Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Kennisgewings | Notices

Yasmina Reza se god van chaos sorg vir wêreldklas komedie by die Baxter Teater.


2010-10-20

Die veelbekroonde teatermaatskappy, Wordsmith’s Theatre Factory, bou voort op ‘n glansryke geskiedenis waarin internasionale toneeltreffers Suid Afrikaanse verhoë aan die brand speel in Afrikaans.  Hennie van Greunen se vertalings/verwerkings van produksies soos Debbie Isitt se Die vrou wat haar man gekook het, David Eldridge se Festen, Willy Russell se Shirley Valentyn en Mitch Albom & Jeffrey Hatcher se Dinsdae by Morrie het die afgelope paar jaar landwyd vir groot opslae gesorg. 

Die keer help teaterdiva Trix Pienaar met die vertaling uit die oorspronklike teks Le Dieu de Carnage om hierdie internasionale komedietreffer Kaap toe te bring.  Dit is selde dat ‘n internasionale toneeltreffer Suid Afrika tref terwyl dit nog internasionale verhoë aan die brand speel.  Yasmina Reza (Art/Conversations after a burial) se God of Carnage is aan die West End bekroon met die Olivier toekenning vir nuwe komedie in 2008, en in 2009 is dit bekroon met 3 Tony-toekennings, onder andere vir Beste Nuwe Toneelstuk. 

Die Afrikaanse weergawe spog met ‘n gatskop rolverdeling: Anna-Mart van der Merwe, een van ons land se mees gewilde aktrises (Begeertes/Imbumba/Die Twaalfuurwals), speel die teenoorgestelde rol wat sy in die Engelse weergawe gespeel het, en dit laat haar voel hoe dit in Yvonne se perfeksionistiese skoene voel.    Teenoor haar staan Johann Nel (2007 Fleur du Cap-pryswenner vir sy rol in Festen) as Magiel, haar effens onderdanige man wat uiteindelik kans kry om sy mond oor sy ‘perfekte’ vrou uit te spoel.  Die jonger paartjie word gespeel deur Leon Kruger (Om soos ‘n lyk te lê, Suurgat) as die werk-verslaafde prokureur Alan en sy effens histrioniese vrou word gespeel deur Martelize Kolver, wie se aangebore sin vir komedie reeds gesien is in produksies soos Die Francois Toerien-show, Die ryk weduwee en kykNet se nuwe reeks Proesstraat.

Wanneer die Villier-egpaar die le Rouxs nooi om ‘n bakleiery tussen hulle seuns uit te sorteer, ontaard dié beskaafde bespreking in ‘n volskaalse voorstedelike burgeroorlog.  Alan se selfoon is chirurgies aan sy oor vas, Yvonne verstaan nie die kontinent waarop sy woon nie, Annette  raak naarder by die minuut en Magiel word ontmasker as marmotmoordenaar.   Die humor is vinnig, bytend en donker.  Hierdie toneelstuk is nommerpas vir die tye waarin ons woon en die kleinlikheid van die karakters is meer vreesaanjaend as enige Hollywood-gemaakte gedrog.    Want ons is mos nie regtig so nie…

Deur die 95 minute van die toneelstuk gly die gekultiveerde kuier pad af en word dit ‘n volskaalse wêreld-oorlog.  En veral as die paartjie hulleself nie in Parys bevind nie, maar in Durbanville, Kaapstad, die Europese welkom-matjie van Afrika.  En hulle besin oor kultuur, oor moraliteit en oor die vreugdes van ‘n gedissiplineerde, gestruktureerde samelewing. 

Maar die god van chaos het ander planne...

Yasmina Reza se donker, bytende sin vir humor val presies in Hennie se kraal.  Hy verduidelik: ‘Toe ek die teks die eerste keer lees het ek geweet dit sal heerlik werk in Afrikaans.  Ek is van kindsbeen as gefassineer deur die maskers wat mense dra, en die chaotiese gevolge as daardie masker begin afgly.  Hoe ver onder ons eie Europese velle skuil die god van chaos?  En wat gebeur as hy homself wil uitwoed?  Met die opening van die produksie by die 2010 ABSA KKNK, het die gehore so gelag dat die akteurs soms net moes sit en wag tot hulle weer gehoor kan word.  En die lag maak mens oop vir die waarheid, soos Yasmina dit sien.’

Nou kan god van chaos vir slegs twee weke by die Baxter Teater gesien word.  Openingsaand is op Dinsdag, 19 Oktober en die stuk speel deur tot Saterdag 30 Oktober.  Kaartjies kan deur Computicket bespreek word op 083 915 8000 of by www.computicket.co.za of by enige Shoprite/Checkers winkel landwyd.  Vir blokbesprekings of korporatiewe besprekings, skakel Sharon by 021 680 3962, of e-pos haar by sharon.alexander@uct.ac.za .

Vir verdere media navrae, foto’s of onderhoude skakel Hennie van Greunen by 021 976 1761 of 082 374 9243 of e-pos by henniewtf@mweb.co.za.

Produksiebesonderhede:

god van chaos

Die rolverdeling:

Anna-Mart van der Merwe – Yvonne

Johann Nel – Magiel

Leon Kruger – Alan

Martelize Kolver – Annette

Moontlik gemaak deur:            ABSA KKNK & Innibos.

Geskryf deur:                          Yasmina Reza (oorspronklik Le Dieu de Carnage)

Vertaal/verwerk deur:              Trix Pienaar en Hennie van Greunen

Regie:                                      Hennie van Greunen

Stelontwerp:                            Leopold Senekal met tegniese versorging deur Jeanne Steenkamp en Koos Marais.

Kostuums:                              Pedro Kruger

Verhoogbestuurders:              Deon van Zyl/Henco Lötter

Datums: 19 – 30 Oktober 2010.