Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 28/10/2010: Ware stryd lê voor – Vrye Woord


Charles Malan - 2010-10-28

Ware stryd lê voor – Vrye Woord
Skrif is verdoemend en dus teiken nommer 1 vir ANC

Charles Malan

Die optog na die parlement gister is deur 3 000 mense bygewoon. Die skrywerspetisie en ’n memorandum is aan die parlement oorhandig. André Brink het gesê die regering is besig om Nelson Mandela se nalatenskap te verraai. Indien die wetgewing goedgekeur word, raak dit almal, veral skrywers. “Hulle moenie met skrywers fok nie.” Beeld, 27 Oktober 2010, het Vrye Woord terselfdertyd soos volg bekendgestel:

Vrye Woord, ’n nuwe Afrikaanse skrywersgroep, spreek hom sterk uit teen die ANC se aanslag op media-, inligting- en spraakvryheid. Wie is die groep en waarvoor beywer hy hom? Charles Malan gee ’n perspektief.

Die voorlopers van Vrye Woord het duur lesse uit die sensuur en staatsbeheer tydens apartheid geleer en is weer eens van plan om nie sonder verset toe te kyk nie. Ons glo onwrikbaar in die algehele bevryding van die woord.

Vrye Woord was aanvanklik 'n losse Afrikaanse groepering wat spontaan ontstaan het rondom die petisie wat André P Brink en Nadine Gordimer namens skrywers in die wye sin van die woord die wêreld ingestuur het en wat dit onderskryf.

Skrywers, uitgewers, akademici en talle ander is in hierdie verset verenig. Vandat die nuusbrief van die groep, Die ANC se aanslag op skrif, deur LitNet oorgeneem is, is daar 'n aansienlik groter lesertal, ook uitbreiding na veral Engelse en internasionale media. Daar is samewerking met BookSA en Poetry International wat ook aspekte van die nuusbrief oorneem.

Die hoofdoel is om spraakvryheid met mag en mening te beskerm teen die aanslag van die ANC, maar ook enige ander soortgelyke bedreigings. Tans is die belangrikste bedreigings waarteen ons weerstand bied die voorgestelde mediatribunaal en beperking op inligting.

Daar is egter verontrustende bewyse dat die ANC die vrye gebruik van mondelinge en skriftelike woorde op talle vlakke wil beheer en beperk.

Ten spyte van ’n sterker institusionele basis bly Vrye Woord 'n informele groepering sonder ingeskrewe lede. Daar is geen beperking van politieke party, ideologie, ras, taal of wat ook al wat die protes kan stereotipeer nie. Die enigste “grondwetlike” riglyn vir die groep is die petisie.

Ons gespreksbasis bly Afrikaans soos dit ontstaan het, maar ons verwelkom en bevorder veel wyer kommunikasie. Afrikaanssprekendes eis eenvoudig die reg op om in teenstelling met die ANC se afdwing van Engels, orals mens se eie taal veral vir verset te gebruik.

Die basis van spraakvryheid en verskeie menseregte is immers die reg om jou eie taal te gebruik, soos wat plaaslik in die howe erken word.

Die huidige redaksionele komitee is nie verkies nie en verteenwoordig niemand nie. Hulle het bloot van die begin af die voortou geneem en bly ook krities teenoor Vrye Woord en die media. Die jongste redaksielid is die digter en rubriekskrywer in Beeld, Charl-Pierre Naudé.

Die ander vier, die skrywers Breyten Breytenbach, John Miles, Etienne van Heerden en Charles Malan, kom as “oudstryders” ’n lang pad sedert die sensuurdwingelandy onder die NP tot met bevrydende demokratisering en daarna. Seker min skrywers het soos Breyten onder die bewind gely.

Ons vier was teen die einde van die jare tagtig betrokke by buitelandse samesprekings met die destyds verbode ANC wat soveel goeie geluide van samewerking en demokratisering opgelewer het, Breyten ook by Dakar.

Ons was ná ons beraad by die Victoria-waterval in Julie 1989, soos die ander van die dertig Afrikaanse skrywers, optimisties na ons gesprekke met ANC-leiers. Onder hulle was nou bekendes soos Pallo Jordan, Steve Tshwete, Jeremy Cronin, Essop Pahad, Baleka Mbete en Albie Sachs.

Waarvoor meer kon skrywers na die beloftes van die ANC hoop? In die vooruitsig was ’n nuwe demokratiese bedeling, spraakvryheid, die einde van sensuur en natuurlik bevryding uit die tirannie van apartheid.

Doelstellings waarvoor die Afrikaanse Skrywersgilde in samewerking met die media jare lank geveg het, was nou ’n skriftelike afspraak tussen die skrywers en die ANC. ’n Suid-Afrikaanse kulturele identiteit bevry van apartheid, Afrikaans by name ingesluit, was die ideaal. Ons sou nietemin nie kon droom dat FW de Klerk die totale ommeswaai slegs sewe maande later sou aankondig nie.

Die geskiedenis bewys dat die demokratiese vryhede inderdaad verkry is. Selfs die regse bitterbekke kan dit nie ontken nie en die ANC moet die erkenning vir hulle aandeel kry.
Om nogtans te sê dat ons as eertydse gespreksgenote van die ANC vandag ontnugter is, is om dit sag te stel. In sy openingsrede by die beraad het die wyle Frederik van Zyl Slabbert reeds gewaarsku dat daar ontnugtering kan kom oor die wyse waarop ons met die ANC praat en wat die uitkoms gaan wees.

Inderdaad! Ons moes toesien hoe die blinde ideologie van die ANC-alliansie talle van Madiba se ideale van nasiebou vernietig.

Agterna was ek beskaamd dat Afrikaanse skrywers so deur die ANC-leiers by die Watervalberaad meegesleur is dat talle van ons selfs ’n kulturele boikot as ’n “korttermyn-strategie” aanvaar het. Dit deur skrywers! Die ANC se eie Sachs moes op die dwaasheid daarvan wys, veral na De Klerk se aankondiging.

Geen wonder dat ons wat positief in die pers oor die samesprekings berig het, dadelik geëtiketteer is nie. Was ons naïef genoeg om nie te kon voorsien dat politici met talle beloftes kan wegkom nie? Miskien wel, want ons was nie politici nie.

Mens sou kon vra hoekom Vrye Woord die ANC steeds volgens die titel van ons nuusbrief vir die aanslag op spraakvryheid uitsonder en nie die regering/staat nie. Sedert die Polokwane-magsoorname is dit duidelik dat die ANC vir die regering, staat, vakbonde en wie ook al voorskryf wat volgens Polokwane-besluite gedoen sal word.

Die redaksie voel dat die vinger direk na die ANC moet wys wat die aanslag op vryheid betref. Staat en regering is reeds slawe. 'n Goeie voorbeeld is die lot van die skrywerspetisie. Na hoeveel onderhandelings het die presidensie Brink-hulle laat weet dat president Jacob Zuma nie die petisie kan ontvang nie omdat dit 'n "ANC-aangeleentheid is"! 

'n Direkte beroep op die Grondwet oor spraakvryheidsregte deur van die invloedrykste meningsvormers in die land het dus niks met die regering en staat te doen nie? Niemand van Vrye Woord sal dié ondubbelsinnige standpunt vergeet nie.

Wat gebeur nou verder met die skrywerspetisie wanneer die ANC hulle eendag verwerdig om daarop reageer? Eintlik sal dit min verskil aan die impak van die verklaring maak. Dit is dadelik na uitreiking landwyd en internasionaal bekend gemaak. Geen besluitnemer, insluitende Zuma, kan onkunde daaroor pleit nie.

Brink se verdere verdoeming van die situasie is deur topkoerante wêreldwyd aangehaal. Daar is baie vinnig meer as 500 invloedryke ondertekenaars vir die petisie bygevoeg en ondersteuning stroom daagliks uit alle oorde in, veral op die internet.

Medewerkers van Vrye Woord het gehelp om die petisie in vier tale vertaal te kry sodat niemand kan beweer dat die verset Engels, Afrikaans etnies, rassisties of wat ook al begrond is nie. Hier word oor al sulke grense heen verenig om 'n basiese Grondwetlike reg te beskerm.

Sal dit enige verskil maak as president Zuma vir president Julius Malema afvaardig om die petisie te ontvang en hy dan verduidelik hoe genasionaliseerde myngeld gebruik kan word om die aanslag van die media teen "ons glorieryke revolusie" die hoof te bied?

In Vrye Woord se nuusbrief is daar verdoemende getuienis opgestapel oor die manier waarop die ANC binne en buite die parlement, vakbondgeledere, die “vyandige” media en so meer hulle aanslag op skrif voortsit. Let wel, nie bloot op spraakvryheid nie, maar op skrif.

Spraak is vervlietend. Skrif, soos berigte, boeke, verslae en wat meer is vir die ANC verdoemend en daarom teiken nommer een.

Hulle “maklike” strategie is om talle verslae in die doofpot te stop en selfs die parlement te minag deur byvoorbeeld nie eens vir parlementêre portefeuljevergaderings op te daag of om direk op vrae te reageer nie.

Institusioneel is daar egter veel erger bewyse van die aanslag op skrif. Die ANC is besig om die hele opvoedkundige bedryf vanaf die laer grade stelselmatig in te palm en dus vir komende geslagte leerlinge ANC-speak te leer. Die Afrikaners se vryheidstryd word in voorgeskrewe geskiedenistekste eenvoudig geïgnoreer.

Daar is derduisende in die land wat met verontrusting sien hoe die Polokwane-besluit oor die beheer oor die media en inligting nou na die euforie van die sokkertoernooi met mag en mening toegepas word. Die hoofkommissar van die Kommuniste, dr Blade Nzimande, verklaar selfs dat beheer nodig is om sosialisme te bewaar!

Die “nasionale revolusie” word met mag en mening gepredik. ’n Revolusie is ’n opstand teen iets. Waarteen is die ANC se revolusie gemik? Vrye meningsuiting? Demokrasie in werking?

Sedert die ontstaan van die nuusbrief en dus Vrye Woord is ’n aansienlike verskeidenheid standpunte deur uiteenlopende skrywers in Afrikaans en Engels geplaas. Ons lede het debatte met mense so verskillend soos Pik Botha en Jeremy Cronin in die nuusbrief gevoer.

Ons word glad nie aan die slaap gesus deur die gebalanseerde siening van adjunkpresident Kgalema Motlanthe nie. Die ware stryd lê voor.

Enigiemand wat aan Vrye Woord se versetpoging wil deelneem deur substansiële menings te stuur, nie bloot kort kommentaar nie, kan aan my skryf by hermes@absamail.co.za.

 

• Dr Malan, skrywer en letterkundige, is die stigter van Vrye Woord en redakteur van die nuusbrief.

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index