Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

’n Studie van Afrikaans op Universiteitsvlak spreek vrae aan en bied oplossings


Micheal le Cordeur - 2010-11-02

’n Studie van Afrikaans op Universiteitsvlak met betrekking tot grondwetlike kwessies, die studentemark en onderrigtaalmodusse
Uitgewer: Saamgestel en uitgegee deur die FW de Klerk Stigting met die hulp van die Dagbreek Trust
Bladsye: 182
Jaar: 2010

Klik hier en laai die dokument in PDF-formaat af.

 

Toe ek nog ’n student by hom was, het Johan Combrinck altyd gesê: die doel van taal is 100 persent kommunikasie die eerste keer. Die FW de Klerk Stigting (hierna “die Stigting”) het hierdie boodskap duidelik onthou met die samestelling van hul boek ’n  Studie van Afrikaans op Universiteitsvlak.  Reeds op die voorblad word die leser gekonfronteer met wat die boek eintlik wil sê, nl:

Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is ...

soos aangehaal uit die SA Grondwet, artikel 29 (2). Die res van die boek sou óf hierdie stelling bevestig, óf argumente wat hierdie versugting sou versterk en ondersteun.

Die boek is ’n uitvloeisel van die Vredenheim-beraad wat deur 26 organisasies bygewoon is en waarvan die belangrikste uitvloeisel die verbreding van die debat was. Die boek is daarom ’n poging om duidelikheid te kry oor (1) die voor- en nadele  van die verskillende onderrigtaalmodusse (enkel-, parallel- , dubbelmedium of tolking), (2) die grondwetlike ruimte vir eise van demografiese verteenwoordiging en universiteitsonderrig in ’n ander taal; (3) die ontwikkelinge binne die Suid-Afrikaanse studentemark.

Kyk jy na die inhoudsopgawe, is dit duidelik dat die voormalige Nobelpryswenner sy politieke spierkrag ingespan het om die Who’s who in die Afrikaanse akademiese wêreld bymekaar te kry vir ’n magsvertoning wat laas in 1992 in die parlement gesien is: Marinus Wiechers, Lawrence Schlemmer, Flip Smit, Theo du Plessis, Vic Webb en Marlene Verhoef  lewer almal bydraes van uitnemende gehalte. Die enigste ooglopende leemte is die afwesigheid van ’n Matie-segspersoon: in die inleiding verwys Dave Steward van die Stigting kortliks hierna as hy sê: “Alhoewel taalkenners van die Universiteit Stellenbosch (US) genooi is om ’n bydrae te lewer, was dit ongelukkig nie vir hulle moontlik nie.” In stede daarvan vind lesers in hoofstuk 6 ’n ontleding van taalaspekte aan die US deur Piet le Roux van die Stigting en tot nou die dag nog self ’n student.

Steward verduidelik verder dat aangesien die Vredenheim-beraad (dus Afrikaans se plek by US) die katalisator was wat tot die boek gelei het, is die voordragte wat deur Magda Fourie (viserektor: onderrig) en Leon de Stadler (direkteur: taalsentrum) by die beraad gelewer is, wel bygevoeg. Alhoewel dit eerder hul afwesigheid in die boek, en/of hul stilswye oor ’n saak wat hul direk raak, beklemtoon (byna soos iemand wat ’n yslike verband om ’n seer vinger draai en dit juis die teenoorgestelde uitwerking het pleks van die seer vinger weg te steek), vind ek tog die volgende twee stukkies juwele daarin: “Dit is belangrik om te verstaan dat kontekste van universiteite drasties van mekaar verskil” (Magda Fourie, p 117) en “[K]om ons gebruik van die energie wat ons so op die US het en vat die regering aan op al die beloftes wat hulle gemaak het” (Leon de Stadler, 119).

Soos die subtitel aandui, gaan dit hier om die posisie van Afrikaans as onderrigtaal op universiteitsvlak met betrekking tot grondwetlike kwessies, wat ook die tema is vir die eerste bydrae in die boek. En niemand is beter toegerus om hierdie aspek aan die hand van die Grondwet te debatteer as die voormalige rektor van UNISA en emeritus  professor in internasionale en grondwetlike reg, Marinus Wiechers nie (wat terloops ’n prominente rol gespeel het in die opstel van die Grondwet van Suid-Afrika).  Hy lewer ’n waardevolle bydrae tot die debat deur stelselmatig en oortuigend met behulp van bewyse uit die Grondwet daarop te wys dat Afrikaans op universiteitsvlak uiteindelik die keuse van ’n universiteitsraad en nie ’n minister is nie: die wet verleen in hierdie verband geen gebiedende magte aan die minister nie en boonop sou ’n ministeriële voorskriftelikheid indruis teen die outonomie van ’n universiteit wat in artikel 16(i)(d) van die Grondwet gewaarborg word (9).

Maar daar is ’n voorwaarde: Wiechers maan (12) dit sal moet bewys word dat Afrikaans oor die akademiese woordeskat en intellektuele vermoëns beskik  om as voertaal vir hoër onderwys te dien. Voorts sal die instelling bewys moet lewer dat Afrikaans nie as meganisme dien om teen mense te diskrimineer op grond van taal nie, en om dit te bewerkstellig, is dit nodig dat Afrikaanse universiteite moet toesien dat studente (veral bruin Afrikaanssprekende studente ) maksimaal bemagtig word om hul kennis en vaardighede te verwerf en te verbeter. Die bemagtiging van bruin studente word deur meer as een skrywer uitgelig as ’n belangrike aspek wat dringende aandag verdien.

Die tweede bydrae vir hierdie boek kom van die Australiese taalkenner Fernand de Verannes, iemand wat internasionaal hoog aangeslaan word op die gebied van taalregte. Hy beklemtoon die internasionale regsbeginsels wat aan Afrikaanssprekendes, soos ook aan die sprekers van ander tale, die reg gee om hul taalbehoeftes, ook op universiteitsvlak, uit te leef. Hy noem voorts dat universiteite sover dit prakties haalbaar is, liefs een taal moet gebruik. Dit maak steeds sin om sekere nagraadse programme in Engels aan te bied sonder dat dit afbreuk doen aan die hooftaal. Hy sê voorts: “It is quite common to have different language models for university education to address the demographic makeup of the population groups within a state” (24).

Hoofstukke vier en vyf is gerig op ontwikkelinge in die Afrikaanse studentemark. Eers ontleed Lawrie Schlemmer inligting uit die jaarlikse All Media Products Survey (AMPS) oor die Afrikaanse studentemark om te probeer vasstel wat die tendense en behoeftes is. Hy bevind dat Afrikaanse studentegetalle nie afneem nie, en dat daar dus daar geen rede is waarom enige universiteit hom moet voorberei vir ’n kleiner aanbod nie. Ook hy is bekommerd oor die arm, bruin Afrikaansprekende jeug en vra wat Afrikaanse universiteite doen “oor die roeping om die mees benadeelde segmente van die Afrikaanse bevolking, die bruin plattelandse jeug, te bemagtig?” (48).

Hoofstuk vyf is ’n deeglike en besonder insiggewende ontleding van studentegetalle oor sowat 20 jaar aan die tradisionele Afrikaanse universiteite: Pretoria (UP), Johannesburg (UJ), Vrystaat (UV), Stellenbosch (US) en Noordwes (NWU) deur Flip Smit, demograaf en oudrektor van Tukkies. Sy navorsing wys dat die markaandeel van voorgraadse Afrikaanse studente tussen 1999 en 2008 sterk gegroei het by die NWU, maar minder sterk by die UV, en by US en UP selfs gedaal het, terwyl die getalle by UJ drasties afgeneem het. Soos die ander voor hom, is ook hy bekommerd oor “veral die minder gegoede bruin bevolking wie se huistaal oorwegend Afrikaans is” en hy waarsku dit “verg dringende ondersoek en ondersteuning” (72).

In hoofstukke ses tot nege vind lesers inligting oor die onderrigtaalaanbod, onderrigtaalmodusse en studente-ontwikkelinge by elk van die US, UP, UV en NWU. In hoofstuk sewe wys Theo du Plessis van die UV daarop dat hoewel parallelmedium-onderrig (PMO) tans 87 persent van die UV se onderrigaanbod uitmaak, die PMO-model waarskynlik hersien sal word: “Gegewe die veranderde studentedemografie, die indirekte koste verbonde aan PMO, maar veral die strewe na integrasie en transformasie, kan wysigings beslis verwag word, en sal toenemend beweeg word na ’n model waar Engels die oorheersende onderrigmedium sal wees” (144).

In hoofstuk ses ontleed Piet le Roux taalaspekte by die US. Dit behels ’n kort geskiedenis van die taalbeleid asook inligting oor die veranderinge in die onderrigtaalaanbod tussen 2004 en 2010, sowel as inligting oor die demografiese samestelling van die studentebevolking oor dieselfde tydperk. Van die belangrikste inligting wat in dié tyd opgeteken is, is dat die Vlottenburg-groep (wat akademici soos Jakes Gerwel, Neville Alexander, Van Zyl Slabbert en Lawrie Schlemmer ingesluit het) bevind het dat daar geen opvoedkundige gronde bestaan vir dubbelmedium-onderrig (die sg T-opsie) nie.

Dit stem ooreen met die verwikkelinge by UP, en Vic Webb noem in hoofstuk agt dat die nuwe taalbeleid by Tukkies bepaal dat wat onderrigmodelle betref, dubbelmedium so ver as moontlik beperk moet word. Dubbelmedium aan die UP is van 43 persent in 2007 afgeskaal tot 21 persent in 2010. Waar PMO of dubbelmediumonderrig nie moontlik is nie, sal tolking gebruik word (156).

Dit bring ons by tolking. In die laaste hoofstuk verduidelik Marlene Verhoef van die NWU die voordele van tolking in hulle taalbeleid.  Die NWU glo dat hulle empiries bewys het dat tolking ’n haalbare en bekostigbare taaloplossing bied. Ten opsigte van die bekostigbaarheid van meertaligheid aan die NWU sê sy: “Die vraag is eerder of ons dit kan bekostig om dit nie te doen nie” (182).

Suid-Afrikaners het tans meer vrae as antwoorde oor die toekoms van Afrikaans op universiteite. Ek was self teenwoordig by die Vredenheim-beraad en wat ek daar gehoor en hier gelees het, het my oortuig om die werk vir my eie boekrak aan te skaf. Die boek lewer ’n waardevolle en relevante bydrae tot die debat oor die plek van Afrikaans aan universiteite in Suid-Afrika.  Ten minste spreek hierdie werk van die FW de Klerk Stigting die meeste vrae aan en dit bied selfs ’n paar oplossings. Dit maak die besit van hierdie werk ’n vanselfsprekendheid vir enigiemand wat betrokke is by taalbeleidbepaling in hoër onderwys en vir ouers wat van voorneme is om hul kinders na ’n Afrikaanse universiteit te stuur. So kort voor Kersfees is dit selfs die ideale Kersgeskenk.