Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Joneses maak geldige punte


André Crous - 2010-10-22

Regisseur: Derrick Borte
Kamerawerk: Yaron Orbach
Rolverdeling: David Duchovny, Demi Moore, Ben Hollingsworth, Amber Heard, Gary Cole
Looptyd: 100 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika:
22 Oktober 2010



Die Jones-gesin is ideaal: aantreklik en suksesvol, met alles wat hulle harte (en, belangriker, hulle bure s’n) begeer. Hulle woon iewers in ’n welige Amerikaanse woonbuurt waar die inwoners nie werk nie, maar eerder lyk of hulle op ’n ewige vakansie is terwyl hulle een van twee karre bestuur: die nuutste sportmotor of hulle gholfkarretjie om hulle oor die uitgestrekte gholfbane te vervoer, waar hulle die meeste van hulle tyd deurbring. Dit is ’n baie materialistiese gemeenskap, wat duidelik gestel word deur die woorde van een karakter: “Whoever dies with the most toys wins.”

Maar voorkoms kan jou soms bedrieg. Ek kan ’n film onthou van so tien jaar gelede waarin Tim Robbins ook ’n baie agtermekaar buurman gespeel het, met ’n mooi gesin, en inligting omtrent die omgewing versamel het voordat ’n bom skielik geplant is en hy en sy gesin skielik verdwyn het. Daardie film se naam was Arlington Road en die idee dat jou bure eintlik daar is om jou om die bos te lei, sal by baie kykers sterk aanklank vind.

Die spil waarom alles in die verhaal van die Jones-gesin draai, is hulle besittings en die leefstyl wat daarmee saamgaan – ’n leefstyl wat in so ’n mate aantreklik moet lyk dat enigiemand hulle dit sal beny. Om hierdie leefstyl effektief te bemark, verg egter totale verbintenis aan die rol, 24 uur per dag, en dít is nie altyd maklik nie. Die “gesin” is kollegas, maar moet voorgee dat hulle ’n gesin is, terwyl hulle nie eens vriende is of mag wees nie.

Hulle werk vir ’n onbekende netwerk met kliënte wat groot geld betaal om hulle produkte op innoverende maniere die wêreld in te stuur. Hoe meer van hierdie nuwe produkte verkoop word, hoe beter doen hulle self. Die “pa” in hierdie gesin is Steve Jones (gespeel deur X-Files se David Duchovny), ’n nuweling tot die speletjie wat vroeër ’n uitstekende motorverkoopsman was. Sy “vrou”, Kate (Demi Moore), is ’n ou hand en is tegnies in beheer van die daaglikse taktieke om meer belangstelling te kweek onder die res van die woonbuurt.

Soos wat jy kan raai, is dit nie lank voordat interne spanning die prentjiemooi voorkoms van die Jones-gesin laat begin wankel nie. Hiervoor steun die film te sterk op die feit dat Steve hierdie tipe kulwerk vir die eerste keer doen en nie daaraan gewoond is om mense (vriende!) so ’n rat voor die oë te draai nie. Vir my sou dit interessanter gewees het om fyner te kyk na die maskers wat die individue in die gesin self dra. Daar kom wel klein geheime uit, maar niks vreeslik asemrowends nie, en baie van die karakters bly teen die einde van die film nog maar net skimme.

Die vraag is nou: Kan ons vir karakters omgee wat net voorkoms is? Die karakters is glad nie harteloos nie en gee tog om vir hulle medemens, selfs al is die medemens ’n slagoffer van die vriendskappe wat onder valse voorwendsels tot stand kom. Die Jones-gesin wil die lewens van die mense rondom hulle verander – nie noodwendig om die lewe beter te maak nie, maar eerder om in die kort termyn geld vir hulleself te verseker.

En tog is dit duidelik dat die kamera wil hê dat ons moet empatiseer met die karakters, spesifiek met “pa” Steve, wat van die heel begin van die film sy oog op “ma” Kate het, maar weens die vreemde samestelling van die gesin kan hulle nie eens ’n bed deel nie, aangesien dit maklik die professionele aspek van die projek kan indoen. Daar is twee tonele waar Steve alleen aan tafel sit met sy aandete voor hom, en die kamera trek dan stadig terug om hom ook met rus te laat: duidelike maniere waarop die kamera gebruik word om ’n indruk van eensaamheid te skep.

Een van die film se groot fokuspunte is Steve se soeke na ’n meer vaste, eerlike bestaan saam met mense wat hy liefhet en met wie hy net homself kan wees. Die manier waarop die film uitdraai, het my nie heeltemal oortuig nie, maar daar word ’n hele paar geldige punte gemaak oor die gevolge van enige bestaan wat nie eerlik is nie en hoewel dit soos ’n sedelessie mag klink, is dié tema tog grotendeels heel goed geïntegreer. Die film wys ook waarheen jaloesie kan lei en watter gevolge dit kan hê, sonder om ooit duidelik te maak by wie die skuld vir hierdie gevolge lê.

Ek het ook vrae oor die film se sentrale beginsel dat al die gesin se produkte so opwindend of vindingryk of smaaklik is dat almal wat dit sien, dit eenvoudig net móét hê, maar nou ja, ’n film gee ook mos maar voor dat dit min of meer die werklikheid weerspieël ...