Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 22/10/2010: Wat het ons om te verloor?


Herman Wasserman - 2010-10-22

Mediavryheid: Wat het ons om te verloor?
Herman Wasserman
2010-10-19

Herman Wasserman is professor in die Skool vir Joernalistiek en Mediastudies aan Rhodes-universiteit in Grahamstad. Hier is uittreksels uit sy rubriek. Lees dit volledig in Die Burger hier.


Suid-Afrikaners is vandag op Nasionale Mediavryheidsdag bevoorreg om toegang tot ’n tegnologies gesofistikeerde mediabedryf te hê. Maar wat is daar om te vier?

Nasionale Mediavryheidsdag is ingestel ter herdenking van die dag in 1977 waarop die apartheidsregime drie koerante op een dag verbied het – The World, Weekend World en Pro Veritate – en joernaliste soos Percy Qoboza en Aggrey Klaaste in hegtenis geneem het.

Mediavryheidsdag noop ons om stil te staan en dankbaar te wees dat daardie dae verby is.

Die Suid-Afrikaanse media se vryheid, wat vandag in die Grondwet gewaarborg word, is iets wat gevier moet word, want dit was ’n lang, opdraande pad tot by hierdie punt. (En laat ons ook maar in nederigheid onthou dat nie alle sektore van die media, veral die Afrikaanse media, destyds veel bygedra het om ons by hierdie punt uit te bring nie.)

Vryheid is nie net iets wat gevier kan word nie – dit is ook iets om bewaak te word. En die laaste tyd is daar allerhande geluide uit regeringskringe wat ons herinner dat waaksaamheid selfs nie in ’n demokratiese samelewing verslap moet word nie.

Maar dit help nie veel as ons mediavryheid vier en bewaak as ons nie mooi weet wat presies dit is wat ons vier en bewaak nie. Daarom is mediavryheid ook iets waaraan deurlopend inhoud gegee moet word.

Wat is daar om te vier?

As Suid-Afrikaners kan ons bevoorreg voel om toegang tot ’n tegnologies gesofistikeerde mediabedryf te hê. Ons kan die kultuur vier van robuuste debat wat floreer in ’n relatief kort tyd sedert demokratisering. Ons kan die feit vier dat ons demokratiese strukture soos die konstitusionele hof het wat toesien dat die regte van burgers in stand gehou word.

(...)

Mediavryheid word in die Grondwet gekoppel met hierdie breër reg – en ons moet onsself dus ook afvra in watter mate die media se vryheid daarin slaag om die groot publiek te help om sy stem te laat opklink en aan ’n demokratiese kultuur te kan deelneem. Gebeur dit? Watter nuus- en markwaardes bepaal wie se stories die voorblad haal?

(...)

As ons mediavryheid vier, vier ons die media se bydrae tot ’n demokratiese kultuur en openbare sfeer. Ervaar die gemiddelde Suid-Afrikaner sy lewe as een van deelname aan hierdie sfeer, of as marginalisering en uitsluiting daarvan?

Iets is verkeerd in ’n samelewing waar burgers motorbande in die strate moet laat brand voordat die aandag gevestig word op die skreiende omstandighede waarin hulle leef. En iets is verkeerd met media wat daardie mense slegs raaksien die dag wanneer die vuurhoutjies getrek word en hulle die verkeer op die N2 belemmer.

Mediavryheid kan nie ’n doel op sigself wees nie. As mediavryheid beskou word as slegs die toestand waarin die media vry is van belemmeringe en inmenging – dus vryheid ván – eerder as die tipe vryheid wat die media in staat stel om daardie vryheid te gebruik ten bate van die goeie in die samelewing, werk ons met ’n baie oppervlakkige siening van vryheid.

Dalk is dit verwant aan die soort vryheid waarvan Janis Joplin gesing het: “[F]reedom is just another word for nothing left to lose” – ’n gelate genieting van vryheid sonder die las van plig en verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan.

Op die oomblik wil dit egter voorkom asof die regerende ANC, met behulp van die retoriek van “ontwikkeling” en “transformasie”, die tweede soort vryheid ’n voorwaarde wil maak van die eerste. Ook dít sal nie deug nie – die twee gaan hand aan hand, maar jy kan nie etiese optrede verwag as die vryheid van keuse van jou af weggeneem word nie.

Daarom is vandag inderdaad ook ’n dag waarop mediavryheid opnuut bewaak moet word. Die ANC se voorstel vir ’n mediatribunaal is kommerwekkend. Dalk selfs nog kommerwekkender is die voorgestelde Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, wat nie alleen die media se werk sal moeilik maak nie, maar ook die werk van diegene waaroor die hoofstroommedia ongelukkig maar min berig – die sosiale bewegings en gemeenskapsorganisasies wat, soos Steven Friedman daarop gewys het, inligting nodig het om plaaslike regerings vir ontwikkelingswerk aanspreeklik te hou, maar nie die geld sal hê vir hofsake waarin hulle hul grondwetlike reg op spraakvryheid kan opeis soos groot mediahuise kan doen nie.

(...)

Dit is tyd dat politici leer om kritiek te aanvaar. En hoewel die konsentrasie van media in die hande van ’n paar konglomerate wel ’n probleem is, behoort die regering meganismes soos die Media-ontwikkelings-en-diversiteitsagentskap (MDDA) uit te bou en beter te laat funksioneer, eerder as om persvryheid te bekamp. In die era van blitsige, grenslose disseminasie van inligting via Twitter, Facebook en SMS, sal dit in elk geval baie moeilik wees om kritiese stories stil te hou.

Maar dit is insgelyks ’n goeie dag vir die media om te onthou dat nie alle bedreigings vir vryheid uit politieke geledere kom nie. Erken gerus dat die mark sy eie manier het om selfsensuur onder joernaliste teweeg te bring.

Vandag is dus ’n dag waarop mediavryheid gevier kan word, maar ook jaloers bewaak moet word. Maar laastens is dit ook ’n dag waarop opnuut inhoud gegee moet word aan mediavryheid. Dit is ’n dag waarop kritiese vrae gestel moet word.

Wat het die media gemaak met die vryheid wat hulle verwerf het? Wie is die publiek in wie se belang die media aanspraak maak om te praat?

(...)

Mediavryheid behoort nie ’n vryheid net vir die media te wees nie. Dit moet ’n vryheid vir die publiek wees. Dit beteken onder meer dat die publiek duideliker en meer direkte seggenskap in selfreguleringsmeganismes kry.

Die Persraad se huidige hersiening van die selfreguleringsproses moet dus verwelkom word. Hopelik loop dit uit op ’n sterker verteenwoordiging van die publiek in dié meganisme as wat tans die geval is, ’n meer proaktiewe Persraad wat self ondersoek instel na mediavergrype, en sterker sanksies.

Dat hierdie selfregulering moet gebeur in ’n vrye atmosfeer, is vanselfsprekend. Die geveg om mediavryheid te bewaak, moet voortgaan. Maar daardie vryheid moet meer wees as ’n slagspreuk vir ’n mediabedryf wat niks het om te verloor nie.

*

Spraak nie vry? Ter slagting gelei
Kader Asmal
2010-10-21

Hierdie is uittreksels uit Kader Asmal se toespraak by Sanef se herdenking van Swart Woensdag. Asmal was ’n ANC-kabinetsminiser. Lees die volledige berig in Beeld hier. Die geskiedenis en die herdenking van Swart Woensdag 19 Oktober 1977, die dag toe die NP-regering verskeie koerante verbied het, beklemtoon die noodsaaklikheid van spraakvryheid vir die ontwikkeling van ’n demokrasie.


Die bekroonde skrywer Salman Rushdie, wat goed vertroud is met die omstredenheid wat debatte oor vryheid van uitdrukking en spraak dikwels kenmerk, het oor vrye spraak die volgende te sê gehad: “Vrye spraak is die lewe self.”

Ons kom uit ’n verlede waarin diegene in ons gemeenskap wat verban is, wat geveg het teen die verdrukkende staatsmasjinerie wat die wese van vryheid van uitdrukking, geloof en mening gewelddadig probeer uitwis het, maar alte goed besef: “Vryheid van spraak is die lewe self.”

Ons kom uit ’n verlede waarin dié van ons wat skeppers van ’n nuwe grondwetlike bedeling was, gesweer het dat ons nooit weer sal toelaat dat ’n Swart Woensdag, of enige verbod op vrye spraak of uitdrukking, ons leefwêreld ooit weer sal besmet nie.

Ons het gevolglik koers gekies na ’n toekoms wat die stempel sou dra van ’n nuwe waardestelsel wat gemik sou wees op die beskerming en bevordering van die vryheid van spraak, geloof en mening as die finale repudiëring van al die booshede wat ons geliefde land ontsier het.

Kyk ons na ons land se apartheidsgeskiedenis, is dit geregverdig om te sê dat persvryheid ’n veelbewoë geskiedenis van verbod en manipulasie deur die regering deurleef het – ’n geskiedenis wat ’n nuwe grondwetlike bedeling sou moes uitskuif tot die newels van ons herinnering aan dit wat so veragtelik was.

As ons terugdink aan Swart Woensdag en die verbod op The World, Week-end World en Pro Veritate, is dit gepas dat ons ons daaraan herinner dat ons hierdie donker dae in beginsel vaarwel toegeroep het toe ons ons daartoe verbind het om te leef in die lig van die nuwe grondwetlike bedeling – ’n bedeling waarin die Grondwet, vryheid van uitdrukking en ’n vrye pers beskerm en die reg op toegang tot inligting verskans word.

Ons land het die pad betree na die grondwetlike beskerming van vryheid van uitdrukking aangesien ons dit beskou het as een van die mees fundamentele en onmisbare voorvereistes vir ’n lewenskragtige en verenigde demokrasie.

Net soos John Stuart Mill het ons dit as ’n kernvryheid besing. Hy het dit so gestel: “Gee my, bo alle vryhede, die vryheid om vrylik en ooreenkomstig my gewete te weet, te praat en te redeneer.”

Danksy Mill se werk besef ons dat vryheid van spraak baie fasette het en méér omvat as die reg op uitdrukking en die vertolking van inligting en idees, asook die reg op ’n soeke na, die ontvangs van en die oordrag van inligting en idees.

Enige diskoers oor vryheid van spraak en van uitdrukking dui dus op ’n magdom verwante vryhede, soos die vryheid van geloof, mening, en asso-siasie.

(...)

Die reg op spraakvryheid word as so ’n mensereg erken in die Universele Verklaring van Menseregte, in die Internasionale Verbond tot Burgerlike en Politieke Regte, die Europese Konvensie vir Menseregte, die Amerikaanse Konvensie vir Menseregte, en die Afrika-handves vir Mense- en Volkereregte.

Gegewe óns stryd en prestasies het ek in Mei vanjaar met diepe hartseer in Freedom House se jongste jaarverslag oor persvryheid gelees dat daar vir die eerste keer in 20 jaar geen Suider-Afrikaanse land is met ’n volkome vrye pers nie, en dat Suid-Afrika, soos Namibië, afgegradeer is van “vry” na “gedeeltelik vry”.

In ’n persverklaring aanvullend tot die uitreiking van die verslag is die volgende mening oor Suid-Afrika uitgespreek:

“Sedert die einde van apartheid is Suid-Afrika van 1995 deurgaans as ‘vry’ aangeslaan.

“Tog het daar in die onlangse verlede kommerwekkende tendense na vore gekom, met inbegrip van vyandiger regeringsretoriek jeens die nuusmedia, toenemende politieke inmenging in die redaksionele onafhanklikheid van die SAUK, die gebruik van hou-jou-bek-bevele en ander regsmeganismes om verslaggewing te kniehalter, en die konsentrasie van eienaarskap in die gedrukte media en die uitsaaiwese.

“Die verdere aantasting van die SAUK se onafhanklikheid en die aanvaarding van die omstrede Rolprent- en Publikasiewet het Suid-Afrika se status na ‘gedeeltelik vry’ verander.”

Die verslag en die gepaardgaande persverklaring is uitgereik voor die indiening van die drakoniese Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, die gemene inhegtenisneming van die Sunday Times-joernalis Mzilikazi wa Afri-ka, en voor die skrikbeeld van die mediatribunaal wat die ANC vir parlementêre oorweging goedgekeur het.

In berigte oor die vergadering wat Sanef (Suid-Afrikaanse Redakteursforum) die naweek met die regering gehou het, lyk dit of daar moontlik van die voorgenome statutêre mediatribunaal afgesien sal word ten gunste van ’n meer proaktiewe benadering tot selfregulering deur die gedrukte nuusmedia.

Maar ons moet fokus op die blywende vraag: Wanneer ontaard selfregulering in selfsensuur?

Wat my erg bekommer namate die jongste gebeure afgespeel het, is die versweë elemente van vrees en selfsensuur onderliggend aan al hierdie debatte oor die nuusmedia se gedrag en moontlike beheermaatreëls, ongeag of hulle selfregulerend of statutêr is.

(...)

Wanneer intimidasietaktiek ’n atmosfeer van vrees vir vervolging skep, skep dit spanning wat kan lei tot selfsensuur wat selfs doeltreffender kan wees as statutêre sensuur.

Dit is juis hierdie moontlikheid van “vrees vir vervolging” wat selfsensuur tot gevolg kan hê wat die debatte oor selfregulering des te belangriker maak in die nadraai van Sanef se vergadering met die regering.

Selfregulering durf nie neerkom op die prysgawe van die kernelemente van die vrye nuusmedia nie, naamlik die reg op eie meningsvorming en op die boekstawing van die feite.

Selfregulering moet ook nie neerkom op dienstigheid aan die ekonomiese of politieke maghebbers se aansprake of vooroordele nie.

As ons die wêreldwye evolusie van die vryheid van spraak oorweeg, asook die formalisering daarvan in ons land, blyk dit baie duidelik dat gemeenskappe wat idees vrylik oordra en ontvang ’n sterk demokrasie vestig, en omgekeerd.

Ons eie geskiedenis, en die herdenking van Swart Woensdag, bewys dit.

Die vraag is nou: Wie se verantwoordelikheid is dit om vryheid van spraak te beskerm?

My gevolgtrekking, wat gedeeltelik gerugsteun word deur die gesprek tussen Sanef en die regering, is dat dit ons gesamentlik verantwoordelikheid is.

Hierdie uitdaging moet ons gesamentlik aandurf – met eerbaarheid, eerlikheid en integriteit. Want soos George Washington gesê het:

“If the freedom of speech is taken away then dumb and silent we may be led, like sheep to the slaughter.”

*

10 200 Endorse Right2Know Campaign
Mark Weinberg

22-10-2010

Since the campaign’s launch on 31 August 2010, we have been growing and consolidating. We now have over 370 organisations and 10 200 individuals endorsing the campaign statement!

We have established working groups in Durban, Cape Town and Johannesburg and now face the challenge of translating the great support and commitment into action. To this end, we have called a nationwide “Week of Action” from 19 until the 27 October.

The Week of Action kicked off on Tuesday 19th with a bang with protests at the City Hall and SABC in Durban and Provincial Legislature in Pietermaritzburg. Over 1 000 people marched in Johannesburg to Constitution Hill to defend our constitutional right to access information and to send a clear message to government: Stop the Secrecy Bill! The Week of Action will end with a march to Parliament on Wednesday 27 October.

After the Week of Action we will be facilitating a national dialogue to develop consensus on campaign strategy and structure. This dialogue will include a series of provincial workshops culminating in a national campaign summit in January 2011. We would welcome your active participation in this important process.

Please feel free to contact me if you have anything to discuss.

Let the truth be told! Stop the Secrecy Bill!

Mark Weinberg
Right2Know coordinator
mark@amandla.org.za
0214617211