Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Commendatio vir die UJ-Debuutprys vir Skeppende Skryfkuns: Plaasmoord


Thys Human - 2010-10-26

Titel: Plaasmoord
Outeur: Karin Brynard  
Uitgewer: Human en Rousseau
ISBN: 9780798151160
Bladsye: 512

Klik hier en koop Plaasmoord nou van Kalahari.net!


Donderdagaand 14 Oktober 2010

In sy LitNet-resensie beskryf Izak de Vries – wat nie ’n lid van die UJ-keurpaneel was nie – Karin Brynard se debuutroman Plaasmoord as ’n “bliksem van ’n boek” (2009). Hierdie beskrywing kom uiteraard nie in een van die nege beoordelingsverslae vir die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk voor nie. Tog het ek die vermoede dat daar ’n hele paar literatore is wat dié sentiment deel, want Plaasmoord is een van daardie uiters “bedenklike tekste” (so sal dié akademici dit dalk formuleer) wat vir sy interpretasie, taksering en leesgenot nié afhanklik is van die uitleg deur ’n letterkundige nie (kan ’n mens jou so iets voorstel?): die verhaalgegewe is selfverklarend, die karakterbeelding is oortuigend, die dialoog verkry ’n afgeluisterde kwaliteit en die sfeer- en ruimteskepping (die Noord-Kaapse wêreld van Brynard se jeug) is besonder treffend. Voorts bou die spanning tot breekpunt op: daar is meer as een raaisel, meer as een verdagte, lyke net waar jy kyk en liters bloed wat kwistig spuit. Tog is Plaasmoord met soveel insig geskryf en behendig gestruktureer dat dit selfs ’n streng literêre beoordeling oorleef het.

Volgens ’n lid van die keurpaneel verdien Brynard se roman lof vir die wyse waarop ’n hoogs kontensieuse en eietydse Suid-Afrikaanse verskynsel op die kop gedraai word. Vooropgestelde idees rakende wie die oortreders in en wie die slagoffers van plaasmoorde is, die motiewe vir sodanige moorde en die kwessie van grondeienaarskap word uitgedaag en die leser gedwing om opnuut te dink oor ’n fenomeen wat bykans daagliks in die media voorkeuraandag kry. Veral oortuigend is die manier waarop Brynard – tipies joernalis – haar uitgebreide navorsing op behendige wyse by die romangegewe integreer. Plaasmoord voel nooit na ’n lesing oor die oorsake van plaasmoorde nie, ofskoon Brynard die aanloop tot grondgeskille en plaasmoorde vér gaan haal. Wat die leser wel kry, is ’n interessante perspektief op één plaasmoord en die moontlike redes waarom verskillende karakters vir Freddie Swarts sou wou dood hê. Soos in George Weidemann se drama My plaas se naam is Vergenoeg, kry die leser van dié debuutroman ’n enorme hoeveelheid inligting oor die redes waarom grondeise plaasvind, die vrese van die boere, die vrese van die plaaswerkers, die sienings van regse oproermakers en ’n hele stuk geskiedenis van die tyd toe die San soos wilde diere gejag en uitgeroei is. Selfs die rol van die kerk in ons wye en droewe grondgeskiedenis word blootgelê.

Daar word veel gewag daarvan gemaak dat Brynard met Plaasmoord ’n speur- en/of spanningsverhaal in die tradisie van Deon Meyer geskryf het. Verwysings na Meyer en sy romans eggo in byna al die resensies oor Plaasmoord. Daar verskyn selfs ’n kritiese mening (of eerder lofrede) deur Meyer op die roman se voorblad.

Binne die speurverhaalgenre kan veral twee belangrike strominge onderskei word, naamlik: (1) ’n Engelse tradisie van die sogenaamde genteel (deftige) speurverhale wat sy hoogtepunt – ten minste ten opsigte van gewildheid – in die werk van Agatha Christie gehad het; en (2) die Amerikaanse tradisie van die sogenaamde hard-boiled detective fiction (hardebaard-speurverhale). Hoewel Deon Meyer se romans dikwels by laasgenoemde genre aansluiting vind, slaag Brynard daarin om die konvensies van albei genres in Plaasmoord af te wissel en selfs te integreer. Soos in die “deftige” speurverhale van onder andere Christie, Sayers, Marsh en Allington, is daar hier sprake van ’n eksentrieke en groter as lewensgroot baasspeurder, Albertus Markus Beeslaar; twee meer onbeholpe sidekicks – speursersante Ghaap en Pyl – wat soms deur Beeslaar as klankbord gebruik word, maar meestal so uitgeskel word dat die groot Gariep hulle nie kan afwas nie; ’n beperkte aantal verdagtes, van wie die meerderheid welgesteld is en wat elkeen ’n duidelike motief vir die moord het; ’n (meestal) geordende geregtelike ondersoek en ondervraging van dié getuies; en ’n netjiese ontknoping.

Maar soos in die hardebaard-speurverhale gaan dit in dié roman terselfdertyd ook oor wanorde, wanhoop en uitsigloosheid. Soos die tipiese hardebaardkarakter is Beeslaar ’n siniese idealis, ’n sosiale buitestander. Hy het voete van klei en daar is allerlei geraamtes in sy kas wat weer begin ratel. Ofskoon hy dikwels “beesagtig” is, bedien hy koffie saam met koekies of beskuit; kweek ’n groentetuintjie; het ’n duiwelse vrees vir spinnekoppe; en koop kos en komberse, uit sy eie sak, vir die arm, hawelose mense in die polisieselle. En net soos hardebaard-misdaadfiksie bied Plaasmoord ook ’n akkurate, eerlike en realistiese beskrywing van die era waarin dit tot stand kom, asook kritiese perspektiewe op die sosiale, politieke en morele klimaat van die tyd. Die roman bied ’n ontstemmende blik op ’n plattelandse gemeenskap in die greep van verwarrende veranderinge, maar terselfdertyd ook intens uitgelewer aan “die hebsug waarmee alles, letterlik alles, deurdrenk is”.

Brynard bestorm dus ’n terrein waar min engele dit sou waag (die romantitel is kontroversieel; die onderwerp van plaasmoorde uiters sensitief), maar haar voetwerk is foutloos. Haar aanslag wissel van dodelike erns na galgehumor, van bloed-en-derms tot speelse romantiek. Tydens die finale skermutseling tussen die polisie en regsgesinde boere op die dorp (voor die lendelam klein polisiestasietjie) word superintendent Mogale – “die Moegel” – deur Beeslaar met Darth Vader vergelyk:

Die Moegel frons en gooi ’n oor in die rigting van die straat. Hy het toe aangekom, sy gewapende eenheid wat glo binne minute kan opdaag. “Wat de hel sing hulle daar?” grom hy. Hy klink vanoggend nóg meer soos Darth Vader. En hy lyk ook so bietjie so. Sy pikswart hare is lank en staan in ’n wollerige helm om sy groot blink gesig. (463)

En wanneer sersant Pyl sy koeëlvaste baadjie begin aantrek, is Beeslaar se indruk:

“Moet ons nie maar die twee wit mans uitlewer nie?” vra Pyl. Met die Moegel se kevlarbaadjie in plek, staan hy nou en vroetel aan sy eie. Hy lyk komieklik met die harnas oor die los, lellerige sweetpakbroek; die sweetpakband is nog steeds om sy kop. Arm man se Luke Skywalker, dink Beeslaar grimmig. (464)

Maar soms word die tong in die kies ’n skalpel wat tot op die been sny:

Maar eintlik weet Beeslaar. Hy wéét. Hy was al vantevore hier … so met ’n kinderlyf slap in sy arms, biddend vir ’n pols, vergeefs … God met die ysterore. Veraf hoor hy iemand roep vir ’n ambulans. En nog verder weg is daar die woep-woep-woep van die weermaghelikopter. Elders, ’n vrou wat histeries aan die gil gaan, perdepote wat angstig klop. Maar hier, hier in die klein ruimtetjie tussen hom en die kind, hier is dit stil. Vir ewig stil. Hy luister teen die seun se bors. Na die stilte wat daar binne kom sit het. (481)  

Geen probleem is dus ooit eendimensioneel of eenvlakkig nie. Daar is nooit net één skuldige party nie. Almal is skuldig. En almal tegelyk slagoffers. Uiteindelik bly mag en hebsug die belangrikste dryfkragte wat selfs ander politieke en sosiale konstrukte in die skadu kan plaas.

Karin, dit is vir my ’n gróót voorreg – en ’n besondere vreugde – om die UJ-Debuutprys vir Skeppende Skryfwerk vir 2009 aan jou te oorhandig. Plaasmoord is ’n waardige wenner. Baie geluk!!