Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Bedanking by ontvangs van die UJ-Debuutsprys vir Skeppende Skryfkuns


Karin Brynard - 2010-10-26

Titel: Plaasmoord
Outeur: Karin Brynard  
Uitgewer: Human en Rousseau
ISBN: 9780798151160
Bladsye: 512

Klik hier en koop Plaasmoord nou van Kalahari.net!

 

Niemand kon meer verbaas wees om hierdie prys te ontvang as juis ek nie. Of nee, ek dink daar is een persoon meer verbaas: my moeder van 85. Want dié steek my boek onder haar bank weg in die ouetehuis op Stellenbosch waar sy woon. Kan die kragwoorde daarin nie uitstaan nie en is bang haar vriende dink sy het my so grootgemaak.

En nou staan ek eintlik ’n bietjie swaapagtig hier, veral na die aanhoor van prof Thys Human se commendatio oor Plaasmoord. Eintlik is “onseker” meer die woord, want ek het ’n gevoel ek moet die boek nou weer gaan lees om dit behoorlik te verstaan voordat ek ’n woord daaroor durf te rep.

Ek bieg: ek is ietwat van ’n literêre gomtor, wat oopmond geluister het na prof Human, en nou nie durf bek rek sonder om myself weg te gee nie.

Maar ek wil dankie sê. Dankie vir die UJ dat hy pryse soos hierdie toeken en vir al die paneellede van die jurie wat deur ’n duisternis boeke moes ploeter om uiteindelik hierdie boeke te kon aanwys. Ek vra amptelik om verskoning dat myne so dik was! U sien, die rede daarvoor was dat ek so nuuskierig is en met Plaasmoord hierdie drang wou bevredig.

Ek is ’n verslaggewer in murg en been. Twee van my mentors wat vanaand hier aanwesig is – Harald Pakendorf en Anne-Marie Mischke – het help slyp aan my. Die aard en wese van ’n joernalis is die begeerte om te weet. En in hierdie hoedanigheid loop ek rond met dieselfde vrae as waarmee die res van ons Suid-Afrikaanse gemeenskap worstel. Vrae soos hoekom ons in so ’n gewelddadige land ontaard het. En wie se skuld dit is. En hoe ek staande kan bly en as min of meer morele persoon probeer oorleef.

In hierdie soeke van my was ek was gister die hele dag saam met ’n bitter knap vrou in die Suid-Afrikaanse Polisiediens hier aan die myngebiede rondom Johannesburg. Sy het my gaan wys hoe lyk haar dagtaak en waarmee sy daagliks te kampe het. Ek het sommige van haar informante ontmoet – stil, sku, agterdogtige manne uit die townships. Maar met die eerste Black Label Quart agter die blad in ’n plaaslike sjebien, begin hulle praat. Want die vuur van alkohol, en die allesoorheersende begeerte na meer, laat hulle skielik uit hulle doppe kruip. Manne wat hul eie huishoudings met die vuis in toom hou, wat die taal van geweld nie net tot in al sy registers kan gebrúik nie, maar dit ook verstáán.

Teen laatmiddag was ek saam met haar by ’n misdaadtoneel. Dit was ’n verlate oop myngroef. Die grond omgedolwe, vol kraters, besaai van rotse wat deur dinamiet uitmekaar geruk is. Onder in die oop gate het die giftige water waarmee die ou mynhope geloog word vir goudreste, in groot poele opgedam.

In die koperkleurige water van een van hierdie damme het ’n liggaam gedryf. Dié van ’n 23-jarige man. Dit was onnatuurlik stil hier. Geen voëls, geen diere, geen plant of selfs bossies wat die oopgeskeurdheid van die plek kon versag nie. Nou en dan was daar die geknars van ’n polisieradio. Verder net die liggaam wat liggies op die water dryf – gesig na onder.

’n Familielid het eenkant gestaan. In gedempte stem het hy vertel van hierdie boetie wat eenvoudig nie anders kon as weerskante van die spoor van die lewe trap nie. Van jongs af weggeloop; inbrake, drank, veral dwelms. ’n Maand gelede was hy glo hier saam met twee tjommies, besig om vir skroot te aas. Die sekuriteitswagte van die myn het hulle gewaar en met rubberkoeëls losgebrand. Die boetie moes in hierdie dam geval het. Sy liggaam het onder die water in verdwyn. Dalk was hy verwond. Dalk kon hy nie swem nie. Wie weet?

Ek hoor die polisievrou in haar selfoon: “Ja, kolonel, lyk hy was al ’n maand onder, maar sy liggaam het nou gepop. Ek weet net nie hoe ons hom gaan uitkry nie. Hy gaan loskom as ons aan hom vat.”

Ek het na die figuur in die metaalrooi dam gestaar. Sy agterkop wat bokant die water dobber. Die blou hemp, die jeans wat styf span oor die swelling van sy ontbindende liggaam, die diksoolstewels. Veters wat op die water dryf. Na sy hande wat so weerloos langs die sye in die water hang, soos iemand wat luilekker, rustig na visse lê en staar.

En ek wonder: Hoekom? Hoekom dryf hy daar en ek staan hier, bewus van ’n asemrowende sonsondergang en die diep stilte van hierdie lewelose, verwoeste landskap?

En ek dink dit is wat my motiveer. Ek wil kan verstaan. Ek wil verby die ooglopende en die eenvoudige antwoorde van armoede en agtergeblewenheid en apartheidskuld kan kyk. Verby ons verstommende misdaadstatistiek en afgryslike werklikheid. Ek soek na die verligting wat ek hoop moontlik is as ek my eie angs en deurlopende laegraadse vrees begryp, die skisofreniese toestand waarin ek leef: een dag matelose opwinding en euforie – as ek Rian Malan kan aanhaal – en die volgende, donker wanhoop. As ek ’n koerant oopslaan – die meedoënlose skaaf en skuur van ’n nuwe samelewing wat sedert ’94 begin vorm aanneem.

Ek hoor vanmiddag hoe iemand Deon Maas aanhaal wat sê as jy wil verseker dat jy die voorblad van Beeld haal, wees “jonk, blond en dood”! Of ’n inbeller die vorige week op RSG: “Ons het eintlik almal na ’n nuwe land geëmigreer, al het ons nie burgerskap verwissel nie.”

En ek dink hy’s reg, want ons woon sedert 2 Februarie 1990 in ’n ander land, waar die bodem vloeibaar is, ons almal se greep op vastigheid labiel, ook ons gevoel van geborgenheid, bemagtiging, respek en selfrespek, ons konneksie met ons groter gemeenskap en ’n betekenisvolle verwysingsraamwerk.

Hierdie soort elemente in ’n gemeenskap is ’n storieverteller se kos, ja. Maar ook nee: ek lees dikwels van iets in ’n koerant en besef dat hierdie storie in fiksie nooit sou werk nie. Dit is net te vergesog. Te bisar. Te verskriklik.

Maar daar is genoeg mense wat elke dag hierdie werklikheid konfronteer. Ek het die afgelope week navorsing gedoen vir my volgende boek – ook ’n misdaadboek. Ek het baie tyd deurgebring met die manne en vroue wat daardie aakligheid van jou en my deur af probeer weghou. Ek was saam met die manne van ’n bekende voertuigopsporingseenheid. Twee van hulle sit vanaand hier: Piet en Stan. Hulle ry snags ons strate en kry gekaapte karre en mense terug. Hierdie einste Piet en Stan was gisteraand hierdie tyd in ’n township aan die Oos-Rand [ek verbeel my nou ek het gister “Oosrand” in ’n stuk deurgelaat, maar het nou deur al gister se dokumente gesoek en kry niks nie. As jy dalk daarop afkom en/of dit onthou, maak ’seblief reg. Baie dankie, en jammer vir die moeite.] besig om vir koeëls te koes. En terug te skiet. En ’n kliënt se eiendom terug te vat.

Die klein, blonde vroutjie wat ek Dinsdag ontmoet het, ’n polisiekaptein, was al tientalle male gehospitaliseer weens haar aandiens-beserings: dan is dit haar liessenings wat afgeskop word, dan gekraakte ribbes, dan ’n gekraakte skedel; selfs totale sielkundige uitputting weens verskeie sluipmoordaanvalle deur misnoegde smokkelbendes. Hierdie mense hanteer namens die res van ons die bitter gesig van ons werklikheid.

Antjie Krog sê in haar boek Begging to be Black sy wil nie fiksie skryf nie. Sy bly by niefiksie. Daar is ’n vreemdheid aan die werklikheid, sê sy, wat ’n mens nie kan uitdink nie. Dis te eg. Dit, en die feit dat ’n mens nooit regtig die psige van ’n ander persoon kan penetreer nie. Sy probeer haar verlammende vrae oor ons – ons hele ou souskluitjiesop van landsbewoners – stel en met haar niefiksie beantwoord.

Ek kan nie op me Krog se diep, intellektuele vlak worstel met hierdie vraagstukke nie. Ek probeer dit doen met stories. Ek probeer ander te begryp – sodat ek ook die vreemde aspekte van my eie persoonlikheid kan verstaan. Want in ons almal skuil die bose saam met die edele. Dis net ’n kwessie van omstandighede, keuses, toeval, wat ook al.

So, ek soek aan die hand van vermaak. Want dit is, in sy essensie, wat ’n misdaadverhaal is. Dit is aksie, bloed en derms – en moenie die goeie skeut seks en kragtaal vergeet nie – en jou leser lees met beknepenheid om uit te vind wie die lae, gemene misdadiger is. Want dit gee oplugting.

Ek self het die oplugting nodig.

Daarom lees ek vanaf kindsbeen hoofsaaklik misdaadboeke. Karl Kielblock was my redding. My stowwerige, saaie, plattelandse kindertyd in die Noordwes-Kaap (voor MXit, FB, Twitter of selfs TV) het ek skop gegee met avonture, aksie en spanning – in boeke. Later, toe ek kon Engels verstaan, het Nancy Drew bygekom. Toe ál 80 boeke van Agatha Christie en al 90 van Dorothy L Sayers. En daarna was ek reg vir die hardebaard-Amerikaners soos Raymond Chandler met sy speurder, Philip Marlow.

Vandag is dit Stieg Larsson; die pragtige, gedissiplineerde prosa van John le Carré; en ons eie Deon Meyer. Dit is dus die genre waarop ek my melktande, my verstandtande, my maagdelikheid verloor het – en oor ’n paar jaar seker ook my valstande sal verloor. Dit is die enigste manier waarop ek ’n storie kan vertel. 

Ek bly gefassineer.

En ek glo mense sal misdaad bly lees, want hulle soek dieselfde oplugting as ek.

Dieselfde sielkundige proses wat as onderbou vir ’n geslaagde misdaadverhaal dien: die versteuring van ’n gemeenskap se orde deur ’n misdaad; die held wat kom om alles uit te sorteer, sodat die skuldige aan die pen ry en die orde weer herstel word.

Ek en ander lees dit omdat ons wil hoop dat daar iewers – al is dit dan nou net in die kop van ’n literêre gomtor soos ek self – nog eerbare wetstoepassers is. Ek het die voorreg om hierdie soort mense vir my boeknavorsing te gaan uitsnuffel – of dit nou die manne van ’n privaat maatskappy is of die polisievrou wat nou – terwyl ons hier staan en skemerpartytjie hou – besig is met ’n lewensgevaarlike lokval vir ’n reuse-dwelmsindikaat hier in die stad.

Hulle gee my hoop.

En ek hoop dat ek op my manier weer daardie hoop kan aangee.

Ek dank u.