te besluit of sy verder met hulle wou assosieer.

Binne die eerste paar sekondes van die vergadering is daar na die “apartheidsregime” verwys. As iemand met ’n sterk Afrikanernasionalistiese agtergrond, en ook die enigste op die vergadering, moes Malan baie ontuis en selfbewus gevoel het, want soos sy dit stel, was daar niemand van die “tradisionele sektor” teenwoordig nie. Sy het die name neergeskryf van vroue wat die vergadering bygewoon het, veral die name “van dames met wie ek sou kon assosieer (ideologies gesproke). Natuurlik kon ek met die ANC-dames sosiaal assosieer. Ek bedoel maar net dat dit (vir 1991!) baie vreemd was om as’t ware in die vyand se kraal te wees sonder enige bondgenote!” Hierdie opmerking som haar belewenis die beste op.

Die meeste organisasies het een verteenwoordiger gestuur; in sommige gevalle het een persoon selfs meer as een organisasie verteenwoordig. Die ANC, daarenteen, het meer as tien verteenwoordigers gehad. Gegewe die hoë vlakke van wantroue in die land op daardie stadium, was die oormag swart vroue vermoedelik nie net kommerwekkend nie, maar ook intimiderend. Afgesien van die ANC was die PAC en Inkatha Vryheidsparty (IVP) ook teenwoordig – partye wat nie onder “gematigdes” getel het nie.

Vroue vir Suid-Afrika het in die onstuimige tye van die 1980’s as verhoudingsgerigte beweging probeer om vroue te verenig. Hierdie Afrikanervroue het na swart vroue uitgereik, maar dit was op hulle (wit) voorwaardes, en daarmee het die organisasie ’n spesifieke politieke posisie ingeneem. Hulle het geensins die bestaande orde, die regering, teengestaan nie. Malan het dit so verduidelik: “Ons het oral mense toegespreek oor die belangrikheid van verhoudings en vir hulle gesê die politieke situasie is wat dit is, die veiligheidsituasie is wat dit is, maar op sosiale gebied het ons vir die mense gesê: ‘Doen iets.’”21 Hulle het dus probeer om verhoudinge tussen wit en swart te verbeter, sonder om die oorsaak van die probleem die hoof te bied.

Daar kan geargumenteer word dat Vroue vir Suid-Afrika nie genoegsaam voorberei was vir die WNC nie, want by laasgenoemde was blootstelling nie selektief nie. Daar is van Vroue vir Suid-Afrika verwag om werklik multikultureel te werk en met die revolusionêr en die kommunis saam te werk.

Alhoewel Malan haarself as ’n “politieke wese” sien, was sy duidelik vreemd in hierdie situasie en haar eerlike waarnemings en kommentaar gee ’n blik op die eerste kennismaking van ’n Afrikanervrou met die ANCWL se “struggle”-vegters. Die vraag kom onwillekeurig by mens op of die ander twee Afrikanervroue meer tuis gevoel het en hoe eerlik hulle in hul rapportering was.

Ten spyte van Malan se verduideliking oor haar politieke posisionering as “ultra-links” volgens sommige waarnemers, is dit duidelik dat Nutt (Kontak) veel eerder links was, aangesien sy klaarblyklik baie meer gemaklik was om met die swart vroue saam te werk. Prekel (Vroueburo) was skynbaar ook meer tuis, aangesien sy as dosent by UNISA swartes in haar klas gehad het en met haar seminare op professionele vlak in interaksies met hulle betrokke was.

3. Voorbereidingsperiode, September 1991 tot Maart 1992

In die daaropvolgende paar maande is nog ’n hele reeks vergaderings gehou, nie slegs om die basis van die koalisie uit te brei nie, maar ook om die doelwitte, proses en die struktuur uit te klaar.

Die Tussentydse Werkskomitee het uit veertien lede bestaan, van wie vyf swart vroue was en twee die ANC verteenwoordig het. Die groep vrywilligers het baie van hul tyd opgeoffer om die organisasie van die grond af te kry. Aangesien hulle nie ’n kantoor gehad het nie, is daar naweke lang ure in Ginwala se woonstel gewerk, waar brosjures geskryf, koeverte gevul, beplanning gedoen en persverklarings opgestel is.
 
Vir Prekel was dit ’n baie verrykende ervaring waartydens sy mense beter leer ken het, ervarings met hulle gedeel het en ’n bydrae gelewer het. Sy het erken dat sy en Ginwala soms “vasgesit” het, maar dat sy haar saak gestel het en dat hulle die verskille na die tyd kon oplos.

Drie weke na die amptelike stigting van die koalisie is Prekel se seun oorlede en het sy vir ’n lang tyd onttrek en eers in 1995 teruggekeer om in die Bestuurskomitee te dien. Sy was dus aanvanklik tydens ’n baie positiewe periode betrokke. Sy was daar toe almal nog so gefokus het om die WNC geloods te kry dat die klein jakkalsies nie raakgesien is nie.

Ten einde die basis van die koalisie uit te brei het Prekel probeer om ’n wye spektrum vroue uit te nooi. Sy het byvoorbeeld die KP uitgenooi, maar hulle het nie die uitnodiging aanvaar nie. Sy is van mening dat die nieregerings- en kerkorganisasies, waarby sy die Vroueburo insluit, die koalisie versterk het omdat hulle eerlike onderhandelaars (“honest brokers”) tussen die politieke partye kon wees.22

Malan se voortgesette betrokkenheid was op ’n heel ander vlak, want sy het nie in die Tussentydse Komitee gedien nie. In die interimperiode is sy nog steeds na die vergaderings uitgenooi en het sy hulle ook “getrou” bygewoon. Haar ervaring van die vergaderings kan soos volg opgesom word: Sy het eerstens gevoel dat die ANC van die begin af die leisels gehou het en dit nooit oorgegee het nie. Dit was inderdaad die geval dat die vergaderings deur Ginwala (van die ANC se National Commission for the Emancipation of Women), Shope (president van die ANCWL) en Mavivi Manzini (ANCWL) gelei is. Tweedens was die vergaderings vir haar sonder doel en het sy die projek vergelyk met “’n foksterriër wat ’n bus gevang het en nou weet hy nie wat om daarmee te doen nie”. Haar verklaring hiervoor was dat die ANC op daardie stadium nog nie in hul eie geledere presies geweet het wat hulle wou doen nie. Derdens het sy gevoel dat die idee van die koalisie ’n “politieke foefie” was. Hierdie stelling is gebaseer op haar “politieke neus” wat vir haar vertel het dat die ANC die WNC slegs as ’n rookskerm gebruik om vrouelede en -stemme te werf. 23

Tydens die eerste vergadering het die aanwesiges opdrag gekry om aan hul organisasies te gaan verslag lewer oor wat die WNC beoog. Malan het bely dat sy glad nie geweet het wat die rede vir die vergadering was nie. Sy kon ook nie aanvanklik uit Ginwala se toespraak agterkom wat sy beoog het nie en het eers later besef “[H]ulle probeer die rokvolk mobiliseer!” Volgens Malan het sy aan Ginwala gesê dat sy nie geweet het wat om te rapporteer nie, en aangedring het op ’n afskrif van haar toespraak, wat sy eers meer as ’n maand later ontvang het. Sy kon daarna die ander vroue-organisasies wat by Vroue vir Suid-Afrika geaffilieer was, inlig en het gevra dat hulle afvaardigings na die werkswinkel wat die amptelike stigting van die WNC in April 1992 sou wees, moet stuur. Sy het onder andere Dames Aktueel, ATKV-Dames en die SAVF (Suid-Afrikaanse Vrouefederasie) ingelig.

Dit was veel meer as net inlig, want Malan was die boodskapdraer wat die volgende vlak in die politieke evolusie van Afrikanervroue-organisasies in werking gestel het. Waar hulle ’n paar jaar tevore moes besluit om by die Vroue vir Suid-Afrika betrokke te raak, moes hulle nou besluit om by die koalisie betrokke te raak. Soos Malan dit gestel het: “Weer eens moes die interne stryd gestry word”, want organisasies moes besluit of hulle by die ANC-geïnisieerde politiekgelaaide organisasie wou betrokke raak.

Dit was ’n besluit wat nie ligtelik opgeneem is nie. Malan het gesê die rede waarom Dames Aktueel, en veral die SAVF, heelwat later by die koalisie aangesluit het, was omdat hulle eers in eie geledere “die stil stryd moes stry”. Die feit dat die verskillende presidente wel vergaderings van die WNC bygewoon het, was volgens Malan ’n reuse-prestasie (“major achievement”), want nie een van hulle was polities georiënteerd nie. Malan se mening is dat die Afrikanervroue-organisasies amper die kans om betrokke te wees by “’n geleentheid van totale politieke verandering” laat verbygaan het. Volgens haar “het die klomp Afrikanerorganisasies so lank getalm omdat ‘verkramp’ en ‘verlig’ so ’n groot rol gespeel het en hulle terselfdertyd so hard probeer het om apolities te wees dat hulle amper die bus verpas het, ampertjies voor hulle ’n inset kon maak vir die nuwe Suid-Afrika [...] [H]ulle was so behep met hul eie interne ideologiese verskille […] dat hulle óf net Christelik óf net kultureel, óf net ontwikkelingsgesind kan wees dat die bus van totale politieke hervorming amper verbygegaan het. Gelukkig het hulle ingespring.”24

Malan self het egter heelwat praktiese probleme ondervind. Eerstens moes sy vanaf Rustenburg 125 km tot in Johannesburg ry om die vergaderings by te woon. Dit was onstuimige tye van klipgooiery, geweld en padblokkades, en dus gevaarlik, veral vir ’n vrou, om in die aand alleen te ry. Tweedens het die onstiptelikheid van die vergaderings die probleem vererger. Vergaderings moes 4 nm. begin, maar dikwels was die voorsitter en baie ander teen 6 nm. nog nie teenwoordig nie. ’n Hele paar keer was sy verplig om voor die aanvang van die vergadering weer terug te ry. Derdens was sy baie besig, want sy het in daardie periode die hele land vol gereis om namens die regering inligtingsessies oor die voorgenome Handves van Fundamentele Regte aan te bied. Die gevolg was dat sy vir Joan Hunter (NP) wat nader gebly het, gekry het om in haar plek die vergaderings by te woon. Volgens haar het sy geweet dat Hunter goed sou inpas by die WNC, want as voormalige Lid van die Provinsiale Raad het sy ’n “politieke neus” gehad.25 Hierdie stelling bewys dat Malan baie gou besef het dat politieke vernuf nodig sou wees vir oorlewing in die WNC.

Gedurende die tussentydse periode was daar dus alreeds uiteenlopende belewenisse van die WNC deur Afrikanervroue. Wat veral opvallend was, is dat die organisasies wat hulle verteenwoordig het, ook hul ervaringe en ingesteldheid weerspieël het. Kontak het al vir baie jare vir beter samewerking tussen groepe gewerk, dus was Nutt geskool in die vaardighede wat dit vereis het. Prekel het op ’n meer professionele vlak met swartes verkeer en was skynbaar ook baie aanpasbaar en positief van geaardheid. Hulle het albei van die begin af die doelwitte van die WNC goedgekeur en hulle volle gewig ingegooi om die organisasie van die grond af te kry. Malan was nooit in die binnekring nie en was geïrriteerd en gefrustreerd met die gebrek aan goeie organisasie wat haar persoonlik verontrief het. Al het Vroue vir Suid-Afrika probeer om met verskillende groepe kontak te maak, was hulle voorwaarde dat dit “vredeliewende vroue” (Theron 1992:9) moet wees – hierdie netwerk se vroue sou dus moeilik inpas by die “struggle”-vroue wat op veranderings aangedring het. Bogenoemde vroue se ervaring sou later deur baie ander weerspieël word.

Die Tussentydse Werkskomitee het probeer om soveel vroue as moontlik oor die amptelike stigting van die WNC in te lig. Deur middel van persverklarings en nuuskonferensies het hulle dan ook die dagblaaie bereik. Die nuusdekking was egter skraps, maar dit was te verwagte. In die woorde van Roberts (1992:9–10): “[W]omen are no longer surprised when their actions fail to capture the national consciousness for the briefest of periods – but the determination to succeed continues to grow.” Tydens haar openingsrede het Ginwala ook opgemerk hoe onbelangrik en onnuuswaardig vrouesake was en daarop gewys dat as dit ’n soortgelyke byeenkoms vir mans was, dit die hoofopskrifte van oggendkoerante sou gehaal het en die kongressaal gevul sou wees met TV-ligte en -kameras.26 Smuts (DP) het dit soos volg gestel: “Vroueregte is nie menseregte nie, en was dus nie geregtig op persaandag nie!”27

In die week of so wat die amptelike stigting van die WNC voorafgegaan het, het daar wel berigte in die Afrikaanse koerante verskyn. Beide Beeld en Die Burger het die berigte in die middel van die koerant geplaas. Die Burger (Eie korrespondent 1992:9) het slegs ’n kort berig op die vroueblad geplaas en onder andere geskryf dat die WNC ’n “veldtog beplan om vas te stel wat die menings en eise van vroue landwyd is veral die in landelike gebiede”. Die laaste woorde sou beslis baie vrouelesers laat dink het dat dié veldtog hulle nie insluit nie. Die koerant het op selektiewe wyse die volgende organisasies as lede aangedui: Kontak, die Black Sash, die National Assembly of Women, politieke en professionele organisasies en vakbonde.

“Suid-Afrika se vroue vat hande” was die opskrif van ’n lang artikel wat deur Beeld gepubliseer is (Theron 1992:9). Foto’s van Malan en Anne Routier van die NP saam met Ginwala, die adjunkvoorsitter van die Emansipasiekomitee van die ANC, en Suzanne Vos van die IVP het sommige van die berigte vergesel en die opskrif bevestig. Die inleidende paragraaf was: “Die dae dat vroue-organisasies daar was vir verveelde huisvroue en sosiale vlinders is jare gelede al verby. Vandag se vrou wat haar tuis voel by dié organisasies, doen dit met die doel voor oë en veral om uiteindelik beter verhoudinge tussen rasse en begrip vir mekaar te bewerkstellig.” Daar is ook aan die lesers meegedeel: “En nou het daar ’n nuwe dimensie bygekom. Die vrou in Suid-Afrika is nie langer tevrede om agter haar man te staan waar dit kom by sake wat die land en sy mense raak nie!” (Brand 1992:6).

Hierdie pedantiese stellings het vermoedelik baie vroue van kultuurorganisasies onthuts gelaat en organisasies wat alreeds aan boord was, laat twyfel of hulle die regte besluit geneem het.

Die trant van die artikel, veral by monde van Ginwala en Nutt, was om vroue te wys op die uniekheid van die WNC en waarom vroue behoort aan te sluit. Die WNC was eiesoortig, want nog nooit voorheen in die wêreld is soveel vroue betrek om ’n dokument vir vroue, deur vroue, op te stel nie. Nutt was van mening dat die WNC nuwe parameters sou stel en deure vir vroue sou oopmaak. Malan het gesê dat “die doelstelling van Vroue vir Suid-Afrika is om ’n tuiste aan alle vredeliewende vroue te bied sonder dat hulle hul op politieke gebied hoef te bind”. Aan die 25 000 vroue wat deur meer as 200 organisasies lid van Vroue vir Suid-Afrika was, het sy gesê dat hul doelwit van versoening deur die WNC uitgeleef kan word. Ook hul taak om vroue geletterd te kry en van hul regte en verantwoordelikhede te leer sou verwesenlik kon word. Routier het gemeen dat al sien haar party vroue as vry en gelyk, moes vroue nog hul regmatige plek in die samelewing kry. Sy het gesê dat die NP, met takke van die Kaap tot in die Limpopo, saam met die WNC ’n groot rol kan speel om vroue te bereik. (Hierdie uitsprake is opgeneem in Theron 1992:9.)

4. Stigting van die Women’s National Coalition, 25–26 April 1992

Die WNC is tydens ’n Nasionale Werkswinkel, wat van 25 tot 26 April 1992 geduur het, amptelik gestig. Vroue van meer as 40 (uiteindelik meer as 100) organisasies landwyd het in Johannesburg bymekaar gekom om deel te word van die proses waardeur vroue gelykberegtiging in die toekomstige Suid-Afrika sou verseker.

“Sisters, Delegates and Comrades” is die woorde waarmee Ginwala haar openingsrede begin het.28 Met haar groet het sy probeer om almal in te sluit, maar terselfdertyd het sy ook uitgesonder en onderskei: alhoewel almal tog afgevaardigdes (“delegates”) van een of ander aard was, het sy haar swart susters (“sisters”) en daardie vroue wat saam in die bevrydingstryd was (“comrades”), uitgesonder. Die Afrikanervroue, en natuurlik ook die meeste wit vroue, was nie deel van die uitgesonderde groepe nie. Dit kan natuurlik wees dat Ginwala met “sisters” na al die vroue verwys het en almal in ’n “sisterhood” wou saamsnoer. Dit sou egter oormoedig gewees het, want wit vroue noem mekaar nie “sister” as hulle nie familie is nie. Dit is egter ’n gebruik in die swart kultuur. Ginwala het ook self gesê dat die doel van die WNC nie ’n “emotional response to the notion of sisterhood” is nie. Sy het egter verskeie male verwys na die kollektiewe vrouestem en wou dalk net alle vroue saamsnoer en gelykstel. Daar is egter bewyse dat wit vroue ook hierdie “sisterhood”-terminologie gebruik het, naamlik “yours in sisterhood” en ook “yours in solidarity” waarmee briewe afgesluit is,29 asook verwysings na “ons nuwe susters”.30 Tydens die opening was hierdie benaming egter te gou vir die Afrikanervrou. Hulle was nog nie gereed vir assimilasie nie.

Ginwala het haar toespraak begin deur te verwys na die verlede toe die vroue in Suid-Afrika nie besorgd oor mekaar was nie. Net soos die res van Suid-Afrika se vroue nie betrokke geraak het by die lot van Afrikanervroue in die Britse konsentrasiekampe nie, het die wit vroue nie geveg vir stemreg vir die swart vrou in die 1920’s nie. Oor die jare het die meeste van die bevoorregte wit vroue in Suid-Afrika min begrip getoon vir en simpatie gehad met die lot van die swart vrou.

Met hierdie woorde het Ginwala almal in die gehoor betrek en op gelyke voet geplaas, want sy het hulle almal van onbetrokkenheid aangekla.

Ginwala het egter nie by die verlede vasgehaak nie en het met haar volgende woorde ’n oplossing vir die verwydering wat tussen vroue ontstaan het, voorgestel. 31

All this is part of our history, but though we cannot forget, we do not have to be overcome by the past. We are all the products of history, but each of us can choose whether or not to become its victims. Our past can become the reason for retaining our divisions, or can be something we move beyond as we go forward together. That is our choice. Our presence here today indicates that despite the many things past and present that divide us, women are anxious to work together for a common future.

Hierna het sy gesê dat vroue op alle vlakke van die samelewing, vanaf kabinetslede, akademici, vroue in die sakewêreld tot die landelike vroue, deur die patriargale stelsel benadeel is: “As women our spheres are defined as domestic, our concerns are ignored or trivialised, our status subordinate, and our horizons limited.”

Nadat sy die oogmerke van die WNC uiteengesit het, het sy die werkwyse vir die opstel van die Vrouehandves verduidelik. Sy het beklemtoon dat vroue moet verseker dat ’n aansienlike getal vroue van alle politieke oortuigings deel moet uitmaak van die grondwetgewende liggaam om seker te maak dat die Vrouehandves nie verwerp word deur “a bunch of patriarchal men” nie. Sy het beklemtoon dat die inhoud van die Vrouehandves moet kom van die vroue van Suid-Afrika, dat vroue kollektief na hulself moet luister dwarsoor die politieke, rasse-, godsdienstige, kulturele, etniese en ekonomiese spektrum, die stedelike en die landelike areas, die swart state, die fabriek, die plase en die luukse villas. Sy het haar toespraak soos volg afgesluit:

Women have been knocking on the doors for generations, politely asking to be let into a non-sexist society. We cannot wait for even more generations hoping for someone to open those doors. We have to break them down. Our battering ram must be the voices of the millions of women in our country – voices that no one dare deny. Together, no government, no political party, no liberation movement – no group of patriarchal men can stand in our way. We are the majority in this country. Our collective voice is a formidable weapon. Let it ring loud and clear across this country. Together we will win.

Hierdie toespraak is met oorverdowende applous begroet. Die swart vroue het ge-oe-la-la en gedans om hul goedkeuring te wys. Die Afrikanervroue se reaksie was gemengd. Sommiges het die toespraak as opruiend beskryf en vir ander was dit inspirerend. Een dame het erken dat sy nie al die Engelse woorde verstaan het nie.32

Ginwala het in haar laaste woorde definitief die indruk probeer skep dat die vrouestem so sterk moet wees dat geeneen van die bestaande gesagstrukture dit sal kan stop nie. Haar metaforiese taalgebruik met die verwysing na aksie, optrede en dringendheid is tekenend van die revolusionêr en vryheidsvegter – taalgebruik van die periode wat sy so pas agtergelaat het. Dit was egter heeltemal onbekend aan Afrikanervroue en het hulle ongemaklik gemaak. As groep was hulle nog glad nie gereed om saam met die “swart gevaar” en “rooi gevaar” deure af te breek nie.

5. Aanpassingsprobleme wat Afrikanervroue ervaar het

Ginwala het in haar toespraak gesê: “Our divisions have become barriers”, maar haar slotwoorde was: “Together we will win.” Haar versugting was optimisties, want daar was nie net skeidings wat afgebreek moes word nie, maar groot verskille tussen die vroue van die WNC. Met die vreemde mengsel van SAKP en die Vroueburo, Vroue vir Suid-Afrika en Congress of South African Trade Unions (Cosatu), The Rural Women’s Movement en die Association of University Women, die Black Sash en die Executive Women’s Club, die ANC, NP en die IVP, om net ’n paar te noem, was die kanse om uit die staanspoor konsensus te bereik maar skraal.

Omdat die meeste aanwesige vroue geweet het wat die oogmerke van die WNC was en waarvoor hulle hul ingelaat het, was hulle almal aanvanklik bereid om rondom die verskille te werk. Dit is veral geïllustreer op die laaste dag toe ’n bestuurskomitee gekies moes word. Prosedure het ’n probleem geskep en talle klein verskille het die vrees laat ontstaan dat samewerking onmoontlik was, maar soos Roberts rapporteer het, het die “spirit” getriomfeer. Volgens haar is ’n komitee gekies wat sekerlik die mees verteenwoordigende liggaam in die politiek van die tyd was en wat oor politieke, rasse- en klasverskille gestrek het: “And the faces of the delegates reflected their genuine pleasure at this motley group” (1992:9–10).

Daar was egter geen wit vrou in die topstruktuur nie. Die ampte is soos volg beklee: sameroeper: Frene Ginwala; medesameroeper: Ann Letsebe; nasionale sekretaris-generaal: Thoko Msane. Ginwala se verkiesing was eenparig. Die verkose Bestuurskomitee (Steering Committee)33 het onder andere bestaan uit vroue van die IVP, die DP, The Rural Women’s Movement, Kontak, Cosatu en die Unie van Joodse Vroue. Van die ongeveer 24 lede was 17 swart vroue en slegs Nutt (Kontak) was Afrikaans.

Tydens die eerste vergaderings in Mei het komiteelede sterk gevoel dat om die WNC te laat slaag dit nodig was om die ontbrekende invloedryke groepe (“constituencies”) op die Bestuurkomitee te kry. Gevolglik is die NP (Anne Routier), die SAKP, die PAC en die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie34 (Anna Boshoff) gekoöpteer (Abrams 2000:35). So het dit dan gekom dat Routier as Engelssprekende vrou die NP verteenwoordig het.

In die daaropvolgende maande is die Afrikanervroue wat by die WNC betrokke geraak het, hetsy kortstondig of vir ’n langer tydperk, blootgestel aan talle ervarings wat vir hulle vreemd was en wat die aanpassing moeilik en in sommige gevalle onmoontlik gemaak het. Meintjes (1992:17) het gesê dat die uiteenlopende groepe ’n aantal belange op verskeie belangrike gebiede gedeel het, maar sy kon net twee gemeenskaplikhede opnoem, naamlik geslagsonderdrukking en dat die verandering in Suid-Afrika ook die aangeleentheid van seksisme moes insluit.35 Die vraag is egter of die “dilemmas of difference” waarna Meintjes verwys het in die titel van haar artikel, werklik oorkom kon word en daar slegs op die doelwitte van die WNC gefokus kon word.

5.1 Ongerieflike vergaderplekke en -tye

Vergaderplekke en -tye het van die begin af praktiese probleme geskep. “Die meeste vergaderings was in die bundu’s,” is een van die aanklagte wat gemaak is.36 Die meeste streeksvergaderings is in die swart of bruin areas, sogenaamde agtergeblewe gemeenskappe, gehou. Dit is gedoen om vervoerprobleme te vergemaklik, want baie min swart vroue het privaat vervoer gehad, en natuurlik om soveel as moontlik vroue te kon bereik. In die Kaap is die vergaderings byvoorbeeld dikwels in Athlone, ’n bruin woonbuurt met heelwat bendegeweld, gehou. Wit vroue was bang om swart buurte binne te gaan en het dit is as “moeilikheid soek” beskou, veral in die vroeë negentigs. Een vrou het dit soos volg opgesom: “Die Afrikanervrou het haar ook nie blootgestel aan die gevare van die vreemde, moeilik bekombare en rasgebonde vergaderplekke nie.”37 Die wit vroue moes alleen ry, want hulle het van oor die hele streek gekom en saamry was meestal onprakties.

Die vergadertye was ook problematies. Die vergaderings is dikwels op Saterdag- en Sondagmiddae gehou, vanaf 6 tot 8.30 nm. Dié tye het die swart vroue, waarvan baie werkende enkelouers was, gepas. Smuts (DP) het dit so opgesom: “[D]ie NP- (wit) vroue het nie altyd kans gesien vir die nat Sondagmiddae in die bruin areas nie – hulle mans en gesinne en hulself het nie kans gesien nie, maar dis natuurlik al wat werkers in die “struggle” kon behartig!”38

Die Afrikanervroue het dus van die begin af die vergaderings met ongemak en huiwering bygewoon. Sommige vroue was grimmig, want die enkele kere wat daar nie in die swart of bruin woonbuurte vergader is nie, is daar vir “hulle” busse gereël. Boonop was dit “ongemaklike” vergadertye, sodat die swartes en bruines dit kon bywoon.

Die vrese van die wit vroue is bewaarheid toe Amy Biehl in Augustus 1993 in Gugulethu, ’n swart woonbuurt van Kaapstad, deur twee PAC-lede vermoor is. Biehl, wat geglo het dat vroue ’n betekenisvolle rol in die samelewing moes speel, was ’n baie aktiewe lid van die Wes-Kaapse Streekskoalisie. Ten tye van haar dood was sy aan die Universiteit van Wes-Kaap se regsfakulteit verbonde en het die dag van haar dood drie studente huis toe geneem. Sy is volgens haar moordenaars vermoor omdat sy ’n wit “settler” was (Visser 1993; Swart 1993.)

Botha (Kaapse Vroueklub) wat baie goed bevriend was met Biehl, was gebroke oor haar dood. Botha het vertel dat dit vir haar aanvanklik moeilik was om met die SAKP en die PAC saam te werk, want sy is gekondisioneer dat hulle “vreeslike” mense is. Biehl se dood het egter, ironies genoeg, ’n fasiliterende rol gespeel. Sy het by Biehl se begrafnis die WNC verteenwoordig en moes ook ’n vredeswandeling na Gugulethu lei om te sê dat vroue van Suid-Afrika genoeg van geweld gehad het. Dit was vir haar baie moeilik om dit te doen. Tydens die wandeling het sy voor gestap en die twee swart vroue aan weerskante van haar se hande vasgehou. Daar het sy vir die “eerste keer ’n gevoel van solidariteit” met die swart vrouens ervaar; sy het nie meer gevoel sy “is ’n wit Suid-Afrikaner nie, maar ’n Suid-Afrikaner wat sê nou is dit (geweld) genoeg”.39 Hierdie tragiese gebeurtenis het ook ’n einde gebring aan die vergaderings van die Wes-Kaapse Streekskoalisie in die swart en bruin woonbuurte.

5.2 Swak georganiseerde vergaderings

Afgesien van problematiese vergaderplekke was die vergaderings swak georganiseer. Daar is volop voorbeelde van lede wat óf glad nie kennisgewings van vergaderings ontvang het nie, óf dit op die nippertjie of te laat ontvang het. Die vergaderings het ten minste ’n halfuur later as die gespesifiseerde aanvangstye begin. Daar is meer as een keer genotuleer dat iemand beswaar aangeteken het dat die vergaderings altyd laat begin het (byvoorbeeld MCH 100 3.1.7). Afrikanerorganisasies is daarvoor bekend dat hulle baie goed georganiseerd is en stiptelik volgens die agenda handel. Al die wit vroue het gekla oor hul tyd wat gemors is omdat hulle moes wag vir swart vroue wat altyd laat was. Vergaderings het ook dikwels baie lank geduur. Daar is openlik verwys na “Afrika-tyd”. Die gevolg hiervan is dat baie vroue soms moes terugkeer huis toe om ander afsprake of verpligtinge na te kom en dat dié wat agtergebly het, ongeduldig en geïrriteerd was. Daar is reeds verwys na die geval van Malan wat uiteindelik haar taak aan iemand anders oorgegee het. Prekel het vertel dat sy meer as een keer, nadat sy die hele ent pad van Pretoria oorgery het vir ’n vergadering in Johannesburg, moes terugry om ’n volgende afspraak by te woon nog voor die vergadering begin het.40 Die gevolg hiervan was dat die doel van die vergadering dikwels platgeval het omdat die agenda afgejaag moes word en sleutelfigure boonop nie teenwoordig was nie. Baie vroue het moedeloos geword en later nie meer gegaan nie.41

Elmarie Neilson (DP) het gemeld dat daar te veel vergaderings gehou is sonder om iets te bereik en het gewaarsku dat daar nie net vergader moet word ter wille van vergadering hou nie (MCH 100 4.1.2.4). Sy het in hierdie geval na sinnelose vergaderings van die Bestuurskomitee verwys. Daar was ook klagtes dat dié komitee streeksverteenwoordigers na Johannesburg laat vlieg het wat dan in vyfsterhotelle in enkelkamers gehuisves is.42

5.3 Taalkwessies

“Afrikaans was uit soos koekies in ’n weeshuis.” Op die vergaderings van die WNC was die voertaal Engels. Dit het gesonde kommunikasie in die wiele gery, want baie Afrikanervroue kon nie goed Engels praat nie en het dikwels ook nie verstaan wat gesê is nie. Hulle kon wel Afrikaans gepraat het, aangesien daar tolke was om alle tale na Engels te vertaal, maar elke keer as daar in Afrikaans gepraat is, was daar ’n onderlinge “geruis” soos die swart vroue hul afkeuring van die taal te kenne gegee het.43 Afrikaans was die taal van die “onderdrukker”, die taal wat verpligtend was vir alle swart skoolkinders en immers ook die rede waarom vrouens en kinders in 1976 in Soweto in opstand gekom het. Daar was so baie negatiwiteit rondom die taal dat Afrikanervroue “bang” was om Afrikaans te praat; en omdat hulle skaam en onbeholpe was om Engels te gebruik, het hulle nie die vrymoedigheid gehad om aan besprekings deel te neem nie en het hulle nie voorstelle gemaak nie. Die uiteinde was dat hulle nie gehoor is nie.

5.4 Die houding van swart vroue teenoor Afrikanervroue

Die grootste aanpassing vir die Afrikanervroue was om met swartes te vergader. Die hele idee van die WNC was definitief nie dat een kultuurgroep moes oorheers nie. Dit is egter presies wat gebeur het: “Die oormag swart groeperinge het die rigting aangedui.”44 Dié “oormag” polities ervare swart vroue was intimiderend vir die polities onervare Afrikanervroue.

Die WNC was die inisiatief van swart vroue. Dié “grootse” gedagte om vroue te verenig ten einde ’n beter toekoms vir alle vroue te verseker was nie ’n “wit” gedagte nie. Die uitnodiging het die Afrikanervroue onkant gevang, en die vraag “Hoekom kon die gedagte nie van die wit vrou gekom het nie?” is meer as tien jaar na die gebeure peinsend herhaal.45

Voorheen was die meeste Afrikanervroue se enigste kontak met swart vroue die kontak met hul swart huiswerkers. Van die begin af was die bekende Baas-Klaas-verhouding omgedraai. Hulle is uitgenooi na “die vyand se kraal”, en hulle was “soos Retief en sy manne in Umgungundlovu” is sinsnedes waarmee wit vroue se gevoel verwoord is.46 Die Afrikanervroue moes hul ingesteldheid teenoor die swart vroue heeltemal verander en het gevolglik met ander oë na hulle gekyk. Prinsloo het gesê dat daar besef is dat die swart vroue by die WNC goed opgelei was en daarom die leiding kon geneem het.47

Die oorheersende gevoel wat gekry word, is dat die Afrikanervroue uit die staanspoor ongemaklik en ontuis was, ’n ongemaklikheid wat geïllustreer is deur ’n amper patetiese bevestiging van enige positiewe gedrag wat hulle van die swart vroue ontvang het. Loïs Geldenhuys, organiserende sekretaris van die NP Vroueaksie, het die volgende stelling gemaak: “Dit was ’n baie groot voorreg om hoegenaamd toegelaat te word om te kon deelneem.” Sy het ook vervolg dat sy altyd hartlik ontvang is, en dat sy geen vyandigheid ervaar het nie.48 Een van die algemeenste opmerkings wat teëgekom word, is: “Die swart vroue was baie gaaf met ons.” Hunter het vir Faith Gasa van die IVP en die “Indiese dames” uitgesonder as dié wat die NP baie goedgesind was.49 Die oorheersende gevoel by die vroue was: jy kan bly wees jy is toegelaat om deel te wees, dus moet jy jou so gedra. Van die begin af was die Afrikanervroue afhanklik van die goedkeuring van die swart vroue, ’n situasie wat ’n geweldige aanpassing vir die meeste moes gewees het.

Van die Afrikanervroue het die swart vroue egter as vyandig ervaar. Marie Herholdt, ’n afgevaardigde van Vroue vir Suid-Afrika, het op ’n vraag waarom vroue onbetrokke was, gesê “hulle het ’n koue skouer ervaar”. Op die vraag wat sy dink die belangrikste nalatenskap van die WNC was, het sy geantwoord: “Hulle het probeer om vroue byeen te bring, maar was soms onnodig vyandig.” Sy herhaal later: “Daar was dié van hulle wat vyandig was.”50

Herholdt se getuienis is op twee maniere insiggewend. Die eerste is haar gebruik van die woord “hulle”. Sy, asook die meeste van die respondente, verwys hier en deurgaans in die vraelys na die WNC in die derde persoon, maar as sy van haar organisasie, byvoorbeeld Vroue vir Suid-Afrika, praat, is dit “ons”. Sy plaas dus ’n afstand tussen haar en haar organisasie enersyds en die WNC andersyds. Sy het haar nooit as deel van die koalisie gesien nie. Die WNC was vir “hulle”, die swart vroue, en hierdie mening het nooit verander nie. Die WNC het nooit haar organisasie geword nie.51 Tweedens maak Herholdt melding van die vyandigheid wat hulle ervaar het. Soos die meeste van die respondente verwys sy na swart vroue wat sy beter leer ken het, maar by haar was die herinneringe aan die vyandigheid oorheersend. Sy het ook gesê dat die Afrikanervroue “baie getoets is”, maar dat hulle “deurgedruk” het en “dit was nie altyd maklik nie”. Baie vroue het veral as gevolg van die onvriendelikheid tou opgegooi, maar daar was tog vroue wat ten spyte van die negatiwiteit betrokke gebly het.

Botha het aanvanklik probleme met die “comrades”-aanspreekvorm wat tussen kamerade in die vryheidstryd gebruik is, ondervind. Sy het die swart vroue daarop gewys en gesê dat dit vir haar en baie ander vroue vreemd is en hulle ongemaklik laat voel het en gevra dat persone eerder op die naam genoem moet word. Daar is reeds gewys op haar belewenis van die PAC en die SAKP en haar ondervinding tydens Biehl se begrafnis. Sy het gevoel dat sy volkome aanvaar is en het baie positiewe ervarings gehad. Sy het vertel van die geval waar Bridgette Mabandla van die ANC na haar, die enigste wit vrou in die vergadering, oorgeloop het en haar arms om haar gesit het om haar te groet. Iemand in die vergadering het toe geskree “Amandla!” Volgens haar is “swartes uiters regverdig: as hulle sien jy kan ’n bydrae maak, dan staan hulle terug”. Sy is deur die Rural Women’s Movement vir die Nasionale Komitee benoem en deur die SAKP gesekondeer. Omdat sy nog nooit kontak met die SAKP gehad het nie, en al die voorbehoude en bevooroordeeldheid gehad het waarmee sy “gebreinspoel” was, het sy na die tyd vir die SAKP gevra waarom hulle haar gesekondeer het. Hulle het geantwoord dat daar verskeie redes was, onder andere dat sy haar oor ’n tyd bewys het, dat sy die landelike mense ken en dat hulle makliker met haar sou assosieer, want baie van hulle praat Afrikaans. Hulle sou makliker met haar kan kommunikeer as met swart geleerdes, want hulle kon mekaar nie vind nie. Botha het egter ook bygevoeg: “As jy hulle ‘drop’ gooi hulle jou uit!” Haar uiteindelike gevoel was baie positief en sy glo dat uiterste pole oorbrug is.52

Jordaan (ATKV) se ervaring was dat die swart “aktiviste”-vroue skepties was oor Afrikanervroue se bereidwilligheid tot betrokkenheid. Hulle was egter bereid om die Afrikanervroue op hulle (swart) voorwaardes te akkommodeer. Afrikanervroue het weer die voorbehoud gehad dat hulle bereid sou wees tot samewerking as dit op hulle (wit) voorwaardes kon wees.53

Daar was gereelde verwysings na die “apartheidsregime”. Al is die Afrikanervroue nooit direk beskuldig nie, het dit hulle onwelkom en ongemaklik laat voel. Hulle het dit as “stereotipering” bestempel, want hulle is almal oor dieselfde kam geskeer en “ons was nie almal so nie”. Hierdie ervaring is opgesom as dat “ons die heeltyd in ons binneste ‘bedreigd’ gevoel het as die ‘groot skurke’ in die Suid-Afrikaanse verhaal”. Buite die vergadersale van die WNC het die Afrikanervroue nie gehuiwer om “manhaftig” vir mekaar te vertel dat “ons niks het om oor skuldig te voel nie”.54

Dit wil dus voorkom asof daar op die oog af aanvaarding was van die swart vroue se kant, maar dat daar gereeld verwysings na die vorige “regime” gemaak is. Die Afrikanervroue wat die vorige regering as wettig aanvaar het, het hierdie opmerkings as sydelingse steke ervaar wat daartoe bygedra het om hulle ontuis te laat voel.

Geldenhuys (NP) se ervaring was hoofsaaklik positief, maar ook sy praat van ’n terughoudendheid onder ons “nuwe susters”. Sy het gevoel dat hulle as vroue uit die vorige bedeling dopgehou is en dat daar gewag is dat hulle van hulle kant moet uitreik. Sy het egter besef dat dit ’n proses was waar hulle mekaar eers moes vind en leer ken om ’n pad saam te kon loop.55

5.5 Hantering van Christelike sienswyses

In die meeste Afrikanervroue-organisasies was een van hul doelstellings die erkenning van hul Christelike geloof en is vergaderings feitlik altyd met skriflesing en gebed geopen. By die WNC se vergaderings is “Christelike sienswyses nie noodwendig negeer nie, maar vermy”. Die Sondagmiddagvergaderings was eerstens ’n probleem. Al het die stedelike Afrikaner nie altyd meer die heiligheid van die Sabbat onderhou nie, is dit nie ’n dag om politieke vergaderings by te woon nie. Tweedens het die feit dat die vergaderings nie met skriflesing en gebed geopen is nie, ongelukkigheid veroorsaak. Dit het egter verskil van plek tot plek en dit wil voorkom asof die persone wat die vergaderings gelei het, die presedent geskep het. ’n Tussentydse Werkskomiteevergadering waar Msane ’n leidende rol gespeel het, is wel met ’n gebed geopen (MCH100 3.1.1). Msane het met ’n sterk kerkagtergrond gekom en was onder andere betrokke by opleiding by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke.

Jordaan (ATKV) het egter die bul by die horings gepak. Tydens ’n nasionale konferensie is daar weer eens nie met skriflesing geopen nie. Tydens dieselfde konferensie is daar ’n verslag gelewer wat aangedui het dat ongeveer 67 persent van alle vroue in Suid-Afrika hulself as Christene beskou. Sy het toe die geleentheid gebruik en gesê dat as dit die geval is, behoort die meerderheid van die vroue in die vergadering Christene te wees en behoort die WNC se byeenkomste op die “regte manier” geopen te word. Die opmerking het by baie van die swart vroue in die vergadering byval gevind en hulle het dit openlik met applous aangedui. Daarna is die WNC-projekte met minstens ’n gebed geopen of afgesluit.56

5.6 Vergaderingstyl en -prosedure57  

Vergaderingprosedure het van die begin af probleme veroorsaak, wat nie vreemd is nie, gegewe dat die vroue nie net uit verskillende sosio-ekonomiese en opvoedkundige agtergronde gekom het nie, maar ook uit radikaal verskillende politieke skole. Tydens die stigtingsnaweek het dit drie ure geneem om prosedure uit te klaar.

Vir die wit vroue was die vergaderingstyl en -prosedure van die WNC heeltemal anders as waaraan hulle gewoond was. Omdat die wit vroue min of geen blootstelling gehad het om saam met die swart vroue te vergader nie, het dit tot heelwat aanpassingsprobleme gelei en is die groot byeenkomste en werksaamhede deur een opgesom as “soms ’n belewenis van chaos en onordelikheid”.

Dit is belangrik om te onthou dat die Afrikanervroue wat hul organisasies op die WNC verteenwoordig het, “vergadering-vroue” was. Die meeste van hulle het nie net al jare lank aan hul betrokke organisasie behoort nie, maar was ook by een of meer kerk- en skoolraad asook ’n uiteenlopende aantal welsynsorganisasies, kultuurorganisasies en sportliggame, diens-en jeugorganisasies, en landbou- en sosiale verenigings betrokke. Boonop was hulle die presidente of voorsitters van die onderskeie organisasies wat hulle by die WNC verteenwoordig het. Hulle was gewoond daaraan dat ’n sekere protokol gehandhaaf word en dat organisasies die regte van die lid (die individu) verseker, naamlik die reg op deelname aan besprekings en besluitneming. Dit verseker dat die minderheid ’n standpunt kan stel en dat die wil van die meerderheid uitgevoer word. Hiermee saam het onderliggende, meestal ongeskrewe, gedragsreëls gegeld wat op alle lede van toepassing was. Dit was gebaseer op die ordereëls van die Volksraad (Atkinson 1981:17–8). Voorbeelde hiervan is dat tydens ’n vergadering geen persoon die reg het om iets te doen wat die ander sal verhinder om die spreker te sien of te hoor nie. Sydelingse opmerkings mag nie gemaak word terwyl iemand anders aan die woord is nie. Soos reeds aangedui, is baie van die Afrikanervroue se funksionering juis in die wiele gery deur die swart vroue se “afkeurende” gedrag.

Die meeste Afrikanervroue was onbekend met die benaminge van ampsdraers wat in die WNC gebruik is. Woorde soos convenor, co-convenor en secretary-general (sameroeper, medesameroeper en sekretarisgeneraal) was nie net totaal vreemd nie, maar die vroue het ook nie heeltemal geweet wat die ampte behels nie. Min het besef dat die “secretary-general” eintlik meer die openbare “spokesperson” (segspersoon) was en dat die “convenor” die president, of leier, was. Meer as een persoon het opgemerk dat die benaminge van die ampsdraers hulle ongemaklik laat voel het, want dit was so “kommunisties”. Selfs die Engelssprekende vroue het gevoel dat die tradisionele benaminge “chairman” en “secretary” gebruik kon word.

Die verkiesingsproses het die Afrikanervroue heeltemal onkant betrap. As nuwe ampsdraers of lede vir komitees verkies moes word, het die swart vroue gekyk na die getal verteenwoordigers, met ander woorde hulle wou soveel verteenwoordiging van die breë spektrum as moontlik hê. Hul benadering tot steunwerwing was baie meer deursigtig as waaraan die Afrikanervroue gewoond was. Die werwing vir, en deur, kandidate het baie openlik geskied, teenoor die benadering van die Afrikanervroue, wat aan ’n meer klandestiene en vertroulike styl gewoond was. Die swart vroue het die koukusstelsel gebruik. Voordat hulle kandidate genomineer het, het hulle daarop aangedring om te verdaag en dan gekoukus sodat hulle kon besluit vir wie hulle sou voorstel en het dan ’n blokstem uitgebring om te verseker dat hulle kandidate verkies word. Die Afrikanervroue-organisasies en -groepe het almal hul eie kandidate genomineer, gefokus op individue, sogenaamde “leiersfigure”, en net vir hulle gestem. Volgens Botha (Kaapse Vroueklub) is daar met die verkiesing van Nutt (Kontak) tot die Bestuurskomitee “met groot moeite stemme verenig” om ’n Afrikaner op die komitee te kry.58 Gesien in die lig daarvan dat Kontak ’n paar jaar tevore nog deur die NP verdag gemaak is, was dit op sigself ’n prestasie dat Afrikanervroue op daardie stadium tog kon saamwerk (Norval 1996:203–4).

Afrikanervroue het hul eie klein magsbasisse gehad wat hulle ondersteun het en het in die proses hulself benadeel. Omdat hulle nie die koukusstelsel gebruik het nie, en dus nie die Afrikanerstem verenig het nie, het dit meegebring dat daar baie min Afrikanervroue tot komitees verkies is. Volgens Jordaan (ATKV) het sommige Afrikanervroue dit besef en ’n beroep op samewerking gedoen, en alhoewel daar baie daaroor gepraat is, het elke organisasie nog steeds sy eie agenda gevolg om sy stempel as organisasie af te druk.59

Die verkiesingproses is deur een vrou as blatant “onregverdig” bestempel. Sy het gesê dat Afrikanervroue nie op die kantlyn wou staan nie en dus baie graag tot komitees verkies wou word. Hulle het besef dat hulle betrokke moes wees, maar dat die verkiesingsprosedures hulle daarvan weerhou het.60 Wat natuurlik hiertoe bygedra het, is die feit, wat reeds bespreek is, dat die Afrikanervroue sleg verteenwoordig was omdat hulle geglo het hulle sal deur die netwerk verteenwoordig word.

In gevalle waar daar ’n beslissing oor ’n mosie geneem moes word, het die WNC die proses van konsensus of eenparige aanvaarding gevolg. Dit het beteken dat om ’n nuwe mosie aanvaar te kry daar bespreking, herbewoording, herbespreking, ensovoorts was totdat niemand teen die aanvaarding van die mosie gekant was nie. Die nadeel van ’n stelsel van konsensus was dat oor kontroversiële kwessies soos aborsie nooit ’n besluit geneem kon word nie. Al oplossing hiervoor was dat die mosie so bewoord moes word dat alle partye geakkommodeer word. In die geval van aborsie kon organisasies hul eie standpunt formuleer (Rademeyer 1994:16). Hierdie proses was heeltemal vreemd vir Afrikanervroue. Hulle was gewoond daaraan dat vir die aanvaarding of verwerping van ’n mosie die twee teenpole teenoor mekaar gestel is en daar met stemming besluit is. Die meerderheidstem was dan beslissend.

Konsensusbesluitneming was ’n groot paradigmaskuif waarmee die Afrikanervroue gesukkel het. Dit het ook baie tyd in beslag geneem, want heelwat meer tyd moes vir bespreking toegelaat word. Dit het die kwessie van “Afrika-tyd” nog net meer beklemtoon. Die algemene gevoel was dat die werkwyse, veral die manier van stemming, opsetlik was om die Afrikanervroue uit die komitees te hou.

Tydens die vergaderings het die swart vroue nie geskroom om hul voor- of afkeure te demonstreer nie. Soos die een vrou dit gestel het, daar was “’n geforseerde gejubel uit sekere blokke” as daar goedkeuring vir sekere voorstelle was en die reeds genoemde gesis as daar afkeuring was.61 Vir die Afrikanervroue – en dit sluit die “liberale” Afrikaner in – was die fisiese aanduiding van protes of goedkeuring tydens ’n vergadering onaanvaarbaar. Afrikanervroue het hulle stemmig op vergaderings gedra. Roberts (1992) het nie verniet na hulle as “reticent tannies” verwys nie.

Afrikanervroue het ook gevoel dat hulle dikwels opsetlik tydens vergaderings geïgnoreer is, byvoorbeeld as hulle ’n hand opgesteek het om ’n bydrae te lewer of om iemand voor te stel. Hierdie gebrek aan erkenning het baie negatiewe gevoelens veroorsaak, wat dan noodwendig politieke konnotasies gekry het. Al hierdie gebeure het baie negatief op die Afrikanervroue se selfbeeld ingewerk. Die gevolg hiervan was dat Afrikanervroue nie gehoor is nie, want hulle het nie meer ’n stem gehad nie en moes daaraan gewoond raak om ’n ondergeskikte rol te speel.62

Met al hierdie verskille en probleme het dit baie “bearbeiding” gekos om Afrikanervroue aan te moedig om betrokke te bly. Jordaan vertel dat dit ’n taak was wat deur haar en Nutt verrig is. Toe NP Vroueaksie betrokke geraak het en pro-WNC gepraat het, het sake blykbaar verbeter.63

’n Vraag wat onbeantwoord bly, is hoekom die sameroeper van die vergaderings wat die rol van voorsitter vertolk het, nie die regte van die individue en groepe beskerm het nie. As die meeste Afrikanervroue die vergaderings so negatief beleef het, moes dit tog sigbaar gewees het. Die sameroeper moes tog van die begin af besef het dat daar botsings kan wees en behoort te gesorg het dat alle groepe ingetrek word en ononderbroke spreekbeurte kry. Was die sameroeper onbewus van die feit dat baie groepe, in hierdie geval die Afrikanervroue, polities onervare was? Die suksesvolle funksionering van die koalisie het immers berus op die diversiteit en nie op oorheersing nie. Die opvallende bevoorregting van sekere groepe plaas onwillekeurig ’n vraagteken oor die werklike doel van die WNC.

Dit was vir die Afrikanervrou ’n skok om te besef dat sy nie meer die hoofrol speel nie, maar dat die swart vrou as leier optree en dus haar rol oorgeneem het. Die Afrikanerleierskorps wat gewoond daaraan was om as belangrike “eregaste” met aansien behandel te word, was by die WNC net een van die groep. Afrikanerleiers het “in hulle dop gekruip” en het in ’n mate aan ’n “minderwaardigheidsgevoel” gely. Hierdie gevoel het indirek die status van die leiers aangetas, wat tot ’n insinking in die leierskap gelei het. Hulle het teruggetrek, plaasvervangers gestuur en uiteindelik as organisasie heeltemal onttrek.64 Een van die vroue het die ondergang van die Afrikanervroueleiers baie dramaties as ’n “afwaartse magspiraal” beskryf.65

6. Faktore wat Afrikanervroue se graad van betrokkenheid beïnvloed het

Afrikanervroue-organisasies was nie met oorgawe by die WNC betrokke nie. Die voorafgaande afdeling het aangedui hoe die vreemdheid wat Afrikanervroue by die WNC ervaar het, hulle beïnvloed het. Die belangrikste gevolge was dat baie onttrek het en uiteindelik weggebly het.

Daar was egter ook ander faktore wat daartoe gelei dat baie min vroue eerstens betrokke geraak het en tweedens betrokke gebly het. Navorsing in hierdie verband het aangedui dat die Afrikanervrou grootliks nie polities bewus was nie. Die vinnige spoed waarteen landsveranderinge na 1991 plaasgevind het, het die Afrikaner in ’n identiteitskrisis gelaat. Daar is ook aangedui dat die krag van Afrikanerorganisasies wat aan die WNC behoort het, in kultuurorganisasies gelê het, wat nie veel voorbereiding vir ’n politieke koalisie soos die WNC was nie (Maritz 2004, hoofstuk 1).

Alhoewel die WNC veronderstel was om nie party-polities te wees nie, het die feit dat hulle vir vroueregte geveg het, dit ’n politieke organisasie gemaak. Dit was dan juis die politieke aard van die WNC wat baie Afrikanervroue weggehou het. Vir die Afrikanervroue wat wel betrokke was, het hul gebrek aan politieke bewustheid ’n groot probleem geskep, want in teenstelling met die politieke bewustheid van die swart vroue, wat in die meerderheid was, was die Afrikanervrou onseker en ongemaklik in die politieke arena.

Terwyl die vroue by die WNC hard gewerk het om die organisasie van die grond te kry, het die gebeure by Kodesa I, die wantroue tussen Nelson Mandela en F.W. de Klerk, die aanloop na die referendum en die ineenstorting van Kodesa II, vir baie spanning en onsekerheid gesorg. Swart en wit vroue was bewus van die woelinge en onderstrominge in die land. Dit is daagliks nie net deur die media gerapporteer nie, maar ook in miljoene huise bespreek. Waar die wit regering nog probeer het om met die grondwetlike onderhandelings die septer te swaai, was die situasie by die WNC heeltemal omgeruil. Die swart vroue het met politieke swaargewigte soos Ginwala en Shope die toonaangewende rol gespeel, en die polities onkundige Afrikanervroue was op die agtergrond. Ginwala was ook deel van Werkgroep 2 van Kodesa, die “plofpunt”, want dit het die grondwetlike beginsels hanteer en ook uiteindelik tot die ineenstorting van die onderhandelinge gelei.

Na die mislukking van Kodesa II het drie maande van spanning gevolg. Hierdie spanning en onsekerheid het ook na die WNC oorgespoel. Teen die einde van 1992 het die WNC nog nie van die grond gekom nie. Alhoewel die leierskap end-uit volgehou het dat landspolitiek nie ’n rol in die WNC gespeel het nie, was die teendeel eerder waar. Nutt het genoem dat met die Kodesa- ineenstorting die “WNC onder geweldige druk was, maar dat daar nooit ’n breuk was nie”. Volgens haar kon dit toegeskryf word aan “die verantwoordelikheid waarmee die ANC-alliansie, die NP, DP en ander die strydpunte hanteer het”.66 In die sameroeper se verslag word die gesloer toegeskryf aan byvoorbeeld tegniese aspekte, soos finansies en personeelprobleme. Daar word egter ook melding gemaak dat die “process of building relationships, given the various backgrounds from which we came, has also taken time” en “there have been frustrations on many sides ranging from the need to work across vast differences”. Die geweld wat in die land toegeneem het, en talle gemeenskappe geraak het, is as ’n rede aangevoer vir die sloer van verrigtinge (MCH 100 3.2.1; MCH 100 3.1.2). Daar is dus “amptelik” verskeie redes aangevoer, maar die realiteit was veel anders. Dit is net logies dat as die onderhandelinge nie hervat word nie, die WNC net sowel kon ontbind.

Op 5 April 1993 is die veelparty-onderhandelinge hervat. Die IVP, KP, Afrikaner-Volksunie, PAC en drie afvaardigings wat tradisionele leiers verteenwoordig het, het die onderhandelinge bygewoon. Op die Oos-Rand het ’n hernude vlaag van geweld losgebars. Intussen het regse Afrikanergroepe, gelei deur Constand Viljoen en Ferdie Hartzenberg, as die Afrikaner Vryheidsunie gemobiliseer. Op 25 Junie het die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) by die World Trade Centre in Johannesburg  saamgetrek, met ’n voertuig deur die groot glasvensters gebars en vir die volgende paar uur die gebou oorgeneem, terwyl hulle chaos en verwoesting gesaai het. Hierdie optrede kon egter nie die onderhandelingsproses keer nie en aan die begin van Julie 1993 is die datum vir die eerste volle demokratiese verkiesing, wat op 27 April 1994 sou plaasvind, aangekondig. (Hierdie ontwikkelinge word in Rantete 1998:205–8 beskryf.)

Met die onderhandelinge op dreef moes die WNC probeer om verlore tyd te herwin ten einde die navorsing af te handel sodat die Vrouehandves opgestel kon word.

Al word daar in hierdie artikel die klem geplaas op die Afrikanervrou se ervaring in die WNC self, het die onstuimige landsgebeure definitief hul betrokkenheid beïnvloed. Die onsekerheid het vroue vermoedelik negatief gestem en veroorsaak dat hulle onttrek het.

Daar is egter ook ander faktore wat ’n rol gespeel het; hulle word hier onder bespreek.

6.1 Teenkanting van die Nasionale Party, die pers, die kerk en die huis

Botha (Kaapse Vroueklub) het gesê dat dit veral in die beginjare, 1991 tot 1992, baie moeilik was om vroue van verskillende groeperinge, maar veral die Afrikanervroue, betrokke te kry. Botha blameer eerstens die NP, en beweer dat daar verskeie pogings was om die WNC te diskrediteer. Tweedens blameer sy die Afrikaanse pers, wat die WNC doodgeswyg het.67 Botha het nie konkrete bewyse verskaf nie, maar as hoof van die media-afdeling van die WNC het sy eerstehandse ondervinding van die pers se selektiewe beriggewing gehad.

Die onwilligheid van die Afrikaanse pers om dekking aan die WNC te verskaf is vroeër in hierdie artikel aangedui. Die rede waarom die koerante nie meer ruimte aan vrouesake en die WNC afgestaan het nie, kan wees dat dit nie as besonder nuuswaardig beskou is nie. Daar is geen bewys dat dit kan wees as gevolg van politieke beleid nie, en daar is ook nie bewyse dat beriggewing in die Engelse pers meer was nie.68 Landsake kon nie plek maak vir vrouesake nie, want laasgenoemde was nie nuuswaardig genoeg nie, veral nie in die polities opwindende tye van die vroeë 1990’s nie. Dit bly egter steeds onaanvaarbaar dat ’n historiese geleentheid soos die stigting van die WNC nie die voorblaaie van koerante gehaal het nie.

Die NP se posisie teenoor die WNC is moeilik om te verklaar en kan amper as ’n haat-liefde-verhouding beskryf word. Die party was feitlik vanaf die begin lid van die WNC, maar ’n paar maande na die amptelike stigting het die NP op ’n televisieprogram die werksaamhede van die WNC bevraagteken en daarop gewys dat daar alreeds instrumente bestaan het om na vroueregte om te sien (MCH 100 4.1.3.1.2).

Saam met die politieke ongemaklikheid van die Afrikanervroue het die gevoel geheers dat die WNC ’n politieke “foefie” was, soos reeds op gewys is. Die bedoeling met hierdie opmerking was om aan te dui dat die WNC ’n frontbeweging vir die ANC was om die vrouestem te kry. Feitlik al die respondente het hierdie opmerking op een of ander wyse verwoord.

NP Vroueaksie het ook van die NP-leiers teenkanting ten opsigte van vroueregte ervaar. Hunter is deur die WNC as die NP-afgevaardigde gekies om by die grondwetlike onderhandelings te gaan pleit om ’n vroueverteenwoordiger op die onderhandelingskomitee te kry. Toe dit haar spreekbeurt was, het sy ’n dringende pleidooi vir vroueverteenwoordiging gelewer. Die NP-leiers, veral Roelf Meyer en Leon Wessels, was baie ontevrede met haar optrede en wou weet wie haar die reg gegee het om so ’n voorstel te maak. Hulle het gesê dat die NP-vroue nie verteenwoordig was nie, omdat daar nie genoeg stoele in die saal vir die vroue sou wees nie - die mans sou kwansuis namens hulle praat. Sy het by dieselfde geleentheid baie respek vir Cyril Ramaphosa gekry as gevolg van sy positiewe houding teenoor vroue. Hul pleidooi was nogtans suksesvol, aangesien Tersia King, Lid van die Provinsiale Raad, gekies is om in die grondwetlike komitee te dien.69 Dit is eintlik baie ironies dat Hunter ’n swart ANC-man, Ramaphosa, meer genaakbaar gevind het ten opsigte van vroueregte as die wit mans van haar eie party.

Individue in die NP het natuurlik ook ’n rol gespeel in die apatie teenoor die WNC. Geldenhuys, die organiserende sekretaris van die Federale Vroueaksie van die NP, het ook genoem dat dit nie altyd maklik was om die NP Vroueaksie oral betrokke te kry nie, aangesien hulle beïnvloed is deur die meer konserwatiewe provinsiale leiers wat nie met die WNC geneë was nie.70

Die Afrikaanse kerke wou, soos reeds genoem, nie by die WNC betrokke raak nie. Volgens Botha (Kaapse Vroueklub) het die NG Kerk se Vroueaksie geen geringe bydrae gelewer om die WNC in ’n ongunstige lig te stel nie. Sy het dit persoonlik ondervind dat daar druk op haar was van die kant van die NG Kerk dat sy moes onttrek.71

’n Belangrike rede waarom daar so min Afrikanervroue by die WNC was, was die teenkanting wat hulle tuis en van die kant van familielede ervaar het. Die Afrikanervrou en politieke partye was in die negentigerjare nie sinoniem nie, veral nie as sy alleen na vergaderings gegaan het nie, die vergaderings op ongerieflike tye en gevaarlike plekke was, en daar ook swartes daar sou wees. Jordaan het vertel van so ’n geleentheid waar sy probleme tuis ondervind het. Sy en nog twee ATKV-vroue het aan ’n protesmars met die tema “Women reclaim the night” in Hillbrow deelgeneem waarmee hulle solidariteit teen geweld teen vroue getoon het. Toe haar vader daarvan gehoor het, was hy ontstoke en het gedreig om haar te “onterf”. Ook die vriend met wie sy op daardie stadium uitgegaan het, was baie ontsteld daaroor dat sy “soos die swartes wil maak”.72 Sulke gedrag word dikwels dalk grappenderwys afgemaak, maar was ’n realiteit vir baie Afrikanervroue – daar was mans wat hulle vrouens verbied het om aan openbare optogte deel te neem. Hulle sou ook hulle voet neergesit het en geweier het dat hulle vrouens die vergaderings van die WNC bywoon. Die meeste vrouens sou ook na hulle mans geluister het.73 Wat natuurlik ook hiermee saamgehang het, was dat baie vroue manlike beheer as verskoning kon aanwend vir iets wat hulle nie regtig aangestaan het nie. Jordaan het terloops ook gemeld dat sy tydens die optog waarna hier bo verwys is, gepoog het om nog Afrikanervroue te betrek, maar dat niemand daarvoor kans gesien het nie – “dit was hopeloos te liberaal en waaghalsig”.74

’n Faktor wat deelname beïnvloed het, was finansies. Organisasies het nie altyd die geld gehad om verteenwoordigers se onkoste te betaal nie en die besluit moes dan geneem word om dit uit eie sak te betaal of weg te bly. Prinsloo het byvoorbeeld genoem dat sy al die uitgawes wat as gevolg van vergaderings en navorsing aangegaan is, self moes dra.75 Slegs die konferensies is deur die WNC betaal. Malan het ook daarna verwys dat Vroue vir Suid-Afrika se fondse vir vervoer mettertyd opgedroog het.76

6.2 Die aard en omvang van leierskap onder Afrikanervroue

Daar was betreklik min Afrikanervroueleiers, omdat dit altyd dieselfde vroue was wat leiding in die topstruktuur van die Afrikanervroue-organisasies geneem het (Maritz 2004:153). Hierdie “susters”-bond het daartoe gelei dat daar ’n klein groepie Afrikanervroueleiers by die WNC uitgekom het. Toe van hierdie vroue kop uitgetrek het as gevolg van die faktore wat hier bespreek is, was dit nog ’n groter slag, en het daar weinig oorgebly.

Volgens Geldenhuys (NP) was hierdie leiers reeds besig met opheffingswerk. Sy het dit soos volg gestel: “Dié vroue wat betrokke was by die WNC, was ook besig met ander uitreikaksies namens hul onderskeie organisasies en instansies. Soos dit maar met sulke dinge gaan, was só ’n verteenwoordiger juis dié persoon wat in haar eie organisasie die leiding moes neem.” Sy het beklemtoon dat Afrikanervroue, gewone vroue, alreeds dekades lank in hul eie gemeenskappe “wonderlike werk” gedoen het, “elke dag, sonder ophef, met groot toewyding en opregtheid”.77

Die Afrikanervrou was nog altyd gemaklik met welsynswerk wat sy teenoor diegene wat haar “mindere” was, verrig het. Du Toit (1960:357–8) het aangedui dat die Afrikanervrou tot 1939 redelik selektief was in die toepassing van welsyn, en dat dit hoofsaaklik vir kerk- en volksgenote was. Hierdie welsynswerk het ingeskakel by die Bybelse opdrag van goed doen teenoor jou naaste. Net soos die Afrikanerkerke kon die Afrikanervrou nog altyd haar Christelike gewete van haar politieke gewete skei. Sy het dus opgetree soos van haar verwag word, polities en kerklik. Welsynswerk het nie haar private en politieke gemaksone aangetas nie – dit het nie haar ruimte binnegedring nie.

Geldenhuys (NP) was van mening dat as dit nie vir hierdie opheffings- en welsynswerk was nie, daar nie ondanks al die verskille soveel harmonie onder vroue sou gewees het nie.78 Wat Geldenhuys egter nagelaat het om te sê, is dat welsynswerk nie welwillendheid by alle swartes gekoop het nie. Baie het op politieke mag aangedring waarmee hulle self verder sou beding. Die WNC was nie maar net nog ’n welsynsorganisasie nie en Afrikanervroue moes met ’n nuwe visie en missie na vore gekom het. Smuts (DP) erken ook die “krag” van vroue wat rassegrense kan oorbrug,79 maar sonder opheffing- en welsynswerk as die versuikerde pil.

’n Ander faktor, wat ook al hier bo bespreek is, was die feit dat die meeste Afrikanervroue-organisasies by een of meer netwerkorganisasie geaffilieer was, soos byvoorbeeld Vroue vir Suid-Afrika en die Vroueburo. Soos reeds verduidelik is, het daar definitief misverstande by vroueleiers oor verteenwoordiging by die WNC bestaan. Organisasies het gedink dat die netwerk hulle as groep verteenwoordig en het nooit die belangrikheid van afsonderlike organisasie-verteenwoordiging besef nie.

6.3 Beperkte visie en organisatoriese problematiek

Min Afrikanervroue is bereik, omdat organisasies in die meeste gevalle slegs op hoofbestuursvlak betrokke geraak het en die gewone lede op grondvlak nooit oor die WNC ingelig is nie. Jordaan het erken, en haarself in ’n groot mate vir haar eie onkundigheid blameer, dat sy nie versiende genoeg was om meer moeite te doen om die proses tot op grondvlak deur te voer en te dryf en te bestuur nie. Sy het dus erken dat die gewone ATKV-Dames-lid weinig kennis van die WNC gehad het. Terugskouend besef sy dat die Afrikanervroue nie die geleentheid moes laat verbyglip het om werklik ’n impak te maak nie. Dit sou, soos Jordaan sê, meer moeite en tyd geverg het.80

Die outonomiteit van streekskoalisies en organisasies is deur die WNC gewaarborg. Dit was nodig in ’n veldtog met die aard van die WNC, wat aanvanklik gestig was met die mandaat om ’n Vrouehandves op te stel. Dit sou ook onmoontlik gewees het om aan so ’n diverse groep voorskriftelik te probeer wees en baie voornemende deelnemers sou afgeskrik word. Daar was dus geen kontrole oor wat verteenwoordigers met inligting gemaak het nie (Maritz 2004:109). Wat in baie gevalle gebeur het, is dat hoofkantoor inligting oorgedra het na streekvlak en die boodskap dikwels op voorsittersvlak vasgehaak het en dat dit blote kennisname geword het. Die nasionale kantoor van die WNC het baie min gesag gehad om te bepaal wat die streke en verskillende organisasies met die inligting doen. Hulle kon slegs aksies voorstel, maar dit nie afdwing nie (MCH 100 1.3).

Dikwels het die leiers, wat al hierdie inligting slegs met die hoofbestuur gedeel het, dan as gevolg van reeds genoemde redes net een of twee vergaderings bygewoon. Die gevolg is dat uiteindelik bitter min Afrikanervroue bereik is. Dit was baie opvallend dat toe daar tydens die navorsing aan gewone lede van organisasies gevra is wat hulle opinie van die WNC was, hulle onbewus van die bestaan daarvan was. Dit was ook die rede waarom ’n paar vroue my ontmoedig het om notules na te spoor, aangesien notules hoofsaaklik terugrapportering sou aandui en feitlik nooit bespreking nie.81 Dit het baie afgehang van die individu wat die organisasie verteenwoordig het. Indien die boodskap van die WNC wel oorgedra is, het die wyse waarop dit na die lede van die organisasies uitgedra is, verskil. Die gevolg was dat al was organisasies op papier lid van die WNC, die gewone lid dalk nooit daarvan gehoor het nie; sy is nie geraadpleeg nie en het nie geweet van ’n Vrouehandves wat opgestel word nie.

Dit is inderdaad ’n groot leemte dat die WNC nie daarop aangedring het dat verteenwoordigers aan hul onderskeie organisasies moes terugrapporteer nie. Die gebrek aan terugrapportering het die beweerde reikwydte van die WNC ongeldig gemaak. Die getal vroue wat die WNC beweer hulle verteenwoordig, was die totale ledetal van die organisasies, maar in werklikheid is net ’n paar op hoofbestuursvlak bereik. Wat met Afrikanervroue-organisasies gebeur het, het vermoedelik ook met baie van die ander gebeur.

6.4 Verskille tussen Afrikaner- en swart vroue

Volgens Marietjie Greeff (ATKV) kon die kultuurverskille tussen wit en swart vroue nie werklik oorbrug word nie. Swart byeenkomste is geassosieer met optogte waar daar getoi-toi is en winkelvensters gebreek is, met feitlik altyd ’n polisieteenwoordigheid om wet en orde te bewaar. Hierdie assosiasie het Afrikanervroue bang gemaak om daarvan deel te word. In ’n mate is hierdie gedrag in die WNC weerspieël in die manier waarop swart vroue in die openbaar opgetree het. Hulle was luidrugtig en opruiend en vir die beheerste Afrikanervroue vir wie dit baie belangrik was dat “jy jou moet gedra”, onaanvaarbaar. Greeff erken dat daar onder die swart vroue ’n klein groepie was wat goed opgelei was en hulle “uiterste beste voet” voorgesit het. Hulle was die vroue wat uiteindelik die regeringsposte gekry het. Sy het die res as “baie onkundig” ervaar wat groot foute gemaak het en wat die beeld van die WNC baie skade berokken het.82

Vir ’n DP-lid was die WNC ’n ontnugtering. Sy het ook van die uitbundigheid van die swart vroue melding gemaak en vertel dat die swart vroue tydens ’n filmvertoning wat as fondsinsameling vir die WNC moes dien, hulself nie in die teater gedra het nie. Hulle raserigheid het nie net die filmvertoning in die wiele gery nie, maar ook ’n hele aantal skenkers afgeskrik.

Alhoewel dieselfde persoon in dieselfde asem gesê het dat klere nie die man maak nie, het die swart vroue se onvanpaste kleredrag haar baie gehinder. By ’n baie amptelike onthaal soos die inhuldiging van die nuwe burgemeester van Kaapstad het hulle byvoorbeeld in helder pienk “Tej”-hempies83 opgedaag.

Sy het ook vertel dat swart vroue glo dat as jy meer het as ander, moet jy dit met hulle deel. So was daar per geleentheid ’n WNC-byeenkoms in Tableview, Kaapstad. Die swart vroue is per bus daar afgelaai. Na die verrigtinge het hulle van ’n wit DP-lid wat daar naby gewoon het, verwag om die honger vroue te voed. Die uitgangspunt was dat sy dit kon bekostig omdat sy in daardie area bly. Sy moes uiteindelik houers vol braaihoender koop, wat haar ’n aardige bedrag uit die sak gejaag het.84 Hierdie persoon, wat ’n Afrikaanssprekende joernalis was, het gevoel dat die verskille tussen haar en die swart vroue so groot was dat sy nie met hulle wou assosieer nie, en sy het uiteindelik nie weer die WNC-vergaderings bygewoon nie.

Hierdie belewenisse kan vertolk word as engheid aan die kant van Afrikanervroue en dat hulle moeilik vir verandering vatbaar was. Wat dalk nader aan die waarheid is, is dat dit ’n kombinasie van faktore was wat ’n vrou laat besluit het om haar nie meer met ’n sekere groep te vereenselwig nie.

Neilson (DP), voorsitter van die Wes-Kaapse Streekskoalisie, sê dat die swak verteenwoordiging van die Afrikanervrouens eerstens as gevolg van rassisme was en tweedens dat baie Afrikanervroue nog nie ten volle besef het dat die NP binnekort sy mag sou verloor nie.85 Hierdie laaste stelling is deur ’n hele paar mense uitgespreek – asof die Afrikanervroue nie die implikasies van die onderhandelings in Kemptonpark besef het nie.

Daar is egter ander wat nie heeltemal met daardie stelling saamstem nie. Elsje Büchner (Jong Dames Dinamiek)86 het gemeen dat Afrikanervroue oor die algemeen polities apaties, swakker ingelig en heeltemal onkundig was oor wat in die swart woonbuurte aangegaan het. Maar sy het ook gesien dat as die eerste “versperring” eers oorbrug is, die ys gebreek was en die vroue besef het dat hul bekommernisse en ervarings dikwels eenders was. Büchner het eers na 1994 as presidente van Jong Dames Dinamiek persoonlik by die WNC betrokke geraak. Dit kan wees dat wit en swart interaksie in daardie stadium al meer gemaklik was.87

Om die eerste versperring oor te steek, moes die Afrikanervroue ’n emosionele sprong maak. Hulle moes ’n daadwerklike besluit neem om met swart vroue saam te werk. Dit was vir sommige baie moeilik en dit was nooit gemaklik vir hulle om met swart vroue om dieselfde tafel te sit nie. Soos aangedui is, is hul vooropgesette idees dikwels versterk deur die gedrag van die swart vroue wat vir hulle vreemd en meestal onaanvaarbaar gebly het. Baie het, ten spyte van ’n poging tot samewerking, die WNC verlaat. Die “verligte vrou” het gebly.88

Botha se verklaring vir die onbetrokkenheid van die Afrikanervrou is dat die stap na ’n demokrasie polities, maar nog nie in die harte van die mense gemaak is nie. Die tyd was daar vir ’n verandering na demokrasie, maar die mense was nie reg nie – daar was vreeslik baie wantroue. Sy self het dit ervaar dat mense vir haar gevra het of sy deur die ANC betaal word omdat sy by die WNC betrokke was.89

’n Feit wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat persoonlikheid ook ’n baie belangrike rol gespeel het. Soos Prekel dit gestel het: “Dit is ’n kwessie van mens se styl; óf jy laat jou irriteer óf jy soek daardie eienskappe waarmee jy kan saamwerk.” Sy het ook beklemtoon dat ’n “oop gemoed” nodig was om vooropgestelde persepsies af te breek.90

7. Die WNC as positiewe ervaring

Geldenhuys (NP) het die WNC net as positief ervaar en noem dit een van die hoogtepunte van haar lewe. Dit was “’n ongelooflike leerervaring en ’n tyd van innerlike verryking […]. Dit was ’n baie groot voorreg om hoegenaamd toegelaat te word om te kon deelneem. Ek is te alle tye met ope arms ontvang en kon hartlik saamwerk met vroue van die WNC en ander organisasies.”91

Nie al die Afrikanervroue was so oorweldigend positief soos Geldenhuys nie, maar die meeste kon positiewe elemente uitlig. Vir baie vroue was die tydperk wat hulle by die WNC betrokke was, ’n uitsonderlike tyd in hul lewens. Dit was egter nie almal wat gedink het dat die koalisie soveel waarde gehad het nie. ’n Voorbeeld is Malan (Vroue vir Suid-Afrika), wat dit hoofsaaklik as ’n politieke set gesien het.

In die volgende afdeling gaan daar onderskei word tussen die waarde van die WNC-ervaring vir die Afrikanervrou as individu en haar organisasie en die waarde van die WNC as organisasie soos gesien deur die Afrikanervrou. Dit is opvallend dat sommige vroue net die persoonlike waarde van die WNC genoem het, terwyl andere dit in ’n breër verband plaas. Botha (Kaapse Vroueklub) het byvoorbeeld in vier onderhoude nooit slegs na die Afrikanervrou se belewenis verwys nie, maar die groter prentjie gesien. Ook Prekel het nooit melding gemaak van wat die Vroueburo daaruit gekry het nie. Hierdie vroue se belewenis van die WNC was by uitstek positief. Die vrou wat meer gesukkel het om aan te pas omdat dit vir haar as persoon aanvanklik of die hele tyd ’n probleem was om betrokke te bly, het meer gefokus op die waarde van die WNC vir haarself, haar organisasie en die Afrikanervrou – sy het nie na die groter prentjie gekyk nie. Daar is natuurlik ook vroue wat alle aspekte aangespreek het.

7.1 Die waarde van die WNC-ervaring vir die Afrikanervrou en haar organisasie

7.1.1 Afrikanervroue se visie is verbreed

Volgens Greeff (ATKV) “[s]ou ons nie so betrokke geraak het by veranderings as dit nie vir die WNC was nie. Ons het soort van in ons eie wêreld bly voortbeweeg.” Afrikanervroue is uit die bekende milieu na ’n ander wêreld getransporteer waar hulle aan ’n hele aantal nuwe ondervindinge blootgestel is.92

Jordaan (ATKV) het die volgende stelling gemaak: “Ons het in ’n waan gelewe dat ons eintlik ‘closet’ feministe is, maar eintlik was ons maar doodeenvoudig ‘stupid’.”93

Vir ’n Afrikanervrou om tot hierdie insigte te kom en dit as ’n positiewe uitkoms van haar betrokkenheid by die WNC te sien, is insiggewend. Baie Afrikanervroue het hulself as liberaal beskou as hulle hoegenaamd net geluide oor vroueregte gemaak het. As hierdie menings in die openbaar gemaak was, was hulle aan kritiek blootgestel en sou hulle as feministe of vroueliberaliste geëtiketteer word. In die tradisionele Afrikanergemeenskap was dit skelname. Vroueregte was soort van ’n taboe.

Nie alle Afrikanervroue was bereid om te erken dat die klein wêreldjie waarin hulle geleef het, hul lewensuitkyk vereng het nie. In dieselfde wêreld was die mans die besluitnemers en het hulle byvoorbeeld die politiek bedryf, die inligting gekeur en besluit dat ’n vroueliberalis onaanvaarbaar was. Die Afrikanervrou is grootliks ontmagtig. Afrikanervroue se politieke “opvoeding” het ook op so ’n wyse geskied dat dit hulle grootliks onkundig omtrent politieke sake gelaat het. (Hierdie aangeleentheid word bespreek in Maritz 2004, hoofstuk 1.)

Afrikanervroue was verstom oor die inherente krag van die swart vrou. By die WNC het hulle met sommige hoëprofiel swart vroue kennis gemaak. Vir baie Afrikanervroue was hul enigste kontak met swart vroue as huiswerkers wat min of geen skoolopvoeding gehad het nie. Een respondent wat in die Vrystaat grootgeword het, het erken dat sy by die WNC vir die eerste keer sterk, intelligente vroue van ander kleurgroepe leer ken het. Afrikanervroue moes kennis neem dat swart vroue ook slim en geleerd is en dikwels meer geleerd as hulle was. Afrikanervroue het in die vergaderings van die WNC die kans gekry om met swart vroue menings te wissel oor hoe die toekomstige grondwet wat vroueregte sou verskans, moes lyk. Daar is vir die eerste keer saam met swart vroue in komitees gedien en saamgewerk.94

Prinsloo was “nooit ’n voorstander van geforseerde onnatuurlike byeenbring van mense bloot omdat hulle uit verskillende kulture kom nie en was nie gemaklik met verenigings, soos Kontak, wat spesiaal ontstaan het om vroue bymekaar te kry bloot omdat hulle wit/swart is nie.” In die WNC was sy deel van ’n gemeenskaplike proses en was dit vir haar sinvol en stimulerend.95

Jordaan (ATKV) praat van ’n leertydperk waardeur Afrikanervroue gegaan het. Die Afrikanervrou was vir Geldenhuys (NP) so ver agter met werklike vroue-“issues” dat hulle baie geleer het by die vroue van die voormalige bevrydingsbewegings. Die ATKV-Dames sou nie by politieke veranderings betrokke geraak het as dit nie vir die WNC was nie. Hierdie betrokkenheid het die Afrikanervrou oor die algemeen meer polities bewus gemaak, anders sou sy in haar eie wêreld bly voortbeweeg het. Jordaan het bely dat die Afrikanervrou geïsoleerd geleef het, in so ’n mate dat sy nie die probleme van medelandgenote besef het nie. Die Afrikanervrou het nooit vir belangrike sake soos vroueregte “baklei” nie en het nie besef dat dit vir ander vroue noodsaaklik is nie. Die WNC het van die Afrikanervroue laat besef dat vroueregte tot almal se voordeel sou wees en almal se moontlikhede verbeter. Hulle het al hoe meer empatie en begrip begin kry vir die posisie van veral landelike swart vroue. Jordaan glo dat swart vroue begin aanvaar het dat Afrikanervroue wel bereid is om te luister en om saam met hulle te staan om die verskillende statutêre liggame te oortuig dat hulle doelmatig die posisie en regte van vroue regoor die land behoort aan te spreek.96

Op ’n persoonlike vlak is horisonne verbreed. Prinsloo het as fokusgroep-leier onderhoude gehad met wit Afrikaanse prostitute en werkloses en het tot die besef gekom van haar onkunde oor die geestesarmoede wat oor kleurgrense heen gesny het.97

Op ’n praktiese vlak kon die organisasies hul takke inlig oor nuwe politieke verwikkelinge en ook oor die “vreemde” vergaderingprosedures. Takke het op plaaslike vlak betrokke geraak by soortgelyke aksies as dié wat die WNC geïnisieer het. Soos reeds aangedui, was die deurgee van inligting na takke egter nie baie suksesvol nie.

Afrikanervroue kon swart vroue inlig oor hul sienswyse oor veral landsake en ook van die werksaamhede van hul organisasies. Hulle het probeer dat swart vroue hulle beter verstaan. Jordaan het die voorbeeld van die “ou” Suid-Afrikaanse vlag gegee. Die Gauteng-streek se vroue het in die ATKV se raadsaal vergader waar die “ou” landsvlag gehang het. Die swart vroue het tydens en na afloop van die vergadering genoem dat hulle nie van die teenwoordigheid van die vlag gehou het nie, waarop Jordaan verduidelik het dat dit volgens hulle (die ATKV) op daardie stadium nog steeds die landsvlag was. Hulle respekteer die vlag en totdat daar ’n nuwe vlag kom, sou hulle die bestaande landsvlag met die nodige respek gebruik. Die antwoord was vir die vroue aanvaarbaar en met die daaropvolgende vergaderings in dieselfde lokaal is daar nooit weer verwys na die teenwoordigheid van die ou landsvlag nie. Sy voel dat sy vir die swart vroue ’n ander perspektief kon gee.98

Persoonlike gesprekke word deur heelparty vroue as die hoogtepunt van hul eie betrokkenheid gesien. Jordaan sê sy kon op ’n een-tot-een-vlak “bely” en sodoende ’n bietjie van die psige van die Afrikanervrou met die swart vroue deel. Soos reeds aangedui is, was daar talle verwysings na die “apartheid-regime”. Sy het dit by herhaling in persoonlike gesprekke onder die swart vroue se aandag gebring dat al was sy deel van die “apartheid-regime”, daar by haar en baie ander politieke onkundigheid was. Haar eie “onnoselheid ten opsigte van die politieke stelsel” het sy verduidelik met die voorbeeld dat sy selfs as student tydens die Soweto-onluste van 1976 nie geweet het waarom boeke verbrand is nie. Die koerante wat sy gelees het, het nie die lesers oor die werklike redes vir die onluste ingelig nie.99 Jordaan is ’n voorbeeld van die oningeligte Afrikaner van die tyd.

Hierby sluit die stelling aan wat deur baie vroue gedurende postapartheid gemaak is: “Ons het nie geweet nie.” Dit is ’n paar woorde wat maklike geuiter kan word, maar vir baie vroue in die WNC was die besef van veral die swart vrou se drieledige onderdrukking – deur mans, as ras en deur kapitalisme – ’n groot skok. Van die ander kant het Afrikanervroue ook gehoor van eerstehandse ervarings van NP-brutaliteit. Die feit dat hulle nou gehoor het van swart vroue se swaarkry was vir sommige wit vroue, ten spyte van hul diverse agtergronde, ’n samebindende faktor, ’n empatie wat ontstaan het omdat hulle vroue was. Biehl se dood was veral vir die vroue van die Wes-Kaapse Streekskoalisie ’n samebindende faktor.100

Nie alle kontak was natuurlik positief nie. Greeff (ATKV) het ervaar dat alhoewel die swart vrou haarself gereedgemaak het om op alle vlakke van die samelewing as leier op te tree, sy nie gehuiwer het om te sê dat die wit vrou nie daar welkom is nie. Greeff sê dat hierdie besef eers vir die wit vroue ’n skok was, en daarna is dit met gelatenheid aanvaar. Selfs dít was vir haar ’n leerervaring en het haar laat besef dat sy tog ’n rol het om te speel in die sukses van ’n toekomstige demokratiese bestel, alhoewel dit ’n minder leidende rol sou wees.101 Dit is ’n belangrike paradigmaskuif (een van baie) wat sommige vroue gemaak het. Dit is egter opvallend dat geen Afrikanervrou die swart vroue uitgedaag het en met onvriendelikheid gekonfronteer het nie. Die keuse was skynbaar net om die situasie te aanvaar en te bly, of dit nie te aanvaar nie en weg te bly, nooit om dit op eie voorwaardes te aanvaar nie. Die verklaring kan wees dat die skuld van die verlede die Afrikanervrou dalk polities immobiel gelaat het.

Baie Afrikaners was nooit werklik in kontak met swart mense nie en kon dus nie gesprekke met hulle voer nie en was derhalwe onkundig. Hierdie onkunde was nie net oor hul kultuur nie, maar veral ook oor hul strewes en behoeftes. Die WNC het vroue oor die rassespektrum heen die geleentheid gegee om met mekaar in gesprek te tree en op ’n persoonlike vlak hul ervarings en sienswyses te deel. Vroue het mekaar beter leer ken en uiteindelik is daar ook goeie vriendskappe gesluit. Büchner (Jong Dames Dinamiek) se mening is dat die Afrikanervrou meer geleer het as wat sy werklik ’n bydrae gemaak het.102

7.1.2 Politieke bewusmaking van die Afrikanervrou

Malan (Vroue vir Suid-Afrika)103 het die volgende stelling gemaak: “Die WNC het nie adresse verander nie, maar het vroue bewus gemaak dat hulle nie negeer moet word nie.” Wat sy met hierdie stelling bedoel het, is dat nie noodwendig meer Afrikanervroue die politiek betree het nie, maar dat daar ’n politieke bewusmaking ingetree het. Vroue het besef dat hulle nie meer op ’n syspoor gesit en agtergelaat moet word nie, en dat hulle insette nie geïgnoreer mag word nie.

Sy glo egter dat dit ’n wêreldwye tendens was dat vroue se posisies in hersiening geneem is en dat die waarde van die WNC nie oorbeklemtoon moet word nie. Volgens haar het veranderinge in die vroue se posisie alreeds in die NP-tyd begin toe minister Kobie Coetsee internasionale konvensies, byvoorbeeld die Convention on the Elimination of All Forms of Discrimination against Women (CEDAW), onderteken het (Maritz 2004:241). Malan beklemtoon ook dat Vroue vir Suid-Afrika aan vroue gesê het dat hulle moet sorg dat hulle nie geïgnoreer word nie. Sy gee egter geredelik toe dat die WNC dalk “meer” bewusmaking laat plaasvind het, want nou het Afrikanervroue besef dat dieselfde deur die “magtige swart groepering” gesê word. Sy glo ook dat die WNC ’n opdrag van die ANC was wat aan alle groeperinge voorgehou het: “Julle vervul hierdie rol (die politieke bewusmaking van vroue) vir ons.” Dit is “wat jy behoort te doen”. Die WNC het nie die ANC probeer beïnvloed nie; dit was andersom.

Volgens Malan is daar baie min Afrikanervroue wat kans sien vir “die openbare verguising wat jy moet verduur as jy deel van die minderheid” is. Sy praat natuurlik uit ondervinding, want sy is self ná 1994 as verteenwoordiger van die NP na die parlement. Alhoewel aanpassings op die politieke terrein na 1994 vir alle partye moeilik was, het die NP dit vermoedelik besonder moeilik gehad.

Afrikanervroue is volgens Malan deur leiers soos Jordaan aangespoor om by die nuwe politieke bedeling betrokke te raak en nie meer in die ou bedeling van verkramp en verlig vasgevang te bly nie. Dit het egter net gebeur as die leiers van die Afrikanervroue-organisasies ook dieselfde menings gehuldig het. Die probleem was dat baie van die leiers vernuwende politieke denke geveto het.

Daar was egter ’n hele paar Afrikanervroue wie se politieke beeld deur die WNC bevorder is. Neilson het bevestig dat dit indirek haar posisie in die DP bevorder het. As “vreemdeling” in die Kaap het haar betrokkenheid by die WNC haar aan baie mense bekendgestel en kon hulle sien waartoe sy in staat was.104 Ook Malan (Vroue vir Suid-Afrika), Sandra Botha (DP), Hunter (NP), Geldenhuys (NP) en Smuts (DP) is vroue wat in die WNC en die politiek aktief was. Daar is waarskynlik ’n hele paar Afrikanervroue wat moontlik politieke aspirasies gehad het wat nie gemanifesteer het nie.

Prinsloo sê, sonder om name te noem, dat sy “verstom” was oor die aantal swart en wit vroue wat die WNC vir politieke loopbaanbou gebruik het, maar sê terselfdertyd dat vir haar ook baie deure oopgemaak is. Sy het in 1994 lid geword van die Onafhanklike Media Kommissie, en was op die kortlys vir beide die Waarheids-en-Versoeningskommissie en die Kommissie vir Geslagsgelykheid.105

Politieke bewuswording het ook onafhanklike denke geïnspireer. Afrikanervroue het besef dat om te verskil en buite die hoofstroom te dink, aanvaarbaar is. “Die Afrikanervrou moes introspeksie hou en haar eie waardestelsel bevraagteken” – hierdie stelling is deur Jordaan gemaak na aanleiding van die debat oor die wettiging van aborsie. Alhoewel dit vir die ATKV onaanvaarbaar was, was daar in eie geledere verskillende sienswyses en daar was selfs Afrikanervroue wat wel aborsies gewettig wou sien.106 Die Vrouehandves (Artikel 11) het dit só verwoord dat dit vir alle groepe aanvaarbaar was: “Vroue het die reg om beheer oor hul liggame uit te oefen, wat die reg tot besluite oor voortplanting insluit.”107

Ook Greeff het opgemerk dat al die lidorganisasies aan die begin probeer het om uit een mond te praat, maar dat hulle later hul menings onafhanklik geopper het.108 Geldenhuys het genoem dat daar binne Afrikanergeledere groepvorming plaasgevind het.109 Dit was een van die positiewe gevolge van die WNC dat Afrikanervroue nie net met die diversiteit van die vroue in Suid-Afrika kontak gemaak het nie, maar dat daar selfs in eie geledere vroue was wat nou bereid was om te verskil van die hoofstroom-Afrikanerdenke.

7.1.3 Afrikanerorganisasies se betrokkenheid by projekte van die WNC

Naas die daarstelling van ’n Vrouehandves was die ander doelwit van die WNC die ontwikkeling en opvoeding van alle vroue. Die projekte van die WNC was dus hoofsaaklik daarop gemik om dié doelwit, wat sterk op swart vroue gefokus het en sosio-ekonomies van aard was, te bereik.

Afrikanervroue was nog altyd van nature goeie organiseerders en administrateurs en het ’n kosbare nalatenskap wat betref die opheffing van hul eie gemeenskappe deur welsynsorganisasies en in kerkverband. Wat werklike vrouebemagtiging en -bevryding betref, was hulle egter ver agter en kon hulle baie by die WNC leer.

Sake rondom die projekte van die WNC het gou die organisasies se sakelyste oorheers. Om verwarring te voorkom is dit nodig om te verduidelik dat die stelling wat in ’n vorige afdeling gemaak is, naamlik dat talle organisasies nie hul lede op grondvlak oor die werksaamhede van die WNC ingelig het nie, nog steeds geldig is. Alhoewel die WNC-projekte voorgestel het, is dit uit eie keuse deur organisasies deurgevoer en gewoonlik onder die vaandel van die betrokke organisasie.

Vroue vir Suid-Afrika het ’n belangrike bydrae gelewer. Vroue verbonde aan die organisasie het nie net praktiese opleiding aangebied nie, maar in die proses ook probeer om verhoudings te verbeter. Hulle het gereeld oor die hele Suid-Afrika heen, in plekke soos Rustenburg, Johannesburg, Pretoria, Bloemfontein, Stellenbosch en Durban, byeenkomste, opleidingwerkswinkels en gespreksgroepe aangebied. Hulle het onder andere praktiese opleiding verskaf aan hotelhulpe, en wasserykursusse en opleiding vir dagmoeders aangebied.110

Die ATKV-Dames het met geletterdheidsklasse begin, plaasskole gestig, biblioteke op afgeleë plekke gevestig, voedingskemas op die been gebring en ook by watervoorsiening betrokke geraak. By sommige lede het hierdie projekte ’n antipatie veroorsaak, want dit was nie tradisionele ATKV-Dames-projekte nie en het heelwat lede negatief teenoor die WNC gestem. ATKV-Dames het ook as gevolg van die WNC betrokke geraak by die Wet op Huiswerkers. Die lede het daarvan kennis geneem en dit weer aan ander oorgedra. Vir baie van die vroue was die regsaspekte wat betrokke was, heeltemal vreemd, want dit was iets wat die mans altyd hanteer het. Dit was egter ’n goeie leerskool.

Afrikanervroue moes op baie van die projekte met die opgeleide “politieke aktiviste” saamwerk, wat ’n groot aanpassing was. Omdat hulle hoofsaaklik aan die huiswerkersklas gewoond was, is hulle maklik deur hierdie swart vroue geïntimideer.

Die Afrikanervrou se verantwoordelikheidsin het haar egter beweeg om baie meer te doen en te gee en ook meer toe te gee as wat normaalweg van haar gevra sou word. Al was die projekte en omstandighede nie altyd wat sy sou verkies nie, is dit tog met tipiese stoïsisme afgehandel en geweldig baie mensekennis is in die proses opgedoen.111

7.2 Die waarde van die WNC as organisasie soos gesien deur die Afrikanervrou

Wat opvallend is, is dat toe die eerste onderhoude vir hierdie navorsing in 1997 gevoer is, sommige vroue se houding oor die waarde van die WNC baie meer positief was as sewe jaar later, in 2004. “Houding” word beklemtoon, want dit is nooit in soveel woorde uitgespel nie. Aanvanklik was daar nog heelwat euforie en positiewe verwagtings, maar die onttrekking van die NP uit die Regering van Nasionale Eenheid, die feit dat die Vrouehandves nooit by die nuwe grondwet ingesluit is nie, en mislukte politieke drome is ’n paar van die talle redes wat hierdie vroue meer sinies gelaat het, en teen 2004 moes daar soms hard gekonsentreer word om objektief oor die WNC-periode te besin.

Die WNC, en spesifiek die Vrouehandves, het internasionaal erkenning gekry. In 1995, met die 50ste-bestaansjaarviering van die Verenigde Nasies (VN), is die Vrouehandves by name uitgesonder as een van die 50 belangrikste dokumente oor menseregte wat in die 50 jaar van die bestaan van die VN verskyn het.

Alhoewel die aanvanklike bedoeling met die Vrouehandves, naamlik om dit in die Grondwet ingeskryf te kry, nie geslaag het nie, het die dokument baie politieke invloed gehad. Die regering het ’n werkgroep aangestel om aspekte wat deur die Vrouehandves uitgelig is te ondersoek, byvoorbeeld Women in Housing, Women in Media, Women in Health. Die gevolg is, volgens Greeff (ATKV), dat die posisie van vroue verbeter het en veral die haglike posisie van plattelandse swart vroue aandag gekry het; ook is daar na die stem van die gestremde vrou geluister.

Die WNC het gedien as konsultasieforum vir vroue om vir hul demokratiese regte te beding. Op sy beurt het die WNC weer die Vrouekoukus van die parlement, ’n niepartygebonde liggaam onder Ginwala, as konsultasieproses gebruik om namens nasionale organisasies voorstelle na die parlement deur te gee.112

Die WNC het politici beïnvloed. Ramaphosa, Mandela en De Klerk het in die openbaar getuig dat die WNC hul siening oor vroue se posisie verander het. President Mandela het ná ’n brief van die WNC die geslagsamestelling van sy kabinet van een na drie vroulike ministers en van een na drie vroulike adjunkministers verander (MCH 100 3.3.2.20; Haffajee 1999:17).

Vir Geldenhuys (NP) lê die waarde van die WNC in die vrymaking en algemene bemagtiging van vroue in Suid-Afrika. Die WNC was ’n sterk ondersteunende komponent in ander organisasies, staatsdepartemente en die privaatsektor wat hierdie doel nagestreef het. Die WNC het sig ook beywer vir, onder andere, die instelling van die Kommissie van Geslagsgelykheid en was ’n voorvegter in die stryd om die bekamping van geweld teen vroue. Die organisasie het ook post-1994 daarop aangedring dat die regering die besluite wat tydens die Vierde Wêreldkongres oor Vroue in Beijing in 1995 geneem is (oor die verbetering (“advancement”) van die vrou se posisie) implementeer.113

Jordaan voel dat die WNC “’n stewige inset tot nasiebou gelewer het”. Vir haar was dit baie belangrik dat “[d]aar ’n nasionale veldtog gehou was om vroue se behoeftes rondom hulle regte as vroue deur ’n groot stuk navorsing te verkry. Dit het nie net kulmineer in ’n stuk papier, die Vrouehandves nie, maar vir bykans drie tot vyf jaar lank het vroue saamgesels en saambesin en saam mekaar ’n bietjie beter leer ken en ook kennis geneem van hul onderlinge raakpunte ondanks die feit dat hulle uit verskillende kultuurgroepe gekom het.” Sy voel ook dat die daarstelling van die Vrouehandves en die debat en aandag wat dit gegenereer het, baie positief was.114

Smuts stel dit dat die WNC vroueregte as ’n “issue” in Suid-Afrika help vestig het. Dit is veral aan die sigbaarheid van die hele veldtog te danke dat Suid-Afrika een van die regerings het met die grootste vroue-verteenwoordiging in die parlement, in verskillende komitees, werksplekke, en so meer. Die feit dat die posisie van vroue sterk in die kollig geplaas is, het gesorg dat wetgewing dienooreenkomstig aangepas word. Dit het aan die vrou se tradisionele plek in die samelewing aandag gegee en gesorg dat daar voortdurend druk op wetgewers geplaas was om enige vorm van diskriminasie teenoor vroue aan te spreek, komitees saam te stel wat dit ondersoek, en dan moontlike wetgewing voor te stel ten einde die probleem op te los. Ook Afrikanervroue pluk die vrugte van regstellende-aksie-aanstellings, veral in bestuursposisies. Smuts dink dat Suid-Afrika statutêr baie positief vergelyk met ontwikkelde lande. Sy dink egter nie dat vroue en mans noodwendig die wetgewing korrek gebruik of aanwend nie.115

Prekel (Vroueburo) het ’n nugterder siening oor die verbeterde posisie van vroue. Sy meen dat vroue gedurende die euforiese tydperk van die vroeë 1990’s ’n teikengroep was, want hulle was sonder mag, maar kon stem. Alhoewel daar sekere groepe was wat in hulle belanggestel het omdat hulle vroue was, het die meeste in hul stem belanggestel. Sy erken dat vroue sedert 1994 beter daaraan toe is as voorheen en dat daar meer vroue in posisies van mag in sowel die sakewêreld as die regering is. Tog is vrouesake nie so aktueel (so ’n “hot issue”) soos ras nie en is daar maatskappye wat in die laat 1990’s wit vroue uit hul diensbillikheidsprogramme geskryf het. Die gevolg is dat baie wit vroue nie die posisies waarop hulle geregtig was, gekry het nie.116

Nutt voel dat die opstel van die Vrouehandves, gebaseer op die ervaring van slegs Suid-Afrikaanse vroue, ’n wonderwerk is. Daarbenewens het wit en swart vroue verenig en met groot entoesiasme saamgewerk. As gevolg van hierdie samewerking het daar uitgebreide netwerke tussen vroue-organisasies tot stand gekom.117

Die ANCWL was tevrede met die ANC se besluit om ’n kwotastelsel in te stel wat bepaal het dat minstens 30 persent van die verteenwoordigers in die Nasionale Vergadering vroue moes wees. Na die 1994-verkiesing is 90 van die 252 setels wat die ANC verwerf het, dus 35 persent, deur vroue gevul (Haffajee 1999:16).

Die kwotastelsel word egter nie deur almal as ’n positiewe stap gesien nie. Malan voel dit is ’n ANC-besluit en nie die WNC se invloed nie. Sy meen dit is ’n aantasting van ’n vrou se waardigheid om haar in ’n posisie aan te stel wat sy nie volwaardig kan volstaan nie – dit word uiteindelik ’n verleentheid as sy nie die werk kan doen nie. Sy voer aan dat daar swart vroueparlementslede is wat net oor ’n graad 4-skoolkwalifikasie beskik.118

Smuts glo dat die “krag” van vroue wat as afsonderlike groep oor rasgrense heen solidariteit getoon het, nie buite rekening gelaat moet word nie. Sy het die WNC-periode, tot 1994, as ’n “tydsgewrig” ervaar waarin alle Suid-Afrikaners dit hul erns gemaak het om na mekaar uit te reik. Sy glo dat sommige vroue met toekomsvisie nuwe verhoudinge aangegaan het en sodoende ’n baie belangrike rol gespeel het om die swart-wit-kloof te oorbrug.119

Die WNC het ook bygedra tot die totstandkoming van Vrouedag op 9 Augustus as ’n nasionale vakansiedag in Suid-Afrika. Die WNC se dokumenteversameling word ook wêreldwyd as navorsingsbron deur studente gebruik.120

8. Afrikanervroue se siening van hul persoonlike en ander Afrikanervroue se betrokkenheid

Botha (Kaapse Vroueklub) het dit onomwonde gestel dat Afrikanervroue op ’n paar uitsonderings na nie hulle kant in die WNC gebring het nie. Sy meld dat daar voortdurend Afrikaner-skeptisisme was. Voorvalle soos toe Winnie Mandela die WNC vir die ANCWL wou kaap, was geleenthede wat die skeptisisme van voor af aangevuur het. Hierdie skeptisisme is gebore uit ’n bedeling waartydens wittes almal wat swart is, as terroriste en kommuniste beskou het en Mandela as boos voorgehou is. (Vir Mandela se betrokkenheid by die WNC, sien Maritz 2004, hoofstuk 5). Botha sê dat daar by Afrikanervroue ’n “sterk aversie” teenoor die ANCWL was. Die amper fanatiese poging van Jean Ngubane om Mandela se invloed te stuit, was omdat sy besef het dat daar ’n negatiewe houding omtrent die ANCWL bestaan het en dat die WNC alles moontlik moes doen om ’n verteenwoordigende basis te probeer wees.121

Botha verklaar dat sy by die WNC vir die eerste keer as vrou binne ’n intellektuele raamwerk ’n bydrae gelewer het. Die swart vroue was verbaas dat daar wit Afrikanervroue is wat onafhanklik kon optree en nie eers moet huis toe gaan om hul mans se goedkeuring te vra nie. Hulle het dikwels vir haar gevra: “Is it because you are single?” ’n Vrou van Umkonto we Sizwe (MK) se mening oor Afrikanervroue was: “If you want to be a real Afrikaner woman the preferred status is to be single, otherwise you must check with your hubby.” Dié stereotipering van Afrikanervroue kom ooreen met die Afrikanervrou se siening van die swart vrou se rol – albei het in ’n mate geglo dat die ander totaal aan patriargie uitgelewer was. Aan die een kant het die meeste Afrikanervroue egter gemaklik met patriargie omgegaan, want die stelsel het hulle steeds baie vryhede gegee, solank dit net nie die mans se beeld na buite geskaad het nie (Maritz 2004:46, 98). Aan die ander kant was daar swart vroue wat patriargie omseil het en dit as ’n bemagtigingsinstrument aangewend het.

Dit was vir Botha aanvanklik moeilik om te luister na opinies wat lynreg ingedruis het teen die kondisionering waaraan sy van kindsbeen af gewoond was. Dit het haar baie lank geneem om die mens van die opinies te skei. Sy het uit haar pad gegaan om party van die swart vroue beter te leer ken en het vriendskappe gesmee wat vandag nog bestaan. Vir haar is Ginwala ’n besonderse persoon, ’n intellektuele reus, maar ook ’n baie liefdevolle mens wat vir haar baie goed was.122

Geldenhuys (NP) 123 het die WNC ervaar as “’n opregte strewe om vir vroue ’n beter toekoms te help bewerkstellig”,en volgens haar het almal met oorgawe saamgewerk om die ideaal te verwesenlik. Sy voer aan dat hierdie strewe “die gees en wese van die WNC” was. Sy erken egter dat daar tye was waar daar openlik met mekaar kragte gemeet is. Dit het meestal met die verkryging/verkiesing van magsposisies gepaard gegaan. Vir haar was die WNC ’n wonderlike samebindende vroue-organisasie – sonder politieke oogmerke. Tog was politieke oortuigings onderliggend aanwesig. Dit was nie noodwendig negatief nie, maar het eerder bygedra tot die momentum van die organisasie – amper ’n soort onuitgesproke kompetisie onder mekaar. Voorvalle met sterk politieke ondertone het danksy Mohau Pheko en ander se sterk leierseienskappe nooit in die openbaar tot uitbarsting gekom nie.

Geldenhuys voel verder dat alhoewel daar Afrikanervroue was wat ’n groot bydrae gelewer het, hulle nie spontaan deelgeneem het gedurende die tyd toe hulle ’n gulde geleentheid gehad het om ’n bydrae in belang van vroue te lewer nie. Sy wys ook daarop dat daar vandag nog Afrikanervroue is wat hulle van vrouebemagtiging distansieer.

Jordaan (ATKV)124 het die WNC gesien as ’n gulde geleentheid vir die vroue van Suid-Afrika om saam te gesels oor ’n gemeenskaplike saak (vroueregte) wat almal raak. Al was die Afrikanervrou vir meer as 40 jaar in ’n “begunstigde” posisie onder die regering van die NP, was dit “angswekkend” om te sien hoe sy haarself in ’n kokon toegewikkel het en besluit het dat haar lewe “honderd persent lekker” is en dat sy alle regte reeds geniet en tevrede met haar lewe is. Jordaan voer aan dat daar ’n wrede ontnugtering by sommige vroue was toe hulle agterkom hoe klein hulle wêreldjie eintlik is en hoe min regte hulle eintlik het. Afrikanervroue was op daardie stadium bang vir wat die toekoms vir hulle ingehou het, maar vir die meeste vroue was bekommernis oor die toekoms nog steeds mannewerk, nie vrouewerk nie. Die WNC het hulle gewys dat dit almal se werk is en dat daar in Suid-Afrika baie mense is wat nog deur hulle eie kultuur en tradisies onderdruk word.

Hierdie tydperk was ’n belangrike leerskool vir die Afrikanervrou se leierskap – sy was heeltemal onopgewasse teen die verandering en die nuwe wyse van doen en moes baie vinnig aanpas. Van ’n outokratiese bestuurstyl in organisasieverband, moes sy vinnig leer hoe om konsensus-bestuurstyl toe te pas. Jordaan glo dat die Afrikanervrou in baie opsigte nie die WNC as leerskool aangegryp het nie. Wat sy daarmee bedoel, is dat die Afrikanervrou nie vinnig genoeg gesnap het hoe om binne die WNC op te tree nie. Sy het onwelkom en geïgnoreer gevoel, maar sy het nie besef dat om impak te maak, sy moet saamwerk nie. Jordaan meld onder andere die rede wat reeds voorheen bespreek is, naamlik dat die Afrikanervroue nie saamgewerk het om meer stemme te verenig nie. As hulle dit gedoen het, sou hulle ’n Afrikanervrou-stempel kon afgedruk het en sou die breë Afrikanersamelewing baie meer daardeur gedien gewees het. Dan sou daar definitief ’n meer positiewe boodskap na die Afrikanervrou deurgegaan het en baie meer sou betrokke geraak het. As jy onsuksesvol is, is jy dikwels negatief en dit is wat volgens haar met die Afrikanervrou in die WNC gebeur het.

Jordaan voeg by dat teen die tyd dat die Afrikanervrou aangepas het, die vaart van die WNC reeds begin afneem het en dat dit toe – helaas – in ’n groot mate te laat was. Teen daardie tyd was die Vrouehandves reeds geskryf en het al die vroueregte-aktiviste in die parlement gesit. Sy dink dat as Afrikanervroue destyds besef het dat dié persone in die WNC met wie hulle skouers geskuur het, in die nabye toekoms in die voorste besluitnemerstoele sou sit, hulle dit anders sou benader het. Sy meen dat Afrikanervroue vandag nog steeds groot impak sou gehad het as hulle destyds hul kanse meer sinvol benut het.

Nutt glo dat die Afrikanervroue deel van die WNC geword het omdat daar ’n sterk gevoel was dat as hulle dit nie doen nie, hulle uit die proses gerangeer sou word. Sy dink egter dat slegs dié Afrikanervroue wat versoening as doelwit gehad het (en hier verwys sy na lede van haar eie organisasie), dit “gemaklik” gevind het om met hul landgenote aan ’n gemeenskaplike doel te werk.125

Afrikanervroue het uiteenlopende ondervindings in en ten opsigte van die WNC gehad. Vir sommige was dit ’n geleentheid om hul menswaardigheid ten volle te kon uitleef, vir ander die geleentheid om meer te leer van die “ander kant” en die swart vrou. Vir sommige som woorde soos “traumaties”126 en “angswekkend” hul ondervindings op. By ander het skeptisisme hulle laat wegbly of laat wegraak. Dit lyk egter asof die Afrikanervrou in die meeste gevalle die geleentheid onderskat het om deur hierdie inisiatief ’n bydrae tot die oorgang na die postapartheid-era te maak.

9. Samevatting      

Roberts van IDASA het aan die einde van die stigtingsnaweek gerapporteer:

[W]ho would have guessed that by the end of the weekend buoyant mamas, reticent tannies, hardline feminists and even the odd purple rinse would be awkwardly bonded, arm in arm, in song – “Malibongwe”, the celebration of women […]. Common vision and common purpose brought together a group of the most diverse people imaginable. (1992:9–10)

Hierdie persepsie was egter ’n romantiese versugting, want die werklike prentjie het veel anders gelyk.

Aan die begin van hierdie artikel is gevra: Waar was die Afrikanervrou? In die loop van die navorsing waarop die artikel steun, is die name van ongeveer 50 Afrikanervroue wat ’n leidende rol gespeel het in NWC-era, aan my verskaf. Onder hulle is presidente en voorsitters van organisasies en ook verskeie akademici en professionele vroue. Van hierdie groep het slegs 20 hul samewerking vir die navorsing gegee. (Redes vir vroue se onwilligheid om deel te neem aan die navorsing word onder metodologiese probleme bespreek in Maritz 2004:v.)

Ja, Afrikanervroue was verteenwoordig in die WNC. Maar alhoewel sommige positief was oor hul ervaring, was daar talle faktore wat ’n rol gespeel het om ander ongemaklik en negatief te laat voel: faktore so oppervlakkig soos kleredrag en die uitbundigheid van die swart vroue, maar ook meer dieperliggende faktore soos die vyandigheid wat ervaar is. Hulle het gevoel hulle word swak behandel; hulle het ongemaklik gevoel en het vreemd gebly, want hulle is nie ingetrek nie en hulle het nooit werklik deel gevoel van die WNC nie. Die gevolg was dat hulle ontuis was en uiteindelik weggebly het. Betrokkenheid by die NWC het grootliks negatiewe gevoelens veroorsaak wat ook polities van aard was – veral partypolities gerig en meer spesifiek teenoor die ANC. Baie Afrikanervroue was dus nie gereed om saam met swart vroue aan die gelykberegtiging van alle vroue te werk nie.

’n Handjievol Afrikanervroue was wel gereed en dit was duidelik dat dit dié vroue was wat voorheen by uitreikingsaksies betrokke was. Sommige organisasies, soos die ATKV-Dames, het as gevolg van vooruitdenkende leiers tot die WNC toegetree en om dieselfde redes ’n belangrike rol gespeel. Dit het dus uiteindelik van individue afgehang in watter mate organisasies betrokke geraak het. Vroueregte was nie werklik nodig as motief nie; daar moes eerder ’n begeerte van “ons wil deel word van die proses, ons wil nie agterbly nie” aanwesig wees. Maar vir dié wat kwaad of bang was vir die “nuwe” regering, was dit nie ’n opsie om op ’n uitnodiging van die ANCWL te reageer nie, veral as hulle van ander se negatiewe ervarings gehoor het.

Enersyds was die Afrikanervrou teruggetrokke en op die agtergrond en het die moed van haar oortuiging gekort om te sê “Vir my werk dit nie.” Andersyds was een van die opvallendste kenmerke dat die Afrikanervrou ’n tipe arrogansie gehad het, dat baie min dit probeer laat werk het: “As dit my nie pas nie, loop ek eerder.”

Vir Jordaan (ATKV) was hierdie onbetrokke houding van die Afrikanervrou by die totale proses kommerwekkend. Sy sê voorts dat sy, met die beroep op die Afrika-Renaissance en die aanspreek van rassisme in die eerste helfte van die huidige dekade, bevrees is dat die Afrikanervrou haar nog steeds nie deel voel van die nuwe Suid-Afrika en alles wat gebeur het nie, omdat sy aan alle veranderinge ’n party-politieke konnotasie wil gee. Hierdie negatiwiteit strek vir Jordaan verder as net ’n gevoel ten opsigte van die WNC se werksaamhede – om nie deel te voel van die nuwe Suid-Afrika nie, is ’n algemene ingesteldheid onder baie Afrikanervroue .127

Daar is ook die mening uitgespreek dat verskeie Afrikanervroue-organisasies probleme ontwikkel het, en selfs ophou bestaan het, omdat hulle nie kon tred hou met die nuwe manier van besluitneming nie. Besluite word toenemend deur lede van grondvlak af bevraagteken en daar word aangedring op totale deursigtigheid. Organisasies wat nie aangepas het nie, wat nie ’n paradigmaskuif gemaak het en hul visie verbreed het nie, het in die stof gebyt.128 Dit sal interessant wees om vas te stel of dit dalk as gevolg van die invloede van die WNC was, of omdat die ANC-regering ook op die beginsel van konsensus werk. De Klerk (1998:309) het reeds in die vroeë 1990’s, tydens die onderhandelingsproses, gemeld dat dit vir die NP moeilik was om aan die nuwe werkswyse gewoond te raak.

By die WNC het geslag ’n verenigende rol gespeel. Dit het nie saak gemaak waar vroue vandaan gekom het nie; almal het ’n gemeenskaplike gevoel van frustrasie ondervind, hetsy op ’n persoonlike, maatskaplike of strukturele vlak. Vir sommige was die gees waarin alles plaasgevind het, opvallend. Daar was bittere argumente, aggressiewe besprekings, oomblikke van intense moedeloosheid, maar uiteindelik die positiewe kwaliteite wat uitgestyg het: kompromie, verdraagsaamheid en veral grootmoedigheid. Volgens Roberts (1992) was die soeke nie na mag nie, maar na ’n gedeelde visie en konsensus.

Die WNC was vir Afrikanervroue die eerste bewuswording van hoe ’n demokratiese bestel in Suid-Afrika sou lyk; vir sommige het die organisasie hulle tot positiewe samewerking opgeroep en vir ander het dit uitgeloop op negatiewe terugtrekking. Dit is veral eersgenoemde groep wat, namate tyd afstand tussen die hede en 1991 skep, die WNC-periodeas ’n goue tyd in hul lewens bestempel.

 

Bibliografie

Boeke

Atkinson, S. 1981. Organisasies aan die werk. Johannesburg: Perskor.

De Klerk, F.W. 1998. Die laaste trek – ’n Nuwe begin. Kaapstad: Human & Rousseau.

Haffajee, F. 1999. Redefining politics. Johannesburg: Commission on Gender Equality.

Menell, K. en M. Jobson. 1995. Women’s rights in South Africa. A guide to national organisations with a gender focus. Pretoria: RGN Uitgewers.

Norval, A.J. 1996. Deconstructing apartheid discourse. Londen: Verso.

Rantete, J. 1998. The African National Congress and the negotiated settlement in South Africa. Pretoria: J.L. van Schaik.

WNC. 1994. The origins, history and process of the Women’s National Coalition. Research report on the Women’s National Coalition. Volumes 1 en 2. Johannesburg: Women’s National Coalition.

Tydskrifartikels

Meintjes, S. 1992. Dilemmas in difference. Work in progress, April, p.81.

Roberts, B. 1992. A “minor” process where people – not power – count. Democracy in Action, 15 Junie, pp.9–10.

Ongepubliseerde verhandelinge

Abrams, S.K. 2000. Fighting for women’s liberation during the liberation of South Africa: The Women’s National Coalition. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Wadham College, Oxford.

Du Toit, M. 1960. Women, welfare and the nurturing of Afrikaner nationalism: A social history of the Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging, c. 1870-1939. Ongepubliseerde DPhil-tesis, Universiteit Kaapstad.

Maritz, L. 2004. Afrikanervroue se politieke betrokkenheid in historiese perspektief met spesiale verwysing na die Women’s National Coalition van 1991 tot 1994. Ongepubliseerde DPhil-tesis, Universiteit Stellenbosch.

Koerante

Brand, H. 1992. Vroue stig koalisie om vir hul regte in grondwet te veg. Beeld, 16 April, p.6.

Eie korrespondent. 1992. Groepe byeen oor vroueregte. Die Burger, 24 April, p.9.

Morkel, M. 1986. Buro bevorder welsyn van SA vrou. Die Burger, 9 September, p.6. 

Rademeyer, A. 1994. Aborsie: Vroue se keuse of nie? Die Burger, 26 Oktober, p.16.

Swart, F. 1993. Vermoorde Amy was dol op SA, vertel haar diep geskokte ouers. Die Burger, 25 November.

Theron, M. 1992, Suid-Afrika se vroue vat hande. Beeld, 24 April, p.9.

Visser, M. 1993. Amy moes aanvallers alleen trotseer. Die Burger, 27 Augustus.

Korrespondensie: briewe, vraelyste (insluitend e-pos)

Büchner, E. Vraelys per e-pos: 23 Januarie 2001; Inligting per e-pos: 18, 19 Februarie 2003.

Geldenhuys, L. Vraelys: 17 Mei 2001.

Greeff (later Zaaiman), M. Vraelys: ongedateer.

Herholdt, M. Vraelys: ongedateer.

Hunter, J. Vraelys: ongeveer Maart 2001.

Jordaan, E. Vraelys per e-pos: 30 Maart 2001; Inligting per e-pos: 24 Julie 2001, 22 Januarie 2003 en 10 April 2003.

Malan, J. Brief/Inligting: 25 April 2001.

Neilson, E. Vraelys: 2001; Inligting per e-pos: 30 Augustus 2002, 26 Augustus 2002.

Nutt, A. Vraelys: ongedateer.

Prinsloo, D. Vraelys per e-pos: 11 Desember 2002; Inligting per e-pos: o.a. 2 April 2001.
 
Smuts, D. Vraelys per e-pos: 4 September 2002; Brief per e-pos: 5 November 2001.

Mondelinge bronne (Onderhoude en gesprekke: persoonlik en telefonies)

Botha, A. Onderhoude: 18 Maart 1996, November 1996, 15 Augustus 2001.

Geldenhuys, L. Telefoon: 22 Augustus 2002.

Malan, J. Onderhoud: 5 Maart 2002.

Nutt, A. Telefoon: 22 Maart 2001.

Prekel, T. Telefoon: 18 Augustus 2001; Onderhoud: 25 Augustus 2001.

Prinsloo, D. Onderhoude: 6 Maart 1999 en November 2002.

Argivale bronne

Mayibuye-sentrum, Universiteit van Wes-Kaapland: Katalogus, no. 22. The papers of the Women’s National Coalition (MCH100).

MCH 100

1 Constitution
1.1 The constitution of the WNC, 6 Februarie 1993.
1.3 Profile of the WNC (geen datum).

MCH 100       

3 National Council
3.1 Minutes
3.1.1 Minutes of the National Women’s Coalition, 16 Oktober 1991.
3.1.2 Minutes first National Council meeting, 6 Februarie 1993.
3.1.7 Minutes of the Council meeting, 17-18 September 1993.
3.1.12 New brief of the WNC, 17-19 Junie 1994.

3.2 Reports
3.2.1 National Council Meeting, 6 Februarie 1993.

3.3.2   Outgoing
3.3.2.20 Modiegi Dlamini-Khumalo to President-Elect, 7 Mei 1995.

MCH 100       

4 Steering Committee
4.1 National Steering Committee
4.1.2 Reports
4.1.2.4 Report Steering Committee meeting, 19 en 20 Junie 1993.
                  
4.1.3 Correspondence
4.1.3.1 Incoming
4.1.3.1.2 Jennifer Thomson to the Steering Committee, 21 Oktober 1992. 

4.2.2 Circulars
4.2.2.2 From Shirley Walters and Gertrude Fester Invitation to a meeting, 2 Junie 1994.

MCH 100       

29 Statements
29.1 Constitutional arrangements for gender equality, statement by Frene Ginwala at the Women’s Consultation, 27 September 1991.

Dokumente in skrywer se besit

WNC-dokumente (chronologies):

Notule van die vergadering byeengeroep deur die ANCWL om die veldtog vir ’n Vrouehandves te bespreek, 27 September 1991.

Toespraak deur Frene Ginwala, Nasionale Werkswinkel, 25-26 April 1992 (gestuur aan Anne Routier).

Kate Birch aan Bestuurskomitee-lede, Women’s AllianceWes-Kaap, 6 Augustus 1993.

Vrouehandves vir effektiewe gelykheid, soos aanvaar deur die Nasionale Koalisie op 25-27 Februarie 1994.

 

Eindnotas

1 Die DP het nie in sy grondwet voorsiening gemaak vir ’n afsonderlike vroue-afdeling nie, maar vroue was baie aktief in die party en het sterk gefigureer. Wanneer nodig is ’n Vroueforum egter saamgeroep, soos in die geval van die WNC.

2 Dene Smuts, e-pos, 4 September 2002.

3 Die ATKV is in Augustus 1930 gestig as ’n beroepsgerigte organisasie wat sou sorg dat die Afrikaanssprekende spoorwegwerker se taal en kultuur beskerm word. Tot op hede bly die hoofdoelwit van die ATKV nog steeds die beskerming en bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. In 1943 is ATKV-Dames gestig, wat ook as doelwitte die opheffing van die Afrikaanssprekende vrou en haar gesin en maatskaplike sorg in die algemeen insluit (Menell en Jobson 1995:40).

4 Estelle Jordaan (geb. Stoop), e-pos, 30 Maart 2002.

5 Die NP is op die WNC deur die party se Vroueaksie verteenwoordig. Die Vroueaksie se doelwitte was polities, want die vroue was hoofsaaklik besig met stemwerwing en kiesersopleiding. Hulle het ook gehelp met die opleiding van vroulike stadsraadslede. Ten tye van die WNC was die destydse staatspresident se vrou, Marike de Klerk, voorsitter van die Federale Vroueaksie, wat sy op die dagbestuur van die NP verteenwoordig het.

6 Joan Hunter, vraelys, ongedateer.

7 Die meeste vraelyste is in Januarie 2001 uitgestuur. Die meeste voltooide vraelyste is kort daarna terugontvang. Ongedateerde vraelyste is almal in 2001 ontvang. Vir akkuraatheid is dit nie gedateer nie.

8 Die Kaapse Vroueklub is in Maart 1975 gestig. Die doelwit was om apartheid te omseil en Kaapse vroue, veral Afrikaanssprekendes, bymekaar te bring. Hulle het ook toenadering tot swart vroueleiersfigure gesoek.

9 Die inisiatief vir die stigting van Kontak het tydens die 1976 Soweto-opstande uitgegaan van ’n groep Afrikanervroue, onder leiding van Frede van Rooyen, wat bekommerd was oor die toekoms van Suid-Afrika en die gebrek aan kontak tussen mense. Die organisasie se doelwitte was om ’n beter begrip en respek vir mekaar te bevorder vir groter samewerking tussen al die mense van Suid-Afrika, om te strewe vir die bevordering van geregtigheid terwyl terselfdertyd sosiale en kulturele diversiteit erken word, en om ekonomiese verantwoordelikheid en rentmeesterskap te bevorder (Menell en Jobson 1995:43).

10 Die Vroueburo is in Julie 1981 deur Margaret Lessing, met befondsing van Old Mutual, gestig. Die doelwit was om ’n sentrale liggaam vir vrouesake daar te stel. Dit was die eerste netwerk vir vroue van verskillende rassegroepe en organisasies. Sedert sy stigting het hierdie landwye niepolitieke skakelliggaam sigself beywer om die sosiaal-ekonomiese toestande van die vrou te bevorder, veral om haar toetrede tot die arbeidsmark te vergemaklik en om praktiese gelykheid te bewerkstellig. Die organisasie het wetgewing gemonitor wat vroue, kinders en familie raak, probeer om geweld en mishandeling in families te verlig en om vroue se belange, gesondheid en welsyn te beskerm (Menell en Jobson 1995:13).

11 Vroue vir Suid-Afrika het met die volgende stellings hulle doelwitte uitgespel en lede gewerf: “Ons probeer goeie verhoudings tussen groepe bevorder en bring ’n boodskap van hoop in ’n rewolusionêre klimaat”; “Vroue in dié land moet mekaar nou die hand gee om saam die kommunistiese aanslag teen die land en sy mense te stuit” (Menell en Jobson 1995:47).

12 Op 19 Oktober 1904 is die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), die eerste welsynsorganisasie in die Transvaal, deur Georgina Solomon gestig. Die doelwitte van die organisasie is die praktiese beoefening van naasteliefde aan die medemens in nood, die bestendiging van die gesinslewe, die voorsiening van dienste en fasiliteite volgens gemeenskapsbehoeftes, veral vir kinders en bejaardes, voorbidding vir die land en sy mense, bevordering van opvoeding, onderwys en gesondheid en die beywering vir die behoud van kultuurerfenisse. Volgens die destydse voorsitter, Susann Marais, het die organisasie “in die lig van die huidige politieke en kerklike verdeeldheid” ’n versoenende rol gespeel en probeer om beter gesindhede onder Afrikaners te bevorder (Menell en Jobson 1995:45).

13 Dames Aktueel is in 1977 as openbare arm van Dameskring (die vroue-ekwivalent van die Broederbond)gestig. Die organisasie se doelwitte was om die Afrikanerkultuur onder vroue te bevorder, lede oor aktuele sake ingelig te hou, verstandelike en geestelike paraatheid te ontwikkel en kulturele verryking en intellektuele stimulasie te verskaf (Menell en Jobson 1995:41–2).

14 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

15 Annemarie Nutt, vraelys, ongedateer.

16 Amanda Botha, onderhoud, 15 Augustus 2001. Botha het die Kaapse Vroueklub verteenwoordig. Sy is later tot die Nasionale Raad verkies en was een van die woordvoerders van die WNC.

17 Truida Prekel, onderhoud, 25 Augustus 2001.

18 Truida Prekel, onderhoud, 25 Augustus 2001.

19 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

20 Jenny Malan, korrespondensie, re eerste vergadering van WNC op 25 April 1992; Jenny Malan, notas re ANCWL-vergadering op 27 September 1991.

21 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

22 Truida Prekel, onderhoud, 25 Augustus 2001.

23 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001. Hierdie aantyging is ook deur ander vroue gemaak (sien Maritz 2004:255).

24 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

25 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

26 Toespraak deur Frene Ginwala, Nasionale Werkswinkel, 25-26 April 1992.

27 Dene Smuts, e-pos, 4 September 2002.

28 Toespraak deur Frene Ginwala, Nasionale Werkswinkel, 25-26 April 1992.

29 Kate Birch aan lede van die Loodskomitee, Women’s Alliance Wes-Kaap, 6 Augustus 1993; MCH 100 4.2.2.2: Omskrywe van Shirley Walters / Gertrude Fester aan lede van die Women’s AllianceWes-Kaap, 2 Junie 1994.

30 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

31 Toespraak deur Frene Ginwala, Nasionale Werkswinkel, 25-26 April 1992.

32 Aangehaal in Roberts 1992.

33 Na die verkiesing in 1994 sou nege lede van die Bestuurskomitee die ANC as parlementslede verteenwoordig. Thoko Msane en Winnie Mandela is in president Nelson Mandela se eerste kabinet opgeneem.

34 Die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie is ’n sambreelorganisasie met outonome takke in die provinsies. Die hoofdoelwit is om volwasse vroue op te voed en te ontwikkel en die Unie bied hoofsaaklik programme aan wat oor opvoeding, gesondheid, landbou, tuisteskepping en welwillendheid handel (Menell en Jobson 1995:21).

35 Sheila Meintjes was professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand en is vir haar kundigheid by die WNC ingetrek.

36 Naam op diskresie van skrywer weerhou.

37 Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

38 Dene Smuts, vraelys, 4 September 2002.

39 Amanda Botha, onderhoud, 15 Augustus 2001.

40 Truida Prekel, onderhoud, 25 Augustus 2001.

41 Byvoorbeeld: Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

42 Naam op diskresie van skrywer weerhou.

43 Die woorde van Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer; Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

44 Annemarie Nutt, vraelys, ongedateer.

45 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

46 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

47 Dioné Prinsloo, onderhoud, 6 Maart 1999. Prinsloo, ’n historikus verbonde aan UNISA, is vir haar kundigheid genader om by die WNC betrokke te raak.

48 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

49 Joan Hunter, vraelys, ongedateer.

50 Marie Herholdt, vraelys, ongedateer.

51 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001. Jordaan het ook die verwysings van “ons” en “hulle” gebruik, maar spesifiek dan verduidelik dat sy dit so gebruik om te onderskei tussen “‘ons’ vir Afrikaanse wit vroue” en “‘hulle’ vir swart vroue wat ook Indiërvroue insluit”.

52 Amanda Botha, onderhoude, 15 Augustus 2001 en November 1996.

53 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

54 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

55 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

56 Estelle Jordaan, e-pos, 30 Maart 2001.

57 Hierdie onderafdeling is ’n samevatting van verskeie vroue se bydraes, en alhoewel daar probeer is om na insette in afsonderlike eindnotas te verwys, was dit om praktiese redes nie altyd moontlik nie.

58 Amanda Botha, onderhoud, 15 Augustus 2001.

59 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

60 Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

61 Mariejie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

62 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

63 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

64 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001; Mariejie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

65 Naam op versoek weerhou.

66 Annemarie Nutt, vraelys, ongedateer.

67 Amanda Botha, onderhoude, November 1996 en 15 Augustus 2001.

68 Hierdie stelling is gebaseer op die bronnesoektog wat op die internet na vrouesake gedoen is, asook in die knipselargief van die Instituut vir Eietydse Geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat.

69 Joan Hunter, vraelys, ongedateer.

70 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001. Sien ook Maritz (2004:138).

71 Amanda Botha, onderhoud, 15 Augustus 2001.

72 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

73 Truida Prekel, onderhoud, 25 Augustus 2001.

74 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

75 Dioné Prinsloo, e-pos, 11 Desember 2002.

76 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

77 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

78 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

79 Dene Smuts, vraelys, 4 September 2002.

80 Elsje Büchner, e-pos, 19 Februarie 2003; Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

81 Dioné Prinsloo, vraelys, 11 Desember 2002.

82 Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

83 Goedkoop sintetiese breidrag, met kort moue en kragies.

84 Informele gesprek, 15 Augustus 2001. Naam deur skrywer weerhou.

85 Elmarie Neilson, vraelys, 2001.

86 Jong Dames Dinamiek is as ’n kultuurorganisasie vir vroue van 35 jaar oud en jonger, net soos Dames Aktueel, ook in 1977 gestig. Eersgenooemde se doelwitte is dieselfde as dié van Dames Aktueel en die meeste lede van Jong Dames Dinamiek sluit ná die ouderdom van 35 jaar by Dames Aktueel aan (Menell en Jobson 1995:43).

87 Elsje Büchner, e-pos, 19 Februarie 2003.

88 Truida Prekel, onderhoud, 25 Augustus 2001.

89 Amanda Botha, onderhoude, November 1996 en 15 Augustus 2001.

90 Truida Prekel, onderhoud, 25 Augustus 2001.

91 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

92 Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

93 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

94 Marie Herholdt, vraelys, ongedateer; Dioné Prinsloo, onderhoud, 6 Maart 1999.

95 Dioné Prinsloo, e-pos, 11 Desember 2002.

96 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001; Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

97 Dioné Prinsloo, e-pos, 11 Desember 2002.

98 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001; Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

99 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

100 Elmarie Neilson, vraelys, 2001.

101 Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

102 Elsje Büchner, e-pos, 19 Februarie 2003.

103 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

104 Elmarie Neilson, vraelys, 2001.

105 Dioné Prinsloo, e-pos, 11 Desember 2002.

106 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

107 Vrouehandves vir effektiewe gelykheid, artikel 11, gesondheid. (Volledige Vrouehandves is opgeneem in Maritz 2004.)

108 Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

109 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

110 Marié Herholdt, vraelys, ongedateer; Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

111 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

112 Bogenoemde is afkomstig van: Elmarie Neilson, vraelys, ongedateer; Marietjie Greeff, vraelys, ongedateer; en Amanda Botha, onderhoud, 18 Maart 1996.

113 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

114 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

115 Dene Smuts, vraelys, 4 September 2002.

116 Truida Prekel, onderhoud, 25 Augustus 2001.

117 Annemarie Nutt, vraelys, ongedateer; Marietjie Greeff (later Zaaiman), vraelys, ongedateer.

118 Jenny Malan, onderhoud, 5 Maart 2001.

119 Dene Smuts, vraelys, 4 September 2002. Sy meen dat die solidariteit tussen rasse tekenend van daardie tyd was, in teenstelling met die Mbeki-era, waartydens die swart-wit-kloof vergroot word en vroueregte “gedemp deurkom”.

120 Amanda Botha, onderhoud, 15 Augustus 2001.

121 Amanda Botha, onderhoud, 3 Maart en November 1996.

122 Amanda Botha, onderhoud, 15 Augustus 2001.

123 Loïs Geldenhuys, vraelys, 17 Mei 2001.

124 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.  

125 Annemarie Nutt, vraelys, ongedateer.

126 Joan Hunter, vraelys, ongedateer.

127 Estelle Jordaan, vraelys, 30 Maart 2001.

128 Amanda Botha, onderhoud, 18 Maart 1996.