Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Terug in die kraal is vir die hardcore fans


Leon-Ben Lamprecht - 2010-11-02

Terug in die kraal
Beeskraal

 

Vir die meeste mense, vermoed ek, bring die woord beeskraal seker visioene van Frieskoeie en mis en groen velde en afgekampte, wel, krale. Dalk ’n krip met water in en ’n soutlek.

Die eerste ding waaraan ek egter dink, is Pretoria en Elvis (en Francois Nolte). Wag, laat ek verduidelik.

Die uwe sien die band met ’n lekker mengsel van rock ’n roll en boeremusiek wat hulself en hulle musiek nie te ernstig opneem nie. Ek dink aan “Strate van Pretoria”*; ek dink aan hulle EP Sonskyn Elvis; ek dink aan MK (toe nog met “89” by die naam) se eerste uitsending – dit was die TV-program Gons en aan die einde het Francois Nolte,** een van die aanbieders saam met Johrné van Huysteen van ddisselblom, so in die kamera gekyk en gesê: “Welkom by MK89.” Die rede hoekom ek hieraan, en spesifiek aan Nolte, dink, is dat hy, het ek iewers gelees, ’n groot aanhanger van Beeskraal is. Ek dink ook aan sorgvrye studentedae op Stellenbosch*** (en een keer se besoek aan Aardklop****). *****

So, Beeskraal en hulle bekende (vir my in elk geval) logo-ontwerp het dus ’n emotiewe waarde vir my.****** Wat my opgewonde gelaat het toe dié lot se album Terug in die kraal onverwags op my lessenaar beland het.

Ek moet egter erken dat dit vir my maar bra gemiddeld is. Nou, hier kan baie redes voor wees: dalk het my smaak baie verander sedert ek laas aktief na hulle geluister het; dalk voel dit vir my of hulle hart nie heeltemal meer in dit is nie; dalk is dit ’n geval van min groei (die logo is byvoorbeeld steeds dieselfde); of dalk het ek meer verwag?

Dis natuurlik nie om te sê daar is nie goeie liedjies op nie. “Roots en boots” saam met Dozi, die tweede snit op die album, met sy sterk country-ondertone en nostalgiese aanslag, is een van hulle.

Hulle doen ook liedjies saam met MD Greyling, Theuns Jordaan en Anton Goosen, met wisselende mate van sukses. Teen my verwagting in was die Jordaan-een nogals luisterbaar. “Doer in die boendoe” saam met die Liedjieboer is egter my gunsteling.

Op “Anna Katanna” kom hulle weer by daai speelsgeid uit wat ek so van gehou het: “Anna Katanna sy is so rof/ sy skop haar beenhare af/ laat innie aand/ as sy haar bike wil start.” “Doringdraad” se lekker, sweterige rock ’n roll is nog ’n lekker ene.  

Heel somer lank”, ’n Afrikaanse verwerking van Kid Rock se “All summer long”, is egter nie ’n gunsteling nie. Ook dit speel die nostalgie-kaart (“ek onthou dit nog soos gister/ ja, die lewe was so rustig/ ons kon kaalvoet loop en in die strate speel tot laat”), maar die hele Afrikaanse-woorde-vir-bekende-Engelse-liedjie doen dit nie vir my nie. Soveel te meer, dan, as jy nie van die oorspronklike Engelse liedjie hou nie.*******

“Die Datesong”, “Donkeraand” en “Lyfie” is ook maar vir die uwe vergeetbaar.

Op die oorwig, dus, sou ek hierdie album vir hardcore fans aanraai. Vir die res? Wel, ek dink nie jy gaan jou geld mors nie, maar as jy moet kies tussen dié en sê nou maar om ’n nuwe jean te koop, koop eerder die jean.

 

* Toe ek op die redelik gevorderde ouderdom van 25 vir die eerste keer in Pretoria, of dan Pe-toria, soos die meeste mense daar dit skynbaar noem, besoek, was dit dan die eerste ding wat deur my gedagtes geflits het. Nie Koos Doep se “Pretoria” of Valiant se “Jakarandastrate” nie; nee, Beeskraal.

** Ek dink hy lees deesdae nuus op e-tv se Afrikaanse nuuskanaal. Of iets dergeliks.

*** Sonskyn Elvis was byvoorbeeld vir so drie weke in my tweede jaar die klankbaan van my lewe. Ja, ek weet dis ’n cliché, maar ek skryf nou hier, nie jy nie.

**** Hulle (dis nou Beeskraal) het in Bourbon Street opgetree en “Ou Plaasdorp” gedoen (ten minste ek dink dis die liedjie se naam). Op die koortjie van “Daar’s net een garage en bottelstoor/ ’n sink kakhuis en ’n poskantoor/ dis goed om weer/ die ou plaasdorp te sien” het my vriendin A kliphard saamgesing. Dit was vreemd, want as jy A sou sien, sou jy nie gedink het sy is noodwendig die tipe wat sal saamsing oor kakhuise op ou plaasdorpe nie.

***** Les bes dink ek ook aan die man/vrou wat by my kar ingebreek het in my vyfde jaar (dit was die tweede keer in twee weke). Die man/vrou het toe al my CD’s, wat in ’n pouch onder die passasierssitplek gelê het, gesteel, insluitend my Beeskraal-CD’s. Ek was baie kwaad, want ek het byvoorbeeld nie al die albums (daar was ’n stuk of 100) op .mp3 gebackup nie, maar ek het later besef die man/vrou het dalk die geld nodig gehad om sy/haar kinders kos te gee. Of dalk kies ek net om so daaraan te dink.

****** Soos die meeste dinge in die lewe seker maar het. Ek probeer nie hier sê ander bands of mense of boeke, ensovoorts, het minder van ’n impak nie, maar om een of ander rede is dié rondom Beeskraal vir my besonder ... vivid. Dalk was dit oor ek in daai stadium van my lewe wat ek veral baie na hulle geluister het (dis nou my tweede jaar), vreeslik graag Pe-toria wou sien? Of dalk is dit eenvoudig meer banaal – ek het ook toe nogals obsessief gedroom van goed kitaar speel en (minder obsessief) geoefen daaraan en hulle liedjies was maklikerig om die drukke van te leer.

******* To be fair, though, hoe meer jy daarna luister, hoe meer groei dit op jou. Dit geld vir Engels, sowel as Afrikaans.