Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Bedanking by die ontvangs van die Universiteit van Johannesburg se Prys vir Skeppende Skryfwerk


Elsa Joubert - 2010-10-26

Skrywer: Elsa Joubert
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN: 9780624048121
Prys: R300

Klik hier en koop jou eksemplaar van Reisiger nou van Kalahari.net!

 

My hartlike dank aan professor Thys Human en aan die Departement van Afrikaans vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg se Prys vir Skeppende Skryfwerk.

Dit is vir my ’n groot eer om dit te ontvang en ek stel die toekenning hoog op prys. Ongelukkig kan ek nie vanaand daar wees nie, maar ek stuur ’n paar gedagtes oor die genre outobiografie.

Ek het die skryf van ’n outobiografie ’n baie heilsame ervaring gevind. Na jare verbygegaan het, kyk jy terug op jou lewe en kry ’n klein tikkie insig oor hoekom jy destyds sus of so gemaak het. Jy sien stadig ’n patroon na vore kom; jy sien ten dele hoe die vóórkant van die tapisserie van jou lewe lyk, waar jy in die verlede slegs die onafgewerkte agterkant, die stukkies wol wat afgeknip is, raakgesien het. Dit word ’n ontdekkingsreis na jouself. Dit het ’n skoonmaakeffek op jou gemoed. Jy leer jouself vergewe; jy dink: dit was tog beter so.

Die outobiografie as genre kom gereeld onder skoot. Die groot strydpunt is: Waar word die lyn tussen werklikheid en fiksie getrek?

Mary Kerr, ’n Amerikaanse skrywer, het haar outobiografie The Liar’s Club genoem. Lauren Slater s’n is getiteld Lying: A Metaphorical Memoir. Fiksie of feit?

Biograwe het dieselfde probleem.

John Kannemeyer haal in sy boek Uit puur verstrooiing ’n Amerikaanse kritikus, Leon Edel, soos volg aan: “The biographer may be as imaginative as he pleases – the more imaginative the better – in the way in which he brings his material together. But he must not imagine the materials.”

Ek word dikwels gevra: “Is alles wat jy geskryf het, waar? Of het jy bygelieg?”

“Ek het nie bygelieg nie,” sê ek dan. “Maar ek het die reg behou om weg te laat.” En ek pleit skuldig dat ek soms, vormgewys, op my ervaring as romanskrywer gesteun het met die indeling en rangskikking van my stof. Of my verbeelding gebruik het om te besluit waar dit die effektiefste sou wees om ’n hoofstuk te eindig, of selfs te begin. Of probeer het om met die stof op so ’n manier om te gaan dat dit die leser se aandag sal behou.

Sommige kritici noem die outobiografie “the veto of imagination” en ander “the unique act of imagination” (Louis Renza). Gelukkig het ek al hierdie teorieë gelees nadat my boek al klaar geskryf was!

Versin het ek egter nie. Dinge uit my duim suig, het ek nie. Dit was nie nodig nie. Soos elke outobiograaf of biograaf ondervind: stof is daar genoeg. Genoeg vir seker twee of drie lewensbeskrywinge. Die probleem is nie om te versin of nie te versin nie, dit is om ’n keuse te doen oor wat om te gebruik. Soos deur ’n groot moeras, so loop jy deur ervarings, feite, ontmoetings, emosies en gebeurtenisse. Vir eers kan jy maar alles neerskryf. As ’n gebeurtenis of emosie so helder en sterk in jou geheue staan, moet dit êrens van betekenis wees.

In die tyd toe ek aan die boek geskryf het, het ek by ’n kraampie ’n boek net om sy titel gekoop: A Shaping Joy deur Cleanth Brooks. En inderdaad: met die eerste skrywe is jy nie bewus van die vorm wat jy aan’t bou is nie. Daar is vreugde en ontsetting in herinnering, en hoe sterker die geheue is, des te groter die vreugde en die ontsetting van wat jy onthou en aan die neerskryf is. Maar dan eers, wanneer jy die stof voor jou het, kom die “shaping joy”.

’n Familielid vra vir my op ’n oggend in Onrus, met my manuskrip in sy hand: “Wat wil jy eintlik sê?” Toe staan dit skielik duidelik voor my: ek wil oor die tweespalt skryf tussen my en die groep aan wie ek, ondanks alles, nou verbonde is. Tussen wat hulle dink en doen en in glo, maar wat ek dink immoreel is. Tussen die mores wat vasgelê is in my eie psige, maar wat ek weet boos is. Ek wil skryf oor die vraag: Wat is verraad?

“Dit lê alles daar in die manuskrip,” sê dié familielid toe; “dit moet net effens uitgelig word.”

Die skryfproses is vir my nie die neerskryf van ’n waarheid nie, maar die soeke na die waarheid. Die waarheid kom geleidelik na jou, en kry gestalte in dit wat jy al soekend skryf. Onbewustelik is die sluimerende tema in jou kop aan die werk. Dit trek soos ’n magneet uit jou geheue gebeurtenisse, ondervindings en gevoelens na jou vingers wat begin tik. Onbewustelik begin jy orden. Nou is dit maklik om onnodige gegewens af te skud; te begin vorm gee. Dit is jou “shaping joy”.

’n Aantal besluite neem jy doelbewus. Ten eerste jou invalshoek. Gaan jy as oumens terugkyk oor jou lewe en dinge kies en vertel met ’n agternawysheid? Gaan jy inzoem op ’n belangrike gebeurtenis so teen die middel van jou lewe en dan die tyd daarvoor en daarna beskryf met die nuwe insig wat die gebeurtenis jou gebring het? Gaan jy kronologies vertel, van die wieg tot so na aan die graf as wat dit kan kom?

Ek het die kronologiese opsie gekies, en uiteindelik het dit geblyk dat dit in twee aflewerings sou kom: die wieg tot die volwassene in die eerste band, ’n Wonderlike geweld, en toe die volwasse lewe tot die einde se kant toe in Reisiger.

My motivering om die boek te skryf was ’n diep begeerte om die lewe van ’n gewone wit vrou in die tweede helfte van die 20ste eeu op skrif te stel, binne die sosiale strukture van destyds. Nie ’n geskiedenis van dié era nie, net die geleefde ervaring van een mens. Laat dit dan my protes wees.

Een spesifieke vryheid het die outobiograaf: hy kan speel met tyd. Vooruitkyk was vir my taboe. Maar jy kan tyd vries en in minuskule detail ’n oomblik ondersoek, dan weer met ’n sprong vorentoe gaan.

My doel was om die leser, as hy eers aan die lees is, saam met my te laat voortbeweeg. Niks verder gaan nie as wat ek beweeg. ’n Versoeking was byvoorbeeld om direk ná die Verwoerd-skietery verder te vertel dat hy ses jaar later in die Volksraad deur Tsafendas doodgesteek is. Ek kon dit nie doen nie. Ek sou daarmee die hele werklikheidsillusie van die oomblik deur dié stukkie agternawysheid heeltemal vernietig. Ek wou niks vooruitloop nie.

Briewe en dagboeke? Soos Quiller-Couch gesê het: “Murder your darlings.” Gebruik net wat relevant tot jou hooftema is en iets tot die stof bydra. Dagboeke het ek nie gehou nie; net soms as my gemoed vol was van indrukke of met ’n depressie, het ek dit uitgetik – uittik help vir alles. Waar die stuk relevant was, het ek dit gebruik. Waar insidente vir my interessant was en ek hulle wou beskrywe, was die toets: niks is op sigself interessant nie; slegs in konteks word dit interessant. Die vraag is: Dra dit iets by?

Toe ek jonger was, het daar vir my aan die begrip outobiografie iets elitisties gekleef, iets onbereikbaars, iets wat net gevierde skrywers en digters kon skrywe. Afgetrede veldmaarskalke wat tuis op hulle landgoed in Engeland rustig die veldslae herleef van dié of dáárdie Engelse oorlog. Of Augustinus met sy belydenisse, Montaigne met sy essays. In ivoortorings. Onversoenbaar met die gewone mens.

Later, met die polities gewelddadige, onrustige tye wat ons in Suid-Afrika beleef het, tye van groot verandering in Afrika, het ’n nuwe soort outobiografie na vore gekom: jong mense wat nie in rustigheid nie, maar gedrewe deur onmag en frustrasie en pyn, pen op papier gesit het en die woorde laat brand het.

Ver verwyderd van kontemplatiewe besinning het outobiografiese werk in die sestigerjare ’n wapen geword, ’n veiligheidsklep, ’n dreigement, ’n wekroep: “Luister, of dit sal julle berou!” Ek praat hier van jong swart skrywers, sommige van die tydskrif Drum, wat ná Sharpeville hulle werk opgesê het en met ’n eenrigtingkaartjie buiteland toe is. Ek noem net ’n paar titels, wat elk sy eie storie vertel: Bloke Modisane: Blame Me on History; Alex la Guma: Walk In the Night, Es’kia Mphalehle: Down Second Avenue, Todd Matshikiza: Chocolates for My Wife. Dit is ’n groot skande en tragedie dat die meeste van hierdie outobiografiese werke destyds deur die Wet op Publikasies, die Sensuurwet, verbied is en ons die kans gruwelik ontneem is om te lees wat ons mede-Suid-Afrikaners deurgemaak het en dink en voel. Maar al hoe meer het daar uit Afrika, soos uit die ander kontinente, outobiografiese werk gekom. Oor die ou koloniale dae, oor die moderne tye, oor aanpassing, heimwee na die oue, vreemdheid van die nuwe, drome vir die toekoms. In Frans, Engels en Portugees het werke verskyn wat nou reeds klassiek geword het. Stadig is ons vasteland deur die geskrewe woord aan ons ontbloot en bekend gestel. Soos ’n groot, kleurvolle mosaïek het Afrika begin gloei.

Ek sluit af met ’n aanhaling van Thoreau uit sy bekende werk Walden: “In most books, the I, or first person, is omitted; in this one it will be retained.”

Uiteraard is alle geskrewe werk outobiografie.

Dankie, dames en here.