Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Susan Smith steek haar nek uit vir Afrikaans


Jason Lloyd - 2010-10-27

Terwyl gerugte oor die afsterwe van Afrikaans soos ’n dwarrelwind deur die land trek, groei dié taal stilletjies op ’n plek waar ’n mens dit nie sal verwag nie; en boonop word die groei gevoed deur ’n Afrikaanse digter en ook ’n nasaat van een van Afrikaans se geliefde ontslape digters.

In die oorwegend Engelse Oos-Londen, in die Gassonsentrum, wat tevore die Rhodes Universiteit se satellietkampus gehuisves het, het Susan Smith Afrikaans tot nuwe hoogtes uitgebou. Dit is nadat die doodsklok in 2004 vir Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare se hoofkampus in Alice gelui het. Die diagnose vir dié pynlike dood was ’n afname in studentegetalle.

In veral die hoofstroom Afrikaanse media is dié sluiting van die Afrikaans-departement by die Universiteit van Fort Hare en ook die een by Wits Universiteit in Johannesburg beskryf as die begin van die einde van Afrikaans.

Op daardie tydstip was Mvula Yoyo hoof van Afrikaans aan Fort Hare. Uit Stellenbosch, waar hy deesdae werk en woon, bevestig hy te min studente het Afrikaans se einde in Alice beteken. Hy het egter groot waardering vir Smith, tans departementshoof van Afrikaans aan Fort Hare in Oos-Londen, se uithouvermoë om Afrikaans as akademiese taal “in ’n see van Engels” uit te bou. “Afrikaans is toe nooit dood aan Fort Hare nie; dit het net vanaf Alice na Oos-Londen verskuif. Almal wat lief is vir die taal, moet Susan help om Afrikaans nog sterker aan Fort Hare te maak.”

Smith, wie se oorlede ouma ’n niggie van die ontslape Afrikaanse digter ID du Plessis is, het in 2005 met net nege studente in Oos-Londen begin; vanjaar het sy 109 studente. Dit is nadat Afrikaans in 2004 by die Fort Hare se Alice-kampus gesneuwel het en nadat Rhodes Universiteit se satellietkampus in 2005 met die Universiteit van Fort Hare saamgesmelt het.

Voor dié samesmelting het Smith sedert 1997 Afrikaans aan Rhodes gedoseer. “Dit was egter vir ’n klein groepie eerstejaars, want die universiteitsowerhede wou nie byt aan uitbreiding nie. My eerstejaars het hoofsaaklik as voedingsbron vir die hoofkampus in Grahamstad gedien.”

Volgens Smith het die samesmelting haar die geleentheid gegee om Afrikaans tot op doktorale vlak uit te bou. Vanjaar het Smith twee doktorale, twee MA- en vier honneursstudente, en dan sewe tweedejaar-, twee derdejaar- en 92 eerstejaarstudente. “As ’n mens in ag neem dat baie mense nie eens weet dat ons Afrikaans as vak by Fort Hare doseer nie, doen ons baie goed. Ek loop selfs steeds mense raak wat nie weet dat Fort Hare ’n kampus in Oos-Londen het nie.” 

Volgens Smith vind daar reeds weer gesprekvoering plaas rondom die uitbreiding van Afrikaans in Oos-Londen deur die hervestiging van ’n Praktiese Afrikaans-stroom op die Alice-kampus. 

Smith sê dat die eerstejaars in twee strome verdeel word: die praktiese groep en die akademiese groep. Die praktiese stroom is gemik op tweede- en derdetaalsprekers – dit wil sê studente wat Engels en Xhosa as huistaal het. Hulle vorm die oorgrote meerderheid van die eerstejaars. Die praktiese Afrikaans is hoofsaaklik gemik op die aanleer van kommunikasievaardighede in Afrikaans. Die res van die studente is hoofstroom, of die akademiese groep, wat taalkunde en letterkunde neem.

Volgens Smith doen die akademiese groep ’n volledige, in-diepte kursus van uitstekende standaard, “want ek moet kompeteer met enige ander universiteit se Afrikaans-kursus. Dit is absoluut my motto dat die studente nie hier moet uitstap en skaam wees vir hulle Afrikaans nie. Dit moet 100 persent op standaard met ander universiteite wees. Dit is my naam wat op die spel is. So, ek is ernstig daaroor.”

Smith (52) is op De Aar gebore, maar het in Bloemfontein grootgeword, waar sy in 1975 aan die Hoërskool Sand du Plessis gematrikuleer het. Sy verwerf al haar grade, insluitend ’n doktorsgraad, in Afrikaans in 1992 (onder studieleiding van Hennie van Coller) aan die Universiteit van die Vrystaat. In 2002 ontvang sy die Premierstoekenning van die Oos-Kaapse Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal en letterkunde in die Oos-Kaap.

Sy is getroud met Salmon, ’n argitek, en het twee kinders: Salmon (24), ’n argitektuurtegnologie-student aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in die Baai, en Carien (22), ’n dramastudent aan die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein, en self skrywer en dramaturg.

Volgens Smith hou sy van lees en “my huis is vol skilderye, want ek skilder ook. Dit is ’n vorm van ontspanning vir my.”

In 1997 het Smith gedebuteer met gedigte wat in Nuwe Stemme 1 opgeneem is. Haar gedigte het ook sedertdien in Versreise, Raamwerk 11&12, Groot Verseboek 2000, Versjoernaal, Pret met Poësie en die 2008-uitgawe van Groot Verseboek verskyn. Een van haar gedigte, “e-Sonnet”, is tans deel van die nasionale kurrikulum en voorgeskryf vir graad 12-leerders.

Smith sê sy deel nie die sentiment dat Afrikaans besig is om te sterf nie. “Ja, die taal geniet nie meer die status van voor 1994 nie, met sekere negatiewe gevolge; maar ek fokus liewer op die positiewe dinge.

“Op internasionale vlak groei die belangstelling in Afrikaans voortdurend. Aan universiteite in Rusland, Pole, Amerika, België, Nederland, Oostenryk … noem maar op ... word Afrikaans deesdae bestudeer.” Sy sê Afrikaans is die jongste Germaanse taal in die wêreld. “Dit is ’n jong taal en dus ’n belangrike studieterrein vir ons Germaanse susters.”

Smith is tans in samewerking met Jacques du Plessis van die Universiteit van Wisconsin in Milwaukee in die VSA betrokke by die Afrikaanse been van die Gutenburg-projek. Dié projek behels die transkribering van Afrikaanse literêre tekste in e-formaat. Smith sê kopiereg verval ná 75 jaar – sodoende kan die boeke van byvoorbeeld Langenhoven en sy tydgenote op die internet beskikbaar gestel word. “Afrikaans het nog heelwat veld om in te haal om op die elektroniese gebied mededingend met ander tale in die wêreld te wees, maar die begin word nou gemaak, ’n platform waarop in die toekoms voortgebou kan word.” 

Smith sê sy stem saam dat die hoër funksies van Afrikaans ontwikkel moet word om die taal se voortbestaan te verseker. “Ons moet dit egter doen sonder om ander aanstoot te gee of om op die oorlogspad te gaan.”

Volgens Smith is die sogenaamde “taalbulle” vir haar te aggressief. “Deur aggressie maak jy net vyande. So wen jy nie mense vir jou taal nie. Medemenslikheid en vriendelikheid kan soveel deure vir Afrikaans oopmaak. Wat ons moet doen is om mense se persepsies oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te verander – wat ’n goeie gesindheid teenoor die taal sal bewerkstellig.”

Tussen al die gevegte rondom Afrikaans se voortbestaan, jaag Smith haar droom vriendelik en doelgerig na om haar Afrikaans-departement as die grootste departement in die Oos-Kaap te vestig. En sy besef: “Ek moet my nek uitsteek as ek my droom wil laat waar word.”