Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 02/11/2010: Polisie loop wet met mag vooruit


2010-11-02

02.11.2010
Polisie loop wet met mag vooruit

Almal wat ten gunste van spraakvryheid is, wag in spanning om te sien wat die uiteinde is van die polisie se pogings om ’n koerant se mond te snoer en die appèl teen hulle interdik. ’n Polisie-“diens” wat veronderstel is om vry van politieke beheer te wees, wys reeds hoe bullebaktaktiek uitgeoefen gaan word as die voorgestelde inligtingswet toegepas gaan word.

Hulle het dit reeds dramaties gedoen toe hulle ’n hele troepemag gebruik het om ’n onskuldige joernalis te gaan arresteer, net om hom agterna te moes vrylaat. Nou het die top-bestuur van die polisie ’n interdik verkry teen Sunday Independent se plan om bewerings van nepotisme te publiseer.

Die ontstellende is dat die polisie na die aanvaarding van die wet nie eens mag hoef te gebruik om korrupsie in eie geledere toe te smeer nie. Hulle moet bloot alle inligting daaroor geheim verklaar.

Rapport (31.10.2010) berig onder meer soos volg: Mediakringe vind die polisie-optrede “skokkend”. Dit word gesien as ’n vroeë aanduiding van die wyse waarop mediavryheid en die reg van die publiek om ingelig te word oor beweerde korrupsie in staatsinstellings in die toekoms ingeperk kan word.

Die interdik teen die koerant behels dat hy nie enige inligting oor aanstellings in die polisie mag publiseer nie en ook alle dokumente hieroor in die koerant se besit aan die polisie moet oorhandig. Volgens die redakteur, Makhudu Sefara, hou dit verband met ’n opvolg op die koerant se onthullings dat daar groot probleme in die misdaadintelligensie-eenheid van die polisie is. Daarin is beweer dat die eenheid in duie kan stort weens korrupsie, wanbestuur, bedrog, nepotisme en ’n gebrek aan leierskap.

Die manier waarop die haastige interdik toegestaan is, is gister skerp deur die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) gekritiseer. “Ons is geskok. Die uitspraak is gegee sonder dat die regsargumente van albei partye aangehoor is,” het mnr Yusuf Abramjee, voorsitter van Sanef, gister gesê.

“Dit is ’n bespotting van die gereg. Dit mag ’n tegniese punt wees dat die koerant se regsverteenwoordigers nie betyds by die hof was nie, maar dit is net nie goed genoeg nie. Die saak moes op meriete aangehoor gewees het.”

Sefara het gesê dit is vir hom hartseer dat die polisie hom op die inligtingswet van 1982 beroep het om die koerant te stop – dieselfde wet wat die regering reeds as “ongrondwetlik” beskryf het. Die regering voer ook dié apartheidswetgewing aan as rede dat dit met die nuwe omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting vervang moet word.

“Dit wek kommer. Ons het navrae aan die polisie gestuur oor dokumente wat in besonderhede dié probleme uitwys en wou weet of die polisie dit as probleme beskou. Pleks dat hulle op ons navrae reageer, hardloop hulle hof toe en gebruik ’n wet wat die regering reeds as ongrondwetlik beskryf het om ons te stop.” Sefara sê Sunday Independent gaan die interdik beveg.

Het ons die verwoesting van sensuur vergeet?

Vrye Woord moet seker maar te dankbaar wees dat die aanslag van die ANC tot dusver nog nie direk op die letterkunde gemik is nie. Dit wil nie sê dit gaan nie in die toekoms gebeur nie. Die skrywerspetisie kan byvoorbeeld geklassifiseer word “omdat dit die Regering ten onregte in ’n slegte lig stel”.

Laat ons nie die verlede vergeet nie. In Rapport Weekliks (31.10.2010) het George Claasen dit teen die optrede van religieuse drukgroepe, byvoorbeeld teen Woolworths omdat hulle aanvanklik godsdienstige tydskrifte van hulle rakke verwyder het. Hy skryf onder meer soos volg oor die geskiedenis van sensuur op die letterkunde.

George Claasen

Woolworths is maar net een slagoffer van wat ’n mens sterk herinner aan die totale onverdraagsaamheid van Torquemada (leier van die Spaanse Inkwisisie). In 2006 moes ek as ombudsman van Die Burger ’n string e-posse en dreigende telefoonoproepe hanteer van lesers wat ongelukkig was dat Liza Albrecht, toe redakteur van die koerant se Saterdagbylaag By, dit durf waag het om die bekroonde skrywer Jeanne Goosen se gedig “Spesiale Kersaanbod” te plaas.

Dit het spoke opgeroep van die lawaai teen Die Transvaler en Die Huisgenoot in 1958 en Rapport (1970) se publisering van DJ Opperman se gedig “Kersliedjie”, waarin hy die geboorte van Christus verplaas het na Distrik Ses.

Daarna het hulle in 2007 gedreig om Rapport af te brand en te boikot omdat hulle niks gehou het van Deon Maas as rubriekskrywer se mening (soos beskerm deur artikel 16 in die Grondwet) oor Satan as net een van die gode wat aanbid kan word nie. (Maas is afgedank.)
(...)

Ons geheue is kort. ’n Studie van die uitsprake van die destydse Appèlraad oor Publikasies – die apartheidinstelling wat beheer gehad het oor wat ons volgens die morele brigades mag lees, sien en hoor – wys hoe sensuur dekades lank onafhanklike denke kon onderdruk.

Nadat die appèlraad onder voorsitterskap van regter Lammie Snyman Etienne Leroux se meesterlike allegoriese satire Magersfontein, o Magersfontein! in 1977 verbied het, het Snyman pontifiserend in ’n radio-onderhoud aan Morkel van Tonder gesê “dis glad nie verkeerd van die staat om ’n liggaam aan te stel wat besluit of daardie boek gewens of ongewens is nie.”

Tydens dié sensuurbewind en met die onderskraging van dominees in komitees van die direktoraat oor publikasies en selfs in die appèlraad is boeke onder die dekmantel van Christelike waardes verbied en kunswerke van gehalte van die verhoog en uit rolprentteaters geweer.

Voor in die koor was ds Dan de Beer met sy Aksie Morele Standaarde en die groot slagspreuk van die dag was “Obseniteit tas die volk se waardes aan.”

Om die uitsprake van die appèlraad vandag te herlees is nogal ’n onthutsende ervaring. En komies, want “obseniteit” is in sy volle naaktheid gedefinieer sodat dit selfs politieke werke en kuns van alle vorme met sy kleed kon omvou.

André P Brink, wie se Kennis van die aand ook verbied is, het in 1978 die omvang van dié woord raak beskryf tydens ’n byeenkoms van die Afrikaanse Skrywersgilde by Maselspoort: “Obseniteit is Jimmy Kruger wat sê: ‘Dit laat my koud.’ Obseniteit is Connie Mulder wat praat van ‘plurale betrekkinge’. Obseniteit is prof Chris Barnard wat ’n onderhoud met Breyten in die tronk reël. Obseniteit is Marais Steyn wat beloof dat plakkershuisies met deernis gesloop sal word. Obseniteit is Lammie Snyman wat sê dat sy raad namens my sal besluit wat ek mag lees en waarvan ek sal hou.”

Amptenare ook op die renosterjagtog?

Amptenare sal volgens die beoogde wet meestal besluite oor geheimhouding moet neem, bepaald volgens voorskrifte van hulle politieke base. Dieselfde base sal dan in die parlement moet besluit of die besluite geregverdig is!

Jeanette Ferreira ruik ’n rot. Sy skryf:

Jeanette Ferreira

Dit lyk nie asof die geheimhouding van sensitiewe inligting almal in die land gaan bevoordeel nie. Hier onder is ’n interessante voorbeeld van wat kan gebeur met inligting wat net aan regeringsamptenare bekend is. Let ook daarop dat Beeld nie so onverantwoordelik is om daarop aanspraak te maak dat Pretorius reg is nie, maar dat hulle hom net aanhaal:

In die mees onlangse voorval is sewe renosterhorings Saterdag in ’n gewapende rooftog uit ’n kluis by die Thaba Manzi-lodge naby Bela-Bela (Warmbad) gebuit. Die aanvallers het vir mnr Hans Kooy, lodge-eienaar en dr Jana Pretorius, ’n veearts, gesê: “Julle weet waarom ons hier is.”

Kooy, ook ’n wildvanger, het op 5 Oktober permitte van die Limpopo-omgewingsdepartement gekry vir die wettige besit van die horings. Die horings is van renosters op sy plaas. Hy het besluit om dit af te sny nadat een van sy renosters sowat twee maande gelede doodgemaak en sy horing afgekap is.

Mnr Johan Pretorius, bemarkingsbestuurder van Thaba Manzi, het aan Sapa gesê die gewapende rooftog waartydens die horings Saterdag gesteel is, is “baie vreemd”. Volgens hom is die Limpopo-omgewingsdepartement die enigste ander mense wat geweet het waar die horings gehou word.

Lt-kol Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog weens die gewapende rooftog en diefstal van die horings in hegtenis geneem nie.

(Uit: Beeld, 29 Oktober 2010)


CM

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index