Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Girl Who Played with Fire: Heelwat groot gewere, maar storielyn skiet tekort


André Crous - 2010-11-03

Titel: The Girl Who Played with Fire
Regisseur:
Daniel Alfredson
Kamerawerk: Peter Mokrosinski
Rolverdeling: Michael Nyqvist, Noomi Rapace, Mikael Spreitz, Yasmine Garbi, Georgi Staykov
Looptyd: 130 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 5 November 2010

Die eerste film van hierdie Millennium-trilogie (vernoem na die publikasie waarvoor die hoofkarakter, speurjoernalis Mikael Blomkvist, werk), The Girl with the Dragon Tattoo, het ’n duidelike en sterk storielyn gehad: ’n Jong meisie het veertig jaar gelede verdwyn en Blomkvist begin ondersoek instel om ’n oplossing vir dié raaisel te vind.

Die opvolgprent, The Girl Who Played with Fire, is ’n heelwat lomper produksie wat graag die groot gewere en kru klanke uitruk om ons te laat sidder, maar dit maak nie op vir ’n gebrek aan ’n duidelike storielyn nie. Twee moorde bring toevallig weer vir Lisbeth Salander en Mikael Blomkvist in kontak, maar hulle werk nie fisies saam nie en kontak ook nie mekaar nie – in die wêreld van alomteenwoordige tegnologie deel hulle inligting (deurdat sy van tyd tot tyd in Blomkvist se rekenaar inbreek) sonder dat die een ooit die ander hoef te sien. Die derde en finale film sal The Girl Who Kicked the Hornet’s Nest wees, wat in Desember in Suid-Afrika uitgereik sal word.

In die eerste halfuur van hierdie tweede aflewering gebeur byna niks, behalwe dat Lisbeth, wat laas op ’n Karibbiese eiland uitgehang het, weer terug is in Stockholm en dat Blomkvist begin werk aan sy eerste groot artikel ná die drama wat in The Girl with the Dragon Tattoo afgespeel het. Hy en sy span is op die hakke van mensesmokkelaars, maar wanneer moorde gepleeg word met ’n rewolwer wat Lisbeth hanteer het, begin sy ’n verbinding sien met die verdagtes in Blomkvist se ondersoek.

Die storielyn is baie wyer as in die vorige film en fokus op ’n onbekende groep wat handel dryf met meisies uit Oos-Europa, en hulle is nie mense met wie jy wil mors nie. Een só ’n karakter is die blonde vleispaleis Ronald Niedermann, wat baie onhandig, amper roboties, lyk – die rede hiervoor word teen die einde van die verhaal met ons gedeel.


Maar eintlik draai die film eerder om die verhouding tussen Salander en haar pa, maar dit is myns insiens baie sleg hanteer, in teenstelling met die minimalistiese benadering tot hierdie draad van die storielyn in die eerste film. In die woorde van een van die film se karakters is Lisbeth Salander iemand “wat daardie mans haat wat vroue haat”, en met goeie rede. Ongelukkig kon ons reeds genoeg uit die eerste film aflei en hier word alles bombasties behandel.

Die film beweeg ook dikwels heen en weer oor die grens tussen riller en grilfilm, wat nie ’n goeie keuse is vir ’n storie wat so duidelik in ons wêreld afspeel nie. Daar is talle oomblikke waar die musiek so skreiend is dat dit klink soos skerp naels wat oor ’n swartbord getrek word. Dit is wel effektief, soos ’n toneel teen die einde van die film baie goed bewys, maar die skrik wat dit die kyker op die lyf jaag, is heeltemal ongevraagd en maak die oefening soveel minder werd. Dan is daar selfs ’n karakter wat basies uit die dood uit opstaan. Dit is nie net onrealisties nie, maar ook heeltemal ongeloofwaardig indien die konteks van die verhaal in ag geneem word – ’n konteks wat ons wêreld baie nou weerspieël.


The Girl Who Played with Fire is effens korter as die eerste film, maar voel langer. Dit ly nie aan die gewone probleem van ’n tweede film in ’n trilogie nie, met ander woorde daar is wel min of meer ’n begin en ’n einde aan die storie, maar die uiteenlopende storielyne, almal op een of ander manier gebrekkig, laat spat ons aandag aan skerwe en die sterk fokus van die eerste verhaal word sterk gemis.