Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate

Die Erfenisstigting herdenk ’n eeu van Afrikanerkultuur in Suid-Afrika


2010-10-20

  • Kort samevatting van ’n simposium ter herdenking aan die stigting van die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910


Die simposium is deur ongeveer 50 persone bygewoon en was uiters geslaagd en prikkelend. Drie temas is aangespreek, naamlik Taal en Godsdiens, Kulturele Identiteit en Kulturele Erfenis.


Taal en godsdiens

Tom McLachlan van Unisa se onderwerp was “Die groei van Afrikaans sedert 1910 tot ’n volwaardige taal”. Hy het die onderwerp bespreek aan die hand van vier aspekte, naamlik die wonder van Afrikaans, die triomf van Afrikaans, die sieraad van Afrikaans en die tragedie van Afrikaans. Die regering is kennelik nie Afrikaans goedgesind nie. Al gebied waarop Afrikaans groei, is in die musiekwêreld. Die gehalte van sommige van die nuwerwetse liedjies is egter bedenklik. Die taal word verwring en in werklikheid afgetakel met sinnelose, oppervlakkige rympies met Engelse tussenvoegsels. Aan die hand van uitsprake uit die jare voor en ten tyde van Uniewording, het hy aangevoer dat ’n volk sonder ’n taal nie moontlik is nie en het ’n beroep op Afrikaanssprekendes gedoen om hulle opnuut te beywer vir die behoud van Standaardafrikaans in die openbare en die private domein.

Marlene Verhoef van NWU se onderwerp was “Die groei van Afrikaanstalige universiteite sedert 1910 en die huidige stand van Afrikaans aan historiese Afrikaanse universiteite”.Sy het daarop gewys dat Afrikaans as akademiese taal stadig gegroei het, maar uiteindelik sy plek as taal van hoëre intellektuele funksie bereik het. Na 1994 verkeer die taal onder druk agv die versoeke/druk wat ten gunste van Engels bestaan. Die T-opsie bemoeilik die handhawing van Afrikaans in ’n meertalige opset. Die parallel-opsie word vertolk as ’n “verskuilde” voortsetting van apartheid. Die enigste kans wat Afrikaans op oorlewing het, is binne ’n meertalige opset. Die instelling van ’n tolkdiens by NWU blyk ’n groot sukses te wees – maar nie net die tolk na Engels toe nie; Sotho kom nou ook aan die beurt. Die begroting vir ’n meertalige opset aan ’n universiteit beloop nie meer as twee persent van die jaarlikse begroting nie. Maar weer is beklemtoon: Afrikaans kán ruimte binne ’n meertalige opset vind.

Piet Strauss van die UV se onderwerp was “Die groei van Afrikanerkerke sedert 1910 en die uiteenlopende aard daarvan”.Hy het dit beklemtoon dat kulturele identiteit begrond word deur die ABC van Afrikaner wees: eers die C wat die Christelike voorop stel, dan Afrikanerskap A en dan Burgerskap. Afrikaners kan hulle nie losmaak van ’n verantwoordelik burgerskap in Suid-Afrika nie.

Die NG Kerk was die amptelike kerk aan die Kaap. Eers in die 1850’s het die Hervormde Kerk en later die Gereformeerde Kerk (GKSA) ontstaan. Die NG Kerk en Hervormde Kerk het pas ’n ooreenkoms aanvaar wat ’n oor-en-weer-beroeping van predikante en ’n erkenning van bewyse van lidmaatskap en attestate moontlik maak. Die volgende stap sou wees om struktureel een kerkverband te vorm omdat jy in elke geval van daardie sake saam doen wat in ’n gereformeerde kerkverband saamgedoen word. Met die GKSA is die NG Kerk tans in onderhandeling om kanselruil en ’n wedersydse erkenning van attestate amptelik in ’n ooreenkoms te vervat.

’n Persepsie wat wyd loop, is dat die drie Afrikaanse kerke lidmate verloor en nie “groei” soos die titel van hierdie voordrag suggereer nie. Drie jaar gelede is daar by die Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk ’n aansienlike verlies van lidmate gerapporteer. ’n Syfer uit die GKSA dui op ongeveer 200 000 doop- en belydende lidmate. Of hierdie syfer ’n verlies verteenwoordig, is aan die spreker onbekend. Wat die NG Kerk betref, kan ’n min of meer konstante syfer van 1,25 miljoen lidmate oor die afgelope paar jaar gerapporteer word. Intussen het ongeveer een miljoen blankes Suid-Afrika na 1994 verlaat, wat waarskynlik ’n groot groep Afrikaners uit hierdie drie kerke insluit. Konserwatiewe skattings van die NG Kerk se Taakspan vir Buitelandse Bediening is dat die NG Kerk alleen ongeveer 100 000 lidmate (dit maak baie gemeentes!) so kon verloor het. Die hoorbare en sigbare aanwesigheid van sulke mense in die buiteland bevestig hierdie vermoede.


Kulturele identiteit

Danie Langner van Helpende Hand se onderwerp was “Armoede in die Afrikanergemeenskap sedert 1910”. Armoede was nog altyd ’n verskynsel onder Afrikaners. Daar is oorgenoeg dokumentêre bewyse dat die pionierboere voortdurend op die rand van totale armoede geleef het. Die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 het die verskynsel tot ’n toestand van algehele hopeloosheid gedryf. Tog het kerkaksies en hulp van die staat meegebring dat die armoedespiraal verbreek kon word. Daar is dokumentêre bewys dat Afrikanerarmoede teen 1950 iets van die verlede was. Armoede het egter weer na 1994 sy kop uitgesteek en neem ernstige afmetings aan. Soos in die verlede kán Afrikaners weer uit die spiraal kom, maar dit kan alleen gebeur as dit in ’n meerrassige opset geskied. As die regerings van 1948 af armoede in ’n nasionale konteks kon aanpak, sou dit as voorbeeld kon dien vir die huidige bewindhebbers om nie net swart armoede aan te pak nie, maar ook wit armoede.

Flip Buys van Solidariteit se onderwerp was “Die ontwikkeling van die Afrikaner se kulturele identiteit sedert 1910, met spesiale verwysing na kultuurorganisasies”.Afrikaner kulturele instellings was die middel waardeur die Afrikaner hom kon handhaaf – selfs in tye waarin die regering meer Engelsgesind was. In ’n nuwe konteks kan burgerregte-organisasies die stryd om die behoud van ’n Afrikaneridentiteit vorentoe neem. Die Afrikaner moet vrede maak met die feit dat hy op ’n mindere deel sal kan aanspraak maak. Alleen deur inisiatiewe wat uit die Afrikanergemeenskap voortvloei en wat druk op die regering uitoefen, sal daar ’n kans wees dat die Afrikaner steeds sy identiteit kan behou. Die opleiding van vakkundiges by Soltech is ’n sprekende voorbeeld van hoe vir die werksplek voorberei kan word.

 
Kulturele erfenis

Nico Luwes van die UV se onderwerp was “Die Afrikaner en die uitvoerende kunste sedert 1910”. Afrikanerteater het reeds vanaf die vroeë 20ste eeu sy lewenskragtigheid bewys. Die toere wat toneelverenigings na die platteland onderneem het, het Afrikaanse toneel gewild gemaak. Hoewel gehalte soms in die gedrang was, was die ondernemingsgees altyd daar. Toneelstukke en operas van wêreldgehalte is opgevoer. Die Streekdiensterade het baie bygedra tot die skep van nuwe toneelstukke en die bevordering van Afrikaanse toneel. Dit het ook sekuriteit aan kunstenaars gebied, wat nou nie meer bestaan nie, aangesien dié rade ontbind het. Tog is daar, te danke aan die landswye kunstefeeste, ’n konstante stroom nuwe werke, wat veel hoop vir die groei van die uitvoerende kunste bied.

Alex Duffy van UP se onderwerp was “Die Afrikaner en die beeldende kunste sedert 1910”.Hy het ’n oorsig gegee van die politiese en kulturele netwerking wat Afrikanerkuns en Afrikanerkultuur van 1910 tot 2010 gevorm het. Dwarsdeur hierdie periode is Afrikanerkuns- en Afrikanerkultuurleiers gekonfronteer met ’n ideologiese worsteling om identiteit te midde van die oorweldigende verengelsingspogings van Britse imperialisme. Om die vermenigvuldiging van Engelse kunsklubs en -verenigings in Suid-Afrika teen te werk het die kultuuragente vir Afrikanernasionalisme gereeld hulle eie instellings gestig in ’n poging om die Afrikanersaak te bevorder, maar keer op keer is hulle gedwarsboom deur die tussenkoms van internasionale rampe soos die Wêreldoorloë en Koue Oorlog wat Afrikaners in opponerende kampe ingedryf het.

Jackie Grobler van UP se onderwerp was “Die oprigting van Afrikanermonumente sedert 1910 en die huidige stand van monumente in Suid-Afrika”. Hy het ’n oorsig gegee van die bekendste Afrikanermonumente in Suid-Afrika. Interessant genoeg bestaan daar slegs twee of drie monumente wat Uniewording vier. Die rede daarvoor is waarskynlik dat dit, in historiese konteks, nie ’n baie emosionele gebeurtenis was nie. In teenstelling daarmee bestaan daar baie monumente oor die Anglo-Boereoorlog en die Simboliese Ossewatrek van 1938. Dit was emosionele ervarings op die pad van nasiebou. Die huidige toestand van monumente onder munisipale beheer is swak en verval is aan die orde van die dag. ’n Groot taak lê vir instansies soos die Erfenisstigting en vir plaaslike gemeenskappe voor om ook na die bewaring van Afrikanermonumente om te sien.