Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Spookstorie


Kerneels Breytenbach - 2010-11-02

I

Daar was ’n tyd, kort voor PW Botha se Rubicon-toespraak, toe koffie nie deel van die problematiek van die Ewige Lewe was nie. 

’n Eiendomsontwikkelaar van Lambton gaan egter toe heen en verander dinge. Met argelose daadkragtigheid en minagting vir alles wat metafisies is, sloop hy ’n sinkgebou naby Germiston se stasie. ’n Beneukse poltergeist kom in die proses ’n baie sleg ding oor. Sy het, teen die raad in van ’n hele kekkelende horde van haar susters, gehoop om tot in lengte van dae daar te woon.

Min gestorwenes het dit geweet, maar einste dié beneukse poltergeist het snags die periferie van die Witwatersrand gepatroleer. Dis sy wat met middernagslag gesorg het dat die guitige kwelgees van Makwassie nie by Potchefstroom verbykom nie. Dit het natuurlik met volmaan ’n absolute gemors afgegee in die Dopperkerk op Potch. Totius was nooit een vir ’n welriekende grap nie.

Ná die Rubicon-toespraak het dinge verander. Daar was ’n geskarrel onder die smetteloos verresenes. Die stoet van arme hemeldrommels het skielik nuwe plekke in die Ewige Lewe gereed gemaak. Die poltergeist was ook nie aan die slaap nie. Sy het haar geestelik voorberei op uitvoerige ontgroeningsprogramme.

Ongelukkig was daar in daardie nagte onverwags ’n paradigmaverskuiwing. Terwyl haar aandag afgelei is daardeur, het die guitige kwelgees van Makwassie verbygeglip. Die res is geskiedenis.

II

Mense kan maar dink wat hulle wil. Bitter selde sal hul drome oor wat nou eintlik aan die anderkant gebeur, verwesenlik word. Vat maar vir Bram Fischer. Hy’t altyd gesê daar’s niks ná die dood nie.

“Mens lewe en dan gaan jy dood,” het hy dit met sy kenmerkende droë humorsin en sy goeie oor vir onderbeklemtoning opgesom.

En hier sit hy nou elke aand, besig om poker te speel saam met sy maters. Kry kans om ’n bietjie die plek op horings te neem, of krieket te speel, maar altyd keer hulle terug na die poker. Wat, eienaardig genoeg, nooit werklik voltooi word nie.

Poker is sy eintlike ding in die ewige lewe. Elke aand. ’n Paar hande, geen fieterjasies soos in Las Vegas nie. En elke aand ná die Rubicon-toespraak, hier by die derde hand, moet hulle hul keer ken. Dan maak die guitige kwelgees van Makwassie sports.

Hendrik Ffrench Verwoerd sit met twee pare: vyfs en sewes. ’n Goeie hand vir iemand wat wil bluf. Wat hy met graagte doen.

“Eendag sal my prins kom,” sê hy soms. Ander kere: “Ek ken ’n swak hand as ek hom sien.” Hendrik is só intellektueel.

Danie Theron het trips. Koninginne. “Praatjies beteken niks,” sê hy.

“Swaai die waatlemoen,” sing Danie. “Swaai daai waatlemoene, suster!”

Suster synde Brenda Fasie. Sy kry altyd ’n slegte hand. Soos vanaand weer. Skoppenskoningin hoog, geen kombinasies nie. Haar linkerknieg hou onbeheerbaar ritme. Sy het gehoop om vir die skoppenskoningin ’n maatjie te kry met die omruilslag. Die hoop het beskaam.

Brenda praat min. “Shaw nuff an’ yes ah do!” roep sy wanneer sy haar kaarte oopsprei. Maar dis ook al. Verder is sy net die ene ogies.

“Vanaand maak ek skoon,” sê Bram. Hy sit met die meeste geld voor hom. In sy hand blom vier ase. Vrolik fluit hy, Anton Goosen se “Blommetjie gedenk aan my”, en skielik is daar ’n koor fluiters aan die hemeltrans, vyf miljoen tydelike-met-die-ewige-verwisselde mynwerkers wat die Goosen-meesterstuk ’n bietjie baie resonansie gee.

“Moes dit verwag het,” sê Hendrik. “Bram het altyd die beste hand.”

Bram kyk woes oor sy skouer en die mynwerkers tjaila.

En Hansie, liewe Hansie Cronje, sit met ’n bottom straight wat hy uit sy mou uit gevoer het. Niemand het dit gesien nie. Maar almal vermoed.

III

“Verbrande paradigmaskuif,” mompel Hansie Cronje. Elke aand vergeet almal daarvan, e-en net wanneer Hansie mompel, onthou hulle. Wéét hulle. Dit is net mooi dan wanneer die reuk van koffie almal tref.

Die guitige kwelgees van Makwassie!

“Koffie maak my só katools!” bulder Hendrik.

Veral as die guitige kwelgees van Makwassie koffie maak soos net sy kan: geen water nie, geen melk nie, geen suiker nie, geen koffie nie. Net die stomende koppie. Dis tog die gedagte wat tel.

“Aits!” gil Hendrik. Hy gryp Brenda en holle omhoog suiker hulle teen die dak uit. Dat die ektoplasma so spat. Wulps keer hulle terug. “Sal ’n man dan nie,” sug Hendrik kliphard.

“Praatjies beteken niks,” sê Danie Theron.

Party aande gebruik die guitige kwelgees van Makwassie nie Mocca Java nie, en dan is dit Danie Theron wat sy kliere nie in bedwang kan hou nie.

“Kom, waatlemoenduifie!” roep hy dan uit.

Brenda boogie voor hom uit. “Shaw nuff an’ yes ah do!” ululeer sy. Daar staan Jaco Pastorius dan ook, spesiaal vir die oomblik uit Miami ingezoem met sy deurlugtige baskitaar, donderende note wat tot in Alpha Centauri weerklink en Brenda se aura laat wip op ’n manier wat Danie Theron absoluut laat bewe van bronstigheid.

Maar nou, in hierdie oomblik dat die aroma van die hemelse koffie van almal besit geneem het, gooi almal hul hande in.

“Voor ons verder gaan,” sê Hendrik, “begin ons weer van vooraf aan.”

 

IV

Terwyl Braam die kaarte skommel, en voordat die guitige kwelgees van Makwassie weer koffie kan maak, saal Danie Theron op en breek vir ’n wyle weg. Hy word vergesel deur ’n twintigtal manne wat hul al gegee het op die pad tussen Beaufort-Wes en Laingsburg. Hulle ruk te perd op na ’n skemerkelk in Frederick Burgers se skedel. Danie met ’n brief van Bram in die hand:

Liewe Danie,

Pasop vir die goewermentsrekenaars. Hul sinchronisasie is saans effens uit fase uit en besmet jou dan met ’n wurmvirus. Waak daarteen dat Frederick vir julle Piet se Tante op die ekstrasensoriese intranet wys. Daardie ou flieks is vrot met wurmvirusse wat die ruimte-tyd-kontinuum oorgesteek het. Laat die manne hard met Frederick werk. Hy geniet dit só.

Jouwne,

Bram Fischer

“’n Man moet doen wat ’n man moet doen,”  sê Hendrik. Hy weet van die brief.

Braam is kwalik klaar geskommel of Danie keer terug, moeg en nugter. 

“Praatjies beteken niks,” sê Danie Theron.

V

Bram Fischer sit met die ewige hunkering. So tussen die kaartspeel deur. Die pere tussen al tien sy ektoplasmiese stappers is groot geswel. Hy is dolverlief op een van die beeldjies in die heldeakker. Maar sy hou die kop anderkant toe gedraai. Verraai nie eens ’n sweem van besetenheid nie. Was hy maar soos Hendrik! En Brenda! Dan het sy ektoplasma-spoor nou die wêreld seepglad rondom daardie graf gemaak.

Bram is, al moet die guitige kwelgees van Makwassie dit self erken, ’n absolute yster. Dis hy wat altyd sorg dat Hansie nooit vergeet van die Voordeel van die Twyfel nie. Eintlik ’n regte platjie, is Bram. Hou daarvan om krieketwedstryde tussen die Gestorwe Vrystaat en die Ontslape Res te reël. Hansie uiteraard kaptein van die Vrystaat. Bram boul vir die Res. Wat ’n gesig. Colin Bland op dekpunt. Almal in glinsterende krieketdrag – herinner sterk aan Elvis se Vegas-pakkie-suit. Hansie lig sy kolf. Bram boul. Die bal neem die hele nag om by Hansie te kom. Net wanneer hy wil slaan, word die spel gestaak weens té veel lig. Die Voordeel van die Twyfel lê hierin: Hansie kan niks antwoord as Bram hom sê hy’s seker dit sou ’n ses gewees het.

Wat uiteraard ook die hoogste kaart in Hansie se hand is. ’n Straight aan die onderent: Twee tot ses. Dié hand van die aand.

“Ek kan huil hiervan,” sê Hansie.

Maar hy sal nie. Wie is hy om Hendrik en Brenda hul bietjie speulsheid te misgun? As hy nie gou weer só ’n hand kry nie, sorg hy dat hy hom uit die mou voer. E-en wat meer is, elke keer dat Hendrik so teen die dak uitsuiker met Brenda, kry Hendrik voyager-myle by. Almal weet hoe lui Hendrik is. Sal nie loop as hy kan vlieg nie. Daarom dat hy ’n spesiale voyager-skema het. Hulle noem dit die Hemelse Borgward-skema, uit erkentenis vir Hendrik se grootste prestasie toe hy nog aan die anderkant was. Sodra hy genoeg myle versamel het, sal hy onverstoord sy ewige lewensideaal kan verwesenlik. Dít is om te sweef na Orania, waar hy as komediant wil optree in die onderbewustelike nagklub.

“Jy weet nie wat dit is om nie senuwees te hê nie voordat jy nie ’n slag jou lyf komediant gehou het nie,” sê Hendrik elke aand net voor die eerste handjie aan Danie. Dan verlááng hulle na hul liggame.

Die twee het omtrent dieselfde humorsin. Die guitige kwelgees van Makwassie onthou goed hoe die twee een aand die siele van die Wesparkse begraafplaas laat woer-woer het van die lag met hul gevatheid.

“My horlosie het nie hande nie,” het Hendrik begin. Hy het glad nie gesê dis John Vorster wat hulle afgekap het nie. “As mense my vra hoe laat dit is, antwoord ek: enige tyd. ”

“Hoe weet ’n mens wanneer ’n woord in die woordeboek verkeerd gespel is?” wou Danie weet.  “Praatjies beteken regtig niks,” sê hy.

“Kannibale eet nie sirkusnarre nie omdat hulle snaaks smaak,” vertel Hendrik.

“Hoekom is daar vyf lettergrepe in die woord monosillabies?” vra Danie.

En so aan. Selfs die Wildeman van die Kalahari het geskommel van die giggel.

“Ek het al daai grappe al in Kanada by Stephen Wright gehoor,” sê Hansie. “Om in jul toestand nog te staan en plagiaat pleeg …”

“Dooies kan nie steel nie,” antwoord Danie. Hy en Hendrik het albei die hele Stephen Wright-repertoire gememoriseer.

“Help ook nie om met julle te praat nie,” mymer Hansie. Maar hy is ’n goeie poker-speler. Selfs die nagte wanneer hy ’n kortmouhemp aanhet.

En hoe vertederend is sy woorde wat hy so kinderlik oordra elke keer dat hy sy pokerhand openbaar! “Ich dien.”

En nou begin hy die laaste hand van die nag deel, almal van onder uit die pak.

VI


“Jy kan nooit gehalte miskyk nie,” roep Hendrik. Hy het twee sewes. Hy hoop daar skuil ’n dieper betekenis agter die getalle.

Danie Theron kyk na die drie konings in sy hand. “Praatjies help niks,” sê hy.

Bram Fischer is die ene afwesige tande. “O pappie se liefste gediertetjies,” sing hy vir die vier koninginne tussen sy vingers.

“Shaw nuff an’ yes ah do!” jodel Brenda. Sy dink sy’t ’n wenner – vier sesse. Sy’t eintlik ’n beter hand, want sy’s disleksies en sit eintlik met neges.

Hulle kyk mekaar vrolik aan.

Dan draai hul koppe tegelyk na Hansie Cronjé.

Hul kenne val verby die oksels tussen hul tone. Haastig stop hulle hul tonge in hul monde terug. Voor hul oë is Hansie besig om weg te kwyn in onsigbaarheid, sodat dit lyk asof sy kaarte in die lug sweef.

Hulle swaai om, sien die dagbreek sy eerste lig opstoot. Wanneer hulle na die pokerhand terugdraai, is dit net vyf stelle kaarte wat oorbly – ’n rukkie lank, en dan verdwyn hulle in die sak van die guitige kwelgees van Makwassie.

Sy verstaan Hansie se pyn. ’n Straight, weer twee tot ses, hartens. Dit is ’n held nie beskore om sy heldedade voort te sit in die omgewing van die aankruipende dagbreek nie.

As sy meer tyd tot haar beskikking gehad het, sou die guitige kwelgees van Makwassie iets aan Hansie se hart gedoen het. Dalk ’n potjie Dajeerling.

Maar nou is dit so dat sy geseën is met hierdie koffie-gawe. Haar dankbaarheid ken geen einde nie. Die Ewige Lewe moet hel wees op ’n vrou wat nie kan koffie maak nie.