Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

leë brilkassie


Ronnie Elliott - 2010-10-19

Ek was weer bevoorreg om leerders se bydraes tot die Kaapstadse Afrikaanse Eisteddfod se afdeling vir letterkunde te beoordeel. Die sameroeper was Dirk Binneman. Hier is dan die werk wat hoogste lof verwerf het. Sameroepers van elders kan gerus ook hulle belowendste inskrywings na dbbotha@mweb.co.za stuur.

– Danie Botha


Ronnie Elliott
(Graad 12)

leë brilkassie

ek het my voorgeneem om nooit weer
my bril af te haal
en iemand in die oë te kyk nie;
om nie weer leke-vrae in leke-terme te
beantwoord nie.
Ek het ’n masochistiese afstand geskep
en myself ses voet ver selibaat gehou.
en wát daarby gebaat?

My tong het maande lank gejeuk
en ek het snags as almal vir eers dood is
die dorings van hierdie vieslike boom in
die agterplaas se stam afgelek.
en ek het wild besef hoe doringsoet
daai soen sou wees

maar ek is bewus dat
my lippe nog nooit kon saamsweer
om enigiets anders as te vloek nie;
en my baadjie sal my nie meer veel langer
immuun kan hou nie –
“jy sal ’n plan moet maak!”

*

Ek weet ek was die een
wat my telkens weggelieg het
of dat my woordeboek my nie meer
sal versteek nie:
Ek sal jou nie aan my laat raak nie
maar ek sal my bril afhaal,
langs jou sit en na jou oë loer.
En ek belowe om iets te sê, in verskrokke eenvoud.