Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 28/10/2010: Skrywerspetisie oorhandig


André P Brink - 2010-10-28

Die ANC se aanslag op skrif

André P Brink

Woensdag 27 Oktober is die groot optog (hopelik van derduisende) van Keizersgracht in die Kaap na die parlement met die protesskrif van Right2Know teen die dreigende mediatribunaal en die beplande wetsontwerp oor kammakastige Beskerming van Inligting. Ek hoop om ook daar te wees en terselfdertyd die skrywerspetisie te oorhandig wat ek en Nadine Gordimer geloods het.

Gegewe die apestreke van die Zuma-bewind tot dusver, kan geen realistiese mens seker 'n intelligente reaksie verwag nie. Maar die belangrike is dat die protes oorgedra word en dat die pers – ook die wêreldpers – daarvan kennis neem –  sodat niemand agterna kan probeer sê: Ons het nie geweet nie. Ons weet wat die Minister van Veiligheid en Sekuriteit (ekskuus?!) reeds daaroor gesê het. Al wat mens daarop kan antwoord, is: as die wetgewing dan nie bedoel is om die pers en skrywers te muilband nie, waarom word dit dan só bewoord dat so 'n betekenis aan die onding geheg kan word? Dis vir 'n naasteby intelligente en kundige wetgewer tog seker nie te moeilik om 'n wetsontwerp so te bewoord dat dit nie vatbaar is vir waninterpretasie nie (veral as daar by voorbaat uitdruklik in die openbaar teen wanpersepsies gewaarsku is)?

As dit nie anders kan nie, dan moet ons wetgewers maar op die swaar manier leer dat 'n owerheid nie met skrywers moet skoor soek nie. Sáám met ontelbare ander – joernaliste, onderwysers, lesers ... – is skrywers die beskermers van die woord in die samelewing, en ons kan en sal ons nie laat gesê deur die bottes, die domonnoseles en die moedswilliges nie. As iemand hier sleg gaan afkak, is dit húlle. (Maar natuurlik, soos Van Wyk Louw al naasteby gesê het, die kultus van die ongeletterdes hang oor ons.)

Ons sal miskien nie in één optog wen nie. Dit mag dae, maande, selfs jare duur. Maar eendag is eendag, dan gaan die hooggeleerde wetgewers van Herr Zuma nog swaar aan die a.b.-jap leer spel: dat hulle gatte van hulle gemaak het met hierdie storie. En dat niks minder nie as die geskiedenis self oor hulle sal oordeel. Dis minstens vir ons 'n troos om te weet dat ons baklei met die reg aan ons kant. Hierdie kwade dag gaan nog ontmasker word as een van die doodskote waaraan die Zuma-heerskappy uiteindelik gaan beswyk. Dit is óns mashini-wam.

Maar hel: dit kon alles so anders gewees het! As daar net 'n modikum van intelligensie aan regeringskant was ...! (Om van goeie wil nie eens te praat nie. Meng jou met varke, dan vreet die semels jou.)

 

Vrye Woord in Beeld

Beeld wy vandag meer as ’n halfbladsy aan Vrye Woord. Daarin word bespiegel oor die lot van die skrywerspetisie en die ANC se reaksie. Die volledige teks verskyn môre in die nuusbrief.

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index