Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Gemufde probleem


Marte-Lize van Eeden - 2010-10-26

Ek was weer bevoorreg om leerders se bydraes tot die Kaapstadse Afrikaanse Eisteddfod se afdeling vir letterkunde te beoordeel. Die sameroeper was Dirk Binneman. Hier is dan die werk wat hoogste lof verwerf het. Sameroepers van elders kan gerus ook hulle belowendste inskrywings na dbbotha@mweb.co.za stuur.

– Danie Botha

Marte-Lize van Eeden
(Graad 11)

Gemufde probleem

Stoom wil net-net uit Sandra Louw se ore blaas. Sy is laat vir ’n baie belangrike vergadering met verskaffers en die feit dat sy met hakskoene moet aansukkel, help nie veel nie. Sy beweeg so vinnig as moontlik verby die mense in die inkopiesentrum. Hulle gedra hulle soos aangehoude diere wat so pas vrygelaat is. Hoekom die grootkoppe besluit het om juis hier ’n tak oop te maak, weet nugter alleen.
 
Iewers bo die chaotiese lawaai van trollies en onophoudelike heen-en-weer gepratery, begin ’n kind blou moord skree. Voor Sandra stry twee vroue oor iets wat lyk soos ’n hemp wat deur ’n gaatjiesdrukker bygekom is. Sy sien net arms waai en swaai. Boonop kom daar uit elke liewe winkel ’n ander irriterende liedjie wat deur luidsprekers dreun.
 
Sandra sug. Die begin van die einde is eindelik in sig: die hysbak. Ná ’n paar treë (waartydens sy amper deur ’n vierjarige gepootjie én deur ’n trollie sonder ’n bestuurder omgestamp is) ervaar sy die stilte.
 
Dis beslis veiliger hier binne as daar buite.
 
’n Aantreklike, netjiese jong man kom die hysbak binne. Sy denim en groenblou T-hemp komplementeer sy lenige lyf perfek. Ná hom kom ’n ouerige man met swartgrys hare hinkepink binne. Sy klere is vaal en gelap en ’n afskuwelike muwwe reuk vul Sandra se neusgate byna onmiddellik. Sy voel die naar in haar keel opstoot. Die deure gaan toe
en daar is die welbekende ongemaklike stilte. Sandra loer bekommerd na haar horlosie. As sy vinnig maak, kan sy betyds wees ...
 
Die hysbak ruk.
 
Dis meteens donker. Die stilte hang net so swaar soos die hysbak in die lug.
 
Sandra klik haar tong vies. Hoeveel wil die noodlot haar nou nog tart? Sy voel haar pad in die donker na die hulpknoppie.

“Dit sal nie werk nie,” kraak die stem van Mufreuk en ’n walm omvou Sandra. “Ek dink die krag is af.”

“En hoe weet jy dit?” hap Sandra.
 
Haar oë begin gewoond raak aan die donker en sy sien hoe hy sy skouers optrek. “Raai net. Die lawaai daar buite is erger.”
 
“O,” sê Sandra kortaf en druk nietemin die knoppie. Niks gebeur nie.
 
“So, julle op pad iewers heen?” weergalm Mufreuk se krakerige piepstem weer.
 
Nee, glad nie. Sy wat Sandra is, hang sommer met vreemde mense in hysbakke rond. Dis fassinerend en sy het absoluut niks beter om met haar tyd te doen nie. “Ja. Het ’n afspraak,” grom Sandra.
 
“Dis lekker. Kan sien Juffrou is heel professioneel geklee. Ek het kom verf koop. Die kunsgogga het my dogter gebyt. Sy verjaar en ...”
 
Hoekom hou hy nie sy mond nie? Die mufreuk maak Sandra duiselig en sy stel regtig nie belang in goggas wat kinders byt nie. Sy loer na die ander figuur in die hysbak. Hy staan teen die oorkantste hysbakmuur en staar bewegingloos voor hom uit. Dit lyk amper asof hy na haar staar. Hoendervleis slaan van kop tot tone oor haar uit. Die halfdonkerte maak
die illusie van koue erger.

Mufreuk praat steeds. “... sy gaan nog bekend wees. Beroemd. Sy’t dalk net iemand nodig om haar leiding te gee. So, waarheen het jy gesê gaan jy, jongman?”
 
Die antwoord kom vinnig: “Huis toe.”
 
Miskien is hy net so geïrriteer deur Mufreuk se gebabbel soos Sandra. Hoe lank vat dit om die krag weer aan te skakel? Het winkelsentrums dan nie noodkragopwekkers nie?
 
“Hoop nie jy’s haastig nie, jongman. Lyk of dit nog ’n rukkie kan neem.” Sy blik verskuif van die beweginglose figuur na Sandra. “My dogter, die een wat so verf, sy beklee ook so ’n belangrike pos soos u, Juffrou. Bestuurder van die een of ander groot besigheid. Word daar die Queen Bee genoem. Seker oor sy so mooi én slim is ...”
 
“Ek sal haar help.”
 
Sandra sien uit die hoek van haar oog dat die figuur se kop effens na Mufreuk gedraai het.

“Skuus?” vra Mufreuk verbaas.
 
“Ek is ’n kunstenaar. Ek sal haar help. Leiding gee.”
 
Ná ’n oomblik se stilte: “Dit sal nou gaaf wees, jongman. Sê my, hoe gereeld sal jy kan help? Tydsgewys? My dogter is taamlik besig.”
 
“Ek is vrygewig met tyd.”

“Jy kan dadelik begin?”
 
“Nee. Ek het eers ’n ander saak wat ek moet afhandel.”
 
Mufreuk druk sy hande diep in sy broeksakke. “Jammer om uit my plek te praat, jongman, maar is die ander saak lewensbelangrik? My dogter sal in die wolke wees ...”
 
“Ja, dit is.”
 
Sandra voel die figuur se oë weer op haar. As die hysbakdeure nie nou oopgaan nie, gaan sy gil. Sy is vasgekeer in ’n hysbak gevul met muf en ’n standbeeld. Haar base sal haar nooit glo nie! Sy was nog nooit laat vir so ’n belangrike afspraak nie! Nooit ooit weer klim sy in ’n hysbak nie. Nooit. 

Lig. Die deure is oop.
 
Dis amper te goed om waar te wees! Sandra beweeg haastig uit, maar word deur ’n muur polisiemanne geblokkeer. Sy kyk geskok om. Óf dis ’n droom óf sy begin van al daardie muf hallusineer.
 
Mufreuk is nie meer krom nie en sy hinkepink been makeer niks. Hy praat ook nie. Sandra se grootste skok: Die kunstenaar is in boeie en word deur die hele spul polisiemanne na buite vergesel.
 
“Kan iemand my sê wat aangaan?” vra Sandra byna stomgeslaan. Die afspraak met die verskaffers is heeltemal vergete.
 
Mufreuk kom met lang treë nader. “Jammer, Juffrou.” Sy stem het ook verander: Dis diep. “Ek is speurder Fourie,” sê hy en hou ’n hand uit. Sandra skud dit gedweë. “U sal ongelukkig saam met my polisiekantoor toe moet gaan vir ’n verklaring. Die man wat ek so pas gearresteer het, meneer Gerhard Andrews, is al lank op soek.”
 
“Hoekom? Wat het hy gedoen?”
 
“Reeksmoordenaar. Hy het alreeds vyf vroue vermoor. Leer sy slagoffer se gewoontes ken en tree op sonder waarskuwing. Sy teiken is mooi vroue met mag. Dit spyt my om dit te moet sê, maar u was sy volgende teiken, mejuffrou Louw.”