Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Commendatio vir die UJ-prys vir Skeppende Skryfkuns: Reisiger


Gerrit Olivier - 2010-10-26

Skrywer: Elsa Joubert
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN: 9780624048121
Prys: R300

Klik hier en koop jou eksemplaar van Reisiger nou van Kalahari.net!


Professor Van der Merwe, kollegas, dames en here

Dit is vir my ’n eer en ’n voorreg om vanaand namens die beoordelingspaneel die commendatio te lewer vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg-prys aan Elsa Joubert vir haar Reisiger, uitgegee deur Tafelberg. Elsa kan ongelukkig nie teenwoordig wees om die geleentheid saam met ons te vier nie, maar ons is baie bly dat haar twee dogters, Elsabé en Henriette, wel hier kan wees. Daarmee word toevallig ook onderstreep hoe belangrik haar verblyf in Johannesburg, hier naby in Aucklandpark, in die proses van Joubert se politieke en sosiale bewuswording was.

Met soveel indrukwekkende inskrywings vir die prys was daar ’n debat, soms vurig maar altyd kollegiaal, tussen paneellede oor watter boek ons vanjaar sal uitsonder as die beste. Deels is dit omdat Joubert se Reisiger, as ’n werk van niefiksie, in die lig van die prys se geskiedenis tot dusver as ’n uitsondering gesien moet word. In die loop van ons gesprekke het ’n konsensus ontstaan dat Reisiger ’n teks is wat in verskeie opsigte gedenkwaardig en prysenswaardig is; ’n teks wat enige leser van Afrikaans op ’n besondere wyse sal meevoer en ontroer en stig.

Reisiger is iets veel meer as die normale biografie. ? outobiografie? Joubert kombineer op vernuftige en meevoerende wyse ’n vertelling oor haar lewe as volwassene met die deeglikheid van ’n historiese navorser, die nuuskierigheid van ’n ontdekkingsreisiger en die karakteriserende, strukturerende en soms slinkse vermoëns van ’n deurwinterde romanskrywer.

Die boek volg op ’n Wonderlike geweld, die eerste gedeelte van haar lewensverhaal wat strek vanaf jaar jeug tot ’n paar jaar ná haar studietyd op Stellenbosch. “Wonderlike geweld” is ’n frase afkomstig van Joubert se vader, waarin hy die uitbarsting van jeugdige energie in die natuur en mense probeer raakvat. Reisiger begin met ’n aangrypende ervaring waardeur daardie jeugdigheid en entoesiasme oor die wêreld gekristalliseer en gestruktureer sal word tot twee lewensbepalende keuses.

Met buitengewone vaardigheid beskryf Joubert ’n reis deur Afrika wat ook ’n boeiende reis deur die eie begeerte word. Die passie, deursettingsvermoë en eerlikheid wat al Joubert se werk sal kenmerk, kom na vore in die wyse waarop sy haar verliefdheid op Mahmoed volg, tot in Stockholm toe, waar die hopeloosheid daarvan vir haar duidelik word. In ’n sentrale passasie op bladsye 49-50 word ’n insig verwoord wat vir die hele verdere verhaal van groot belang is: “Ek het gedink: Almal het een liefde vír wie jy, mét wie jy sou wil sterwe. Dis nie die swaarste nie. (…) Daar is ’n ander, sterker liefde vir die mens met wie en vir wie jy wil lewe.”

Hierdie uitspraak vind ’n ontroerende eggo in die woorde op bl 466 ná die dood van Joubert se eggenoot, Klaas Steytler: “Dis ’n groot werk om dood te gaan en nog ’n groter werk om aan te hou lewe.” Die hele boek is inderdaad ook ’n herdenking van ’n standhoudende liefde en vriendskap wat, om met JH Leopold te spreek, van ’n “diep gedronkene versadiging” getuig.

Die krisis aan die begin van Reisiger markeer egter ook die oorsprong van ’n tweede keuse – of liefde en noodsaak, moet ’n mens miskien eerder sê – wat Joubert se verdere lewe ten diepste sal beïnvloed. Hierdie aspek, Joubert se skrywerskap, word in haar teks op subtiele wyse verbind aan die motief van die lewe as ’n reis, reisiger-wees.

’n Belangrike dimensie daarvan is dat sy een van die beste skrywers van reisverhale in Afrikaans geword het. Te midde van die toenemende isolasie van Suid-Afrika het sy groot dele van die Afrika-vasteland verken. Enigiemand wat van haar reistekste gelees het, sal weet dat die tog deur vreemde lande altyd ook berus op ’n humanitêre ingesteldheid; op ’n nuuskierigheid na wat dit mag beteken om deel van Afrika te wees, en sodoende te ontsnap aan die benouing wat Joubert al hoe meer om haar aangevoel het ná die bewindsoorname van Malan in 1948.

Joubert het moontlik meer gedoen om ons bestaan op hierdie vasteland vir ons begryplik te maak as menige ander skrywer wat hom of haar met begrippe soos Afrika en betrokkenheid bemoei het. Haar politiek, soos wat dit ook in Reisiger telkens geartikuleer word, is nooit abstrak, polities korrek of dweperig nie, maar gewortel in ’n sterk gevoel van medemenslikheid en ’n nugtere kritiese ingesteldheid, gegrond op ervaring en belangstelling. Die beskeidenheid waarmee sy die ontstaan van haar boeke beskryf, is op paradoksale wyse ’n herinnering aan hoe belangrik haar stem was, en aan watter enorme bydrae sy tot die Afrikaanse letterkunde gemaak het.

In die geval van ’n boek so ryk soos Reisiger is dit nie moontlik om meer as net ’n paar voorbeelde te noem van Joubert se talent om ’n genuanseerde beeld te gee van die gebeurtenisse en mense wat sy meegemaak het nie. Van die ontstaan en geskiedenis van die Afrikaanse Skrywersgilde, en ook van die moeilike besluite wat hierdie organisasie by tye moes neem, gee sy ’n beeld wat histories van groot belang is. Daar is die pragtigste vignette en ooggetuieverslae van onder meer Bram Fischer se verhoor, die leefwyse van Afrikaners in Patagonië en die eerste sluipmoordaanslag op Verwoerd – iemand wie se oorredingsvermoë sy “katastrofaal” noem. En dan is daar ’n reeks onvergeetlike portrette van skrywers en openbare figure: Jan Rabie en Marjorie Wallace, Richard Rive, Rykie van Reenen (wat vir haar op bl 464 sê: “Hier sit ons twee nou. Ek in ’n rystoel en jy ’n weduwee”), Sarah Goldblatt, Jorge Luis Borges, Klaas Havenga en Nelson Mandela – om maar ’n paar te noem.

Joubert bring ’n besonderse, intieme soort geskiedskrywing tot stand, in ’n teks wat vir die Afrikaanse letterkunde en ’n begrip van die afgelope sestig jaar in Suid-Afrika van blywende waarde en betekenis sal wees. Die reis bereik een van sy laaste fases wanneer sy in die bejaarde-oord waarheen sy verhuis het, vir haar ’n studeerkamer laat inrig: die plek waar Reisiger, na ’n mens vermoed, sy onstaan gehad het. Die skep van ’n nuwe werkplek getuig nogmaals van die lewensdrif en kreatiewe energie wat so kenmerkend van haar en haar werk is.

Terwyl die boek met groot onrus begin, eindig dit met ’n uitsig op die “wonderlike geweld” van ’n stukkie groen wat sy verskyning aan die begin van die lente in een van die bome voor Joubert se venster maak. Op die voorlaaste bladsy skryf sy:

[D]ie belangrikste is: die proses van skrywe. Hoe ’n skrywer uit die groot stroom van die lewe wat so sterk en so vinnig verbygaan, ’n klein stroompie afkeer, ’n walletjie gooi, en dan kyk hoe die water lyk as dit tot ruste kom. Want die skrywer skryf eintlik vir homself, om oor vrae wat hom pla, waarvoor hy sterk omgee, te probeer helderheid kry.

So mag dit wees, maar dan sal ’n klein bietjie teëspraak by Joubert se selfonderskatting ’n mens vergun word. Agter daardie damwalletjies lê ook baie van die dinge wat Joubert se mede-Suid-Afrikaners geraak het, opgedam. Die vrae wat haar beroer het, is, soos Reisiger ’n mens telkens laat besef, altyd vrae wat haar tydgenote en lesers en nakomelinge beroer of behoort te beroer het en vandag nog vir ons almal ter sake is. En die helder kritiese ingesteldheid wat so dikwels uit haar ander werk spreek, blyk ook in haar memoires aanwesig te wees.

Daar is min boeke uit die afgelope paar jaar wat ons verknogtheid aan hierdie plek so menslik, so krities, so omvattend en met soveel passie na vore bring as Joubert se Reisiger. As die toekenning van hierdie prys ’n eer is, moet dit ook vir ons as beoordelaars, en vir die Universiteit van Johannesburg, ’n eer wees om dit aan so ’n voortreflike skrywer en mens toe te ken.