Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Bakgat! 2 se album is net wat jy verwag jy gaan kry


Leon-Ben Lamprecht - 2010-10-26

Bakgat! 2-klankbaan
Verskeie kunstenaars

 

Kompilasie-albums is maar altyd ’n vreemde mengsel. In my ervaring is daar gewoonlik een of twee liedjies waaroor jy passievol voel, ’n handvol wat jy van hou en so ’n paar wat jy net die eerste keer luister en daarna elke keer skip (tensy jou skip-knoppie gebreek is of jy ingedagte is).
         
Jy verwag dalk nou dat ek vir jou gaan vertel dat Bakgat! 2 se klankbaan anders gaan wees, nè? Wel ...
         
Nee, dit is nie. Dis presies dieselfde.
         
Hier is een of twee liedjies waaroor ek passievol voel, ’n handvol wat ek van hou en so ’n paar wat ek net die eerste keer geluister en het en nou elke keer skip (tensy my skip-knoppie nie werk nie of ek ingedagte is).
         
Goed, net vinnig ’n bietjie agtergrond ... Nee, wag, ek het nog nie die fliek gekyk nie, so ek laat maar iemand anders praat. Aan die woord is Laetitia Pople van Die Burger:

’n Vervolgprent in Afrikaans wil reeds gedoen wees. Watwou nog ’n vervolgprent in die Suid-Afrikaanse bedryf, al is dit ’n bedryf wat weliswaar vanjaar ’n goue jaar beleef.

Wimpie (Ivan Botha) en Katrien (Cherié van der Merwe) is steeds erg danig met mekaar, al het hulle die skoolbanke vir die aanloklikhede van die universiteitslewe verruil.

Daar is drama danksy Werner "Killer" Botha se vele listighede en vuilspel op die veld, asook baie komiese afwisseling deur Vinkel en Koljander, ekskuus, Fanie en Japie. Dié tweetjies is steeds saam op soek na durende seksuele bevrediging. Ouens?

(Ek weet hierdie gaan eerder oor die musiek as die fliek, maar vir die rekord, Laetitia reken die fliek was “’n welkome verrassing”. Ek het nogals dieselfde van die eerste fliek gedink, mind you. Elk geval, ek sal seker maar dié een ook moet kyk.)

So nou na die musiek op die klankbaan. Dis maar merendeels wat jy sou verwag. ’n Luisteraar-vriendelike versameling liedjies van bekende en minder bekende bands daar buite: Die Heuwels Fantasties, Van Coke Kartel, die Ryno Velvet-band, Marsmoeras en Sean met die Bril, Die Seks, so aan.

So, die snitte waaroor ek passievol voel? Wel, die eerste single van Die Heuwels se opkomende album, “Doodgewone aand”, is hierop en dis net lieflik. Lekker elektroniese agtergrond en ewe lekker lirieke: “Dis die gejaag wat ons naar maak/ te veel al hierdie jaar verloor/ ek soek ’n miljoen rand/ toe ’n miljoen rand nog ’n miljoen rand was.”

Die ander nommer waarvan ek sommer baie hou, is Marsmoeras en Sean met die Bril se “Word wakker”. Dis sulke lekker old-school punk rock wat jou net lus maak om air guitar te speel.

Verder is hier ’n lekker versameling, maar die meeste het jy al elders gehoor: Van Coke Kartel se “Voor ons stof word”, Gazelle se “Die Verlore Seun”, DHF se “Pille vir Kersfees”, Ryno Velvet se “Oktober” (dis nog steeds ’n befokte tjoen, hoor). So aan.

Cherié van der Merwe (soos hier bo genoem, speel sy die rol van Katrien) waag ook haar stem. Dis egter effens van ’n teleurstelling. Sy sing “Stille waters”, daai ikoniese nommer van Laurika Rauch (ook die temalied vir Onder draai die duiwel rond). Nou, Cherié het ’n heel aangename stem. Die probleem is egter, die opname klink basies noot vir noot dieselfde, behalwe dat (en hier moet ’n mens maar eerlik wees) Rauch se stem net soveel dieper en mooier is. As ’n mens ’n cover doen, moet jy iets van jouself daarin sit, dit jou eie maak, anders is dit tog seker net hoërgraad karaoke? Nietemin, ek hoop nie dis die laaste wat ons van Cherié se sangstem hoor nie. Hier is potensiaal.

Ag, en dan is daar ’n paar flou nommers, soos Simon Schofield se “You”. Ek is seker daar is mense wat met my gaan verskil, maar heiden, dis vervelig. Ek het dit drie keer deurgeluister net oor ek dit moes doen vir dié review.

So, basies: Bakgat! 2 se album is net wat jy verwag jy gaan kry. As jy nie reeds die musiek hierop het nie, is dit nie ’n sleg aankopie nie. Maar as jy reeds die meeste het, wag maar tot Die Heuwels se nuwe album uitkom as jy “Doodgewone Aand” wil luister. Of gaan tjek dit op YouTube.