Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Die Dinsdag


Stefni Borchardt - 2010-10-26

Ek was weer bevoorreg om leerders se bydraes tot die Kaapstadse Afrikaanse Eisteddfod se afdeling vir letterkunde te beoordeel. Die sameroeper was Dirk Binneman. Hier is dan die werk wat hoogste lof verwerf het. Sameroepers van elders kan gerus ook hulle belowendste inskrywings na dbbotha@mweb.co.za stuur.

– Danie Botha

Stefni Borchardt
(Graad 10)

Die Dinsdag

My hande sweet; my bene bewe. My asem is die hele tyd min.

“Ek? Juffrou bedoel ek moet krieket speel?” Daar’s ’n oomblikkie stilte, maar dan vra ek weer: “Is Juffrou seker?!”

“Ja, Lukas. Dit sal jou goed doen,” sê sy met ’n breë glimlag.

Ek weet in my hart iets is verkeerd; wat anders?

“En Juffrou is seker Juffrou vra nie net vir my omdat die kaptein beseer is en daar niemand anders is om te speel nie?”

Sy sê niks en gee my ’n vuishou teen my skouer. Sy weet dat ek weet wat hier aangaan.

“Probeer net,” sê sy in ’n smeekstem.

Dis nog ’n ding wat my pla … dat die jong Engelse juffroutjie die skool se eerste krieketspan afrig! Hoe gebeur dit? Ek … ek het niks teen mooi jong juffrouens wat sport afrig nie, maar seunskrieket? Sy loer na my met nou skrefiesoë en ek besef meteens dat ek haar nog ’n antwoord moet gee.
Ek maak my mond oop … (Dit was al my eerste fout!)

“Sê nou ek sê ja … wat gebeur dan?”

’n Glimlag groei op haar gesig.

“Yes, Luki, great stuff,” sê sy en klop my op my rug en trippel weg. Ek staan daar verstom en verslae. Wat het nou net gebeur? Ek haal my dikraambril af en vryf dit stadig aan my trui skoon.

Die dag sleep oneindig stadig verby. Dit voel asof ek alles saam met my trek. Die afkondiging kom net ná tweede pouse deur en dit slaan die laaste bietjie asem vir ’n ses uit my longe uit.

“Ons wil net vir Lukas Tradouw dankie sê dat hy ingewillig het om Donderdag in die krieketwedstryd teen Olienhout Hoër te speel. Die volledige span lyk dus as volg …”

Die klas is doodstil ná die afkondiging. Meteens begin almal gelyk praat! Begin brom en opmerkings maak. Die een wat ek die meeste hoor, is: “Wat! Jy is nie serious nie!”

Juffrou Clarkson het so ’n vinnige kykie na my kant toe gegee.

Ná die periode het sy stilweg gefluister dat ek fine sal wees!


Donderdag

Ek staan die oggend vroeg op. Skool draf verby en ek het nie eintlik gekonsentreer nie. Die middag warm ek alleen, maar goed op. Hardloop om en om die krieketveld. Strek my arms en spring op en af. My sportklere lyk grand aan my! Ek was verbaas dat hulle my nommer agter op die trui kon druk, en nogal my gunstelingnommer (22) ook!

Die ander span klim uit hul bus en juffrou Clarkson roep ons nader. Ons bid, vinnig. Die ouens lyk bang. Die onderkaptein, Roelof Keizer, meet sy treë af. Hy rol die harde rooi balletjie tussen sy hande en vryf dit dan teen sy broek. Roelof hardloop vinnig nader om te boul, en so begin die wedstryd. Ek hou hom stip dop. Skielik stop hy. Dit lyk asof hy sy konsentrasie verloor en dan draai hy hom na my kant toe.

“Staan daar, man! En jy beter die bal dophou!”

Ek doen wat hy sê. Hy is nie verniet die onderkaptein nie.

“Nie jou regterkant nie! Myne!”

Ek hou my hande uit pure verleentheid oor my mond. “Oukei, dankie!” las ek by.

Roelof boul vinnig. Die ander span se kolwer lig die kolf en slaan die bal die lug in. Dit lyk asof die bal nooit gaan afkom nie … Ek hardloop tot onder die bal. Hou dit in sig. My oë brand.

My hande hou ek soos ’n bakkie.

“Hier kom hy!” hoor ek iemand gil, maar ek dink dit was my eie stem. Die son skyn skerp in my oë. Dis grafstil en toe …

Vrydag

 Juffrou Clarkson stap nader.

“Juffrou, hier’s my wedstrydtrui. Ek het dit gewas … Dankie vir alles.”

“Hou dit.”

Ek tel my kop op en kyk haar in die oë.

“Dis official –jy’s in die span, Luki!”