Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Winter


Kara Meiring - 2010-10-26

Ek was weer bevoorreg om leerders se bydraes tot die Kaapstadse Afrikaanse Eisteddfod se afdeling vir letterkunde te beoordeel. Die sameroeper was Dirk Binneman. Hier is dan die werk wat hoogste lof verwerf het. Sameroepers van elders kan gerus ook hulle belowendste inskrywings na dbbotha@mweb.co.za stuur.

– Danie Botha

Kara Meiring
(Graad 9)

Winter

Die man trek die jas stywer om sy lyf. Die winter het vroeg gekom vanjaar. Hy groet ’n koerantverkoper vriendelik en loop vinniger. Hy gaan te laat wees. Hy loer vinnig na sy horlosie. Nee, hy het nog tyd. Hulle sal hom eers oor nog ’n rukkie kom soek. Die man kyk na die naam van die hotel op die papierstrokie in sy hand: Hill Top. Perfek.

Hy gaan staan skielik stil voor ’n huis. Dit kan nie wees nie. Die huis lyk dan so bekend – te bekend. Hy het onbewus ’n ompad gevat. Dat die huis wat hy al so lank vermy, nou skielik voor hom staan. Nee, lag hy vir homself, ek staan voor die huis, nie andersom nie. ’n Lig gaan aan.

Skielik waai die herinnering soos ’n warrelwind deur hom. Hy sit in sy kamer; die deur is gesluit. Hy probeer sy ore toedruk teen die geluide langsaan. Sy pa is al weer dronk. Die alkohol maak hom aggressief. Hy hoor ’n klap, ’n gil. “Asseblief!” smeek sy ma. “Asseblief, los my net uit!” Sy pa gee ’n yskoue lag en skielik hoor hy ’n skoot. Of het hy hom dit dalk verbeel?

Die man ruk homself uit sy herinnering los. Dis verby, sê hy vir homself. Verby. En vanaand het ek hom laat betaal.

Hy stap verder. Êrens uit ’n huis kom die klank van ’n klavier. Hy speel Chopin. Altans, hy probeer. Sy pa storm die kamer binne. “Jy verkrag die klavier,” sê hy bars. “Jy sal nooit in daardie skool inkom nie. Hulle aanvaar tog net kinders met talent. Iets wat jy duidelik nie het nie. In elk geval, ek verkoop môre die klavier. Ons het die geld nodig.”

 Die man onthou hoe ’n skielike woede oor hom gekom het. “Jy bedoeljýhet die geld nodig!” het hy geskree. “Vir jou drank!” Sy pa se oë het koud geword. Toe die klap wat sy ore lank laat tuit het.

Die geluid van ’n polisie-sirene bring hom terug aarde toe. Hy is by die hotel. Die man glimlag vir die klerk by die deur en ry met die hyser na die dak van die hotel. Hy gaan staan op die rand en kyk uit oor die stad wat vir hom niks beteken nie.

Skielik gil iemand. Te laat. Hy spring.