Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 02/11/2010: Selfs al sing die ANC "Suikerbossie"


2010-11-02

Selfs al sing die ANC “Suikerbossie”
Wat doen die party met ons vryheid?

Charl-Pierre Naudé
Meningstuk in Beeld, 2010-10-28



Oudpresident Nelson Mandela in gesprek met Cyril Ramaphosa, albei van die ANC, by die destydse veelparty-onderhandelinge in Kempton Park in 1992. Die Grondwet is daar onderhandel.

 

Dikwels word gesê Suid-Afrika se demokrasie berus op goeie idees; dis die uitvoering wat misluk.


Ons het glo ’n wonderlike Grondwet; net jammer die ANC oortree dit. Dikwels word gesê Suid-Afrika se demokrasie berus op goeie idees; dis die uitvoering wat misluk.

Of die ANC wyk af van die oorspronklike idee. Maar is alles wel met die “oorspronklike idee”, wil Charl-Pierre Naudé weet.

Dit verander steeds niks aan ons pluraliteit nie Gestel daar ís fout met ons demokrasie se grondliggende aannames.

Gestel die ooreenkoms wat ons in aller yl met mekaar as landgenote in 1994 aangegaan het, hét gebreke.

Vryheid is ’n grondwetlike grondbegrip.

Volgens die Johannesburgse politieke filosoof Pieter Duvenage is die vryheidskonsep in die Handves van Menseregte een wat toelaat dat die historiese vryheidstrewe van veral Afrikaners fundamenteel aangetas word.

As Duvenage reg is, word te min voorsiening gemaak vir ’n vryheidsdrang wat by alle mense (maar veral by gemeenskappe) kultureel ingebore is.

Daarom ervaar veral Afrikaners die ANC-bewind, ondanks ’n Grondwet en menseregtehandves wat as vooruitstrewend gesien word, as onvry.

Daarom emigreer veral wit bekwames en geskooldes in hul hordes tot groot nadeel van die land en ware transformasie.

Die rede is die onderskeid tussen twee wesensvorme van vryheid, negatiewe vryheid en positiewe vryheid – wat die ANC óf die Grondwet nie na wens erken nie.

Die Handves verskans eersgenoemde, maar nie laasgenoemde nie.

Negatiewe vryheid beteken om individueel vry van eksterne inmenging deur staat en andere te wees.

Positiewe vryheid is vryheid om te doen; jouself as individu binne ’n groep te realiseer. Die onderskeid is goed deur die filosoof Isaiah Berlin beskryf.

“Negatiewe vryheid beskryf die maksimum vryheid aan die individu afgegrens van die omgewing om hom of haar,” skryf Duvenage daaroor.

Positiewe vryheid, daarenteen, is die vryheid om uit te gaan en ’n bepaalde soort lewe te lei.

Die omskrywing van ons vryheid in negatiewe terme sou genoeg gewees het as ons ’n homogene samelewing was. Dit sou ook genoeg gewees het as die staat in sy optrede by negatiewe vryheid gehou het, maar hy doen dit nie.

Die staat is besig met ’n aggressiewe ontplooiing van positiewe vryheid namens homself en sy ondersteuners (’n program van swart nasionalisme). Maar hy verbloem dit onder die dekmantel van negatiewe vryheid.

En dis tyd dat die oëverblindery ontmasker word, meen Duvenage.

Die ANC kombineer op slinkse wyse negatiewe vryheid soos beskryf in die Grondwet met positiewe vryheid vir homself. Dit loop uit op die uitskakeling van positiewe vryheid vir groepe wie se belange hy nie regstreeks verteenwoordig nie.

Ons is ’n land van plurale identiteite en groepe. Pluraliteit beteken dat die uitlewing van positiewe vryheid van groep tot groep sal verskil.

Die ANC vee dié werklikheid onder die mat met opportunistiese begrippe soos “nasiebou” en “nasionale demokratiese revolusie”.

(Al loop die ANC hoe knaend onder deur “die reënboog” en sing “Suikerbossie”, dit verander geen aks aan ons wesenlike pluraliteit nie.)

Onlangs het Pallo Jordan gesê elke posisie van invloed en gesag in Suid-Afrika moet deur ’n swart persoon gevul word. Enigiets anders sal onderduims (mischievous) wees.

Dís ’n klinkklare voorbeeld van hoe die ANC beoog om positiewe vryheid uit te wis vir alle burgers wat nie aan sý groep behoort nie. Die reg op ’n loopbaan volgens die gebruiklike beloftes daarvan is ’n basies positiewe vryheidsreg.

Onderduims? Wat is meer onderduims as ’n staat wat van sy teenstanders verwag om hulself in negatiewe vryheid uit te leef, maar hy eien homself en sy ondersteuners die reg op positiewe vryheid toe?

Met dié verontskuldiging: “Die Grondwet waarborg almal se vryheid.”

O nee, die Grondwet (volgens die interpretasie van die ANC veral) waarborg slégs vryheid in negatiewe terme.

Maar is die skending van positiewe vryheid nie dalk onvermydelik in ’n land wat om dringende ingryping en rekonstruksie deur die staat vra nie?

Die skending van positiewe vryheid is onnodig en inteendeel geweldig afbrekend vir die geheel.

Dit skep juis tragedies soos emigrasie. Bekwames en geskooldes – die mense wat ons die nodigste het vir transformasie – is juis dié wat die verlies aan positiewe vryheid die ergste aanvoel.

Die aangewese weg is om toegeruste individue, met inbegrip van hul (dikwels) groep-gedetermineerde belewenis van wat persoonlike vryheid vir húlle behels, te betrek en nie te vervreem nie.

Hoe lyk die botsing tussen praktiese vryheid en rekonstruksie in die praktyk?

Neem die reg op uitlewing van Afrikaanse onderrig tot op tersiêre vlak wat tans deur die staat se transformasieprogram gekelder word.

As sulke programme in volle oorlegpleging gedoen word met dié wat gevra word om die aanpassings te doen, sal oplossings in ’n gees van dringendheid gevind word waaraan nog nie gedink is nie (soos onvoorsiene oplossings in oorlogstyd gevind word).

Waar teenstrydighede opduik, betrek die betrokke gemeenskap. Moenie oplossings wat volgens jou wêreldblik is en nie hulle s’n in ag neem nie, van bo af op hulle afdruk nie.

Die rassekwotastelsel waaraan maatskappye onderworpe is, is die grootste minagting van positiewe vryheid wat bestaan.

Betrek wit bekwaamhede in die skep en opleiding van swart bekwaamhede; moenie wit bekwaamhede by voorbaat wegdryf of penaliseer nie.

As arm wit mense nie wil integreer met ’n swart plakkerskamp nie, moenie dit afdwing nie. Skep eerder strukture wat rasvermengde organisasie­lewe (soos sport en ontspanning) aanmoedig.

Die skending van positiewe vryheid is groter hoe privater die sfeer wat deur die skending geraak word, soos private leefruimte.

Insgelyks, moenie studente dwing om volgens raskwotas in koshuise ingedeel te word nie. Skep eers strukture in die organisasielewe wat (gedeeltelike) vermenging aantreklik maak.

Gedeeltelik, ja. Want in ’n pluralistiese samelewing is álle sosiale oorvleueling gedeeltelik. Waarom nie ook rassevermenging nie?

Moenie politieke aanstellings doen in enige sfeer sonder konsensus van daardie sfeer se lede nie.

So kan swart bevordering aangehelp word terwyl dit in tandem geskied met behoud van bekwaamhede.

Die medici, ingenieurs en selfs die staatsdiens is “gemeenskappe” in ’n pluralistiese werklikheid (daar word byvoorbeeld gepraat van die mediese fraterniteit).

Met behoud van so ’n beroepsgemeenskap se positiewe vryheid bly sy integriteit behoue terwyl dit transformeer. Verlies aan integriteit beteken die konteks wat die transformasie moet absorbeer, gaan by voorbaat verlore.

Die verloorder is transformasie sowel as positiewe vryheid.

’n Staat wat regstelling in ’n gesonde gees bedryf, sou skendings van positiewe vryheid (waar dit wel sou voorkom) betreur en vergoed en by herhaling die boodskap uitstuur.

Sodat die pasiënt op wie geopereer word terwyl sy oë oop is, verseker kan word dit sal weldra ten goede verby wees.

Regstelling het aan die begin alle regdenkende burgers se instemming geniet omdat almal baat wil vind by ’n gesonde geheel.

Maar die ANC het regstelling sistematies verander van ’n noodmaatreël (wat dit behoort te wees) na ’n permanente faset.

Daar is nie ’n sfeer in ons maatskappy waar positiewe vryheid nie erg aangetas of uitgeskakel is nie, met rampspoedige
gevolge.

En die probleem is ’n regerende party wat ’n leemte in die omskrywing van vryheid in die Grondwet gebruik om die burgery ’n rat voor die oë te draai vir eie gewin.

Miskien moet ons Grondwet se behoeders meer onomwonde op dié teenstrydigheid reageer. Dis tyd om die maatstok in eie droesem te steek (as ek die idioom so ’n bietjie mag aanpas).

  • Naudé is ’n digter.

Bron: Pieter Duvenage: Is ons in staat om anders oor onsself te dink? (Ongepubliseerde opstel vir ’n komende publikasie.)

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index